Verdedig en Verlos

David Wilkerson (1931-2011)

In die Ou Testament, lees ons die storie van Hiskia, koning van Juda, wat ‘n brief van die duiwel ontvang het. Sánherib, koning van Assirië het dit geteken, maar dit was direk uit die hel. Sánherib beteken “man van sonde” en hy verteenwoordig Satan, die god van hierdie wêreld.

In teenstelling daarmee, was Hiskia ‘n goddelike man, “[Hiskia] het op die HERE, die God van Israel, vertrou, sodat onder al die konings van Juda ná hom en die wat voor hom gewees het, niemand soos hy was nie” (2 Konings 18:5). Die “man van sonde” was daarop uit om Hiskia te vernietig omdat hy hom nie wou dien nie – en dit is die presiese rede waarom Satan jou sal aanval. Wanneer jy jou lewe volkome in die hande van die Here oorgee, pasop!

Is jy tans in ‘n gemors – in regtig groot moeilikheid? Het die duiwel vir jou gesê dat God jou nie gaan red nie, dat jou geloof te swak of te klein is, en dat jy so goed as dood is? Jy hoor die  duiwel lag, “Ten spyte van al jou liefde vir Jesus, ten spyte daarvan dat jy die dinge reg doen en God te vertrou, is jy bestem om te val.”

Die duiwel se skelmste truuk is om jou te laat glo dat God jou verlaat het en jou oorgegee het aan swaarkry en smart. Hy wil hê jy moet dink al jou probleme is die gevolg van God se straf vir jou vorige sondes – maar moenie dit glo nie! Satan is daarop uit om jou te vernietig, maar ons Here is ‘n verlosser, ‘n vesting. Jesaja sê dat Hy gestuur is om “om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, ‘n gewaad van lof vir ‘n verslae gees; sodat hulle genoem kan word terebinte van geregtigheid, ‘n planting van die HERE, tot sy verheerliking” (Jesaja 61:3).

Jy gaan nie onder nie! Jy word bloot aangeval en is in die vyand se spervuur van leuens omdat jy jou daarop toegespits het om die Here te vertrou. Satan wil jou geloof in God vernietig. Maar die Here is daarop uit om jou te verdedig en te verlos. Laat dit diep in jou hart insink. “Die Engel van die HERE trek ’n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit” (Psalm 34:7).