Ontvang die Heilige Gees

“Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug” (2 Petrus 1:3).

Jare lank maak ek daarop aanspraak dat ek met die Gees vervul is. Ek het getuig dat ek in die Gees gedoop is. Ek het gepreek dat die Heilige Gees my in staat stel om te getuig en dat hy my heilig maak. Ek bid in die Gees, praat met die Gees, wandel in die Gees en hoor sy stem. Ek glo waarlik dat die Heilige Gees die krag van God is.

Ek kan jou na die plek neem waar ek op agtjarige ouderdom met die Gees vervul is. Ek onthou nog steeds my trane en hoe my hart uitgeroep het na die Here. Ek onthou die ongelooflike visie van Christus wat ek ontvang het. En ek onthou die passie vir Jesus wat uit hierdie ondervinding voortgevloei het. Die Heilige Gees was sedertdien my vriend en trooster.

Ek het van Génesis tot Openbaring alles wat die Skrif oor die Heilige Gees sê, gelees. Ek het oor Pinkster gepreek, oor die noodsaaklikheid om met die Gees vervul te wees, oor ons liggame wat tempels van die Gees is. En ek vertrou dat die Gees deur my tot sy kerk gespreek het.

Tog, kom ek in die laaste tyd agter dat ek bid, “Here, het ek werklik U Heilige Gees ontvang? Ken ek werklik hierdie ontsaglike krag wat in my woon? Of is die Gees vir my net ʼn leerstelling? Ignoreer ek hom nie miskien nie? Vra ek nie vir hom om vir my juis dit waarvoor hy gestuur is, te doen nie? Dra ek nog steeds dinge, doen ek nog steeds dinge op my eie, dit waarvoor hy gekom het om vir my te doen?”

Die punt is, jy kan iets baie waardevol hê en dit nie weet nie. En jy kan nie dit wat jy het, geniet as jy nie begryp hoe waardevol dit is nie.

Daar’s die verhaal van die boer wat sy lewe lank sy klein plasie bewerk het. Dekades lank het hy die klipperige grond omgeploeg. Hy het ʼn armsalige bestaan gevoer en ten einde is hy ontevrede dood. By sy dood het sy seun die plaas geërf. Een dag terwyl hy ploeg, tel die seun ʼn goud-gestreepte klont op. Hy het dit laat waardeer en hy is in kennis gestel dat dit suiwer goud is. Die jong man het gou ontdek dat die plaas vol goud was. Oornag het hy ʼn ryk man geword. Maar die rykdom was nie vir sy pa beskore nie, ten spyte daarvan dat dit sy hele lewe lank onder sy voete was.

So is dit met die Heilige Gees. Baie van ons leef in onkunde oor wat ons het, die krag wat in ons woon. Sommige Christene leef hulle hele lewens onder die indruk dat hulle die Heilige Gees besit, tog het hulle hom nog nie waarlik in sy volheid en krag ontvang nie. Hy vermag nie in hulle die ewigdurende werk waarvoor hy gestuur is om te doen nie.

Nou, ek praat nie van manifestasies nie. Dikwels soek sommige gelowiges die Gees slegs wanneer hulle in die moeilikheid is en wil hê dat hy homself moet manifesteer. Hulle hoop dat hy neer sal daal en hulle probleme wegvee. Petrus sê dit is nie die waarheid van die Gees is nie. Volgens hom het ons ʼn skat binne in ons: “sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien” (2 Petrus 1:3).

Johannes die Doper het by die Jordaanrivier aan die Farisieërs gesê. “Ek doop wel met water, maar onder julle staan Hy vir wie julle nie ken nie” (Johannes 1:26). Daardie godsdiensleiers het Jesus in die vlees gesien, en hulle het hom hoor praat. Maar hulle het nie begryp wie Hy is nie. Hulle het nie sy krag en heerlikheid geken nie.

Net so het Jesus sy eie dissipel Fillipus gevra, “Ek is al so lankal by julle, en het jy my nie geken nie, Fillipus? (14:9). Ek wil jou ʼn soortgelyke vraag vra: hoe lank getuig jy dat jy met die Heilige Gees vervul is? Kan die Gees moontlik vir jou sê soos Jesus vir Fillipus, “Ek is al jare saam met jou, tog ken jy my nie werklik nie”?

Iets blyk te ontbreek in die kerk vandag. Ons weet almal dat die Christene in die eerste eeu groot verdrukkinge moes trotseer. Hulle het strawwe beproewinge verduur, moeilike tye, vervolging wat om lewe en dood gegaan het. Maar hulle het nie onder die angs geknak nie.

Paulus vertel dat die kerk in Thessalonika die verlies van hulle huise en besittings en alles wat hulle besit het, verdra het. Dit het nie hierdie gelowiges afgeskrik nie. Hy skryf hul krag toe aan die krag van die Heilige Gees: “Want ons evangelie het tot julle nie gekom in woord alleen nie, maar ook in krag en die Heilige Gees en in volle versekerdheid, soos julle weet hoedanig ons onder julle om julle ontwil gewees het. En julle het navolgers van ons geword en van die Here deurdat julle die woord in baie verdrukking ontvang het met die blydskap van die Heilige Gees” (Thessalonicense1:5, 6).

Paulus beskryf dan die getuienis wat uit hulle blymoedige lydsaamheid voortvloei het: “Sodat julle voorbeelde geword het vir al die gelowiges in Macedónië en Acháje. Want van julle uit het die woord van die Here weerklink nie alleen in Macedónië en Acháje nie, maar ook op elke plek het julle geloof in God uitgegaan, sodat ons nie nodig het om daar iets van te sê nie.” (1:7, 8)

Hierdie gelowiges was “swaar beproef” en tog was hulle vervul met ware blydskap. Hulle het ontberinge en lyding deurgemaak soos geen ander in daardie tyd nie. Hulle het met moeilikhede saamgeleef wat jy en ek nie eers kan peil nie. Seer sekerlik is hulle huwelike tydens daardie moeilike tye beproef. Die duiwel het daardie gesinne aangeval toe hulle op hul swakste was en allerlei probleme veroorsaak.

Die pastore en heiliges in daardie kerk wou nie tou opgooi nie. Hulle het nie oor hul omstandighede gekla nie. En hulle het nie God se beproewinge bevraagteken nie. In plaas daarvan, was daar blydskap tussen daardie groep gelowiges. En Paulus het aan hulle gesê, “Al die nasies praat oor julle! Julle volharding tydens moeilike tye het talle van heinde en verre verbaas en aangeraak.”

Hierdie Christene het waarlik die Heilige Gees ontvang. Ek wonder: wat het hulle van die krag van die Gees geweet wat so min Christene blykbaar vandag weet? Wat skort? Waar is die blydskap van die Heilige Gees in ons tye van beproewing en verdrukking?

In al my jare in die bediening het ek nog nooit soveel gelowiges onder sulke verdrukking gesien nie. Daar was nog nooit ʼn tyd soos hierdie nie - gesinne in finansiële krisisse, voortdurende huweliks struwelinge, wanhoop oor kinders wat rebelleer.

Op hierdie tystip word pastore dwarsdeur die wêreld ontnugter. Hulle harde arbeid het hul uitgeput gelaat en hulle gemoed is swaar want hul sien baie min vrug. Hulle vrouens en gesinne word oorweldig. In elke nasie gooi hierdie mense by die honderde tou op. ʼn Leier van ʼn groot Pinksterkerk het onlangs aan my gesê, “Pastore verlaat links en regs en kerke sluit by die dosyne”.

Hier is ʼn tipiese brief wat ons van predikante ontvang: “Ek bedien ʼn goeie grootte kerk. Maar my arbeid is so onbevredigend, so ontmoedigend. Ek raak meer en meer desperaat om iets, een of ander deurbraak te sien gebeur. Ek weet nie hoekom ek so bekommerd is nie, of selfs wat ek graag wil sien nie. Maar daar moet meer as dit wees. Wat kyk ek mis?”

My seun Gary en ek reis die wêreld deur en bied samekomste vir pastore en hul vrouens aan. Orals waar ons gaan, sien ons pandemiese wanhoop. Meeste van die pastore in arm lande moet buite die bediening werk om hulself te onderhou. Daar is min of geen geld vir hul families of selfs vir hul evangeliebediening. En hulle armoede vererger.

Tydens die afgelope paar maande het ons span wat ons vooruit gaan met pastore in baie arm lande byeengekom. By een byeenkoms het predikante van verskeie kerkverbande gekom. Binne minute nadat ons video aanbieding begin het, het hierdie manne begin huil. Hierdie gesig het trane in ons span se oë gebring. Die gebroke pastore het verduidelik, “Ons is erg ontmoedig. Ons werk baie hard en tog sien ons min resultate. En ons het geen finansies nie. Selfs as Broer Dave na ons land toe kom om te praat kan ons nie die reis na die byeenkomste toe bekostig nie. Ons kan nie eens noodsaaklikhede vir ons families betaal nie. En ons werk is swaar, erg vermoeiend. Ons sien menige selfmoorde, veral tussen jong mense. Ons voel so verlate.

Ons bediening huur busse om hierdie predikante na ons byeenkomste toe te vervoer. Baie is egter so arm dat hulle nie huisvesting kan bekostig nie en dus in tente kampeer. Laasjaar het ʼn man in Suid Amerika tien ure na ons byeenkoms toe gereis. Hy het nie geld vir sy terugreis gehad nie. Ons span het toe gebid en was gelei om hom $1000 te gee. Die pastoor het gehuil toe hy dit hoor. “Dis ʼn jaar se salaris,” het hy ons vertel.

In Amerika is die problem spanning. Daar is wydverspreide bekommernis oor die toekoms, oor werksekerheid. Sommige gesinne staan op die rand om alles te verloor. Dit veroorsaak spanning by die werk en by die huis en mense gee aan wanhoop oor.

Vir ʼn pastoor is dit absoluut hartroerend om die vele probleme wat Christene moet trotseer, te sien. Vaders en eggenote is gedemoraliseer omrede hulle nie werk het nie of onderbetaal is. Hulle kan onmoontlik nie hulle families onderhou nie en verval dieper in die skuld. ʼn Menigte oumense is in martelpyn omdat hulle nie medikasie kan betaal nie. Die regering kan nie hierdie probleme oplos nie. Die politici maak net leë beloftes.

Soos ons al hierdie behoeftes en al hierdie veeleisende beproewinge, in oënskou neem, word ons op ons knieë gedwing. Dag na dag roep ons na God uit, “Here, watter boodskap kan ons bring? Waaroor kan ons preek om genesing en bemoediging aan verdrukte gelowiges te gee?” Ons voel die verskriklike pyn aan terwyl ons weet ons kan nie net uitgediende trooswoorde bied nie. Ons weier om ʼn oppervlakkige boodskap van menslike simpatie aan te bied deur te sê, “Moet nie teneergedruk wees nie. Die son sal net�nou weer skyn”.

Nee, meer as slegs jammerte of ʼn bemoedigingspraatjie is nodig. Die woord van God moet openbaar word en krag gee om elke aanslag van beproewinge te weerstaan.

Namate ek die verdrukking, wanhoop en lyding bepeins het, het ek gedink, “Dit is alles te wyte aan ʼn sataniese aanval”. Ek het onmiddelik begin werk aan ʼn boodskap wat ek die “Oorlog teen die Heiliges” genoem het.

In Openbaring vind ons dat Satan mag gee aan iets wat “die dier” genoem word. Dit is aan hom gegee om oorlog te maak teen die heiliges en hulle te oorwin: en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Openbaring 13:7).

Namate ek die woorde saamstel – “Mag om oorlog te maak … teen die heiliges … om hulle te oorwin” — het ek begin redeneer: “Dis dit! Dit is hoekom God se mense nou so verdruk word. Dis die mag van die dier. Dis wie agter al hierdie armoede en al die moeilikhede in gesinne en huwelike is. ʼn Mal draak bemagtig ʼn goddelose regering. Ons leiers word manipuleer deur bose bondgenootskappe en gevestigde belange groepe. Dis duiwel dwing sy agenda op ons samelewing af.

“Dit is regstreekse oorlog teen God se uitverkorenes. Dit gaan om ʼn mal vyand wat die geloof van die heiliges wil oorkom en meebring dat hulle alle vertroue in God verloor. Vele gelowiges het traag in hul geloof geword. Ander is reeds oorwin. Hulle geloof het skipbreuk gelei. Hulle het so erg ontmoedig geword dat hulle uiteindelik opgegee het.

“Wat ek sien in ons land gebeur, kan nie ontken word nie. Die duiwel het ʼn vloedgolf van ongeregtigheid uit sy mond uitgebraak. Hy het ʼn vloedgolf van verdrukkings teen God se mense uitgestort. En baie word in die vloed weg gesleur”.

Jesus het gepraat van ʼn “uur van mag” wat aan die regeerders van die duisternis gegee word. Toe Hy uit die tuin uit gelei is, het Hy aan sy gevangenemers gesê, “Maar dit is julle uur, en die mag van die duisternis” (Lukas 22:53). Die Griekse woord vir “uur” hier beteken “ʼn kort tyd”. In daardie uur van duisternis sou die dier Petrus vir ʼn kort tyd, oorwin. Christus waarsku hom, “Satan gaan teen jou kom om jou te sif en toets”.

Hier is die vraag wat Jesus regtig gevra het, “Ja, ʼn uur van duisternis sal kom, nie net oor Israel nie maar ook oor die hele wêreld. Ek sal dan nie daar wees nie, maar my Gees wel. Ek stuur hom om julle deur elke beproewing by te staan. Hy sal in die harte van almal wie in My glo, vertoef. Dus, wanneer daardie tyd van duisternis kom, sal julle glo?”

Beide in Daniël en Openbaring word ons gewaarsku omtrent hierdie laaste uur van algehele duisternis wat die hele wêreld sal oordek. En vir ʼn kort tyd lank sal dit blyk asof Satan op alle fronte oorwin.

Selfs nou is daar onheilspellende tekens van so ʼn duisternis. Dit blyk dat ons nasie in chaos verval. Televisie en die Internet gorrel drek in ons huise in. Instellings wat ons samelewing ondersteun het, blyk te verkrummel en te verval. Dink maar net aan die onlangse kontroversie oor die instelling van die huwelik tussen man en vrou. Dit lyk asof die hel die oorwinning op die gevegsfront behaal het en alle morele perke verontagsaam word.

Die tragieste van alles is dat dit blyk dat Satan die Kerk die onderspit laat delg het. Hy het ʼn doodsgees oor God se huis gewerp en die menigtes roep uit, “Ek kan nie ʼn kerk kry waar die Gees aan die werk is nie. Orals waar ek kyk is daar geen vuur, geen oortuiging nie. Dis dood”.

Jy mag sê, “Broer Dave, jy laat dit baie donker klink. Dit blyk alles erg ontmoedigend”. Maar die waarheid is dat Satan ʼn baie kort tyd gegun word. Dit is waarom hy alles uitstort wat hy vanuit die hel kan voortbring.

Tog het God geweet dit gaan gebeur. Hy is nie onkant betrap deur die boosheid wat ons sien nie. Nee, Hy het deurgaans ʼn plan vir sy mense gehad. Hy het die plan voor die skepping van die aarde geformuleer. En dit is nie net vir ons ʼn oorlewingsplan nie, maar vir ons ʼn oorwinningsplan.

Slegs een ding oorwin en verdryf die duisternis — dit is lig. Jesaja verklaar, “Die volk wat in duiternis wandel, het ʼn groot lig gesien” (Jesaja 9:1). Net so sê Johannes, “En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie” (Johannes 1:5).

Lig verteenwoordig begrip. Wanneer ons sê, “Ek sien die lig”, sê ons, “Nou verstaan ek”. Sien jy wat die Skrif sê? Die Here is gereed om ons oë te open, nie om ʼn oorwinnende duiwel te sien nie, maar om ‘n nuwe openbaring te ontvang. Ons God het ons sy Heilige Gees gestuur. Sy mag groter is as al die magte van die hel: “omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is” (1 Johannes 4:4)

In Openbaring lees ons van die hel, wat springkane en skerpioene aan wie groot mag gegee is, uitspoeg. Ons lees van die draak, diere, kreature met horings asook die koms van die Antichris. Tog ken ons nie die betekenis van al hierdie kreature nie. Die punt is, ons hoef nie. Ons hoef ons nie oor die Antichris en die merk van die dier te bekommer nie.

Jy sien, in ons lewe die Gees van die Almagtige God en sy Christus. Paulus verklaar dat die mag van die Heilige Gees in ons werk. Met ander woorde, die Heilige Gees is op hierdie tydstip lewend in ons.

Dus, hoe werk die Gees in ons te midde van ons moeilike tye? Sy krag word alleenlik vrygestel as ons hom ontvang as ons lasdraer. Die Heilige Gees is aan ons gegee vir hierdie eienste rede — om ons sorge en laste te dra. Dus, hoe kan ons bevestig ons het hom ontvang as ons nie ons laste aan hom oorgedra het nie?

Dink daaraan: die Heilige Gees is nie in heerlikheid êrens toegesluit nie; maar hy is hier en hy woon in ons. En hy wag angstig om beheer te neem oor elke omstandigheid in ons lewens, insluitend ons verdrukkinge. Dus, as ons voortgaan in vrees — wanhopig, betwyfelend, al dieper in besorgheid — dan het ons hom nie as ons trooster, helper, gids, redder en krag aangeneem nie.

Jy mag verskil deur te sê, ”Die Heilige Gees is gestuur om ons te krag te gee om God se getuies te wees”. Dis waar, maar waaruit bestaan ons getuienis? Is dit maar net om mense van Jesus te vertel? Is dit eenvoudig net om die Bybel aan te haal? Is dit net om vir mense te bid? Dit is alles deel van van ons getuienis, verseker — maar dit sluit nie ons hele getuienis in nie.

Nee, die getuienis aan die wêreld is die Christen wat al sy laste op die Heilige Gees gewerp het. Soos die Thessalonisense, sien hierdie gelowige al die oorweldigende probleme raak en tog het hy die blydskap van die Here. Hy vertrou die Gees van God om hom te troos en hom uit sy verdrukking uit te lei. En hy het ʼn kragtige getuienis aan ʼn verlore wêreld omdat hy blydskap verpersoonlik, ten spyte van die duisternis rondom hom. Sy lewe vertel aan die wêreld, “Hierdie persoon het die lig gesien”.

So ʼn persoon het waarlik die Gees “ontvang” omdat hy die Heilige Gees toegelaat het om alles wat hy nodig het om te oorwin, te voorsien. ‘n Verslae en terneergedrukte gelowige is beslis nie ʼn getuienis nie.

Beskou as voorbeeld Paulus se lewe. Hierdie apostel het gepraat van die “doodvonnis” oor hom: “Ja, ons het al self die doodvonnis oor ons gehad, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dode opwek” (2 Korinthiërs 1:9). Hy verduidelik, “Ons was teneergedruk, belas, verby ons krag. Ons was selfs wanhopig oor ons lewens. Ons was totaal verlate, met geen uitweg nie”.

Namate Paulus sy droewige toestand beskou het — verdrukkinge, moeilikhede, honger, vervolging, koue, naaktheid, gevangeskap, ʼn doring in sy vlees, bekommernisse en angste oor gemeentes, sameswerings en aanslae op sy lewe — was sy antwoord, “Dis die einde. Daar is geen uitweg nie. Menslik gesproke, sien ek net een antwoord en dit is die dood. Die enigste weg uit hierdie beproewing is om te sterf en met Jesus te wees”.

Geliefde, God het elkeen van Paulus se beproewinge toegelaat. En dit het die apostel verplig om nie op homself staat te maak nie, maar om ten volle op die Heilige Gees te vertrou om hom uit te red. Die Skrif sê, “en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly” (Efésiërs 6:13). In werklikheid word ons vertel, “Jy het al jou menslike vermoëns uitgeput. Jy het jou eie probleme probeer oplos en jy het jou einde bereik. Laat alles nou aan God oor. Hy sal jou bevryding vermag deur die Gees wat in jou woon”.

Paulus praat van veel meer as net ʼn passiewe sug, “Ag, ek sal God hiermee vertrou”. Nee, hy praat van om so hulpeloos, so gelate te wees dat jy jou moet verlaat op ʼn “God wat die dode opwek” (2 Korinthiërs 1:9). Sy gevolgtrekking was, “God alleen kan my uit hierdie hopelose ‘doods’ toestand bevry. Net sy Gees kan ‘n totale nuwe weg van verlossing bewerkstellig.”

“Wat ons verlos het uit so ʼn groot doodsgevaar en nog verlos, op wie ons hoop dat Hy ook nog sal verlos” (2 Korinthiërs 1:10). Wat ʼn ongelooflike stelling. Paulus sê, “Die Gees bevry my uit ʼn hulpelose omstandigheid. Hy bevry my reeds nou. En hy sal voortgaan om my uit al my verdrukking te bevry”.

Laat ek alles saamvat: Om die Heilige Gees te ontvang, word nie deur een of ander emosionele verskynsel bewys nie. (Tog glo ek daar is manifestasies van die Gees.) Ek praat daarvan om die Gees deur ʼn stil, steeds groeiende kennis te ontvang. Om hom te ontvang beteken ʼn ewig toenemende lig oor sy bevrydingsmag, sy vermoë om my las te dra, sy voorsiening.

Ek herhaal Petrus se woorde: “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug” (2 Petrus 1:3). Volgens Petrus kom die goddelike krag van die Gees nie as ʼn manifestasie nie. Dit kom eerstens “deur die kennis van Hom wat ons geroep het”.

En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja genade op genade.” (Johannes 1:16). Wat nog meer is, ons het die Heilige Gees nie ten volle ontvang alvorens hy in beheer is nie. Ons het hom eenvoudig nie ontvang nie tensy ons volle beheer aan hom gegee het nie. Ons moet onsself geheel en al in sy sorg plaas.

Laat ek jou ʼn finale voorbeeld gee om dit te illustreer. In Genesis 19 vind ons Lot en sy gesin in ʼn ontsettende krisis. Die stad Sodom was op die punt om veroordeel te word en dus het God sy engele gestuur om hulle te red. Lot het die deur vir die hemelse besoekers oopgemaak en hulle het ingegaan. Die engele het die hemel se gesag gehad om daardie hele gesin te verlos. Maar hulle wou eers nie na die engele luister nie en het getalm.

Jy sien, Lot se vrou kon haarself nie daartoe bring om haar lewe te verander nie. Toe sy hoor hoe die engele haar man aanspoor om Sodom te verlaat, moes sy gedink het, “Ek wil nie my mooi huis, my meubels, al my vriende verlaat nie. Dit kan sekerlik nie God se wil wees nie. Ek sal bid dat die Here sy oordeel uitstel. Hy moet ʼn wonderwerk vir my bewerk”.

Op die ou end moes die engele Lot en sy gesin dwing deur hulle uit Sodom te sleep. Dit was die hele tyd God se plan om hulle te verlos terwyl hulle op die vlug was. Hy sou hulle voed en klee en vir hulle sorg. Maar ons weet almal dat Lot se vrou omgekyk en gesterf het. Sy het in ʼn soutpilaar verander.

Die engele se boodskap was duidelik, “As jy God in beheer wil hê dan moet jy die leisels oorhandig. As jy Sy verlossing verwag dan moet jy jou planne laat vaar en gewillig wees om God s’n te volg”. Kortliks: Die Heilige Gees gebruik nie sy mag om twyfelaars te verlos nie. Ongeloof verydel sy werk. Ons moet bereid wees dat hy veranderings in ons lewens maak as dit God se verkose weg is om ons te verlos.

Na my mening het baie gelowiges vandag nog nie verlossing ervaar nie, omdat hulle aan hulle eie planne vasklou. Ek vra jou: Is jy gewillig om die Heilige Gees toe te laat om jou te lei en stuur. Jy het hom nog nie ontvang as jy nie met elke las wat jy dra na hom toe gegaan het nie. Ek versoek jou dringend — gaan bid en noem elke krisis wat jy moet trotseer op: “Hier is dit, Heilige Gees. Ek dra hierdie omstandigheid aan u oor. En ek vertrou dat u krag in my woon en by my bly. Ek gaan my nou nie verder hieroor kwel of slapelose nagte daaroor hê nie. Ek gee dit vir u”. Vertrou dan!

Jy moet jou eenvoudig nie oor jou toestand verknies nie. Ja, daar is duisternis rondom ons. Maar jy het die lig gesien. Is jy bereid om die Here te vertrou om jou deur te dra? Glo sy Woord wat Hy jou gegee het: “Wat ons verlos het uit so ʼn groot doodsgevaar en nog verlos, op wie ons hoop dat Hy ook nog sal verlos” (2 Korinthiërs 1:10).