Omhels die Wil van God!

David Wilkerson

Elke ware gelowige van Jesus Christus sê hy wil die wil van God doen. Maar die meeste Christene dink aan God se wil as iets wat op hulle afgedwing word – iets onsmaakliks en moeilik, wat hulle gedwing word om te doen.

Ek glo die volmaakte wil van God is ‘n saak van groot belang vir almal wat sê hulle het die Here lief. En daar is ‘n groot verskil tussen onderdanig te wees aan God se wil en sy wil te omhels.

Om te onderdanig te wees beteken “om jouself te onderwerp aan,” of om “toe te gee aan gedwonge voorwaardes.” Dikwels word aan onderwerping gedink in terme van straf of tugtiging. Byvoorbeeld, die regering van Irak was gedwing om hulle te onderwerp aan strafmaatreëls ingestel deur die Verenigde Nasies. Die Iraki’s het nie hierdie strafmaatreëls omhels nie – liewer, hulle was onderdanig daaraan.

Dit is jammer dat baie Christene die wil van God op hierdie manier sien. Hulle sien asof God afeis dat hulle toegee aan ‘n moeilike stel reëls en voorwaardes: “Doen dit op My manier, of jy is op jou eie!”

Hoe verkeerd is hulle nie! Hoe heeltemal anders as ons lieflike Verlosser is sulke gedagtes. Wanneer ‘n gelowige in der waarheid die heerlikheid van die Here se volmaakte wil ken, omhels hy dit met blydskap en hoop! Om te omhels beteken “om vas te gryp, soos in jou arms” – om teen jou boesem te druk as ‘n uitdrukking van liefde en toegeneëntheid. Die hartseer werklikheid is egter dat baie min Christene God se volmaakte wil omhels.

Miskien dink jy, “God se volmaakte wil het by my verbygegaan. My lewe is buite beheer – dit het geen patroon of orde daaraan nie.” Nee! Jy kan verseker wees dat God ‘n absolute, volmaakte plan en wil vir elkeen van Sy kinders het. Hy laat geen enkele lewe aan die noodlot oor nie. Hy wil in werklikheid elke tree wat jy gee van jou dae hier op aarde rig. En Hy begeer dat jy vandag Sy plan en wil vir jou lewe binnegaan!

God se pragtige wil is nie net vir bedienaars of diep geestelike heiliges nie, maar vir al Sy kinders. Die Nuwe Testament vermaan ons: “Om die orige tyd in die vlees nie meer volgens die begeerlikhede van die mense te leef nie, maar volgens die wil van God” (1 Petrus 4:2). “Julle volmaak in elke goeie werk, om sy wil te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor Hom” (Hebreërs 13:21).

Die vroeë apostels het een begeerte gehad vir al die kerke – dat elke lid God se volmaakte wil vir hulle lewens ken en dit omhels. Paulus het geskryf van ‘n broer genaamd Épafras, “wat een van julle is, ‘n dienskneg van Christus...stry altyd vir julle in die gebede, dat julle volmaak en volkome mag staan in die ganse wil van God” (Kolossense 4:12). Épafras het geweet God het ‘n volmaakte wil vir almal in die gemeente gehad. En hy het geweet dat as hulle in die Here se wil sou ingaan, hulle vol blydskap, ekstase sou wees en al hulle behoeftes vervul sou word.

Dit is baie maklik vir enigeen van ons om te sê, “Ja, ek wil God se volmaakte wil in my lewe hê!” Maar geen gelowige betree Sy wil egter sonder ‘n groot stryd nie. God se volmaakte wil word slegs in Getsémané omhels – en Jesus het vir ons die voorbeeld gestel.

Jy kan eenvoudig nie God se wil omhels totdat jy gesterf het aan eiewil nie!

 Dit was van Jesus geprofeteer van die heel begin af, dat Hy na die aarde sou kom vir een ewige doel: om die wil van die Vader te vervul. “Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom – in die boekrol is dit van My geskrywe – om u wil te doen, o God” (Hebreërs 10:7).

Christus het vir Sy dissipels gesê: “Omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het” (Johannes 5:30). “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring” (Johannes 4:34). “Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het” (Johannes 6:38).

Daar was nooit ‘n oomblik in Jesus se lewe waar Hy nie daarvan bewus was, dat dit Sy doel op aarde was om die wil van die Vader te doen nie. Dit behoort ook van ons waar te wees – dat ons in elke wakker uur van die dag sal soek om Sy wil te doen. Ons behoort in werklikheid nie meer aan onsself nie; ons is teen ‘n prys gekoop. En soos Jesus, is ons geskep om die Vader se volmaakte wil te doen!

Dit maak egter nie saak hoe geestelik jy is of hoe lank jy al met Jesus wandel nie, ‘n tyd sal aanbreek wanneer jy vir eens en vir altyd sal moet besluit wie se wil in jou lewe gaan heers: joune – of die Vader s’n. Jesus moes so ‘n uur trotseer. Hy het geweet Hy het ‘n goddelike, ewige roeping. Maar Hy was ook mens – en Hy was ernstig getoets!

Toe daardie uur vir Christus aangebreek het, het Hy voor Hom die pynlike koste gesien van om Sy Vader se volmaakte wil te omhels. Dit het beteken om reguit in die kake van die dood in te loop – in die pyn wat so onbeskryflik en onbekend was – en Hy was “diep bedroef, tot die dood toe” (Matthéüs 26:38). “En toe Hy in ‘n sware stryd kom...[het] sy sweet...geword soos bloeddruppels wat op die grond val” (Lukas 22:44). Jesus se vlees het begin bewe!

Geliefde, ons Here se bloedige stryd by Getsémané het alles daaroor gegaan om God se wil te omhels: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil” (Matthéüs 26:39). Jesus se eie menslike wil moes sterf. Hy het ‘n lewe-of-dood stryd daaroor gehad!

Toe Hy egter van daardie stryd af opgestaan het, was Sy siel vol ekstase. Daar was iets in Hom van ewige heerlikheid – omdat iets afgehandel was: Sy eiewil het vir ewig dood gelê!

Ons Here het na die Kruis gegaan met volkome blydskap – omdat Hy reeds dood was. Hy het gesterf aan alles wat van Sy mensheid af was. En Hy was in staat om te sê, “Vader, Ek het nie hierheen gekom om ‘n maklike lewe te leef nie. Ek het gekom om Myself vir U te spandeer. Nou kyk ek die prys in die oë – en ek omhels dit!”

Jesus het aan die Vader se wil vasgehou met ‘n toegeneëntheid wat Hom uit al die lyding wat vir Hom voorgelê het, gehaal het. Geen mens of demoon kon Hom aanraak nie. En nou het Hy gretig die heerlikheid wat Sy Vader s’n sou wees verwag!

As ons soos Christus moet wees, sal ons ook ons Getsémané hê wanneer ons gekonfronteer word om in God se volmaakte wil in te beweeg.

Jy mag dalk jarelank getuig het: “Ek is hier op aarde om God se wil alleen te doen. Ek sal gehoorsaam!” Maar dan, eendag, word jy van aangesig tot aangesig gebring met ‘n lewe-of-dood krisis bokant enigiets wat jy ooit geken het. Dit is ‘n plek waar om God se wil te kies, die pynlikste, moeilikste besluit sal wees wat jy ooit beleef het.

Op die ou end, het jy drie keuses:

1. Jy kan vlug.

2. Jy kan niks doen nie en die weg van eiewil gaan.

3. Of jy kan dit op God se manier doen, die moeilike manier – die weg van die dood.

Die Here se manier lyk amper altyd pynlik en hopeloos. En om dit te omhels, kan beteken om te sterf aan alles waarop jy gehoop het in die vlees. Laat my vir jou twee werklike-lewe illustrasies gee:

* ’n Lewenslustige jong Engelse meisie was geroep om ‘n sendeling te wees. Sy het haar hart heeltemal aan die Here oorgegee – en sy was vol van ambisie vir Jesus! Sy het ‘n klein gebedsgroep gelei en het met mense op die strate gewerk. En soos die meeste meisies van haar ouderdom, het sy gehoop om ‘n geestelike jongman te vind om mee te trou – iemand wat haar las vir die verlorenes sou deel. Sy het teenoor vriende en Christus getuig dat sy gereed was om God se volmaakte wil te doen, maak nie saak wat die prys was nie!”

Die dag het gekom waarop daardie begeerte getoets is. Sy was nog net ‘n baie jong meisie – en die Heilige Gees het haar beveel om op ‘n boot te klim en na die Ooste te gaan!

Sy het op haar knieë geval: “Wat van ‘n man, Here – ‘n geestelike bedekking vir my bediening? Wat van al die heidene in Engeland wat U nodig het? Wat van al my vriende en ons wonderlike gebedsbyeenkomste? Is ek veronderstel om net ‘n tas te pak en te gaan – sonder dat ek iemand ken, en nie eers die taal nie?” Sy het die wil van God in die oë gekyk – die onbekende. Sy het egter geweet die Gees het gepraat, en Sy wil was duidelik geopenbaar: “Gaan – en Ek sal saam met jou gaan!”

Sy het ‘n Getsémané belewenis gehad! En voor sy opgestaan het uit gebed, het sy gesterf – vir alle ambisie, vir kerk en vir vriende, vir alle gemak en eiewil. Blydskap het haar hart gevul!

Sy het op die boot geklim en vir haar vriende totsiens gewaai. Sy het die lyn oorgesteek: God se wil ten alle koste! Toe die boot by Hong Kong aangekom het, het God vir haar gesê om af te klim -  en sy het, sonder dat sy iemand ken.

Dit was meer as vyftien jaar gelede. Vandag is Jackie Pullinger ‘n geestelike moeder vir letterlik honderde dwelmverslaafdes en geknelde mense in die krotbuurte van Hong Kong. Sy is getroud met Jesus en is ‘n ware dogter van Sion. Sy ken die ekstase van om in die volmaakte wil van die Vader te wees – ‘n ekstase wat haar nooit verlaat het toe sy eers op die boot geklim het nie!

* ’n Vrou genaamd Amanda Smith het meer as ‘n eeu gelede geleef – ‘n vrou wie se hart op God ingestel was. Sy was ‘n nederige swart bediende en gebedskryger. Mense het die teenwoordigheid van Jesus om haar gevoel.

God het hierdie jong vrou ‘n wonderlike, liefdevolle man gestuur wat saam met haar bedien het. Amanda was ‘n sendeling in haar hart – sy het daarvan gehou om te reis, en sy het mense vir die Here gewen waar hulle ook al gegaan het. Maar toe het die Burgeroorlog uitgebreek en Amanda se man het gesneuwel.

Amanda het getreur. Maar sy het voortgegaan om haarself heeltemal aan gebed en diens aan ander oor te gee. Uiteindelik, het sy egter eensaam begin voel. Sy het begin bid, “Here, stuur vir my ‘n goddelike man – een wat my las om te reis en te bedien sal deel.

Eendag het sy ‘n man ontmoet wat gelyk het of hy al hierdie dinge was. Hy was ‘n Metodiste lekeprediker wat gesê het hy sou georden word as ‘n reisende prediker. Amanda het gebid, “O Here, dankie – dit is die man!”

Maar Amanda het nie die saak na Getsémané geneem nie! Sy het nie die Here vir Sy volmaakte wil gesoek nie. Diep in haar hart was sy bang God sou nee sê – en sy wóú met hom trou. Amanda het nooit gesterf aan haar eie wil nie – en háár wil het oorgeneem. Hulle het getrou – en binne drie weke het Amanda besef sy het God se wil misgeloop. Haar man was nie ‘n man van gebed nie – hy het toneelgespeel, nét om haar hart te wen. Toe het hy bely hy sou nie georden word nie. Hy het gesê hy het geweet sy sou nie met hom trou as sy die waarheid geweet het nie!

Uiteindelik het hy Amanda verlaat en afvallig geword. Sy het die res van haar lewe alleen deurgebring. Maar alles wat sy van daardie punt af gedoen het, het sy na God geneem en gesterf aan haar eiewil – en was baie geseënd! Die Here het haar volmaak gelei gedurende haar leeftyd. Sy was magtig gebruik as ‘n prediker van heiligheid. Amanda Smith het ekstase in God se volmaakte wil gevind!

As die wil van God nie met blydskap en gehoorsaamheid omhels word nie, gebeur iets skrikwekkends!

Hardheid sluip in – die lewe verloor sy smaak, en alles raak dood. Dit is wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het, “Dink aan die vrou van Lot” (Lukas 17:32).

Dit was nou wel God se volmaakte wil om Sodom en Gomorra te tugtig en te vernietig. En dit was Sy genadige wil om Lot en sy familie na veiligheid te neem. As die engele hulle nie almal aan die hand gegryp het en hulle uitgesleep het nie, sou hulle verlore gewees het! Lot se vrou het egter nie in ‘n soutpilaar verander omdat sy teruggekyk het nie. Ek is seker Lot en sy dogters kon ook nie help om terug te kyk na so ‘n slagting nie.

Nee – wat Jesus oor Lot se vrou gesê het, strek baie dieper. Jy sien, sy was kwaad vir God! In haar hart, was sy getroud met haar huis, haar familie, haar vriendekring – en God het dit alles weggeneem. Sy het geen begeerte vir God se volmaakte wil gehad nie, selfs al sou dit beteken om al daardie dinge te verloor!

Ek kan haar hoor huil: “God, dit is nie reg nie! Alles het so goed gegaan. My pragtige kombuis, my lieflike porselein – niks daarvan is sondig nie. Ek is ‘n goeie moeder. Ons Sondagetes is so wonderlik. Waarom neem U alles van my af weg?”

Op daardie oomblik, in haar broeiende woede, het haar hart in klip verander. Bitterheid het haar verteer. En Jesus het van haar gesê, “Wanneer jy getroud is met dinge en jy nie uit jou Sodom wil uitgaan nie, sal ‘n hardheid in jou nesskop. Jy sal soos ‘n lewelose standbeeld wees, dood van binne – omdat dinge hulleself aan jou hart verbind het!”

Nie net het Lot se vrou God se wil misgeloop nie – insluitend ‘n nuwe begin, met vrede en doelgerigtheid – maar sy het ook al haar aardse drome en begeertes verloor! Dit het alles in rook opgegaan!

Om die wil van God te doen, kan vereis om reguit in die brandende vuuroond in te loop!

Beskou die drie Hebreeuse jongmanne Sadrag, Mesag en Abednégo. Hulle was jongmanne in die fleur van hulle lewens: leiers van provinsies, gesaghebbend, kenners in taalkunde. Hulle doel was om die Hebreeuse wette van sedelikheid na hulle heidense samelewing te bring. Hulle het indrukwekkende drome vir God se heerlikheid gedeel!

Maar hulle was beveel deur ‘n dekreet om ‘n afgod te aanbid saam met die res van die mense. Hulle was gewaarsku: “Julle het vier-en-twintig uur. As julle nie neerbuig met die geklank van die ramshoring nie, sal julle in ‘n vuuroond gegooi word wat sewe keer warmer gemaak is!”

God se wil was vir hulle baie duidelik: hulle kon nooit neerbuig nie! Daar was hulle egter, drie briljante jongmanne – besig om die dood van alles wat hulle ken in die oë te kyk.

Natuurlik het hulle opsies gehad. Hulle kon gesê het, “Ons sal neerbuig slegs in ons vlees – maar nie in ons harte nie!”

Of, hulle kon ontsnap het. Hulle het gewapende wagte onder hulle bevel gehad, die beste Arabiese perde tot hulle beskikking. Hulle het al die geld wat hulle nodig gehad het gereed gehad in die nasionale skatkis. En daar was veilige hawens in nabygeleë lande.

Maar Sadrag, Mesag en Abednégo het nie een van hierdie dinge gedoen nie. In plaas daarvan, glo ek hulle het ‘n deurnag gebedsbyeenkoms gehad! Daar was nie ‘n enkele stem van kompromie daardie nag nie – omdat hulle almal gedoen het wat Jesus gedoen het: hulle het ‘n Getsémané gehad!

Hulle het gesterf aan hulle wil – en aan al hulle vermoëns, aan hulle toekoms in die regering, aan al hulle goddelike planne. En in die oomblik wat hulle daardie nag gesterf het, was hulle harte gevul met ekstase! Hulle het God se wil omhels, en dit liefgehad – hulle sou dit nooit laat gaan nie. Hulle het gesê, “O, God, ons sal enigiets trotseer! U is in staat om ons hiervan te verlos– maar selfs as U dit nie doen nie, sal ons met blydskap daardeur gaan!”

Hulle het nie die soldate, wat die volgende oggend gekom het en hulle hande en voete geboei het, weerstaan nie. Liewer, ek glo dat toe daardie jongmanne gelei was na die vuuroond, het hulle lofliefdere tot God gesing – omdat hulle gekom in die ekstase van Sy volmaakte wil!

Geliefde, staan stil en kyk in die witwarm vlamme van daardie sewe-keer-warm brandende vuuroond. Dit is presies hoe dit lyk om in die volmaakte wil van God in te staar! Dit is vreesaanjaend, skrikwekkend en pynlik vir die vlees, met geen belofte van verligting nie. Daar is slegs een uitnodiging: “Gaan in!”

Toe daardie drie Hebreeuse manne in die vuuroond gegooi is, was hulle reeds dood! Dood vir alle ambisie, dood vir die blydskap om die profetiese boodskappe te hoor wat Daniël meegedeel het, dood vir enige gedagte aan vroue en kinders, dood vir alle hoop en drome. Slegs een ding het vir hulle saakgemaak: gehoorsaamheid aan die volmaakte wil van God!

Wanneer jy God se wil omhels – wanneer jy waarlik gesterf het aan jouself – word iets in jou hart vrygestel wat niemand vir jou kan verduidelik of vir jou gee nie. Dit plaas jou buite die bereik van mense en duiwels. Dit word nie vrygestel totdat jy die vuuroond binnegaan nie!

‘n Wonderlike heerlikheid wag op die siel wat die wil van God omhels!

Die vuuroond se deur verteenwoordig ‘n oorgang na God se volmaakte wil. Aan hierdie kant van die deur is ‘n leër van spottende vyande, visioene van pyn en lyding. Demone skreeu vir jou: “God verwag nie dít van jou nie! Hy het jou lief! Het Hy nie gesê Hy gee vir jou die begeertes van jou hart nie? Jy het ‘n fanatikus geword!”

Maar wanneer jy eers die lyn oorgesteek het en die wil van God omhels het, gebeur iets ontsagwekkend: Jesus openbaar Homself aan jou!

Terwyl die Hebreeuse jongmanne binne-in die vuuroond was, het Jesus daar gewag. Hy het Homself nie dadelik geopenbaar nie – omdat hulle eers moes besluit om Sy wil te omhels. Toe hulle dit egter omhels het en gesterf het aan eiewil, het Jesus Homself aan hulle gemanifesteer. En wat hulle gedink het pynlike kole was, was verander in groen weivelde en ligte brieses – omdat Jesus hulle vooruit gegaan het!

Die oomblik wat jy in die vuuroond instap – wanneer jy oorgaan na die ander kant en God se wil omhels – sal jy omdraai en Jesus sien. Hy sal daar wees in ‘n manifestasie wat jy op geen ander manier sou kon hê nie. En Hy sal drie dinge vir jou doen:

1. Hy sal alles in jou lewe word. Hy sal jou blydskap, jou verwagting wees. Hy sal daardie plek aanraak wat niemand op aarde kan aanraak nie.

Ek is lief vir my vrou en kinders. Die liefde, deernis en vriendskap wat ek van hulle ontvang, is alles vir my ‘n vreugde. Maar daar is slegs een ekstase in my lewe – slegs een Persoon wat die diepste behoefte in my kan aanspreek – en dit is my Here. En ek het Hom ook in die vuuroond ontmoet!

2. Die volgende ding wat Jesus sal doen, is om te veroorsaak dat al jou bindinge afval.

Toe Sadrag, Mesag en Abednégo in die vuuroond ingegaan het, het hulle in ‘n bevryding ingestap: elke binding was gebreek, elke seerkry was genees, elke vrees het verdwyn – omdat Jesus vinnig inbeweeg het!

“Maar daardie drie manne, Sadrag, Mesag en Abednégo, het geboeid binne-in die brandende vuuroond geval. Toe het koning Nebukadnésar  verskrik geword en haastig opgestaan...en sê: Kyk, ek sien vier manne los binne-in die vuur wandel sonder dat daar ‘n letsel aan hulle is; en die voorkoms van die vierdie lyk soos dié van ‘n godeseun [Seun van God]” (Daniël 3:23-25).

Die koning het vier manne gesien – loop, gesels en omhels. Die drie jongmanne was omhels – ‘n drukkie gegee – deur Jesus!

Is jy hartseer? Weet jy hoe om jou hartseer genees te kry? Dit sal nie gebeur deurdat God bloot iemand stuur wat jou verstaan nie – omdat niemand jou verstaan soos Jesus nie. Nee, die enigste Een wat jou heeltemal tegemoet kan kom, is Jesus selfs! Of jy nou leegheid, droefheid of enigiets anders het – as jy in die vuuroond van Sy wil instap, sal alle bindinge afval!

3. Laastens, sal jy ‘n oproep ontvang om Christus aan die nasies te verkondig. Toe die drie Hebreeuse jongmanne die vuuroond betree het, het ‘n oproep gekom wat op geen ander manier kon kom nie:

“Toe het Nebukadnésar nader gekom na die opening van die brandende vuuroond het daarop gesê: ...knegte van die allerhoogste God, gaan uit en kom hier...Daarop het Nebukadnésar gespreek en gesê: Geloofd sy die God van Sadrag, Mesag en Abednégo, wat sy engel gestuur en sy knegte verlos het wat hulle op Hom verlaat het en die bevel van die koning oortree het, en wat hulle liggame oorgegee het om geen ander god te dien of te aanbid nie, behalwe hulle God.

“Daarom word deur my bevel gegee dat enige volk, nasie of taal wat oneerbiedig spreek oor die God van Sadrag, Mesag en Abednégo, stukkend gekap en van sy huis ‘n mishoop gemaak sal word, omdat daar geen ander god is wat so kan verlos nie” (Daniël 3:26-29).

Praat van ‘n Macedoniese oproep! Kyk hoe vinnig het God die hele atmosfeer verander in so ‘n kort tyd – van bespotting, na verwondering, na ‘n oproep dat die evangelie gehoor word!

Geliefde, dit is wat gaan gebeur in die laaste dae! Mense sal hulle nie wend tot grootnaam predikers nie. In plaas daarvan, sal hulle kyk na eenvoudige, nederige heiliges, wat hulleself heeltemal aan die volmaakte wil van God onderwerp het! Dit is diegene wat die hart van Jesus ken. Hulle het gekom uit die vuuroond waar hulle saam met Christus was  – en mense sal rondom hulle saamdrom en sê, “Praat asseblief met my. Ek sien jy gee jou liggaam en jou siel aan Jesus oor – en ek wil meer daaroor weet!”

Laastens, om die volmaakte wil van God te doen, vereis dikwels om terug te gaan na ‘n familie situasie waarvan jy af weggevlug het.

Jy mag dalk in ‘n familie situasie wees wat hopeloos lyk. Jy het uitgeroep, “Here, ek kan dit nie hanteer nie – ek weet U verwag nie dít van my nie!” Jy dink jy kan nie veel langer voortgaan nie – en as jy nog nie gevlug het nie, voel jy waarskynlik daarna. Dit is egter nooit God se plan om te vlug nie!

Jakob het ‘n verskriklike familie situasie gehad. Dit was meer as wat hy kon hanteer – dit het in werklikheid sy lewe bedreig. Hy het sy broer Esau van sy geboortereg beroof en dit het hom so kwaad gemaak dat hy kon moord pleeg.

Hoe het Jakob hierdie probleem hanteer? Hy het daarvan af weggevlug! Hy het nie ‘n Getsémané gehad nie – hy het nie gesterf aan sy eiewil en God gevra wat om te doen nie. In plaas daarvan, het Jakob geluister na die stem van sy vlees – dit is, na sy moeder, Rebekka, wat gesê het, “My seun, luister nou na my, vlug” (Génesis 27:43).

Jakob het vir twintig jaar gevlug – en dit was twintig jaar van hartseer en moeilikheid. Uiteindelik het God vir hom gesê dit was tyd om dit alles in die oë te kyk: “Maak jou dan nou klaar, trek weg uit hierdie land en gaan terug na jou geboorteland” (Génesis 31:13). God het in wese vir hom gesê, “Jakob, jy gaan nooit volheid in My ken, totdat jy teruggaan en hierdie probleem reguit in die oë kyk nie. Gaan – loop in die vuur in!”

Jakob het teruggereis saam met sy familie om dinge te gaan regmaak – en wat dink jy het hy eerste gesien? Esau, wat uit die woestyn gekom het om hom tegemoet te gaan – saam met vierhonderd woedende soldate, gereed vir wraak!

Jakob het uitgeroep, “O Here, ek het ‘n wonderwerk nodig! U moet my broer se hart verander. Neem sy haat vir my weg!” Jakob het vrees en woede in sy hart teenoor God gehad – omdat hy bloot homself aan God se wil onderwerp en gesê het, “Here, ek het my hart daarop ingestel om U te gehoorsaam – maar dinge verloop nie reg nie!”

Miskien is dinge nie reg in jou familie nie. Het jy ‘n alkoholis man, ‘n vrou wat jou nie verstaan nie, finansiële probleme? Geliefde, dit is die werklike dinge wat Esau en sy leër voorstel – elke pyn, elke argument van die vlees, elke rede wat jou verstand kan versin waarom jy nie jou hopelose situasie in die oë kan kyk nie. Die duiwel sê vir jou: “Jy het God gehoorsaam, jy het reg gedoen – maar niks het verander nie! Jou geliefde se hart is steeds hard – dit is in werklikheid erger. As jy nie nou vlug nie, sal jy die res van jou lewe deurbring in ‘n lewende hel!”

Jy kan in der waarheid nie voortgaan – as jy jou net gaan onderwerp nie. Maar jy kan voortgaan soos Jakob het: hy het ‘n Getsémané gehad – ‘n nag van sterf! Ek weet wat Jakob daardie nag gebid het – omdat ek dit gebid het:

“O God, hierdie situasie is te veel vir my. Ek het gemanipuleer en probeer om dinge te laat gebeur. Maar ek is moeg om dinge op my manier te doen! Ek kan nie meer vlug nie, Here – ek wil hê my lewe moet reg wees met U. Esau kan my en my familie doodmaak – hy kan alles neem wat ek het. Maar ek sal eerder saam met U in heerlikheid wees as om nog ‘n dag voort te gaan om so te lewe!”

Daardie nag, het Jakob gesterf. God het hom mank gemaak, sodat hy nooit weer kon vlug nie. Hy kon het in die toekoms inhuppel, heeltemal afhanklik van die Here. Iets anders het egter ook gebeur: Ekstase het sy siel gevul. En ek glo toe Jakob oor die spruit geloop het om Esau te ontmoet vroeg die volgende oggend, was hy absoluut vreesloos!

Jy moet dalk ook ‘n Esau trotseer. Jy kan moontlik dink, “Beteken dit my man sal nooit verander nie – dat niks in my lewe ooit beter sal word nie?”

Nee – God het Esau verander! Hy het die hart van klip uit hom gehaal. En teen die tyd wat Esau vir Jakob ontmoet het, het hy op sy broer geval, hom gesoen en omhels. Daar was totale vrede!

Dierbare heilige, moenie bang wees om in die vuuroond in te stap nie. So lank as jy die vrede van Jesus en die volmaakte wil van God het, kan jy staande bly in enigiets, enige plek, enige tyd. Jou omstandighede mag dalk nie verander nie – maar jý sal! Jesus sal jou siel met blydskap vul en alle hartseer en pyn genees. Jou lewe sal vol wees, geseënd – omdat Hy alles vir jou sal wees!

Jy hoef nie te vlug nie. Jy hoef net na Hom te kyk – om Sy volmaakte wil vir jou te omhels. En Hy sal vir jou Sy oorvloedige groot blydskap gee te midde van jou huidige vurige beproewing. Halleluja!