Vernietig Vyandige Vestings

In Miga 7, bring die profeet ‘n profetiese boodskap aan Israel – een wat geld vir geestelik uitgehongerde gelowiges dwarsdeur die wêreld vandag. Miga het sy profesie begin met ‘n hartseer uitroep: “Wee my...geen tros om te eet nie” (Miga 7:1).

Miga het die effek van ‘n hongersnood in Israel beskryf – ‘n hongersnood van beide voedsel en van God se Woord. Sy boodskap herhaal die woorde van ‘n vroeëre profesie deur Amos: “Kyk, daar kom dae, spreek die Here HERE, dat Ek ‘n honger in die land stuur, nie ‘n honger na brood nie en nie ‘n dors na water nie, maar om die woorde van die HERE te hoor. En hulle sal swerwe van see tot see en rondslinger van noord na oos, om na die woord van die HERE te soek, maar hulle sal dit nie vind nie” (Amos 8:11-12).

Miga praat ook vir ‘n honger volk vandag: die kerk van Jesus Christus. In sy profetiese oog, het Miga vooruitgesien hoe menigtes vandag van plek tot plek hardloop, soekend om ‘n ware woord van God te hoor. Hy het voortuitgesien hoe gelowiges van kerk tot kerk skarrel, almal soekend om ‘n honger na voedsel te versadig om hulle siele te voed. En die geroep word steeds gehoor: “Wee my, geen tros om te eet nie!”

My hart gaan uit na elke mens wat verstrik is deur ‘n bloedlose, magtelose, kontemporêre evangelie.  

Hulle was nog nooit gekonfronteer oor hulle sonde nie of het nog nooit die veroordelende boodskap van waarheid, wat Christus se karakter in hulle sou produseer, gehoor nie. Hulle is niks anders gegee waarmee hulle hul geestelike huis kon bou, behalwe hout, hooi en stoppels nie. En wanneer hulle geroep word om voor Jesus te staan, sal alles waarop hulle hulle fondamente gelê het, verbrand.

Israel se geestelike hongersnood kon nie op ‘n slegter tyd gekom het nie: die hoogtepunt van die land se sedelike agteruitgang. Die tyd was ryp vir ‘n regverdige getuienis en ‘n liefdevolle bestraffing teenoor die land se leiers vir hulle sonde. Tog, op die presiese oomblik wat dit moes gebeur het, het die kerk meer wêrelds geword: “Die vrome het verdwyn uit die land, en daar is geen opregte meer onder die mense nie; hulle loer almal op bloed; hulle jaag elkeen sy broer met die net” (Miga 7:2).

Miga se boodskap weerspieël vandag se hooftrekke. Mense vertrou nie meer hulle leiers, hulle regering of hulle regstelsel nie. Hulle vertrou nie hulle werkgewers, medewerkers, vriende of godsdiens nie. Daar is ‘n ineenstorting van vertroue op elke vlak van die samelewing. Die gevolg is dat elkeen slegs na sy eie belange omsien. Ons hoor nie meer, “Wat kan ek doen om te help? Hoe kan ek bydra?” nie. In plaas daarvan, is die geroep, “Hoe vind ek daarby baat?”

Miga het egter sy blik weggedraai van al die dekadensie en gierigheid in die samelewing, van al die afvalligheid en kompromie in die kerk: “Maar ek sal uitsien na die HERE, ek wil wag op die God van my heil, my God sal my hoor” (Miga 7:7). Hy het in wese vir Israel gesê: “Ja, verdorwenheid teister ons land se siel en veroorsaak ondergang en verval. Maar uiteindelik, is ons fokus nie op die verskriklike toestand van die samelewing nie. ‘n Ware wag waarsku nie net teen die swaard nie; hy verkondig ook God se beloftes. Te midde van chaos, wil Hy hê sy heilige oorblyfsel moet sy hart vir hulle ken.”

Dieselfde is waar vandag. Die Here het ‘n oorblyfsel wie se oë nie gefokus is op die verval van die samelewing of die kerk nie. In plaas daarvan, is hulle besig met die ware fokus van God se woorvoerders, wat die vermanings van die profete herhaal, “Rig julle oë op die Here, soek sy aangesig, wag op Hom. Hy sal jou onderhou en al jou behoeftes aanspreek.”

Die beloftes wat Miga begin openbaar op hierdie stadium, lyk té ongelooflik om waar te wees. Tog is alles bedoel vir Christus se kerk in hierdie hedendaagse tye. Miga 7:14 sê, “Wei u volk met u staf, die kudde wat U erfdeel is, wat afgesonderd woon in ‘n bosveld.” Die herder wat hier aangespreek word, kan slegs Christus wees: “Mag die God van vrede, wat die groot Herder van die skape, naamlik onse Here Jesus Christus, deur die bloed van die ewige testament” (Hebreërs 13:20). Miga profeteer dat Jesus na die aarde sou kom om die skape op te pas en te laat wei. Vir diegene wat hulle tot Hom bekeer met geloof en vetroue, sal daar nooit ‘n hongersnood wees nie.

Wat vertel dit vir ons van die huidige hongersnood? Dit sê, ons kan nie altyd ons gebrek aan brood slegs blameer op dooie kerke of onbesorgde herders nie. As ons ons tot Jesus bekeer, belowe Hy om ons te voed. Hierdie belofte is geldig, selfs vir diegene wat in afgesonderde plekke woon, waar daar miskien geen kerk is nie: “wat afgesonderd woon in ‘n bosveld” (Miga 7:14).

Miga 7:15 bevat een van God se heerlikste beloftes aan sy kinders.

“Soos in die dae van jou uittog uit Egipteland sal Ek hom wonders laat sien” (Miga 7:15). Dit verwys na die wonderwerk wat God verrig het vir Israel by die Rooi See. In soveel woorde, sê God vir ons, “Jarelank het hulle preke gehoor oor die groot wonderwerk wat Ek vir my volk gedoen het. Alhoewel daardie verlossing wonderlik was, was dit slegs ‘n tipe, ‘n skaduwee. Ek wil vir jou ‘n heel nuwe ding doen.”

Op die oomblik is jy moontlik in ‘n geestelike woestyn en staan teenoor die magte van Satan. Jy kan sy leër van demoniese entiteite op jou voel neerdonder. En net soos die Israeliete hulpeloos teen hulle vyand was, is jy hulpeloos teen joune. Maar, so seker as wat God die Rooi See oopgemaak het, en toegelaat het dat Israel op droë grond deurloop, so sal Hy jou see bonatuurlik oopmaak. Jy sal loop oor watter bindinge die vyand ook al op jou geplaas het, sowel as al sy geestelike teëstand. En jy sal nie langer rede hê om hom te vrees nie.

Miga het geprofeteer, “Die nasies sal dit sien en skaam wees ondanks al hulle krag: hulle sal die hand op die mond lê, hulle ore sal doof word” (Miga 7:16). Miga sê vir ons, “Jou Rooi See verlossing sal Satan se leuens stilmaak. Hy sal sy mond moet toemaak’ in ontsag terwyl God se Gees in jou werk.” Jy sal nie langer die vyand se beskuldigings teen jou glo nie. In plaas daarvan, sal sy demoniese magte op die ou end heeltemal verward wees.

Talle Christene haal 2 Korinthiërs 10:3-4 aan: “Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur god om vestings neer te werp.” Die meeste van ons dink aan sulke vestings as bindinge soos seksuele oortredings, dwelmmisbruik, alkoholisme en uiterlike sondes wat ons aan die bopunt van ‘n “ergste sondes” lys plaas. Maar Paulus verwys na iets baie erger as ons menslike bepaling van sondes.

‘n Vesting is ‘n beskuldiging wat stewig in jou gedagtes geplant is. En Satan vestig vestings in God se kinders deur leuens in hulle gedagtes te plant – valshede en miskonsepsies oor God se natuur. Hy mag dalk die leuen plant dat jy ongeestelik is, en herhaaldelik fluister, “Jy sal nooit vry wees van jou boesemsonde nie. Jy is ‘n skynheilige, omdat jou gedagtes steeds vol goddelose gedagtes is. Jy het nie verander nie. Nou het God sy geduld met jou verloor. Jy is nie waardig om nog meer van sy genade te ontvang nie.” Of hy kan probeer om jou huwelik te vernietig deur te sê, “Jy kan nie hierdie verhouding langer verdra nie, tensy jou wederhelf verander.”

As jy aanhou om na sy leuens te luister, sal jy dit begin glo na ‘n rukkie. Sodra jy sy bose argument aanvaar, sal dit ingebed word in jou verstand en hart – en dan sal dit ‘n vesting word. Dit laat Satan toe om mag oor jou te hê deur jou gedagtes. Hy beset nie jou liggaam nie; al wat hy nodig het, is ‘n vastrapplek in jou gedagtes, om leuens in te spuit wat heeltyd jou gedagtes verstrengel en verdraai met marteling.

Ons kan nie hierdie vestings deur gebed alleen neerwerp nie. Die enigste wapen wat Satan en sy hordes bangmaak, is dieselfde een wat hom in die woestynversoekings van Jesus banggemaak het: die lewende Woord van God. Slegs die Here se waarheid kan ons vrymaak. Hy belowe om God te wees vir ons; om ons te reinig, te vergewe en al ons sondes weg te gooi; ons om te vul met sy Gees; en om binne-in ons al die mag te plaas wat ons nodig het om in heiligheid en gehoorsaamheid te lewe.

Volgens Miga, hier is die belofte waaraan ons moet vashou: “Wie is ‘n God soos U, wat die ongeregtigheid vergewe en by die oortreding van die oorblyfsel van sy erfdeel verbygaan? Hy hou die toorn nie vir ewig vas nie, maar het ‘n welbehae in goedertierenheid. Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp” (Miga 7:18-19).

Ons oorwin nie ons sondes nie; God oorwin hulle.

En Hy het medelye met ons, vertrap al ons ongeregtighede onder sy voete, werp hulle in die see sodat dit nooit weer teen ons gebruik kan word nie. Stel jou voor hoe die kinders van Israel sien dat al daardie Egiptiese soldate vir altyd onder die water verdwyn. Nou sê die Here vir ons, “Dit is jou sondes, en jy gaan kyk hulle sink tot op die bodem van die see. Ek het hulle vir goed weggewas.” As jy hierdie beloftes in besit sal neem, belowe God jou vyande sal voor jou oë uitmekaargejaag word.

“Hulle sal stof lek soos die slang, hulle sal soos grondkruipers bewende uit hulle vestings te voorskyn kom, hulle sal sidderende kom na die HERE onse God, en hulle sal vir U vrees” Miga 7:17). Die “grondkruipers” hier beteken figuurlik, “kruipende slange vrees.” Dit verwys na Satan se geplante vrese, beskuldigings wat in die gedagtes ingebed is. God sê Hulle gaan uit hulle gate uitkruip met sidderende vrees.

Wat beteken dit? Eenvoudig gestel, wanneer jy op sy beloftes staan, sal elke demoniese mag wegseil van sy vesting in vrees vir die almagtige God. Daarby, sal die duiwel en sy leër “sidderende kom na die HERE onse God, en hulle sal vir U vrees”. Jy sal nie meer bang wees vir die duiwel nie; hy sal bang wees vir jou! Hy vrees elke gelowige wat wandel in die almagtige Verlosser se beloftes.

God is getrou om sy belofte te vervul om elke vyand van ons af te laat wegvlug. Tans, mag jou versoekings, gewoontes en boesemsondes dalk lyk soos onbegaanbare versperrings voor jou. Maar die Here belowe om jou te verlos, ter wille van sy eie Naam. Hy is getrou om sy Woord gestand te doen.

Maak dit jou gebed: “God, U het onder eed belowe om Here vir my te wees. U het gesê U sou vir my my eie Rooi See belewenis gees. U het ook gesê die duiwel sou sy hand oor sy mond moet sit en my nie langer beskuldig met sy leuens nie. Ek staan nou op U beloftes, Vader. Verlos my, en verheerlik u Naam in my lewe.” Amen!