As dit Lyk of God se Guns Afwesig is

Gary Wilkerson

Almal wil spesiaal voel. Die wêreld weet dit en besighede maak wins daaruit. Hulle bied ons verskillende vlakke van “spesiaal wees” aan om sake met hulle te doen. Hotelle, lugrederye en ander dienste bied goue, silwer en brons vlakke vir deelnemende lede aan. Hoe meer jy van hulle diens gebruik maak, hoe hoër word jy opgeskuif in lidmaatskap, met allerhande soorte gunste as afslag en belonings. Hulle laat jou spesiaal voel omdat jy kies om met hulle sake te doen.

Paulus het die Filippense bekend gestel aan ‘n tipe guns wat God aan sy kinders bied: “Omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus; soos dit vir my reg is om dit van julle almal te dink, omdat ek julle in my hart dra” (Filippense 1:6-7).

Jy sê dalk, “Ek wil deel wees hiervan! Ek wil die beste van alles hê wat Hy vir my het.” Die Here se guns verskil egter baie van die wêreld s’n, soos Paulus daarop wys: “Aangesien julle almal in my boeie sowel as in die verdediging en bevestiging van die evangelie my deelgenote in die genade [spesiale guns van God] is” (1:7).

Paulus was tronk toe gestuur – geboei en stilgemaak. Hoe maak dit sin? Hy het vir duisende gepreek, skares op hulle knieë sien neerval en om saligheid uitroep. Hy het voor konings en regters verskyn en ‘n persoonlike openbaring van Jesus ontvang. Dít is hoe guns klink. Hoe word dit dus spesiale guns om van dit alles af tot in ‘n tronksel te daal?

Wel, wat Paulus hier beskryf, moet met ‘n geestelike hart verstaan word. Hy wys vir ons dat God ons heel waarskynlik by ongewone plekke sal laat beland wanneer Hy ‘n spesiale koninkrykswerk in ons lewens wil doen.

Mense se seerkry is eg en wanneer hulle beproewings erger word in plaas van beter, kan dit baie verwarrend wees. Maar God is altyd by sy kinders en stap langs elkeen. Hy wil nie dinge van ons af wegneem nie; Hy soek maniere om ons te seën. Hy beplan goeie dinge vir ons, selfs om terug te gee wat van ons af weggeneem was.