Ons Môres Mors

David Wilkerson (1931-2011)

Terwyl Paulus gewag het op sy hofverhoor in Rome, was hy onder haglike omstandighede aangehou (sien Filippense 1:13-14). Hy is 24 uur per dag bewaak deur soldate van die Praetoriaanse wag, en aan weerskante van hom was sy voete aan ‘n soldaat vasgeketting. Hierdie mans was kru, verhard en het gereeld gevloek. Hulle het al alles gesien, en vir hulle in hul tipe werk was elke gevangenis ‘n skuldige misdadiger, insluitende Paulus.

Dink daaraan: hier was ‘n man wat baie aktief en lief was om op die oop pad en op die see te reis om God se kinders te ontmoet en gemeenskap met hulle te hê. Paulus het sy grootste vreugde geput uit die besoek aan die kerke wat hy in die hele wêreld gevestig het. Maar nou was hy vasgeketting, letterlik geboei aan die moeilikste, mees goddelose mans wat geleef het.

Paulus het twee opsies in sy situasie gehad. Hy kon ‘n morbiede, ongelukkige gemoed ontwikkel en telkens dieselfde selfgesentreerde vraag vra: “Waarom ek?” Hy kon in ‘n put van wanhoop kruip en homself redeneer tot in ‘n hopelose depressie, heeltemal verteer met die gedagte, “Hier is ek vasgebind, met my bediening gestaak, terwyl ander daar buite ‘n oes van siele geniet. Hoekom?”

In plaas daarvan, het Paulus gekies om te vra: “Hoe gaan my huidige situasie Christus verheerlik? Hoe kan baie goeie dinge uit my beproewing kom?” Hierdie dienskneg van God het vas besluit: “Dat Christus ... ook nou, groot gemaak sal word in my liggaam, of dit deur die lewe of die dood is” (Filippense 1:20).

Paulus se houding toon die enigste manier waarop ons uit ons donker put van ongelukkigheid en bekommernis bevry kan word. Jy sien, dit is moontlik om al ons môres te mors en te wag om uit ons lyding verlos te word. As dit ons fokus word, sal ons die wonderwerk en die vreugde van die bevryding in ons beproewing heeltemal mis.

Dink aan Paulus se stelling: “En Ek wil hê dat julle moet weet, broeders, dat wat my wedervaar het, eerder op bevordering van die evangelie uitgeloop het” (Filippense 1:12). Paulus sê in wese: “Moenie my jammer kry of dink dat ek moedeloos is oor my toekoms nie. En moet asseblief nie sê my werk is klaar nie. Ja, ek is in boeie en ly, maar die evangelie word deur dit alles heen verkondig.”