Waarom word Jesus So Gehaat?

David Wilkerson (1931-2011)

Daar was tienduisend of meer redes vir mense om Jesus lief te hê en nie een rede om Hom te haat nie. Die vier evangelies beeld Hom uit as vriendelik, geduldig, lankmoedig, vol teerheid, vergewensgesind en nie bereid dat een mens verlore gaan nie. Hy word ‘n herder, ‘n meester, ‘n broer, ‘n lig in die duisternis, ‘n geneesheer, ‘n middelaar, ‘n versoener genoem. Jesus het hoegenaamd geen aanleiding daartoe gegee om deur iemand gehaat te word nie.

Waarom het die wêreld Christus dan gehaat, beide toe en nou? Hy het belowe om die volk uit hul boeie van duisternis te verlos en mense oral vry te maak van alle sataniese mag. Wat ons Christene egter as ‘n heilige gawe van bevryding en vryheid sien, sien die wêreld as ‘n vorm van slawerny. Hulle het hulle sondes lief en wil nie daarvan vry wees nie. “Noem jy dit vryheid?” vra die ongelowige. “Nee, hier is vryheid. Ons kan doen wat ons wil met ons liggaam en verstand. Ons het geen beperkings nie en ons kan ‘n god volgens ons eie keuse aanbid, insluitend geen god nie, as ons wil.”

Eenvoudig gestel, die wêreld is lief vir die dinge van die wêreld. Die goddelose geniet die plesier van sonde. Jesus het gesê dat hulle die donkerte bo die lig verkies. “En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos” (Johannes 3:19).

Christus sê vir sy volgelinge, “As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle” (Johannes 15:19).

Jesus voeg in dieselfde gedeelte by: “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het” (15:18). Kortom, as jy van Christus is – as God jou uit ‘n wêreldse lewe gekies het om sy Seun, Jesus, te volg – sal jy nooit deur hierdie wêreld geliefd wees of aanvaar word nie. Maar net soos Christus gesê het dat Hy die lig van die wêreld is, sê Hy dat ons ook die lig van die wêreld is: “Julle is die lig van die wêreld. 'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie” (Matthéüs 5:14). Mag ons almal ons lig helder laat skyn!