Onthou Jou Verlossings

Vind Nuwe Krag vir Jou Huidige Beproewing
David Wilkerson

Hoe vinnig vergeet ons God se groot verlossings in ons lewens. Hoe maklik neem ons die wonderwerke wat Hy in ons verlede gedoen het as vanselfsprekend. Die Bybel vertel egter oor en oor vir ons, “Onthou jou verlossings.”

Ons is baie soos die dissipels. Hulle het Christus se wonderwerke nie verstaan toe Hy duisende bonatuurlik gevoed het met net ‘n paar broodjies en vissies nie. Jesus het hierdie wonderwerk twee keer gedoen en het die een keer 5,000 gevoed en ‘n skare van 4,000 die volgende keer. Net ‘n paar dae later, het die dissipels egter van hierdie twee geleenthede vergeet.

Dit het gebeur toe Jesus hulle gewaarsku het teen die suurdeeg van die Fariseërs. Die dissipels het vergeet om brood saam te neem op hulle reis. Maar Christus het hulle geantwoord, “Begryp julle nog nie, en onthou julle nie die vyf brode van die vyfduisend, en hoeveel mandjiesvol julle opgetel het nie?” (Matthéüs 16:9-10).

Volgens Markus was Christus verstom oor hoe vinnig sy dissipels sy ontsaglike wonderwerke vergeet het. Jesus het gesê, “Begryp julle nie en verstaan julle nie? Het julle nog julle verharde hart? Het julle oë en sien julle nie? en het julle ore en hoor julle nie? En onthou julle nie toe Ek die vyf brode vir die vyfduisend gebreek het, hoeveel mandjies vol brokstukke julle opgetel het nie?” (Markus 8:17-19).

Wat vertel hierdie gedeeltes vir ons? Dit is duidelik dat nie een van die dissipels ‘n oomblik geneem het om te dink aan wat aan die gebeur was toe daardie wonderbaarlike voedings plaasgevind het nie. Probeer om hierdie manne voor te stel terwyl hulle hulle mandjies dra en brood en vissies wat wonderbaarlik voor hulle oë vermeerder het, uitdeel. ‘n Mens sou dink dat daardie dissipels op hulle knieë sou val en uitroep, “Hoe is dit moontlik? Dit is eenvoudig wonderlik. Dit is ver bokant menslike verduideliking. O, Jesus, U is waarlik Here.” Ek stel myself voor dat hulle die mense aanpor terwyl hulle hulle bedien het, “Hier, geniet hierdie wonderkos, gestuur vanuit heerlikheid. Jesus het dit voorsien. Aanskou ons God en aanbid Hom!”

Die dissipels het hierdie wonderwerk met hulle eie oë gesien. Op een of ander manier het die betekenis van die wonderwerke nie by hulle geregistreer nie. En nou, net ‘n kort rukkie later, was hulle vol twyfel en vrae omdat hulle “geen brood gehad het nie.” Jesus moes dit vir hulle uitwys, “Hoe vinnig vergeet julle die wonderwerke wat God vir julle bewerkstellig het. Julle het nie julle verlossings verstaan nie.”

Ek wonder ook: waarom het hierdie skare, wat so wonderbaarlik gevoed was, nie opgestaan om Jesus te aanbid nie? Waarom het hulle nie God geprys met verhefde stemme en uitgestrekte arms nie? Dit is duidelik dat hulle ook nie hulle wonderwerke verstaan het nie. En dit is weens dieselfde rede dat jy en ek vinnig vergeet van God se wonderwerke in ons lewens. Gister se verlossings word gou vergeet in die krisis van vandag.

Regdeur beide Testamente lees ons, “Onthou die kragtige arm van die Here om wonderwerke ter wille van jou te doen. Onthou al julle vorige verlossings.” Beskou Moses se teregwysing aan Israel na die wonderwerk by die Rooi See:

“Verder het Moses aan die volk gesê: Dink aan hierdie dag waarop julle uit Egipte, uit die slawehuis, uitgegaan het; want die HERE het julle deur ‘n sterke hand hiervandaan uitgelei...En as jou seun jou later vra en sê: Wat beteken dit? Dan moet jy hom antwoord: Die HERE het ons deur ‘n sterke hand uit Egipte, uit die slawehuis uitgelei...En dit sal as ‘n teken wees op jou hand en ‘n voorhoofsband tussen jou oë; want die HERE het ons deur ‘n sterke hand uit Egipte uitgelei” (Exodus 13:3, 14, 16).

Die Fariseërs het hierdie laaste vers tot op die uiterste geïnterpreteer. Hulle het gedenkseëls, of klein boksies wat geskrewe wette bevat het, gemaak en hulle het dit aan hulle arms en voorhoofde vasgebind. Wat Moses egter hier beskryf het, was ‘n metafoor, ‘n geestelike bediening. Dit was ‘n gebod aan elke Israeliet om al die wonderlike verlossings wat hulle gesien het, onuitwisbaar in hulle gedagtes in te prent. Die Here het in wese aan hulle vertel:

“Bewaar hierdie herinnering en hou hulle byderhand. Laat dit altyd vars in julle geheue wees. Elke keer wat jy ‘n krisis beleef, elke keer wat jy ‘n reus moet trotseer, elke keer wat ‘n vernietigende vyand jou aanval, moet jy al die wonderwerke wat Ek vir jou gedoen het, onthou. Moet nooit die verlossings wat jy beleef het, vergeet nie. Hou boek daarvan in jou gedagtes en onthou elke besonderheid. Maak dan seker om dit aan al jou kinders te vertel. Hou aan om oor jou wonderwerke te praat van geslag tot geslag. Dit sal jou geloof bou en die geloof van elke geslag wat volg.”

Niemand het groter wonderwerke van verlossings gesien as Moses se generasie nie. Dit het begin met die verstommende tien plae wat op Egipte toegeslaan het. Swerms sprinkane, plae van paddas, riviere wat in bloed verander het, ‘n duisternis so pikswart dat dit tasbaar was — al hierdie dinge het chaos en verwarring onder die Egiptenare veroorsaak. Tog, die hele tyd, het Israel veilig in hulle gebied gesit en was beskerm teen al daardie dinge.

Daardie Israeliete het ‘n heerlike wolk agter hulle sien sak en dit het hulle weggesteek van Farao se aankomende leër. Hulle het gesien hoe die nagtelike hemel verlig word met ‘n kolom van vuur, wat hulle warm gemaak het in die koue nagte van die woestyn. En hulle het ‘n hele see sien oopmaak voor hulle, met walle van water aan elke kant. Hulle het op droë grond deur daardie opgedamde golwe geloop. En die volgende dag, het Israel gesien hoe Farao se leër bonatuurlik vernietig word toe daardie walle van water neergeval het op hulle agtervolgers en hulle uitgewis het.

Watter groot verlossings het Israel nie beleef nie! Tog het hulle nie een daarvan verstaan nie. In werklikheid het hulle gou van alles vergeet. Hoe weet ons dit? Dit is neergeskryf: “Ons vaders in Egipte het nie ag gegee op u wonders, hulle het nie gedink aan die menigte van u goedertierenhede nie, maar was wederstrewig by die see, by die Selfsee” (Psalm 106:7). Hoe was Israel wederstrewig by die Rooi See? Net drie dae na hulle wonderbaarlike verlossing, het hulle God daarvan beskuldig dat Hy hulle in die woestyn ingelei het om hulle van die dors te laat sterf.

“En hulle het God opnuut versoek en die Heilige van Israel gekrenk. Hulle het nie aan sy hand gedink, aan die dag toe Hy hulle van die teëstander verlos het nie; toe Hy sy tekens gedoen het in Egipte...en Hy het hulle riviere verander in bloed en hulle strome, sodat hulle nie kon drink nie” (Psalm 78:41-44). “Maar hulle het gou sy werke vergeet, op sy raadsbesluit nie gewag nie...Hulle het God vergeet, hulle Verlosser, wat groot dinge gedoen het in Egipte, wonders in die land van Gam, vreeslike dinge by die Selfsee” (Psalm 106:13, 21-22).

Die presiese ding waaroor Moses die Israeliete berispe het, het gebeur. Hy het hulle gewaarsku, “Neem jou in ag en wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak” (Deuteronómium 4:9).

Ek sien dieselfde ding vandag gebeur in die kerk van Jesus Christus. Ons word beveel deur God se Woord om “ons verlossings te dra.” Ons moet hulle elke oggend aansit op dieselfde wyse wat ons ons klere aantrek. En ons moet dit byderhand hou, om dit vir altyd voor ons oë te hou. Tog vra ek jou: hoe baie wonderbare vorige verlossings dra jy op hierdie oomblik? Hoe helder hou jy God se wonderwerke in jou gedagtes? Is hulle so byderhand dat jy nou kan opstaan en getuig oor elke heerlike besonderheid?

Toe die Heilige Gees hierdie vraag aan my gevra het, was ek oorweldig. Ek kan net ‘n paar van my verlossings in betekenisvolle besonderhede onthou. Ek het van so baie vergeet. En ek het soveel ander as vanselfsprekend aanvaar. Die ergste van alles is, dat ek dit nie op my belangrikste tye onthou het nie: toe ek ander krisisse beleef het nie. Die herinnering van my verlossings sou my geloof kon voed gedurende daardie beproewings.

Ons word beveel om ons kinders en kleinkinders te vertel van al die groot dinge wat God vir ons gedoen het. Ek moes dit eintlik neergeskryf het, ‘n dagboek gehou het van my verlossings. So, waarom is hierdie gebod om te onthou so belangrik?

Dit is vir ons eie voordeel dat God ons vertel om te onthou. Die herinnering van ons vorige verlossings help versterk ons vir wat ons op die oomblik deurgaan.

Beleef jy ‘n krisis? Het jy ‘n dreigende reus van ‘n probleem, tuis, by die werk of in jou familie? Die enigste manier om hierdie reus te konfronteer, is om te doen soos Dawid: onthou die leeu en die beer. Dit is hoe Dawid teen Goliat kon opstaan sonder vrees: deur God se getrouheid aan hom in vorige krisisse te onthou. Laat my verduidelik.

Toe Dawid aangebied het om vrywillig teen Góliat te veg, het Saul Dawid geantwoord, “Jy kan nie na hierdie Filistyn gaan om teen hom te veg nie...Daarop se Dawid aan Saul: U dienaar het vir sy vader die kleinvee opgepas, en as daar ‘n leeu of ‘n beer kom en ‘n stuk kleinvee uit die trop wegdra, dan gaan ek uit agter hom aan en verslaan hom en ruk dit uit sy bek uit...U dienaar het die leeu sowel as die beer doodgeslaan, en met hierdie onbesnede Filistyn sal dit gaan soos met een van hulle” (1 Samuel 17:33-36).

Heel moontlik het Dawid teenoor Saul getuig, “Ek onthou die grootte van die beer wat teen my gekom het. Ek het altwee my hande in ‘n lap toegedraai, dit in sy mond gedruk en sy kakebeen oopgeruk. Toe het ek die beer se karkas geneem en dit afgeslag. Ek het die jas van sy pels vir my pa gegee as ‘n getuienis van God se magtige vermoë om my te verlos.”

Dawid het nou geweet wat was die gevaar, wat hy nou teen Góliat moes trotseer. Hy was nie een of ander nuweling, ‘n naïewe kind vol bravade op soek na ‘n geveg nie. Nee, Dawid het eenvoudig net sy vorige verlossings onthou. En nou het hy sy vyand vierkantig in die oë gekyk en verklaar, “Die HERE wat my gered het uit die klou van die van die leeu en uit die klou van die beer, Hy sal my red uit die hand van hierdie Filistyn” (1 Samuel 17:37).

Talle van God se mense vandag trotseer reuse aan alle kante. Tog, sidder baie in vrees. Beskryf dit jou? Het jy die tyd vergeet toe jy so siek was dat jy naby die dood was, maar die Here het jou weer laat opstaan? Onthou jy daardie finansiële ramp toe jy gedink het, “Dit is sekerlik nou verby met my,” tog het die Here jou deurgedra en het jou tot op hierdie dag bewaar?

Beskou hierdie stories van beproewing van mense wat aan ons bediening geskryf het:

  • ‘n Ouerige paartjie treur oor hulle seun se verskriklike dade. Die jong pastoor het sy vrou en twee kinders en sy bediening verlaat om ‘n gay lewenstyl na te jaag. Sy ouers is platgeslaan, veral as hulle dink aan die effek wat dit op hulle kleinkinders het.

  • ‘n Pastoor en sy vrou is bedroef oor ‘n dogter wat hulle uit haar sterfbed uitgebid het. Nadat die meisie genees is, het sy begin om dwelms te gebruik en op die ou einde getrou met ‘n man, wat ‘n moordenaar geword het. Hy is nou in die tronk en die paniekerige meisie is besig om beheer te verloor en dink aan selfmoord. Nou is haar ouers spyt oor haar genesing en wonder selfs of dit nie vir haar beter sou wees as sy nie gesond geword het nie.

  • ‘n Jong moeder met drie kinders sit alleen in haar gehuurde huis. Haar man het onlangs gesterf en haar met geen versekering of ondersteuningsmiddele gelaat nie. Sy is alleen en sonder geld.

  • ‘n Oklahoma besigheidsman word gedagvaar deur sy vennoot, wat homself ‘n Christen noem. Die vennoot is van plan om die besigheid, wat hierdie man begin het, te steel. Die besigheidsman wil net met hom praat, maar die vennoot weier. Nou is die howe aan die kant van die vennoot, selfs al het hierdie besigheidsman net reg teenoor hom gedoen.

  • ‘n Vyf-en-vyftig jarige man in Pittsburgh was afgelê van sy hoogs betalende werk. Nou word hy geteister met ‘n neerdrukkende gedagte, “Wie wil ‘n 55-jarige aanstel?” Hy het skuld en het ook sy kinders finansiëel gehelp. Nou word hy paniekerig en gaan elke dag uit om te gaan stap, omdat hy te skaam is om by die huis te sit en niks doen.

Dit is maar net ‘n paar van die reuse wat gelowiges beleef. Baie ander heiliges skryf aan ons vanuit hulle ondraaglike beproewings en sê, “Ek verstaan dit nie.” Hierdie mense is almal getroue gelowiges wat op God se Woord vertrou en in sy Gees wandel. As ‘n herder van die Here, wat moet ek vir hulle sê?

In der waarheid is daar baie dinge wat ek nie verstaan nie en eenvoudig nie sal verstaan totdat ons tuis by Jesus is nie. Maar ek glo geheel en al dat God kan genees en dat Hy ‘n weg uit elke situasie het. Die vraag aan ons is, waar vind ons die geloof en die moed om op te staan en die oorwinning in Hom te behaal?

Dit kom slegs deur die leeu en die beer te onthou. Dit kom wanneer jy in staat is om die ontsaglike getrouheid van God te onthou in al die vorige oorwinnings wat Hy aan jou gegee het. Jy sien, jy kan nie ‘n reus trotseer totdat jy in staat is om die majesteit en heerlikheid van God in jou lewe te sien en te verstaan nie. Om dit te doen, dring ek by jou aan om na die heel begin te gaan, toe jy die eerste keer met die Here ‘n pad begin stap het.

Onthou jy hoe jy was voor Jesus jou geroep het? Weet jy regtig hoe naby aan die hel jy was, sommiges miskien naby selfmoord en ander naby daarby om demonies besete te word? Onthou jy die wonderwerk wat plaasgevind het, die verandering wat geskied het en die verlossing wat jou uit die put waarin jy was, uitgehaal het?

Onthou jy toe jy verlos was van toenemende versoekings, van strikke wat die duiwel vir jou gestel het? Het jy naby aan moedverloor se vlakte gekom? Het jy amper alles weggegooi? Was jy so moedeloos, so oorweldig, dat jy gedink het dat dit nutteloos was om met die Here aan te gaan?

Onthou: die Gees van God het oor jou gekom. Jy het jouself bekeer en Hy het jou terug na Hom toe getrek. Die Here het jou daardie keer en baie ander kere uit die duiwel se strik geruk. Vra jouself af hoeveel desperate gebede het die Here vir jou beantwoord?

As dit moontlik is, klim in jou kar en ry na ‘n plaaspad in die nag. Stop die motor, klim uit en kyk op na die maan en die miljoene sterre. Onthou dan jou Skepper God en al sy handewerk.

Die ruimtereisiger Charlie Duke het eenkeer met ons enkellopendes by Time Square Church kom praat. Hy het vertel van hoe dit was om teen hoë spoed in ‘n klein ruimtetuig 28,000 myl van die aarde af te wees op pad na die maan. Soos die bemanning die tuig na die kant gedraai het, het iemand uitgeroep, “Kyk na daardie asemrowende gesig!”

Dit was die aarde wat wonderbaarlik in die swart ruimte gehang het. Dit het daar gehang, ‘n groot, helder bal, ondersteun deur niks nie. Die hele bemanning was oorweldig deur die gesig. Hulle het geweet dat net ‘n almagtige Skepper God so iets kon maak.

Inderdaad, dit was dieselfde plan wat God gebruik het om Job uit sy droefheid uit te haal. Die Here het daardie lydende man geforseer om sy oë op die fondamente van die aarde te rig en te vra, “Waaraan is die aarde vasgemaak, Job? Wat hou dit in die ruimte?” God het verder gegaan en gevra, “Wie het die see beperk tot sy grense? Wie vertel vir die magtige oseaan, ‘Kom tot hier, maar nie verder nie?’ Wat keer die golwe om die land te oorweldig? Waarom verdrink jy nie van die stygende waters nie, Job? En waar is die fontein waaruit die see vloei?

“Hoe word die lig van die duisternis geskei? Hoe word die wind verdeel en versprei? Hoe word die reën gebore? Kan ‘n man weerlig, donder en wolke maak? Wie dink jy het al hierdie natuurkragte in werking gestel, Job? Wie het wildheid en makheid in die aard van diere geplaas?”

God het Job letterlik deur ‘n “magskursus” geneem en sy skepping geopenbaar. Deur dit alles, het Hy vir Job vertel, “Jy het vergeet wie Ek is. Jy beskuldig my van verwaarlosing. Jy twyfel aan my besorgdheid oor jou en my mag om jou te verlos. Tog het ek vir jou gewys hoe Ek vir my groot skepping sorg” (sien Job 38-40).

Die Here het voortgegaan totdat Job uiteindelik oorweldig was. Nou het Job na sy probleme gekyk en gesê, “Ek was dwaas. Ek het my oë op die verkeerde plek gehad: op my pyn in plaas van op U. O, Here, ek het al hierdie van U vergeet. Ek het geweet dat U alles kan doen. En ek weet dat geen gedagte van U weerhou kan word nie” (sien Job 42:2-3).

Vrees kan nie ‘n vashouplek kry op die hart van iemand wie se oë vol van ‘n visie van God se grootheid en majesteit is nie.

Nehemía het hierdie beginsel baie goed verstaan. Hy het heen en weer tussen die mure van Jerusalem gestap terwyl ‘n moeë, uitgeputte oorblyfsel besig was om die mure van die stad te herbou. Die Israeliete was omring deur aggresiewe vyande, ‘n koalisie gelei deur Sanbállat en die goddelose Tobiá. Nou was vrees besig om nes te skop. Die stad se mure was nog nie klaar nie en daar was oral puinhope. Die afgematte werkers was gedwing om met ‘n hamer in die een hand en ‘n swaard in die ander hand te swoeg.

Wat was die antwoord vir hulle vrese? Hoe kon hulle voortgaan sonder om in te gee? Nehemía het hulle herhinner aan hoe groot en wonderbaar hulle God is. “Ek het dit gesien en my opgerig en aan die edeles en die leiers en die ander mense gesê: Julle moet nie bang wees vir hulle nie; dink aan die grote en gedugte Here, en veg” (Nehemia 4:14).

Liewe heilige, is jy bang in jou situasie? Het jou probleem jou oorweldig en jou vertroue in die Here geskud? Indien wel, onthou hoe groot en gedug jou God is. Dit is presies hoe Moses met vrees in sy gemeente afgereken het. Hy het vir Israel gesê: “As jy in jou hart dink: Hierdie nasies is meer as ek, hoe sou ek hulle kan verdrywe? — wees dan nie bevrees vir hulle nie; dink gedurig aan wat die HERE jou God aan Farao en die hele Egipte gedoen het...Skrik nie vir hulle nie, want die HERE jou God is by jou, ‘n groot en gedugte God” (Deuteronómium 7:17-18, 21).

Moses het in wese gesê, “Julle gaan baie groot vyande wat magtiger as julle is moet trotseer. Julle gaan wonder hoe julle ooit oorwinning gaan kry wanneer dit lyk of julle kanse maar skraal is. Maar al wat julle moet doen, is om te onthou hoe groot julle God is. Onthou wat Hy aan julle vyande gedoen het in die verlede en hoe getrou Hy was julle te verlos.”

Moses het Israel aangepor, “Hy het alles vir julle gedoen. En julle moet sy mag toe-eien.” “Hy is jou lof, en Hy is jou God wat hierdie groot en vreeslike dinge wat jou oë gesien het, aan jou gedoen het” (Deuteronómium 10:21).

Dawid het gevra, “En wie is soos u volk, soos Israel, ‘n enige nasie op die aarde, wat God vir Hom as ‘n volk gaan verlos het, en om vir Hom ‘n naam te maak; en om groot dinge te doen vir hulle en vreeslike dinge aan u land voor u volk uit wat U verlos het vir U van Egipte, van die heidene en hulle gode?” (2 Samuel 7:23).

God het aan ons verklaar, “Want Ek, die HERE, het nie verander nie” (Maleági 3:6). En vandag soek Hy steeds om ons sy grootheid te wys aan almal wat sal glo en sy mag sal toe-eien. “Want die HERE — sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is” (2 Kronieke 16:9).

Moses se sterwenswoorde aan God se mense was, “Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie” (Deuteronómium 31:6).

Ten slotte, ons hoor van die apostel Paulus. Hy het gebid dat die oë van elke heilige oopgemaak sou word om die grootheid van God se krag vir ons te sien: “Dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring van kennis van Hom mag gee, verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van sy heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is; en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte” (Efesiërs 1:17-19, kursief myne).

Van al die belangrikste dinge wat ek onthou, is die grootste die herinnering wat ons elke week aan die Nagmaalstafel onthou. Ons Here se dood, die mees fenomenale wonderwerk van almal. Ons Here Jesus Christus het die dood oorwin en vandag staan Hy as oorwinnaar oor elke beproewing wat jy beleef. Verder, Hy is met jou in jou beproewing. Ek dring by jou aan: haal jou oë van jou pyn af en onthou sy wonderwerke aan jou. Dan sal jy ‘n visie hê van die majesteit en heerlikheid van God wat jou verlossing is.