Herstel van Ons Mislukkings

David Wilkerson (1931-2011)

Op ‘n sekere tydstip in ons Christelike wandel, steek ons ​​oor wat die “gehoorsaamheidslyn” genoem kan word. Dit is wanneer iemand in sy hart besluit om die hele pad saam met die Here te loop. Wanneer hy besef dat niks in hierdie wêreld hom kan vashou nie, besluit hy om God se Woord op alle maniere en ten alle koste te gehoorsaam.

Wanneer jy ‘n lewe van gehoorsaamheid en afhanklikheid van Christus aangaan met die voorneme om nooit weer om te draai nie, gaan al die alarms in die hel af. Hoekom? Omdat jy ‘n bedreiging geword het vir die koninkryk van die duisternis. Toe jy besluit het om alles vir die Here te gee, het jy in die onsigbare wêreld begin golwe maak. Dit is presies die tyd dat jy ‘n belangrike teiken van die vyand geword het.

Ons is bekend met Petrus en sy siftingsproses. Petrus het gedink dat hy geestelik sterk genoeg was om vir Christus te sterf. Hy was nie bewus van enige opvallende swakheid in homself nie en het ‘n paar sterk uitsprake gemaak nadat die Here vir hom gesê het dat Satan hom soos koring wou sif (sien Lukas 22:31).

“Here, ek is gereed om saam met U selfs in die gevangenis en in die dood te gaan” (Lukas 22:33). Drie jaar lank het Petrus duiwels uitgedryf en siekes genees – en dit was niks in vergelyking met die groter werke wat God vir hom en die ander dissipels beplan het nie. Satan het gehoor en geweet wat God vir Petrus beplan het, en hy het gebewe. Satan gaan altyd agter die boom aan wat die meeste potensiaal het om vrugte te dra en die duiwel het geweet dat Petrus afgesonder is om baie vrugte te dra.

Nadat hy Judas reeds neergevel het, het Satan gedink dat hy ‘n mate van verdorwenheid in Petrus gesien het waarop hy kon bou om Petrus se geloof te laat faal. Ons geloof is Satan se vernaamste teiken en binne ‘n paar uur het die duiwel omstandighede in Petrus se lewe laat plaasvind wat sy geloof en liefde vir Jesus ernstig getoets het.

Vandag, as gevolg van die kruis van Jesus Christus, kan ons vir Satan sê: “Jy het miskien toestemming gekry om my te sif, duiwel, en jy kan probeer om my geloof af te breek. Maar jy moet weet dat Jesus vir my bid” (sien Johannes 17:9).

Geliefde, as jy die Here teleurgestel of bedroef het, hardloop in sy arms in en onthou dat Hy vir jou bid. Jy behoort aan die Here en rus daarom in sy onvoorwaardelike liefde!