GOD WIL GESOUTE KRYGERS HÊ

David Wilkerson (1931-2011)

Versoeking is ‘n uitnodiging of ‘n versoek om ‘n onsedelike daad te pleeg. Op die oomblik woed Satan oor die aarde soos ‘n brullende leeu wat Christene probeer verlei met onsedelikheid. Niemand is immuun nie en hoe nader jy aan God jy kom, hoe meer sal Satan begeer om jou te sif.

“Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val” (Jakobus 1: 2). Die Here sê ons moet bly wees wanneer ons in allerhande beproewinge val, omdat ons iets uniek ervaar. Versoeking is “opleiding onder oorlogstoestande” en dit gebeur net met volwasse Christene. God wil gesoute krygers hê wat kan getuig, “Ek was onder vuur! Ek was in die geveg! Die vyand was oral en het probeer om my dood te maak, maar God het my gewys hoe om dit alles te hanteer en nie bang te wees nie. “

Slegs ware kinders van God kan versoek word – sondaars kan nie. Reën kan nie raak aan ‘n liggaam wat reeds onder water is nie en sondaars word reeds in die verderf verdrink. As kinders van Satan doen hulle soos hy dikteer en hy lok hulle na dieper en donkerder putte van onsedelikheid.

Versoeking is nie ‘n teken van swakheid of ‘n oorleun na die wêreld nie. Inteendeel, dit is ‘n teken dat God ons vertrou. Die Gees het Jesus in die arena van versoeking in die woestyn gelei sodat Hy die geheim van die mag oor alle versoeking kon leer. Eintlik het God vir Jesus gesê: “My Seun, Ek het jou die Gees sonder mate gegee en jou voor die wêreld bevestig. Nou gaan Ek toelaat dat Satan jou versoek, sodat jy kan sien hoe magteloos hy is. Jy sal nooit sy heerskappy vrees nie en jy kan voortgaan om die koninkryk te verkondig met die geloof dat Satan verslaan is en jou op geen manier kan bykom nie.”

Ons word nie versoek om ons te leer oor onsself of om die krag van die duiwel ten toon te stel nie. Nee! Versoeking word toegelaat om ons die grense van Satan te leer – om sy slagtande te trek en sy swakheid te ontbloot. En om die krag van God ten toon te stel om te red! Begin die Here verheerlik en gebruik jou skild van geloof teen versoeking in jou lewe.