Laat God Jou Gebrokenheid Genees

Gary Wilkerson

Jerusalem is ‘n simbool van die stad van God, of God se woonplek. Om die mure te herbou was belangrik want dit het gedien as ‘n teken aan Israel se vyande, ‘n bewys dat God met sy volk was en sy seën geopenbaar het.  

Toe Nehemía hoor dat die mure van Jerusalem steeds bouvallig was meer as ‘n halwe eeu na die voltooiing van die herbouing van die tempel, het hy “gesit en ween, en ... het dae lank getreur” (Nehemía 1:4). Toe het hy gevas en gebid terwyl hy ‘n plan beraam het om die situasie te beredder.

Toe die mure herbou was, was die simbole van God se teenwoordigheid onder sy volk in ere herstel en die mense se harte was vernuwe met getrouheid en dankbaarheid. Oorweldigende blydskap het hulle harte binnegestroom toe die glorieryke herbouing voltooi was. Dit was ‘n belangrike oomblik in Israel se geskiedenis, ‘n rede tot groot feesviering en innige dankbaarheid.

In ‘n individu se lewe, is die herbou van die mure ‘n beeld van die herstel van krag. Ons het almal al mense ontmoet wie se verdedigingsmiddele verkrummel het. Hulle kan selfs haweloos, totaal hulpeloos en hopeloos wees. Maar in sy genade, reik God af en bring hulle by ‘n plek waar Hy hulle lewens kan rekonstrueer. Hulle word verander en herstel tot ‘n posisie van sterkte, krag en doelgerigtheid.

Een ding waarvan jy kan seker wees: wanneer jy begin om die sterkte van jou lewe te herbou, sal jy dadelik magte teen jou sien opstaan, beide van binne en van buite jouself. Weerstand teen God se werk in jou lewe sal gou kom, maar wanneer God aan die werk is, veroorsaak Hy glorieryke dinge om te gebeur. En dit neem Hom nie lank om hierdie herstel van jou gees te bereik nie. Hy vra jou om jou oë van jou omstandighede af te haal, omdat Jesus reeds jou oorwinning behaal het.

God nooi jou uit om die oorsprong van jou gebrokenheid vir Hom te bring – jou hartseer, jou woede, jou teleurstelling – omdat Hy dit wil aanspreek en genees deur intieme gemeenskap met Hom. Vra die Heilige Gees, “Here, wees die stem van Nehemía vir my in my toestand. Konfronteer die sondes wat ek toelaat en herstel my geestelike mure. Genees dan die oorsprong van dit alles – my eensaamheid, my depressie, my hartseer. Ek vertrou U om my binne my veilige mure te bewaar, Here. U is my oorwinning in alles en ek prys U!”