OORWIN DIE SADE VAN TWYFEL

David Wilkerson (1931-2011)

Johannes die Doper was ‘n man van die Woord. Hy het sy hele lewe deurgebring om die Skrifte te ondersoek met afsondering en bepeinsing van die wet. Hy het na Jesus gewys en gesê, “Dáár is die Lam van God” (Johannes 1:29). Hy het die Heilige Gees op Christus gesien neerdaal soos ‘n duif en het die Vader se stem gehoor sê dat Jesus sy eie Seun was. Johannes het homself in die tronk bevind, sy kragtige, gesalfde bediening kortgeknip deur die goddelose Koning Herodus (sien Lukas 3:19-20). Nou was die skares wat Johannes gevolg het weg – die “stem van die een wat roep in die woestyn” was stilgemaak.

Johannes se openbare bediening het slegs ‘n jaar geduur maar gedurende daardie tyd, het God sy krag gedemonstreer deur Johannes se prediking. Jesus het geweet hierdie vurige profeet sou liewer dood wou wees as opgesluit in die tronk. Hy het immers sy hele lewe in ‘n oop woestyn geleef, deur die veld geloop en in grotte geslaap.

Terwyl Johannes in die tronk was, het een of ander donker, diep beproewing van die siel hom oorval en hy het begin twyfel. Johannes moes gewonder het waarom Jesus hom nie uit die tronk kom verlos het nie. Jesaja het immers geprofeteer dat die Messias die gevangenes sou vrylaat wanneer Hy kom. Eerlikwaar, Jesus het nie Johannes se verwagtinge vervul nie. Was Hy werklik die beloofde Messias? (sien Matthéüs 11:2-3).

Dieselfde duiwel wat Jesus in die woestyn versoek het, het probeer om Johannes se geloof te vernietig. En hy gebruik dieselfde leuens en misleidings teen ons vandag. Sy doel is om sade van twyfel in ons te plant oor God se Woord, sy beloftes, sy behae in ons. Satan wil hê jy moet ongeduldig word terwyl jy wag vir antwoorde op jou gebede. Maar ongeduld met God kan veroorsaak dat jou gebede “’n vreemde geur” het in plaas van soet ruikende wierook.

Jakobus 1:2-4 gee vir ons hierdie bemoediging: “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.”