Rein Bly in ‘n Goddelose Samelewing

God se Woord sê vir ons dit is moontlik om rein te bly te midde van ‘n goddelose samelewing. En die Here gee sy salwing slegs aan daardie dienaars wat rein voor Hom bly. Ons sien dit geïllustreer in die lewe van Daniël wat in een van die mees goddelose, immorele samelewings in die hele geskiedenis geleef het.

Babel was ‘n heersende mag in Daniël se tyd, ‘n stad-staat wat alles wat goddeloos was in die wêreld verteenwoordig het. Die Babeloniërs was berug vir hulle sensualiteit en onreinheid en hulle het Israel in ballingskap geneem op daardie stadium. Terwyl hulle in ballingskap was, het Israel vasgevang geraak in daardie samelewing se goddeloosheid. Israelitiese mans was verlei tot in Baälhuise van prostitusie. Sodomiete het ander verlei tot seksuele sonde. Selfs priesters wat God eens gevrees het, was oorweldig met sensualiteit en het ‘n besoedelde leierskap oor God se volk geword.

Oral om hom, het Daniël gesien hoe God se mense in putte van onreinheid en agteruitgang geval het. Te midde van al hierdie verdorwenheid, was Daniël vasbeslote om toenemend tot die Here te nader. Soos die dae verbygegaan het en goddeloosheid toegeneem het, het hierdie man selfs meer goddelik en gebroke oor Israel se sonde geword. Hoe het Daniël so ‘n ware heilige wandel gehandhaaf in sulke goddelose tye? Ek glo as ons Daniël se weg na heiligheid kan ontdek, sal ons die sleutel vind wat ons sal help om vandag dieselfde weg te volg.

‘n Heilige vrees van God het Daniël op sy aangesig op die grond laat val.

Daniël het getuig, “En kyk, ‘n hand het my aangeraak en my op my knieë en op die handpalms waggelend laat opstaan. En hy het vir my gesê: Daniël, geliefde man, gee ag op die woorde wat ek met jou spreek, en gaan staan op jou staanplek, want ek is nou na jou gestuur. En terwyl hy hierdie woord met my spreek, het ek bewende gaan staan. Toe sê hy vir my: Wees nie bevrees nie, Daniël; want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van God te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom” (Daniël 10:10-12).

Spreuke gee vir ons hierdie kragtige vers oor die saak: “Deur liefde [genade] en trou [waarheid] word die skuld versoen, en deur die vrees van die HERE wyk ‘n mens af van die kwaad” (Spreuke 16:6) Let op die eerste gedeelte van hierdie vers: deur liefde [genade] en trou [waarheid] word die skuld versoen. Vandag plaas die kerk egter so ‘n groot klem op liefde en genade, dat ons dikwels die ander onontbeerlike element in die reinigingsproses oorsien: waarheid. Wat is hierdie waarheid? Dit is die feit dat God toornig is teenoor sonde. Vir sy mense om hulle van gewoonte-sonde te reinig, moet ons in die waarheid wandel oor hierdie gesindheid teenoor sonde.

Aan die een kant, werk God se liefde en genade om ons te keer om in wanhoop te veral en herinner ons dat ons ‘n liefdevolle hemelse Vader het wat altyd gereed is om ons sonde te vergewe. Terselftertyd, werk die waarheid van God se heiligheid om ‘n heilige vrees in ons te veroorsaak. ‘n Oorbeklemtoning van enige van hierdie elemente, liefde en genade of waarheid, lei tot ‘n verwronge wandel met Jesus. Liefde en genade sonder waarheid lei tot losbandigheid en uiteindelik tot geestelike dood. Net so lei waarheid sonder liefde en genade tot wanhoop en uiteindelik tot die dood.

Die vrees van God is nie net ‘n Ou Testament konsep nie.

Terwyl die Ou Testament ons beveel, “Vrees die HERE en wyk af van die kwaad” (Spreuke 3:7), praat die Nuwe Testament ook van so ‘n vrees: “Laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Korinthiërs 7:1).

Die Bybel maak dit duidelik dat daar ‘n vrees van God is wat elke gelowige moet kweek. Daardie ware vrees sluit in ontsag en respek, maar dit gaan baie verder. Goddelike vrees stel ons in staat om oorwinning te handhaaf in goddelose tye. Jeremia profeteer oor God se verbondsbelofte: “En Ek sal hulle een hart en een weg gee om My altyd te vrees, hulle ten goede en hulle kinders ná hulle. En Ek sal ‘n ewige verbond met hulle sluit, dat Ek My van hulle nie sal afwend om aan hulle goed te doen nie; en Ek sal my vrees in hulle hart gee, sodat hulle van My nie afwyk nie” (Jeremia 32:39-40).

Hier is ‘n wonderlike verbondsbelofte van God waarin Hy ons verseker dat Hy ons sal voorsien met sy heilige vrees. Die Here laat val egter nie net sy vrees in ons harte deur ‘n bonatuurlike manifestering nie – Hy plant dit in ons deur sy Woord. Dit kom egter deur meer as net die lees van die Skrif. Ons verkry ‘n goddelike vrees wanneer ons bewustelik besluit dat ons alles wat ons in sy Woord lees, sal gehoorsaam. Ons lees van een profeet wat dit geweet het, “Want Esra het sy hart daarop gerig om die wet van die HERE te ondersoek en te betrag [doen]” (Esra 7:10, my klem).

Paulus skryf, “En laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur die slange omgekom” (1 Korinthiërs 10:9). Hierdie vers is belangrik vir alle Christene wat versoeking beleef. Paulus verwys na Israeliete wat met Moabitiese vroue gehoereer het.

Een Israeliet wat God ernstig op hierdie manier versoek het, was ‘n man genaamd Simri. Terwyl die oorblyfsel in Israel gehuil het en berou gehad het oor die volk se sonde, het Simri ‘n verhouding gehad met ‘n Midianitiese prostituut. Hy was in der waarheid so astrant daaroor, dat hy die vrou deur die kamp laat paradeer het, waar almal, Moses ingesluit, hulle kon sien, waarna hy haar in sy tent ingeneem het om met haar te hoereer. God het vinnig opgetree in die saak. Die Skrif sê vir ons dat ‘n regverdige man genaamd Pinehas die paartjie by die tent in gevolg het en beide Simri en die Midianitiese vrou doodgemaak het.

Jy mag wonder wat Paulus presies bedoel wanneer hy praat oor “Christus versoek.” Eenvoudig gestel, om die Here te versoek beteken om Hom te toets. Ons toets Hom wanneer ons vra, “Hoe lank kan ek aan my sonde oorgee voordat God se woede opgewek word? Ons leef in ‘n tydperk van liefde en genade met geen veroordeling teenoor sondaars nie. Hoe kan Hy my, sy kind, oordeel?”

Menigtes van Christene vra terloops dieselfde vrae vandag, terwyl hulle met ‘n goddelose versoeking speel. Maar hulle versoek Christus, terwyl hulle God se Woord, wat van sonde oortuig, uit hulle gedagtes werp. Elke keer wat ons die waarheid, wat God se Gees vir ons duidelik maak, weerstaan, verwerp ons Paulus se waarskuwing: “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie... En laat ons nie hoereer soos sommige van hulle gehoereer het nie, en daar het op een dag drie-en-twintigduisend geval” (1 Korinthiërs 10:12,8).

Vra vir jouself: toets jy die grense van God se kosbare gawe van genade? Versoek jy Christus deur aan jou sonde oor te gee in die aangesig van jou blatante rebelsheid? Het jy jouself oortuig, “Ek is ‘n Nuwe Testament gelowige, bedek met die bloed van Jesus. Daarom sal God my nie oordeel nie”?

Wees gewaarsku! Deur met jou sonde voort te gaan, kruisig jy Christus opnuut, soos Hebreërs daarteen waarsku (sien Hebreërs 6:6). Hoe? Wanneer jy Jesus se groot offer met die uiterste minagting behandel, bring jy Hom opsetlik tot openlike skande, nie net in die wêreld se oë nie, maar voor die hele hemel en hel (sien Hebreërs 6:6). Paulus gee vir ons hierdie vermaning en waarskuwing: “En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie” (1 Korinthiërs 10:6).

Volgende beskryf Paulus die manier hoe om versoeking te vermy, ‘n ontsnappingsroete wat God beskikbaar gemaak het vir al sy kinders: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Korinthiërs 10:13). Wat is hierdie ontsnappingsroete? Dit is ‘n groeiende kennis en belewenis van die heilige vrees van God.

Waarom is hierdie boodskap oor goddelike vrees so belangrik vir die kerk vandag?

Die Bybel sê vir ons baie duidelik, “Jaag...na...heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie” (Hebreërs 12:14). Hier is die eenvoudige waarheid: sonder die heiligheid wat Christus deur geloof aan ons gee – ‘n kosbare gawe, wat ons eerbiedig deur ‘n lewe te lei wat daaraan toegewy is om sy hele Woord te gehoorsaam – sal nie een van ons die Here sien nie. Dit verwys nie net na die hemel nie, maar ook na ons huidige lewe. Sonder heiligheid, sal ons nie God se teenwoordigheid in ons daaglikse wandel, ons familie, ons verhoudings, ons getuienis en ons bediening sien nie.

Dit maak nie saak hoeveel Christen konferensies ons bywoon nie, hoeveel opnames van preke ons luister nie, of by hoeveel Bybelstudies ons betrokke is nie. As ons weier om God te glo vir ons verlossing van ‘n kankeragtige sonde – as die Here ‘n twis met ons het oor ‘n ongeregtigheid – dan sal nie een van ons pogings goddelike vrug dra nie. In teendeel, ons sonde sal net meer aansteeklik word en almal rondom ons infekteer. Natuurlik gaan hierdie kwessie ook verder as alle begeertes van die vlees na die besoedeling van die gees. Paulus beskryf dieselfde vernietigende sonde in hierdie gedeelte wanneer hy sê, “En moenie murmureer soos ook somminge van hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom” (1 Korinthiërs 10:10).

So, geliefde, sal jy toelaat dat die Heilige Gees met jou deel oor enige wellus wat jy mag huisves? Sal in jy in plaas daarvan die ontsnappingsroete, wat God vir jou voorsien het soek en vertrou? Ek dring by jou aan: Kweek ‘n heilige vrees vir die Here in hierdie laaste dae. Dit sal jou gebroke in gees hou, maak nie saak hoe hard die goddeloosheid rondom jou woed nie. En dit sal jou in staat stel om te wandel in God se heiligheid, wat die belofte inhou van sy blywende teenwoordigheid.

Dit gaan alles oor geloof. Christus het belowe om jou van struikeling te bewaar en om vir jou krag te gee om sonde te weerstaan – as jy sal glo wat Hy gesê het. Glo Hom vir sy goddelike vrees. Bid daarvoor en verwelkom dit met die wete dat God sy Woord teenoor jou sal nakom. Jy kan nie vrykom van die doodsgreep van ‘n boesemsonde deur wilskrag of deur beloftes of deur enige menslike poging nie. “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare” (Sagaria 4:6). Amen!