Verlos van die Strik

David Wilkerson (1931-2011)

“Geloofd sy die HERE wat ons aan hulle tande nie as buit oorgegee het nie! Ons siel het vrygeraak soos ‘n voël uit die vangnet van die voëlvangers ... Ons hulp is in die Naam van die HERE wat hemel en aarde gemaak het” (Psalm 124:6-8).

Voëlvangers was professionele mense in die dae voor vuurwapens. Hulle het voëls gevang deur ‘n vangnet op die grond te span en dit aan ‘n wip of strik vas te bind. Hulle sou koring naby die wip op die grond strooi en dan, wanneer die voëls die koring kom eet, sou die wip afgaan, ‘n net sou oor die voël sprei en hulle vang. Voëlvangers het die gevangde voëls om verskeie rede verkoop – as troeteldiere, as offers en as kos.

Dwarsdeur die Bybel, sien ons dat ons siele vergelyk word met voëls: “Is my erfenis vir My dan soos ‘n bont roofvoël” (Jeremia 12:9). So, as ons “voëls” is, wie is dan die voëlvanger? Volgens die Bybel, is die voëlvanger die duiwel self. Satan is vasbeslote om elke gelowige, wat in heiligheid en volkome toewyding aan Jesus Christus leef, omver te werp.

Omdat die duiwel nie alomteenwoordig is nie en nie oral op een slag kan wees nie, voer hy menigtes demoniese wesens, owerhede en magte van die duisternis aan. Hierdie demoniese magte is aan die werk om strikke vir Christene te stel. Trouens, Satan gebruik ook goddelose mense om demoniese strikke te stel: “Die goddelose het vir my ‘n vangnet gespan; nogtans het ek van u bevele nie afgedwaal nie” (Psalm 119:110).

Die Psalmdigter skryf: “Bewaar my, HERE, vir die hande van die goddelose; behoed my vir die manne van geweld wat planne beraam om my voete weg te stoot. Trotsaards het vir my ‘n vangnet gespan en toue; hulle het ‘n net uitgespan aan die kant van die pad; strikke het hulle vir my gestel” (Psalm 140:5-6).

Hoewel dit waar is dat Satan ‘n leër van die skelmste voëlvangers op aarde het, is die goeie nuus dat nie een van sy aanvalle teen die toegewyde kind van God sal slaag nie. Dit maak nie saak wat jou mislukking, jou swaarkry of jou strik is nie, wees gerus dat God aan jou kant is. Selfs wanneer jy swak is, kan jy tot Hom uitroep en Hy sal kom en die net afskeur. Staan net stil en sien sy verlossing!