Om God te Vertrou Ten Spyte van Onmoontlikhede

“En sonder om te verswak in die geloof het hy, al was hy omtrent honderd jaar oud, nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe toestand van die moederskoot van Sara nie” (Romeine 4:19).

Die wese van ware geloof word in hierdie enkele vers gevind. God het pas vir Abraham belowe dat hy ‘n seun sou hȇ, ‘n seun wat die voorsaat van menigte nasies sou word. Dit is merkwaardig dat Abraham nie gewyfel het oor hierdie belofte nie, al was hy al ver oor die ouderdom om kinders te verwek. In plaas daarvan, het Abraham toe hy die woord van die Here af ontvang het, so word ons vertel, “nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe toestand van die moederskoot van Sara nie.”

Vir die natuurlike verstand is dit ‘n saak van onmoontlikheid vir hierdie belofte om vervul te word. Maar Abraham het nie oor sulke onmoontlikhede getob nie. Volgens Paulus, het die patriarg glad nie daaraan gedink hoe God sy belofte sou nakom nie. Hy het nie met God geredeneer nie, “Maar Here, ek het nie meer saad om te plant nie en Sara het geen lewe meer in haar baarmoeder om verwagtend te raak nie. My vrou is verby die leeftyd om kinders te baar. So, hoe sal U dit doen, Here? In plaas daarvan om sulke gedagtes te hê, het Abraham eenvoudig “nie daarop gelet nie.”

Trouens, wanneer God aan die werk is om ‘n geloof daar te stel wat beter is as goud, plaas hy eers ‘n doodsvonnis op alle menslike hulpbronne. Hy maak die deur toe op alle menslike redenasies en omseil enige rasionele verlossing.

‘n Geloof wat God behaag word gebore in ‘n plek van doodsheid.

Ek praat hier van ‘n doodsheid van alle menslike moontlikhede. Dit is ‘n plek waar mensgemaakte planne eers floreer en dan doodgaan. Dit is ‘n plek waar mense se hoop tydlike verligting bring, maar gou in duie stort en ‘n gevoel van hopeloosheid vererger.

Was jy al by hierdie plek van doodsheid? Het jy al gevoel jy het geen alternatiewe oor nie? Jy kan nie iemand skakel om jou te adviseer nie. Die hemele is soos koper wanneer jy bid, en jou versoeke val op die grond.

Ek stel dit aan jou, dit is God aan die werk. Sy Gees werk om jou sover te kry om op te hou om op die onmoontlike te let – om op te hou soek na menslike maniere – om op te hou om te dink aan ‘n manier uit die situasie uit. Die Heilige Gees noop jou, “Hou op om hulp te soek by mense. En hou op om te fokus op hoe hopeloos jy dink jou situasie is. Dit is struikelblokke vir jou geloof.”

Abraham het nie gewankel in sy geloof nie. Hy was eerder “ten volle oortuig dat God ook die mag het om te doen wat Hy beloof het” (Romeine 4:21). Hy het besef God kan werk met niks. Inderdaad, ons Here skep uit niks uit. Beskou die Génesis verhaal: uit niks uit het God die wȇreld geskep. Met ‘n enkele woord skep Hy. En hy kan wonderwerke vir ons skep, uit niks uit.

Wanneer alles faal – wanneer al jou planne en skemas uitgeput is – dan is dit tyd vir jou om alles op God te werp. Dit is tyd vir jou om alle vertroue om verlossing elders te ontvang, prys te gee. Dan, wanneer jy gereed is om te glo, sal jy God sien as ‘n pottebakker wat nie klei nodig het nie, maar as ‘n Skepper wat van niks af werk. En, uit niks wat van hierdie wȇreld of sy materiaal is nie, sal God op wyses en maniere werk wat jy nooit eers aan kon gedink het nie.

Hoe ernstig is die Here dat ons Hom glo ten spyte van onmoontlikhede?

Ons vind die antwoord op hierdie vraag in die storie van Sagaria, die vader van Johannes die Doper. Sagaria was besoek deur ‘n engel wat hom vertel het dat sy vrou, Elisabet, geboorte sou gee aan ‘n spesiale kindjie. Maar Sagaria – wat al op ‘n gevorderde leeftyd was in jare, soos Abraham – het geweier om dit te glo. God se belofte aan hom was nie genoeg nie.

Sagaria het die engel geantwoord, “Waaraan sal ek dit weet? Ek is 'n ou man, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd” (Lukas 1:18). Eenvoudig gestel, Sagaria het op die onmoontlikhede gelet. Hy het in wese gesȇ, “Dis onmoontlik. Jy moet aan my bewys hoe dit gaan gebeur.” Dit het net nie redelik geklink nie.

Sagaria se twyfel het die Here bedroef. Die engel het vir hom gesê, “Kyk, jy sal stom wees en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde, wat op die bestemde tyd vervul sal word, nie geglo het nie” (Lukas 1:20).

Die Boodskap is duidelik: God verwag dat ons Hom sal glo wanneer Hy praat. Soortgelyk, skryf Petrus: “Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen” (1 Petrus 4:19, klem myne).

Ek is op hierdie huidige oomblik oortuig dat die geloof van die liggaam van Christus onder geweldige sataniese aanvalle deurloop. Al die demoniese hordes uit die hel, Satan se menigtes, owerhede en magte van die duisternis, is besig om ‘n geweldige oorlog te voer teen die geloof van God se heiliges.

Ons weet dat Satan altyd intense aanvalle teen God se kinders gebring het en dit het gruwelike lyding meegebring. Vir eeue lank, is die bloed van martelare gestort. Goddelike heiliges soos Job is ernstig gefolter. Maar die aanslag teen die gelowiges wat ons vandag sien, is Satan se laaste aanslag.

Net soos wat boosheid vandag hoogty in die wȇreld vier, so is dit met die beproewing en vervolging van God se kerk. Ons sien ‘n ongekende vloedgolf van siekte, beproewing, moeilikheid op moeilikheid en een probleem na die ander – alles wat ‘n seëvierende lewe onmoontlik laat lyk vir enige gelowige. Alles wat ons nou beleef, is egter bonatuurlik:

“Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose magte van hierdie sondige wêreld, teen die bose geeste in die lug” (Efėsiërs 6:12).

In Lukas 22, vind ons dat Satan Petrus se geloof aanval.

Hier was ‘n goddelike man wat meer as selfversekerd was in sy geloof. Trouens, Petrus het net voor dit by die ander disipels gespog dat sy geloof nie sal wankel nie en dat hy alle toetse sou weerstaan. Hy het eintlik verklaar, “Ander mag moontlik wankel, Here, maar nie ek nie.”

Dit het tydens Nagmaal gebeur, op die laaste dag van Jesus se bediening op aarde. Wat was Christus se reaksie op Petrus se dapper geloofsverklaring? Hy het vir die apostel gesê, “Simon, Simon!...Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif” (Lukas 22:31).

Sommige kenners vertaal die bedoeling hier as, “Satan het jou opgeëis, om jou te kan sif.” Die woord “sif” spreek van ‘n herhaaldelike, felle geskud van kant tot kant en dan ‘n op-en-af gegooi.

Neem kennis dat Jesus se woorde hier dieselfde aandrang van Satan rakende Job beskryf. Die duiwel het aan die Here gesȇ aangaande Job, “Maar raak nou net aan sy besittings en kyk of hy U nie in u gesig vervloek nie” (Job 1:11). Nou, tydens Pasga, wou Satan Petrus se geloof op dieselfde manier vernietig.

Jesus het Petrus voor die tyd gewaarsku dat die duiwel hom sou sif en sy geloof sou aanval. Tog het Christus hom verseker, “Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie” (Lukas 22:32).

Ek is oortuig Satan het hierdie selfde eis verskerp vir die Here se uitverkorenes van vandag. Hoekom is die duiwel so vasbeslote om God se regverdiges in ons tyd so te skud? Dit is omdat hy weet sy tyd is kort. Dit is omdat sonde hoogty vier en liefde besig is om koud te word. Dit is omdat hy gefaal het om Job te vernietig, om Petrus te vernietig en omdat hy geslagte van martelare nie tot ‘n val kon bring nie. Daarom is hy vasbeslote om die geloof van hierdie laaste geslag tot ‘n val te bring.

Satan se aanvalle kan inderdaad so oorweldigend word dat ons geloof ‘n verduistering ondergaan. Dink aan wat gebeur tydens ‘n verduistering: wanneer die aarde tussen die son en die maan inbeweeg, dan word die lig verduister. Vir ‘n tyd lank word die son se strale onderbreek.

Iets soortgelyks kan met die geloof gebeur van selfs die mees goddelike gelowige. Satan kan beproewings bring wat so intens is dat dit lyk of dit die Lig wat ons geloof bemagtig, geblokkeer word.

Petrus het ‘n ernstige verduistering van sy geloof ervaar. Die eens voortvarende apostel se geloof het gelyk of dit gefaal het. Petrus was egter onomwonde gewaarsku dat ‘n verduistering van sy geloof aan die kom was. Jesus het vir hom gesê, “Die haan sal more nie drie maal kraai alvorens jy my drie maal verloën het nie.”

Net ure later was Petrus se geloof in ‘n totale warboel. Ek kan net dink wat deur die man se gedagtes gegaan het om hom te dryf om Christus te verloën en te lieg, deur te sȇ, “Ek ken nie die Jesus van wie julle praat nie.”

Het Satan Petrus se gees met twyfel gevul rakende Jesus wat werklik God in die vlees is? As ek myself in Petrus se plek stel, dan verbeel ek my dat hy oor baie dinge gewonder het gedurende daardie verskriklike nag: “As Jesus God was, hoe kon hy sulke vernedering toelaat?  Hoe kan Hy God wees en Homself nie terselfdertyd red nie, wat nog te sȇ van die mensdom?”

Petrus se geloof het ‘n totale verduistering binnegegaan. Dit het gelyk of die skynende son van geloof geheel en al uitgedoof was.

Tog is Petrus se verduistering van geloof hier opgeskryf vir die vertroosting en bemoediging van alle gelowiges wat hulle eie ‘n verduistering van geloof ervaar. Het jou beproewings so intens geword dat jy jouself in onmoontlike situasies bevind? Nou het Satan twyfel in jou gedagtes gesaai: vrae oor, of God jou geroep hoor, twyfel oor die getrouheid van sy beloftes, vrae oor die effektiwiteit van jou gebede.

‘n Onlangse meningsopname het getoon dat ateïsme vining versprei dwarsdeur Amerika en die wȇreld. Omtrent 30% van Amerikaners sȇ nou dat hulle nie meer in die God van die Bybel glo nie. Hulle gegewe redes vir hierdie groeiende ongeloof, veral onder jongmense, is eenvoudig, “God beantwoord nooit my gebede nie.”

Ek sȇ vir julle ons is te midde van ‘n oorlog! Jy staar duiwelse magte in die gesig, vegtend vir jou geloof teen die vader van alle leuens. Hy is die een wat al daardie klein gedagtes saai: “Waar is jou God? Dinge gaan van kwaad tot erger. Jou pyn, jou lyding, jou behoeftes bly toeneem. God het belowe om vir jou uitkoms te gee. So, waar is die uitkoms? Waar is jou God nou dat jy Hom die nodigste het?”

Jy word nou geskud en gesif. En te midde van dit alles, blyk dit dat jou geloof gefaal het. Soos Petrus, is jy in die verduistering. Jy voel verslaan, jou geloof lȇ in stukke.

Geliefde, ek het goeie nuus vir jou: God is nie kwaad vir jou nie.

Jy mag vra: “Ly Jesus nie wanneer ons Hom wantrou nie? Treur die Here nie wanneer ons huiwer en sy Woord en getrouheid bevraagteken nie?” Ja, ja natuurlik beleef Hy dit. Maar hulle wat gefaal het in geloof, kan nog steeds hulle oë op Jesus hou.

Petrus se geloof het nie gefaal nie.

“Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk” (Lukas 22:61). Toe Jesus se blik Petrus s’n ontmoet het, het die apostel gebreek en gehuil.

Hoe geduldig en genadig is ons Here nie. Hy hoor al die murmurering en vrae, hy sien al die twyfelende gedagtes in ons – tog kyk hy na ons met vergifnis en deernis.

Petrus is herstel en het ‘n magtige lewe van geloof geleef. Onthou, Jesus het vir hom hierdie woord van bemoediging gegee tydens die Nagmaal. “Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk” (Lukas 22:32). Dit is die Here se woord vir jou en my ook. Hy sȇ vir ons net soos vir Petrus, “Hou jou oog op My gevestig. Jy gaan hier deurkom. En jy gaan jou broers en susters in my huis help.”

Later in die boek van Handelinge, vind ons Petrus diep toegesluit in die tronk. ‘n Engel kom na hom toe, skud sy kettings af en beveel hom om op te staan en te gaan. Op daardie oomblik kyk Petrus nie na die onmoontlikhede rondom hom nie: die yster hekke waardeur hy moet gaan, die baie wagte en soldate waarby hy hy moet verbyloop en groot gevaar trotseer. In plaas daarvan, staan Petrus op in die geloof op die engel se bevel en wanneer hy by die ysterhekke kom, gaan hulle vanself oop.

So sal dit ook vir jou wees dierbare heilige, as jy gewillig is om op te staan en in geloof voort te gaan.

Ek het al baie briewe van gelowiges gelees wat lyk of hulle die onmoontlike in die gesig staar. ‘n Ouma skryf van haar hartseer oor die moord van haar geliefde kleindogter. Die jong vrou was vermoor deur haar vervreemde kêrel, wat homself ook daarna om die lewe gebring het. Die ouma is oorweldig met hartseer. Sy sluit haar brief af met ‘n pleidooi: “Is daar ‘n woord van God vir ons? Help asseblief.”

‘n Vrou wat haarself as “sterk in die geloof” beskryf, het die volgende geskryf:

“Ek was vir vyf en twintig jaar getroud met ‘n wonderlike man wat vyf jaar gelede oorlede is aan diabetes. Ek is later weer getroud, maar tydens ons wittebrood het my nuwe man gegly en geval en sy nek gebreek. Hy was besig om te herstel, maar komplikasies het ingetree met infeksies en bloedklonte. Binne ‘n maand is hy ook oorlede. Ek is geskok. Ek verstaan nie hoe sulke dinge kon gebeur nie.”

‘n Tagtigjarige pastoor skryf dat sy vrou in voortdurende pyn leef as gevolg van menigte operasies. Haar pyn is so intens dat sy skaars kan slaap, maar dokters sȇ hulle kan haar nie help nie. Die pastoor sluit sy brief af, “Ek voel soos ‘n gehawende kryger.”

Ek het ‘n spesiale woord vir almal wat onmoontlikhede beleef:

Die herstel van geloof berus op ‘n voller openbaring van die liefde van ons Hemelse Vader vir ons.

“Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou” (Sefȧnja 3:17). Hier is ‘n glorieryke openbaring van die standvastigheid van God se liefde vir sy mense. Die Skrif sê vir ons, Hy is stil-tevrede en juig in sy liefde vir ons!

Die Hebreeuse woord vir “stil-tevrede” beteken hier dat God nie ‘n enkele vraag het rakende sy liefde vir ons nie. In ander woorde, hy het sy liefde vir ons vasgemaak of gevestig en sal dit nooit wegneem nie. Trouens, ons word vertel dat God so tevrede in sy liefde vir ons is, dat hy daaroor sing.

Kan jy jou dit indink? Hier is ‘n manifestasie in die hemel van God se vreugde oor jou. John Owen interpreteer die aanhaling soos volg: “God spring asof oorweldig deur vreugde.”

Paulus vertel immers vir ons dat alles wat buite die goddelike orde is – alles wat ongeloof en verwarring is – word verander deur die verskyning van God se liefde. “Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn” (Titus 3:4).

In die voorafgaande vers sȇ Paulus, “Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad” (Titus 3:3). Met ander woorde: “Alles was buite werking. Ons geloof was nie ‘n oorwinnende geloof nie. Maar die goedheid en liefde van God, wat die Vader oorvloediglik op ons uitgestort het deur Christus, het verskyn.”

Wanneer Paulus sȇ die liefde van God het “verskyn,” dan gebruik hy ‘n stamwoord uit Grieks waarvan die kern betekenis is, “bo-op lȇ.” In kort, die Here het op ons arme, sukkelende siele wat vol vrese en vrae is, afgekyk en hy het sy openbaring bo-op dit alles kom lȇ: “My liefde sal jou verlos. Rus en wees bly in my liefde vir jou.”

Ek dank God vir die dag toe sy liefde “verskyn” het aan my. Daar is geen geloof wat staande kan bly teen onmoontlikhede nie tensy alles – alle probleme, elke beproewing – toevertrou word in die sorg van ons liefdevolle Vader. Wanneer my situasies op hulle ergste is moet ek rus in eenvoudige geloof.

Ek mag dalk nie die bewys sien dat God aan die werk is nie. Elke oomblik van die dag, elke uur wat ek slaap, is Hy besig om ‘n weg vir my te baan. En sy plan is te alle tye op skedule. Wat vir my blyk ‘n vertraging te wees, is sy heilige werk. Hy werk aan dinge diep in my wat opgelos moet word, sodat Hy sy beloftes kan vervul.

Eendag sal ek terugkyk na hierdie moeilike tye en sȇ, “Here, nou sien ek. U was al die tyd daar, aan die werk aan my wonderwerk!”

Moet nooit ooit ophou bid en ophou uitroep na die Here nie.

Hulle wat in vertwyfeling is, mag moontlik versoek word om hulle self van gemeenskap met God af te skei. Tog, om dit te doen kan fataal wees. In Psalm 88, kan jy ‘n beskrywing vind van dit waardeur jy gaan. ‘n Goddelike man genaamd Heman vertel van hierdie hopelose situasie:

“My siel is vol bekommernis. Ek is afgebring tot in die put en ek is tussen die dooies. God het het my in die laagste put laat lê in duisternis en sy toorn rus hard op my. My vriende het my verlaat; is is opgesluit, toegespan. Ek treur oor my verdrukking” (my omskrywing). Heman daag God dan uit: “Sal U met dooies 'n wonder laat gebeur? Kan gestorwenes opstaan en U loof? Word daar in die graf vertel van u troue liefde? Word daar in die plek waar almal vergaan, van u trou vertel? Sal u wondermag ondervind word in die duisternis van die dood, u redding in die land van vergetelheid?” (Psalm 88:11-13).

In wese sȇ Heman, “Ek benodig ‘n wonderwerk nou, Here, nie by die Opstanding nie. Hierdie is my laaste hoop. Binnekort gaan dit te laat wees, want ek sal dood wees. God, U het hier ‘n spertyd. Help my of dit is te laat. Waarom verwerp U my? Hoekom verberg U, u aangesig van my? Hoekom antwoord U nie my smekinge nie?”

Hierdie is hopeloosheid, wanhoop en ‘n duidelik onmoontlike krisis.

Wat kan ‘n goddelike siel doen. Hoe reageer ‘n regverdige siel? Soos Heman moet ons dag en nag uitroep: “Here my God wat my altyd help, ek roep elke dag om hulp, elke nag bid ek tot U. Laat my gebed nie tevergeefs wees nie, hoor my geroep. Ek roep na U om hulp, Here, vroeg in die môre al bid ek tot U” (Psalm 88:2-3,14).

Hier is drie dinge wat ek doen in my tyd van beproewing:

Ek ontvang en glo in die liefde en vreugde van my hemelse Vader.
Ek stort my hart teenoor Hom uit en huil by Hom in stilte.
Ek bemoedig my siel daagliks met sy beloftes.

Ons geloof en krag mag moontlik verswak. Maar in ons tyd van swakheid, het God vir ons wonderbaarlike beloftes gegee om ons krag te venuwe en ons te versterk. Hier is ‘n paar van die beloftes wat my ondersteun:

“God omgord my met krag; Hy maak my pad voorspoedig. Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp, my uit geweldige waters uitgelig. Hy het my gered van my vyand wat sterk was, van my haters toe hulle vir my te magtig was. Wat God doen, is volmaak; wat die Here sê, is suiwer. Elkeen wat by Hom skuiling soek, beskerm Hy” (2 Samuel 22:33,17,18,31).
“U het my met krag omgord vir die stryd” (2 Samuel 22:40).
“Dié wat gestruikel het, het nuwe krag gekry” (1 Samuel 2:4).
“Die Here gee krag aan sy volk; die Here seën sy volk met oorvloed” (Psalm 29:11).
“Hy is die God van Israel, Hy gee krag en sterkte aan sy volk. Aan God kom die lof toe” (Psalm 68:36).
“Moet my tog nie alleen laat nou dat my kragte ingegee het nie..... Ek kom om u magtige dade te prys, Here my God, die verlossingswerk wat net U kan doen” (Psalm 71:9,16).
“Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind... Keer op keer ontvang hulle nuwe krag totdat hulle voor God in Sion verskyn” (Psalm 84:6,8).

Glo jy jou God is so sterk soos wat die Psalm digter verklaar? As Hy is, sal geen krag teen Hom kan staan nie. Vertrou alles toe aan sy magtige, sterk hande. Hy sal ‘n weg baan. Bo alles, glo sy woord: “Toe ek na U geroep het, het U my gebed verhoor en my nuwe krag gegee” (Psalm 138:3).