‘n Heersende Vrede

Gary Wilkerson

“[Hy] wat ons gered en geroep het met ’n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is” (2 Timótheüs 1:9).

Elke gelowige het ‘n hoë roeping van die Here, en God belowe dat as ons in geloof optree en Hom vertrou, sal Hy daardie plan in vervulling bring. Maar soos elkeen wat vir enige tydperk saam met Jesus gewandel het kan getuig, beteken dit dat ons as gevolg van ons roeping, hindernisse langs die pad sal teëkom.

Josua het sterk leierskap verskaf vir die kinders van Israel na Moses gesterf het en die volk hom vertrou het. Maar toe dit tyd geword het om die volk deur die Jordaanrivier in die Beloofde Land in te lei, het God sy behoefte vir gerusstelling raakgesien en drie keer met hom gepraat oor vol moed wees: “Wees sterk en vol moed ... Wees net baie sterk en vol moed ... Het Ek jou nie beveel nie: Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die HERE jou God is met jou, oral waar jy heengaan” (Josua 1:6-7,9).

As ons getrou ons persoonlike beloofde land wil binnegaan, ontstaan daar dikwels stemme van skeptisisme. “Dit gaan nie gebeur nie. Dit is makliker waar jy is. Hoe kan jy seker wees jy het van God gehoor?” Die vrae mag kom van ‘n vriend of kennis, wat jou konfronteer oor wat jy glo God se leiding is. Of dit kan ‘n stem in jou kop wees wat elke soort redenasie bring om jou daarvan te weerhou om jou Vader se leiding te gehoorsaam.

Jy sal die kwesbaarste wees vir aanvalle van die vyand wanneer jy op die punt is om die land wat God jou geroep het in besit te neem. Die vyand – en ons vlees – sal sterk teenstand bied in die vorm van vrees, angs, twyfel en onsekerheid. Maar dit is die presiese tyd wanneer jy gehoorsaam moet wees aan die bevel wat God vir Josua gegee het.

Hou goeie moed! God se onwrikbare Woord verskaf ‘n heersende vrede wat alles wat jy doen onderskraag sodat jy nie sal bewe nie.

Tags