God Het Alles Onder Beheer

David Wilkerson (1931-2011)

Die hele wêreld sidder op die oomblik oor die uitbreek van terreur en rampe wat regoor die aarde plaasvind. Elke dag word ons wakker om van nog ‘n ramp te verneem. Sommige waarnemers sê dat ons die begin van die Derde Wêreldoorlog aanskou.

Ongelowiges word daarvan oortuig dat daar geen oplossings meer is nie en dat alles in chaos verval omdat daar geen “alomvattende regering” is nie. Maar God se kinders weet beter. Ons weet daar is geen rede om te vrees nie, want die Bybel herinner ons telkens dat die Here alles onder beheer het. Niks gebeur in die wêreld sonder sy medewete en heerskappy nie.

Die profeet Jesaja sê vir die wêreld, “Kom nader, o volke, om te hoor; en nasies, luister! Laat die aarde hoor, en die volheid daarvan, die wêreld en alles wat daaruit voortkom” (Jesaja 34: 1). Hy sê in wese: “Luister, nasies, en luister na my. Ek wil julle iets belangriks vertel oor die Skepper van die wêreld.”

Jesaja sê dat wanneer die verontwaardiging van God teen nasies en hul leërs opgewek word, is dit die Here self wat hulle aan die slagting oorgee. “Kyk, die nasies is soos 'n druppel aan die emmer, en soos 'n stoffie aan die weegskaal word hulle gereken. Kyk, Hy hef die eilande op soos 'n stoffie ... Al die nasies is voor Hom soos niks: as niks en nietigheid word hulle by Hom gereken ... Hy sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane ... By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Heilige” (Jesaja 40:15,17,22,25).

Ons moet weet dat daar 'n kaart in die hemel is, 'n plan wat ons Vader vir die loop van die geskiedenis uiteengesit het. En Hy ken die verskil tussen die einde en die begin. Terwyl hierdie plan in vervulling kom, glo ek dat ons onsself die volgende vraag moet afvra: “Waarop is die Here se oë gefokus in dit alles?” God se oë is nie gerig op die wêreld se blikgod diktators of hul dreigemente nie.

Die Skrif verseker ons dat hierdie mal mense se bomme, leërs en magte niks vir die Here is nie. Hy lag vir hulle asof hulle net stofdeeltjies is en binnekort sal Hy almal wegblaas (sien Jesaja 40:23-24).

Onthou, jy dien ‘n God wat alles onder beheer het en jy kan Hom met alles vertrou.