‘n God Wat Vermorste Jare Herstel

David Wilkerson (1931-2011)

“En Ek sal julle vergoed die jare wat die treksprinkaan, die voetganger, die kaalvreter en die afknyper verslind het” (Joël 2:25).

Het jy jare vermors voor jy jou bekeer het en alles aan Jesus oorgegee het? Jy dink dalk, “Ek kon soveel verder in Christus gewees het. Ek kon soveel blydskap in sy hart vir Hom gebring het! Ek kan nooit opmaak vir daardie vermorste jare nie.”

Ons wil almal God vergoed vir ons verlore jare, deur reg te maak en Hom terug te betaal. Maar Hy sê, “Ek sal jou vergoed! Jy kan My nie vergoed vir ‘n enkele vermorste uur nie, wandel dus voor My in geregtigheid, en bekeer jou van jou sondes. Ek sal jou vergoed vir al die verliese, of dit joune, jou familie s’n, of ander s’n was!”

Aan bekeerde sondaars sê die Here, “Wees nie bevrees nie...juig en wees bly, want die HERE doen groot dinge!” (Joël 2:21).

Jy hoef nie skaam te wees oor jou vermorste jare nie. Jy is gebore vir sy ewige doel. Hy het vir jou ‘n lewe van tevredenheid, vreugde en bruikbaarheid in Sy koninkryk beplan, maar God se plan vir jou lewe was onderbreek deur die kaalvreter.

Maar nou is alles nuut in Christus! Die Here gaan terug na die dag waarop die sprinkane gekom het, en Hy tel weer van die oomblik af waarop jy jou bekeer het! Al daardie seëninge wat jy misgeloop het, was opgegaar, en al die blydskap, die vrede, die openbarings, die bruikbaarheid wat jy gedink het dood en vir ewig weg was, was eintlik deur die Here bewaar!

Paulus het gesê, “Ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus” (Filippense 3:14).

Jy voel dalk die pyne van spyt vir jou vermorste tyd, en herinneringe sal jou nederig hou, maar in God se oë, is jou verlede ‘n dooie saak. Jou liefdevolle Vader sê, “Vergeet die verlede en jaag dit wat Ek jou belowe het na.”