Onwrikbaar en Vol Vertroue tot die Einde

David Wilkerson

“Christus as Seun oor sy huis. En ons is sy huis as ons net die vrymoedigheid en die roem van die hoop tot die einde toe onwrikbaar vashou. Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering, in die dag van die versoeking in die woestyn nie, waar julle vaders My versoek, My beproef het en my werke veertig jaar lank gesien het...

“Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ’n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie. Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Hebreërs 3:6-9, 12-14, kursief myne).

Ek glo saam met ander wagte dat die dae wat Jesus voorspel het, nou op ons is. Reg oor die wêreld, is mense se harte vervul met vrees soos hulle die vreesaanjaende dinge wat oor die aarde kom, sien gebeur.

Tog, te midde van al hierdie angs en vrees hoor ons, wat op die Here vertrou sy Woord wat ons vertel, “Wees onwrikbaar en vol vertroue tot die einde.”

Die feit van die saak is: wanneer daar toenemende vrees is, roep God vir groter onwrikbaarheid, groter standvastigheid. Wanneer daar groot terreur en afval is, roep Hy vir groter vertroue. Wanneer daar somberheid en wanhoop is, roep Hy ons om groter blydskap te hê en meer te juig.

Dit is die aard van ons hemelse Vader. Hy het voorsiening gemaak vir sy mense om vas te byt en hulle blydskap in die ergste moeilike tye te behou.

Tog is daar ‘n voorwaarde aan hierdie voorsiening verbonde: Dit is ‘n groot as:

“Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou... Christus... En ons is sy huis as ons net die vrymoedigheid en die roem van die hoop tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Hebreërs 3:14,6, kursief myne).

Waarom word ons hierdie waarskuwingswoord gegee? Dit omdat daar vandag kragtige magte aan die werk is teen elke gelowige wat sal vashou aan sy geloofsvertroue.

Dink aan alles wat die Here se kerk vandag beleef.

Tans is daar ‘n volskaalse aanval op Christus en sy Woord. Afvallige teoloë herdefinieer Jesus, val sy goddelikheid aan, spot met die Bybel en vra vrae oor die egtheid van die Skrif.

Die huidige geslag beleef ook veragtelike, kwaai versoekings onbekend aan vorige geslagte. Goddelike manne en vroue wat eens waaksaam was, word nou verslaaf aan allerhande dinge. Hulle word aangeval en oorwin soos wat Satan sy bose owerhede vrystel in ‘n oorlog teen die onwrikbare geloof van elke volgeling van Jesus.

Oral om ons in die wêreld vandag, is daar terrorisme, onsinnige geweld, toenemende finansiële krisisse en paniek. Die effek op die kerk is een van groot afval tussen eens standvastige gelowiges. Satan se magte van duisternis is uitdruklik gestuur om oorlog te voer om die geloofsvertroue van God se heiliges lam te lê.

Hierdie aanval uit die hel is op die punt om so verwoestend en vreesaanjaend te word, dat ons bonatuurlike krag nodig sal hê om ons te deur te dra. Menslike wil en intelligense sal nie opweeg teen die demoniese manifestasies wat ons gaan beleef nie.

Eerlikwaar, ek glo nie dat daar ‘n Christen in die lewe is wat onwrikbaar en vol vertroue kan bly in die komende dae sonder ‘n nuwe uitstorting van die Heilige Gees nie. Nie een van ons kan vasbyt in sulke veeleisende tye nie, tensy ons die werke van God se Gees ken en toepas.

Dit is waarom ek oortuig is dat die tyd gekom het om ‘n dieper openbaring te soek insake die bediening van God se Gees. Ons weet so min oor waarom Hy gestuur is, oor wie Hy is en wat Hy vir ons doen. Wat sal die Heilige Gees se bediening wees in hierdie laaste dae?

Die volgende is ‘n aantal dinge wat ons nodig het om te weet oor die werk en bediening van die Heilige Gees.

Die Heilige Gees is die gesamentlike liefde van God die Vader en Christus sy Seun.

Die liefde van die Vader teenoor ons, vergestalt in sy Seun, is verbind aan die bediening van die Heilige Gees. En die Gees is gestuur aan die mensdom om die majesteit en heerlikheid van sy ewigdurende liefde te openbaar.

“Omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is...ek vermaan julle, broeders, by onse Here Jesus Christus en by die liefde van die Gees” (Romeine 5:5, 15:30). Die Heilige Gees is die ewige liefde van Vader en Seun. Al sy werke, sy hele bediening, is bestem om daardie liefde uit te druk en te manifesteer.

Net soos Jesus sy sending gewillig aanvaar het, het die Heilige Gees ook. Hy was deur die Vader aan Christus gegee, wat op sy beurt die Gees aan ons gestuur het op ‘n liefdesending. Daarom spruit elke werk, wat die Gees doen — elke vertroosting en bemoediging wat Hy bring, elke openbaring, elke vermaning, elke toenadering en waarskuwing — uit liefde. Dit kom eerste van die Vader se liefde en van Christus se liefde, maar ook die Gees se eie liefde, want die Heilige Gees het elkeen in wie Hy woon, waarlik lief.

Vir sommige lesers mag alles elementêr klink. Maar eerlikwaar, in hierdie dae van toenemende onrus, is die volgende ‘n waarheid wat vas in ons harte gegrond moet wees. Om vas te byt in die komende dae, moet ons geloof die volgende in besit neem: As ons nie verseker is van God se liefde vir ons nie, kan ons nie groei in onwrikbaarheid en volle vertroue nie. En ons sal nie in staat wees om te juig wanneer heftige storms ons teister nie.

Die profeet Jesaja, vergelyk die werke en bediening van die Heilige Gees met die liefde en vertroosting van ‘n moeder.

“Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos; en julle sal in Jerusalem getroos word” (Jesaja 66:13).

In die natuur, is daar geen groter begrip van liefde as van ‘n liefdevolle, sorgsame moeder nie. Sy is altyd daar vir haar kinders, met ‘n versorgende, vertroostende woord in tye van benoudheid.

Met hierdie moederlike toonbeeld, wys die Heilige Gees vir ons hoe Hy sy sending vervul. Hy sê vir ons in wese deur Jesaja:

“As volgelinge van Jesus, weet julle reeds iets van die liefde. Laat my jou nou wys hoe deernisvol en geduldig die liefde van die Vader en sy Seun teenoor jou is. Om dit te verstaan, dink aan ‘n goddelike, deernisvolle moeder se liefde. Dit is hoe Ek in jou werk en hoe Ek jou bedien.”

Dink daaraan: ‘n moeder sal by haar siek kind bly totdat genesing kom. Sy sal die kind se verwerping van haar liefde verdra. Daardie kind mag in sonde verval en sy moeder se woorde van leiding en teregwysing veronagsaam. Hy mag oorweldig word met neerslagtigheid of ongeloof, of hoogmoedig, hardnekking en rebels word. Tog, deur dit alles, sal sy moeder nooit met hom moed verloor nie.

Ek weet daar is baie goddelike moeders, wat hierdie boodskap lees en wat die hartseer van ‘n kind, wat met die verkeerde mense meng, verduur. Nou is daardie kind vasgevang in verslawing en die moeder kan hom skynbaar nie meer bereik nie. Dit lyk of hy geen geloof in God het nie. Selfs wanneer by berou het en belowe om te verander, hou dit nooit lank nie.

Ek weet daardie moeder huil saggies deur die nag. Haar hart treur. Tog, ten spyte van haar geweldige angs, is haar moederhart steeds oorweldig met liefde, wat steeds uitreik, steeds omgee, steeds gee. Haar liefde vir haar kind sal nooit eindig nie.

Moses het Israel herinner, “Die Here het jou gevind in ‘n woestynland...vol gehuil van die wildernis.”

“Hy het hom omring, op hom ag gegee, hom bewaak soos sy oogappel. Soos ‘n arend sy nes opwek, oor sy kleintjies sweef, sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra op sy vleuels” (Deuteronómium 32:10–11).

Beskou hierdie beeld van ‘n moeder arend. Jesus verwys na ‘n soortgelyke beeld wanneer Hy praat van “net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaar maak” (Matthéüs 23:37). In tye van ‘n storm, steek so ‘n moeder haar kleintjies veilig onder haar liefdevolle vlerke weg.

Ons praat hier oor die mees deernisvolle, mees betroubare liefde wat aan menslike wesens bekend is. As jy in enige hofgebou ingaan en by een hofsaal na die ander inloer, sien jy jongmanne, wat vir elke denkbare misdaad teregstaan. Wie sal toekyk vanuit die hofsaal sitplekke? Meestal moeders.

Gaan na enige tronk op besoek dae. Wie sien jy toustaan om ‘n aangehoude seun of dogter te besoek? Moeders, wat hartseer en bedroef is – moeders, wat ure spandeer om daar te kom. Moeders, wat aanhou om hulle kinders lief te hê al het die wêreld hulle verstoot. Moeders, wat geen wrok teen hulle kinders hou nie, wat steeds goeie gedagtes oor hulle het. Moeders, wat lyk of hulle ‘n onbeperkte vermoë het om lief te hê en te vergewe.

Baie jare gelede, het ‘n ou prediker geskryf, “Ek weet nie of die Verlore Seun ‘n moeder gehad het nie, maar as hy het, verseker ek jou: terwyl die vader op die dak gestaan en uitkyk het na sy seun om huistoe te kom, was daardie moeder toegesluit in haar kamer, biddend aan die huil. Later, toe almal gedans het met die seun se terugkoms, sou jy daardie moeder sien hoe sy hoop en herstel in haar seun se oor fluister.” “Soos een wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek jou troos.”

Ons mag dalk nie verstaan waarom God toelaat dat ons verdrukking voortduur nie...waarom diegene vir wie ons liefhet pyn en swaarkry vir so lank verduur nie...waarom dit lyk of daar geen reaksie op so baie van ons gebede is nie...waarom so baie van ons vrae onbeantwoord bly. Maar God is nie verplig om al ons vrae te beantwoord nie. Inderdaad, ons mag dalk nie enige antwoorde kry totdat ons in heerlikheid is nie.

Tog is daar een ding wat ek nooit sal bevraagteken nie: dit is my Vader se liefde vir my wat geopenbaar word deur die Heilige Gees wat in my woon.

Paulus vertel vir ons. “En bedroef nie die Heilige Gees van God nie” (Efésiërs 4:30).

Ek glo ons bedroef die Heilige Gees wanneer ons misluk om sy sending van liefde vir ons te aanvaar.

Te veel mense in die kerk dink aan die Gees as ‘n soort “harde man.” In hulle gedagtes, staan Hy voortdurend oor hulle met ‘n lat van teregwysing in sy hand. Tog, as ek die Heilige Gees net sien as ‘n vader wat frons van woede oor my mislukkings, of as ‘n teleurgestelde moeder wat opgehou het om om te gee, sal ek nooit oorleef nie. Ek sal nie onwrikbaar wees nie. Ek sal my vertroue verloor.

Die  Heilige Gees se sending is net die teenoorgestelde. Dit is om “om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes” (Jesaja 57:15, kursief myne).

As die Gees slegs met ons moes handel volgens ons sondes en mislukkings, sou niemand kon staande bly nie. Ons word in die volgende vers vertel, “Want Ek sal nie vir ewig twis en nie vir altyd toornig wees nie, want die gees sou voor my aangesig versmag en die siele wat Ek self gemaak het” (Jesaja 57:16).

Ons mag versoek word om in wanhoop te verval oor ons sonde en mislukkings. Maar die Gees kom in liefde met die doel om ons te red van wanhoop.

Hier is ‘n tweede belofte van Jesaja 66:13: “En julle sal in Jerusalem getroos word.”

Wat ‘n profesie! Hierdie vers praat van vertroosting in die kerk, van elke lid van Christus se liggaam wat mekaar liefdevol versorg. Dit is ‘n toonbeeld van God se mense wat mekaar vertroos in hulle hartseer en mekaar se lyding dra.

Hierdie toonbeeld word bevestig deur Paulus in die Nuwe Testament: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word” (2 Korinthiërs 1:3-4, kursief myne).

Let op dat niks hier gesê word van verlossing van die stryd nie. Ons word net vertel dat die Heilige Gees ons vertroosting gee om te verdra en standvastig te bly in ons beproewing: “troos in al ons verdrukking.”

Hierdie vertroosting, wat deur die Gees verskaf word te midde van ons verdrukking, is nie eenvoudig ‘n tydelike ophef van die las nie. Dit is nie ‘n sug van verligting of ‘n uitsluit van ontstellende gedagtes van vrees nie. Dit is eerder ‘n troos wat na ons toe kom in ons verdrukking — en dit is bonatuurlik. Dit is ‘n wonderwerk, ‘n genesing uit die hemel vir siel en gees. So ‘n vertroosting is die eksklusiewe bediening van die Heilige Gees, en dit word bereik deur geloof wanneer ons vertrou op sy liefde vir ons.

Die Skrif verstel vir ons, “U sal hulle in Sion vertroos. U sal ‘n woord van genesing hê vir hulle in Sion wat in wanhoop en vrees leef.” Geliefde, ek vra jou: wat het jy om aan ander wat swaarkry te gee? Wat het die Heilige Gees in jou gedoen wat genesing aan hartseer vriende en familie kan bring?

Dit is nie ‘n vraag van hulpbronne of liefdadigheid nie. Mooi woorde van simpatie is nie genoeg nie. ‘n Kruideniersmandjie is nie die volle antwoord nie. Al hierdie dinge is goed en skriftuurlik, maar nie een daarvan op sigself is in staat om harte te genees nie.

“U sal vertroos in Sion” — maar met wat? En hoe?

Die Heilige Gees belowe ‘n skeppende wonderwerk.

In antwoord op ons geloof, belowe God se Gees om iets in ons te skep wat vertroosting sal bring in elke denkbare swaarkry en vreesaanjaende omstandigheid. Hy sal in ons ‘n woord plaas wat kan genees, vertroos en ander kan bemoedig.

Die Gees het deur Jesaja gesê, “Ek het hulle weë gesien, en Ek sal hulle genees; en Ek sal hulle lei en aan hulle weer vertroosting skenk, naamlik aan hulle treuriges” (Jesaja 57:18).

Die werklikheid is, dat ons gekwelde gees nodig het om genees te word. En ons kan nie onsself genees nie. Dit is ‘n werk wat deur die wonderwerkende krag van God se Gees gedoen moet word, wat in hierdie vers sê, “Ek sal jou genees.”

Ek het so ‘n ongelooflike skeppende wonderwerk beleef. Ek het die belofte daarvan in God se Woord gesien en ek het daardie belofte in besit geneem. En toe ek die voorsmaak ervaar het, die erns van sy genesende wonderwerk, toe wou ek die volheid hê van dit wat ek gesien het.

Dit is die skeppende wonderwerk, wat in die volgende vers beskryf word: “Ek skep die vrug van die lippe; vrede, vrede vir die wat ver en die wat naby is, sê die HERE; en Ek sal hulle genees" (Jesaja 57:19). Dit is een van die mees bemoedigende beloftes in God se Woord. Die Here sê Hy sal die gees van vrees uit ons dryf en sy bonatuurlike gees van vrede in ons plant. Jesaja herhaal die woord “vrede” om te beklemtoon dat dit ‘n voortdurende vrede is.

Eenvoudig gestel, die Heilige Gees, belowe. “Ek sal vrede in jou skep." Wanneer ons hierdie vrede ervaar, sal dit ‘n skeppende woord word wat uit ons lippe na ander vloei. Tog, moet ons vrede in onsself hê voor ons vir ander daarvan kan vertel.

Daar kom ‘n tyd in elkeen van ons lewens wanneer ons totaal uitgeput word deur al die probleme wat rondom ons aan die gang is — probleme wat persoonlik is, of wat familie, vriende, ons werk en ons finansies mag insluit. Ons word moeg van al die hartseer “slegte nuus” telefoon oproepe wat kom, krisisse wat skynbaar buite beheer raak.

Dit is die uur wanneer ons nodig het om na die Heilige Gees te gaan, gebroke en verslae en sy belofte van die gawe van vrede in besit te neem.

Jy mag vra: “Hoe kan ek daardie vrede in besit neem as ek net kan staan en kyk hoe kanker my geliefde verteer?”

“Hoe kan ek vrede hê, wanneer my finansiële situasie hopeloos lyk?”

“Hoe kan ek vrede hê, wanneer fisieke pyn daagliks aan my knaag?”

“Hoe kan ek vrede hê, wanneer ek my werk verloor het en die toekoms dreigend lyk?”

In der waarheid het jy geen ander plek om vrede te kry nie.

Miskien het jy al die beloftes in God se Woord gelees, maar kan dit skynbaar nie in jou lewe toepas om enige uitwerking te hê nie. Dinge sal jou steeds onderkry. Maar Jesus het vir jou gesê, “My vrede gee Ek vir julle.” Sy vrede word in jou geskep deur die Heilige Gees, wat die gees van vrede is.

Dit staan geskrywe dat die Heilige Gees ‘n rivier van lewe in ons sal wees en altyd sal vloei. “Strome van lewende water sal uit sy binneste vloei” (Johannes 7:38). Jesaja beskryf dit as ‘n “rivier van vrede” (sien Jesaja 48:18). Stel jou voor: vrede wat vloei soos ‘n rivier, voortdurend, deurlopend, aanhoudend.

Hoe neem ons hierdie genesende vrede in besit?

Hoe bereik ons hierdie wonderwerkende, almagtige skepping van vrede?

Eerstens moet ons erken dat al ons vrese, al ons wanhoop en twyfel, deur ongeloof veroorsaak word. Ons vertrou nie volkome op die krag van Heilige Gees wat in ons woon nie.

Die Gees van God vervul alle dinge. En Hy is die volmaakte volheid van goddelike liefde: altyd sorgsaam soos ‘n moeder; groter in mag as al die owerhede in die hel; Hy weet alle dinge. Tog, hoewel ons hierdie dinge weet, sit ons dikwels in die Gees se teenwoordigheid en murmereer en kla, terwyl ons soos weggooikinders dink.

Ek sê vir jou, geen gelowige kan genees word van die gees van vrees nie – geen gelowige kan vrede vind nie — tensy hy of sy alles in die hande van die Gees se liefdevolle hande plaas nie. Ons moet alles aan sy wil oorgee, met die vertroue dat “Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is” (sien 1 Johannes 4:4).

Laat my dit opsom in een sin:

Wanneer jy jouself heeltemal in die arms van die Heilige Gees oorgee, sal Hy vrede in jou skep.

God skep vrede — Hy veroorsaak dat dit gebeur — en Hy skep dit in jou.

Ek praat nie net van vrede met God nie. Die vrede wat Hy in jou skep is vrede in jou gemoed, ‘n vrede wat opspring en binne-in jou vloei en genees, stabiliseer, en vertroue bou.

Wanneer jy sulke vrede het, sal jy ophou probeer om God te speel. Jy sal ophou probeer om jou en almal rondom jou se probleme op te los. Jy sal ophou dink aan wat kan gebeur, watter vreeslike dinge in vervulling kan kom.

In plaas daarvan, neem jy elke gedagte gevange. En jy is in staat om dit te doen omdat jy staan in die vrede, wat God in jou geskep het. Jy begin om Hom te vertrou en sy liefde te aanvaar. En jy begin die beloftes in sy Woord te glo.

“Die regverdige sal uit die geloof lewe” (Galasiërs 3:11, Hebreërs 10:38). Die Heilige Gees word gegee aan almal wat glo. En daar is ‘n groter mate van die Gees beskikbaar aan almal wat daarvoor in geloof sal bid.

Geliefde, ek dring by jou aan: vra die Gees vir ‘n groter mate van geloof insake sy liefde vir jou. Vra Hom in jou ‘n groter vloei van God se vrede te skep. Sy vrede sal bonatuurlik, wonderbaarlik kom wanneer jy alles aan Hom oorgee.

Dan sal die Here sy vrede voortbring as die vrug van jou lippe. Ware vrede kan nie nagemaak word nie; die wêreld herken dit wanneer dit in iemand is. En die Heilige Gees sal die vrede wat in jou woon, bekend maak aan almal rondom jou. Dit sal nie jou vrede wees wat tot hulle spreek nie, maar die Gees s’n. Dit sal hulle aanraak en veroorsaak dat hulle jou vir gebed vra, gebed wat hulle sal aanraak en genesing bring.

Terwyl die wolke saamtrek en vrees in die wêreld veroorsaak, mag God se mense wandel volgens hierdie woord van Paulus: “En laat die vrede van God...in julle harte heers” (Kolossense 3:15). Amen!