Seëninge Bo Ons Begrip

David Wilkerson (1931-2011)

Een van die gesegdes wat die meeste in die kerk gehoor word, is, “God verhoor gebed!” Tog is dit net die helfte van die waarheid. Die hele waarheid is, “God meer as verhoor gebed!”

Neem byvoorbeeld die kinders van Israel. In wese, het Hoséa teenoor Israel geprofeteer, “Julle is afvallig maar julle is steeds God se volk. Keer nou terug na die Here en bid.”

“Neem woorde met julle, en bekeer julle tot die Here; sê aan Hom: Vergeef alle ongeregtigheid, en neem aan wat goed is” (Hoséa 14:2). Hulle gebed was eenvoudig; al wat Israel God gevra het om te doen, was om hulle genadig te wees. “Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend. Ek sal vir Israel wees soos die dou, hy sal bloei soos ‘n lelie en sy wortels uitslaan soos die Libanon. Sy lote sal uitsprei, en sy prag  wees soos dié van ‘n olyfboom en sy geur soos die Libanon” (Hoséa 14:5-7).

Die dou van die hemel is die teenwoordigheid van die Here. Tot op hierdie stadium, was daar droogte; alles was besig om dood te gaan omdat God se genade weggeneem was. Maar nou, weens ware bekering en opregte gebed, het God gesê dat Hy lewe oral sal laat uitspruit. Israel sou nie net vergewe word nie, maar verkwik word. Hulle sou groei, goeie wortels ontwikkel, uitsprei en floreer. Al waarvoor hulle gevra het, was genade, vergifnis en aanvaarding. Maar God het die vensters van die hemel oopgemaak en seëninge waarop hulle nie eers gedurf waag het om te hoop nie op hulle uitgestort! God het hulle gebede baie meer as verhoor!

Geliefde, God het dieselfde vir jou gedoen! Toe jy jouself bekeer het, was al wat jy van God gevra het, ‘n rein hart, vergifnis en vrede. Kyk egter hoe Hy jou meer as verhoor het: Hy het jou ‘n honger hart en ‘n dors vir meer van Jesus gegee. Hy het vir jou oë om te sien, ore om te hoor en ‘n liefde vir Hom en sy kinders gegee.

Jesus het jou môredou geword en Hy maak jou siel daagliks nat met Sy Woord. Jy is besig om te groei – jy is nie dood of sterwend nie – en is baie lewend in Hom! Halleluja!