Hoe Lyk Dit Om Jesus Lief te Hê?

David Wilkerson (1931-2011)

“My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid” (1 Johannes 3:18).

Vra enige Christen, “Het jy Jesus lief?” en hy sal antwoord, “Natuurlik – ja!” Maar woorde alleen sal nie bly staan in die heilige lig van sy Woord nie. Jesus het self gesê twee kenmerkende dinge sal jou liefde vir Hom openbaar en as dit nie in jou lewe getoon word nie, is jou liefde vir Jesus in woord alleen in plaas van “in daad en in waarheid.” Hierdie twee bewyse is: (1) jou gehoorsaamheid aan al Jesus se gebooie en (2) ‘n openbaring van sy teenwoordigheid in jou lewe.

“Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet ... en Ek sal hom liefhê en My aan Hom openbaar” (Johannes 14:21). “Openbaar” beteken “om te skyn of deur te breek.” Met ander woorde, om ‘n instrument of kanaal te word wat Christus se teenwoordigheid uitstraal.

So dikwels hoor ons, “O Here! Stuur ons U teenwoordigheid na ons toe. Val op ons en werk deur u Heilige Gees.” Maar God se teenwoordigheid val nie skielik en verras of oorweldig die gemeente nie. Hy kom nie af soos ‘n onsigbare rook wat God in die atmosfeer inblaas, soos die Ou Testament se wolkkolom wat die tempel so gevul het met die heerlikheid dat die priesters nie kon staan om diens te doen nie (sien 2 Kronieke 5:14).

Ons liggame is die tempel van God en as Sy heerlikheid kom, moet dit in ons harte verskyn en ons liggame vul. Christus woon nie in geboue of in ‘n sekere atmosfeer nie; trouens, die hemele kan Hom nie binne hou nie. Liewer, Hy word geopenbaar deur ons gehoorsame, geheiligde liggame – sy tempels: “Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees” (2 Korinthiërs 6:16).

As jy alle sonde laat staan het en begeer om Hom te ken, dra jy Christus se heerlikheid en teenwoordigheid in jou. Sy lewe vloei deur jou te alle tye!