STRY TEEN ONGEWENSTE GEVOELENS

David Wilkerson (1931-2011)

Jou gevoelens affekteer sekerlik nie jou saligheid of jou verhouding met die Here nie. Hulle mag probeer om jou te beroof van jou vrede en blydskap in Christus; hulle mag selfs jou teister of beskuldig. Maar dit is tyd dat jy besef dat sekere onstellende gevoelens boodskappers van die vyand is, met die doel om jou terneer te druk met wanhoop en vrees.

Jy mag in die Gees wandel, jou Bybel lees, die Here liefhê met jou hele hart wanneer skielike, onverwagse, bekommerde gevoelens jou siel en gees oorstroom. Goddelose owerhede teister jou met ongewenste negatiewe gevoelens wanneer jy dit die minste verwag. Indien dit net so gelaat word, kan jou emosies jou neertrek en jou visie verwronge maak.

Mense mag teologie en eenvoudige formules rondslinger, soos, “Jy moenie so voel nie! Waar is jou geloof? God wil hê jy moet met oorwinning en konstante blydskap leef.” Maar God wil jou ‘n paar kragtige lesse leer oor gevoelens en hoe om dit te hanteer – en dit is lewensnoodsaaklik dat jy jou self met die Woord van God bewapen.

“Want God het ons nie ‘n gees van vrees gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Timótheüs 1:7). Jou liefdevolle Vader het jou nie gevoelens van vrees en twyfel gegee nie: in plaas daarvan, is sy gawe aan jou ‘n volmaakte gesonde verstand.

“Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus” (2 Korinthiërs 10:3-5).

Hierdie terneergedrukte gevoelens is die taktiek van die vyand wat jou God se getrouheid laat bevraagteken. Maar God is nie die outeur daarvan nie! Vandag kan jy die versoeking om te twyfel verander in ‘n geleentheid vir hoë lofprysing terwyl jy jou negatiewe gedagtes in die Naam van Jesus neerwerp.