Is My Arbeid Tevergeefs?

David Wilkerson (1931-2011)

Sou dit jou skok om te weet dat Jesus die gevoel ervaar het dat Hy min vermag het?

In Jesaja 49:4 lees ons die volgende woorde: “Tevergeefs het Ek My vermoei, my krag vir niks en vrugteloos verteer....” Let daarop dat dit nie die woorde was van Jesaja, wat op ‘n volwasse ouderdom deur God geroep is, nie. Nee, dit is Christus se eie woorde, gespreek deur Iemand “geroep van die moederskoot af, van my geboorte af ... die HERE wat My van die moederskoot af geformeer het om sy Kneg te wees, om Jakob na Hom terug te bring en dat Israel by Hom versamel mag word” (49:1,5).

Toe ek by hierdie gedeelte kom, ‘n gedeelte wat ek voorheen al baie keer gelees het, was my hart in verwondering. Ek kon amper nie glo wat ek lees nie. Jesus se woorde hier oor “tevergeefs ... vermoei” was in reaksie op wat die Vader pas gesê het: “Jy is my Kneg ... in wie Ek My verheerlik” (49:3). Ons lees Jesus se verrassende antwoord in die volgende vers: “Tevergeefs het Ek My vermoei, my krag vir niks en vrugteloos verteer” (49:4).

As ek hierdie woorde lees, raak ek net liewer vir Jesus. Ek het besef dat Hebreërs 4:15 nie net ‘n cliché is nie: ons Verlosser het regtig medelye met ons gevoelens van ons swakhede en was in alle opsigte versoek soos ons, maar tog sonder sonde. Hy het hierdie selfde versoeking van Satan geken en dieselfde beskuldigende stem gehoor: “U opdrag is nie volbring nie. U lewe was ‘n mislukking. U het niks om te wys vir al u arbeid nie.”

Christus het in die wêreld gekom om die wil van God te vervul deur Israel op te wek. En Hy het gedoen net soos Hy beveel is. Maar Israel het hom verwerp: “Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie” (Johannes 1:11).

Waarom sou Jesus, of enige man of vrou van God, sulke wanhopige woorde soos hierdie spreek: “Ek het tevergeefs gearbei”? Hoe kon die Seun van God so ‘n stelling maak? En waarom het geslagte getroue gelowiges in sulke moedelose woorde verval? Dit is alles die gevolg van min resultate teen hoë verwagtinge.

Trouens, ons almal is geroep tot een groot, algemene doel en tot een bediening: dit is om soos Jesus te wees. Ons word geroep om in sy gelykenis te groei, om verander te word na sy ewebeeld.

Tags