Vrede en Veiligheid

David Wilkerson (1931-2011)

Op my reise deur die wêreld het ek gesien hoe ‘n “geestelike tsoenami” van goddeloosheid ronddryf. Hele denominasies is vasgevang in die golwe van hierdie tsoenami wat in hul nasleep die ruïnes van apatie agterlaat. Die Bybel waarsku duidelik dat dit moontlik is dat toegewyde gelowiges van Christus af wegdryf.

‘n Christen wat “vrede en veiligheid ten alle koste” nastreef en bloot net-net aan verlossing hang, betaal ‘n hoë geestelike prys. Hoe kan ons dus daarteen waak om van Christus af weg te dwaal en “so ‘n groot saligheid” te verwaarloos? Paulus sê vir ons hoe: “Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie” (Hebreërs 2:1).

God stel nie daarin belang dat ons deur sy Woord kan “spoedlees” nie. Maar wat belangriker is, is dat ons “hoor” wat ons met geestelike ore lees en daaroor peins sodat dit in ons harte “gehoor” word.

Om standvastig te bly in God se Woord was vir Paulus geen geringe saak nie. Hy sê ook: “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef. Of is julle nie seker van julself dat Jesus Christus in julle is nie – as julle ten minste nie verwerplik is nie!” (2 Korinthiërs 13:5).

Paulus stel nie vir hierdie gelowiges voor dat hulle verwerplik is nie. Hy dring eerder by hulle aan: “As liefhebbers van Christus, toets julleself. Neem ‘n geestelike inventaris. Julle weet genoeg van julle wandel met Jesus af om te weet dat Hy julle liefhet, dat Hy julle nie verlaat het nie, dat julle verlos is.”

Vra jouself vandag af: Hoe is jou gemeenskap met Christus? Bewaar jy dit met alle ywer? Leun jy op Hom in jou moeilike tye? En terwyl jy jou geestelike wandel ondersoek, laat God toe om jou te wys waar jy sterker gemaak kan word.

Tags