Om Ons Mislukkings te Vergeet en Jesus te Dien

David Wilkerson (1931-2011)

Toe ek die Heilige Gees vra om my te wys hoe om teen verwaarlosing te waak, het Hy my gelei om Petrus se dryfkrag en sy uiteindelike vernuwing te beskou. Hierdie man het Christus verloën, selfs gevloek en vir sy beskuldiger gesê: “Ek ken Hom nie.”

Petrus was die eerste onder die dissipels wat die stryd gewonne gegee het. Hy het sy roeping versaak en teruggekeer na sy ou loopbaan en vir die ander gesê: “Ek gaan visvang.” Wat hy eintlik gesê het, was: “Ek kan dit nie hanteer nie. Ek het gedink dat ek nie sou kon misluk nie, maar niemand het God ooit meer teleurgestel as ek nie. Ek kan die stryd net nie meer verdra nie.”

Op daardie stadium het Petrus berou gehad oor sy verloëning van Jesus. En hy is herstel in Jesus se liefde. Tog was hy nog steeds ‘n uitgerafelde man van binne.

Terwyl Jesus gewag het dat die dissipels na die strand sou terugkeer, was daar ‘n onopgeloste saak in Petrus se lewe. Dit was nie genoeg dat Petrus herstel en veilig in sy redding was nie. Dit was nie genoeg dat hy sou vas en bid soos enige toegewyde gelowige sou doen nie. Nee, die saak wat Christus in Petrus se lewe wou aanspreek, was verwaarlosing in ‘n ander vorm. Laat ek verduidelik.

Terwyl hulle om die vuur op die strand gesit en eet en gesels het, het Jesus drie keer vir Petrus gevra: “Het jy My meer lief as hierdie ander?” Telkens antwoord Petrus: “Ja, Here, U weet ek dit,” en Christus antwoord op sy beurt: “Laat my skape wei.” Let daarop dat Jesus hom nie herinner het om te waak en te bid, of om pligsgetrou om God se Woord te lees nie. Christus het aangeneem dat hierdie dinge al goed geleer was. Nee, die opdrag wat Hy nou vir Petrus gegee het, was: “Laat my skape wei.”

Ek glo dat Jesus in hierdie eenvoudige frase vir Petrus opdrag gegee het om te waak teen verwaarlosing. Hy het in wese gesê: “Ek wil hê jy moet vergeet van jou mislukking, vergeet dat jy van My af weggedwaal het. Jy het nou na My toe teruggekom, en Ek het jou vergewe en herstel. Dit is dus tyd om jou fokus van jou twyfel, mislukkings en probleme af te kry. En die manier om dit te doen is deur my volk nie te verwaarloos nie en in hul behoeftes te voorsien. Soos die Vader My gestuur het, so stuur Ek julle ook.”