Geloof vir die Onmoontlike

David Wilkerson (1931-2011)

Moses het die kinders van Israel uit Egipte gelei en toe hulle by die Rooi See kom, het die leier sy staf oor die water uitgehou en dwarsdeur die nag het ‘n sterk oostewind die see verdeel. Die water het met ‘n wal aan elke kant opgestaan sodat die Israeliete op droë land kon deurgaan. Toe die Egiptenaars hulle agternagesit het, het die water hulle oorweldig en hulle almal het verdrink. Lees die verhaal in Exodus 14:15-31.

Moses en die kinders van Israel het in die Here gejuig, met sy suster Miriam wat die koordanse gelei het (sien 15:20-21). Maar selfs na hierdie ontsaglike oorwinning, was dit nie lank nie of ongunstige omstandighede het veroorsaak dat die volk teen Moses en Aäron gemurmureer het. Dit is jammer dat die meeste van hierdie mense wat die plae van Egipte gesien en God vir verlossing geprys het by die Rooi See, dit nie gemaak het tot in die Beloofde Land nie. In plaas daarvan, het hulle in ‘n ellendige woestyn gesterf – alles as gevolg van twyfel.

Geliefde, ons Beloofde Land vandag is Jesus Christus lewend binne-in ons. Hy is ons erfdeel! Solank ons in sy getrouheid rus, geniet ons sy teenwoordigheid. God het nooit vir ons bedoel om vasgevang te raak in ‘n woestyn van leegheid en droogte nie. Deur sy Seun, het Hy oorvloedige lewe vir ons beskik – ‘n lewe vry van vrees en angs as ons ons vertroue in Hom plaas.

Op hierdie oomblik, is jy dalk in die stryd van jou lewe. Die vyand kom teen jou van oral af en hoewel jy weet dat jy ‘n magtige God aan jou kant het, is al wat jy kan sien die stryd voor jou. Jy vra vir God, “Waarom het U my in hierdie gemors laat beland? Ek kan dit nie maak nie.”

Die Woord verseker jou dat jy ‘n rustige plek in Christus se volheid kan binnegaan. “Laat ons toetree met ’n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ’n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water” (Hebreërs 10:22). God wil hê jy moet by ‘n plek van vrede uitkom. Hy wil hê jy moet werklik rus in sy krag en vermoë om jou van alle strikke, beproewings en versoekings te verlos – as jy Hom sal vertrou!