Die Noodsaaklikheid van Bekering

David Wilkerson (1931-2011)

Die heel eerste boodskap wat Jesus gebring het nadat Hy uit die versoeking in die woestyn gekom het, was, “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matthéüs 4:17). Hy het ‘n beroep op mense gedoen om hulle te bekeer nog voor Hy hulle geroep het om te glo!

Die woord “bekeer” word vandag selde in die meeste kerke genoem. Herders roep selde hulle gemeentes tot berou oor sonde – om bedroef te wees omdat hulle Christus deur hulle goddeloosheid verwond het. In plaas daarvan, is die boodskap wat ons vandag van baie kansels af hoor, “Glo net. Aanvaar Christus en jy sal gered word.” Die teksvers wat gebruik word om hierdie boodskap te regverdig, is Handelinge 16:30-31. Die apostel Paulus was in die tronk aangehou toe die aarde skielik begin bewe en die deure van die selle oopgegaan het. Die tronkbewaarder het onmiddellik gedink dat al die gevangenes ontsnap het, wat beteken het dat hy tereggestel sou word.

Wanhopig het hy sy swaard uitgetrek en was op die punt om homself dood te maak, toe Paulus en Silas hom gekeer en gerusgestel het dat niemand ontsnap het nie. Toe hy dit sien, het die man voor die apostels neergeval en gevra, “Menere, wat moet ek doen om gered te word? Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin” (Handelinge 16:30-31). Dit is belangrik om te onthou dat die tronkbewaarder op die randjie van selfmoord was, met sy swaard in sy hand. Hy was reeds by die punt van bekering – op sy knieë, gebroke en bewend voor die apostels. Dus was sy hart werklik gereed om Jesus te aanvaar met ware geloof.

Jesus belowe dat jou goddelike droefheid, jou berouvolle hart en jou hernude liefde vir Hom jou na die lewe sal lei. So, bid nou, op hierdie oomblik tot Hom: “Here, gee vir my ‘n ware berouvolle hart. Neem my terug na wie ek was toe ek U aan die begin liefgekry het. Neem my hierdie keer egter verder, dieper in U, as wat ek ooit tevore was!”

Jesus belowe dat jou berouvolle hart en hernude liefde vir Hom jou na die lewe sal lei.

Tags