Maak Die Laaste Hek Oop | World Challenge

Maak Die Laaste Hek Oop

Gary WilkersonNovember 18, 2013

Hierdie boodskap gaan oor geestelike tronke — daardie tronke waarin Satan ons toesluit en daardie waarin ons onsself toegesluit hou. God se Woord wys vir ons hoe om vrygelaat te word van hierdie tronke deur middel van ‘n kragtige voorbeeld uit Petrus se lewe.
In Handelinge 12, was Petrus in die tronk toegesluit deur Koning Herodus. Duisende mense in Jerusalem was besig om gered te word deur die magtige werke van God, en dit het weerklink deur die hele stad — en Herodus het bedreig gevoel. Natuurlik, wanneer God ookal bonatuurlik beweeg deur sy mense, sal dit die vyand woedend maak. Satan het alreeds Herodus sover gekry om Jakobus dood te maak. Hy was ‘n leier in die kerk saam met sy broer Johannes en Petrus.
Herodus het nou sy visier op Petrus ingestel. “En toe hy sien dat dit die Jode welgevallig was, het hy verder ook Petrus in hegtenis geneem. En dit was die dae van die ongesuurde brode” (Handelinge 12:3), bedoelende Pasga. Herodus was besig om ‘n punt te bewys: Deur die dapperste gelowige tereg te stel tydens Pinkster, die kerk se heiligste viering, sou hy die Christene se monde snoer met vrees. Baie gelowiges het toe al uit die stad gevlug ná Jakobus se dood, maar dit het net die evangelie verder laat versprei.
Herodus het afdelings soldate gestuur om Petrus gevange te neem en op te pas — ‘n totaal van sestien mans, om een prediker te vang! Van toe af, was Petrus goed dopgehou. “Toe hy hom dan gegryp het, het hy hom in die gevangenis gesit... met die bedoeling om hom ná die paasfees voor die volk te bring” (Handelinge 12:4). Die betekenis van “voor die volk te bring” dui daarop dat Herodus van plan was om Petrus te martel in ‘n publieke vertoning.
Petrus se storie openbaar die tipes geestelike tronke wat Satan gebruik om God se mense vas te vang.
Die woord “gegryp” in die gedeelte beteken nie net “gryp” nie. Dit dui op ‘n krag ver bokant ons eie. Petrus was nie net onder arres van ‘n regeringsowerheid nie. Hy was toegesluit deur ‘n geestelike mag wat besig was om ‘n magtige man, ‘n koning, te gebruik vir demoniese doelwitte.
Is jy bekend met hierdie tipe geestelike tronk? Miskien is jy op hierdie oomblik in een. Jy dink, “Here, ek het ‘n duisend keer gebid, maar niks verander ooit nie. Hoe sal ek ooit vrykom? Of miskien bid jy vir ‘n geliefde wat in die greep is van ‘n binding of verslawing. Miskien is hulle in ‘n emosionele of verhoudingstronk, vasgevang deur wonde, depressie of bitterheid.
Baie mense in Colorado Springs, die stad waarin ek preek, word vasgevang in presies hierdie tipe tronke. Met ‘n populasie van ongeveer ‘n half miljoen, word geskat dat ongeveer 400,000 mense geen verbinding het met ‘n aktiewe geloof in Christus of ‘n kerk nie. Vir my is dit beide hartverskeurend en onaanvaarbaar. Geen besorgde gelowige kan gemaklik lewe terwyl die oorgrote meerderheid van hulle bure in hopeloosheid en wanhoop lewe nie.
Wat ek volgende lees, verander alles. “So is Petrus dan in die gevangenis bewaak; maar daar het ‘n aanhoudende gebed tot God deur die gemeente vir hom opgegaan” (Handeling 12:5). Daardie een woordjie — “maar” — verander die hele prentjie. Dit sê, “Jy dink aan hierdie situasie op jou manier, maar God is van plan om iets anders te doen. Die vyand was soos ‘n brullende leeu op die toneel — maar die Leeu van Juda is ook aan die beweeg. Hy is op die punt om Homself te openbaar en alles te verander.”
Ek hou van die beeld van “ernstige gebed” in hierdie vers. ‘n Klein groepie nederige mans en vroue het ‘n gebedsbyeenkoms gehou. Soos baie Christene, het hulle heel moontlik geen invloed in hulle wêreld gehad nie. Tog het die dikste tronkmure nie ‘n kans gehad teen hulle gebede nie. Met een fluistering van ‘n engel, was die vyande van God op die punt om so diep aan die slaap te raak, dat hulle nie sou hoor as Petrus op sy tone deur die oop seldeur loop nie — en dit is presies wat gebeur het.
“En toe Herodus hom wou voortbring, het Petrus in daardie nag tussen twee soldate geslaap, met twee kettings geboei, en wagte voor die deur het die gevangenis bewaak. En meteens staan daar ‘n engel van die Here by hom” (Handelinge 12:6-7). Toe Petrus om hom gekyk het, het hy gesien dat die kettings afgeval het, maar dat die bewaarders blind was daarvoor. “En hy het nie geweet dat wat deur die engel plaasgevind het, werklikheid was nie, maar hy het gemeen dat hy ‘n gesig sien” (Handelinge 12:9). Wat volgende gebeur, is die hart van my boodskap: “En toe hulle by die eerste en die tweede wag verbygegaan het, kom hulle by die ysterpoort wat na die stad lei, en dit het vanself vir hulle oopgegaan. En hulle het buitekant gekom en een straat ver gegaan, en dadelik het die engel hom verlaat” (Handelinge 12:10).
Petrus het deur drie hekke gegaan en die derde een was van yster gemaak. Terwyl ons na vryheid beweeg, gooi Satan dikwels selfs moeiliker tralies en hekke, wat lyk of dit ondeurganklik is, in ons pad. Maar niks is te moeilik vir die Here nie. Dink aan al die tronkdeure wat hierdie engel vir Petrus oopgemaak het om hom vry te maak. Hy het hom verby al die bewaarders, deur elke gangetjie en deur die voorhek van die tronk geneem. Toe die massiewe hek van die stad oopgegaan het, het die engel Petrus verlaat, asof hy sê, “Jy is nou op jou eie. Die Here het jou vrygemaak. Loop die res van die pad in geloof.”
Baie Christene kom nooit so ver as wat Petrus hier gekom het nie. Eens was hulle verlos van hulle tronksel, maar toe het hulle geïntimideerd gevoel deur al die ander traliedeure wat hulle voor hulle gesien het. Hulle het ontmoedig geword en het gesê, “Ek is moeg vir al hierdie dinge. Sodra ek deur die een deur kom, is daar net nog een in sy plek. Is daar geen einde aan my stryd nie?” Hulle word versoek om weer op te gee.
Sien jy dit gebeur met jou vasgevangde geliefdes? God verwyder al die kettings van hulle lewens, maar dit lyk of hulle net nie deur die eerste deur wat voor hulle staan kan kom nie. Hulle word oortuig, “Ek gaan dit nie maak nie.” Hier is die sleutel: Een vir een het die engel elke deur wat voor Petrus was, bonatuurlik vir hom oopgemaak. Petrus se werk was om in geloof vorentoe te beweeg.
Toe die apostel eers vry was, het hy na die huis waar hulle gebid het, gegaan om die wonderwerk aan almal wat vir hom ingetree het, te rapporteer. Terwyl Petrus geklop het, was die groep steeds besig om ernstig te bid. Hulle het geen idee gehad van hoe effektief hulle gebed vir hulle broer was nie. Inderdaad, die Skrif sê hulle gebede was “ernstig” — bedoelende dat hulle aangehou bid het en nie opgegee het nie. Hulle het aan God vasgegryp en nie laat skiet nie. Dit is die tipe gebed wat Christus sy kerk voor roep. Dit is volhardend en passievol in sy begeerte om ‘n geliefde, ‘n vriend en selfs ‘n stad vry te maak.
‘n Interessante ding het egter gebeur met hierdie gelowiges toe hulle agterkom dat hulle gebede beantwoord is: Hulle het dit nie geglo nie. ‘n Diensmeisie het hulle vertel dat Petrus by die hek staan: “En sy het die stem van Petrus herken en van blydskap die poort nie oopgemaak nie, maar na binne gehardloop en vertel dat Petrus voor die poort staan. Maar hulle sê vir haar: Jy is van jou verstand af. Maar sy het volgehou dat dit so is. Daarop sê hulle: Dit is sy engel!” (Handelinge 12:14-15). Blykbaar het hulle gedink dat Herodus hom klaar doodgemaak het.
Dit was die laaste hek waardeur Petrus moes kom.
God is in die reddingsbesigheid. Hy doen die onmoontlike met ‘n enkele woord. En wanneer Hy sy volk vrygemaak het, dan is hulle inderdaad vry. Maar jy mag dalk iets in jou eie lewe waarneem wat gebeur wanneer jy met ‘n probleem sukkel. Dit is dat God die eerste paar hekke vir jou oopmaak — en Hy laat die laaste een vir jou om deur geloof oop te maak. Hy het bonatuurlik die hekke vir Petrus oopgemaak, maar hierdie laaste een het die geloof en aksie van ‘n man nodig gehad. God doen die grootste deel, maar Hy wil altyd hê dat ons betrokke moet wees en ook iets doen.
Hoekom doen die Here dit? Hy weet dat selfs met ons ernstigste gebed, het ons moontlik dalk nog ‘n klein bietjie ongeloof in ons harte. Ja, God is soewerein in sy mag. Maar Hy wil hê dat sy bruid betrokke moet wees in sy verlossingsdade. Elke ware beweging van God deur die geskiedenis heen, het mans en vroue vereis wat moes opstaan en sê, “Ek wil in tel wees. Ek mag swak of skaam wees, maar God eer hulle wat in geloof optree.” Selfs as net ‘n klein persentasie van God se liggaam hierdie eenvoudige toewyding gehad het, het John Wesley gesê,  “Die stad sal kom kyk hoe ons brand.”
Ja, dit begin alles met gebed. Ernstige, effektiewe gebed beweeg God om ysterhekke oop te maak en die gevangenes vry te laat. Petrus se storie maak dit duidelik. Maar hierdie toneel wys ook dat as ons misluk om in geloof daardie laaste hek oop te maak, sal sommige gevangenes buite bly staan. Dus, hier is die laaste deel van ernstige gebed: getroue aksie. Gebed eindig nie wanneer die byeenkoms eindig nie; dit lei tot werke van geloof.
Wanneer jy met iemand oor Jesus praat, mag God daardie persoon dalk al deur verskeie hekke gelei het. Iewers mag ‘n gelowige geliefde dalk vir hom gebid het. Jy besef dit nie, maar God het aan jou die mag gegee om daardie laaste hek vir die persoon oop te maak.
Ek is ‘n pastoor, en my ure is vol met die werk van my roeping. Maar deesdae word my hart opgewek om die werk van ‘n evangelis te doen. Ek het onlangs tot God gebid om in die week wat kom, deure oop te maak dat ek met vyf persone van Jesus kan getuig. Dieselfde dag het ek saam met my familie in ‘n restaurant gesit toe ‘n ouerige man verby geloop het en in die verbyloop sy hande op elkeen van ons se skouers gesit het. Dit was ‘n tere gebaar en ek het uitgereik om met hom te gaan praat.
Die man se naam was Skip en hy was vyf-en-tagtig jaar oud. Hy het ons vertel dat sy vrou pas deur beroerte verlam gelaat is. “Ons is nou al soveel jaar getroud en nou lê sy by die huis in ‘n bed,” het Skip gesê. “Ek is oorweldig deur die werk wat ek moet doen om vir haar te sorg. Ek het net bietjie uitgekom vir ‘n breuk.” Toe ek hom vra of ek vir hom kan bid, het Skip se oë opgehelder. Hy het net gewag vir iemand om vir hom te sê dat God omgee.
Later daardie week het ek die liefde van Jesus met ‘n hawelose tiener gedeel. Binne dae het ek betekenisvolle, kragtige ontmoetings met ander gehad. Gebed maak nie net die deure kragtig oop nie; dit maak ons oë oop vir die nood op ons eie deurstoep — en dit is God se begeerte om daardie nood aan te spreek.
Petrus se biddende vriende het gedink dat wat hulle gevra het, onmoontlik was.
Hoewel hierdie mense getrou was om te bid, was hulle nie oop vir wat God kan doen nie. “En Petrus het aangehou met klop; en toe hulle oopmaak, sien hulle hom en was verbaas” (Handelinge 12:16). Toe hulle uiteindelik die hekke oopgemaak het, was daardie biddende heiliges “verbaas.” Daardie oomblik van verwondering oor God se heerlike verlossing sou nie gebeur het nie, tensy hulle gereageer het op dit wat hulle geglo het.
In elkeen van ons gemeenskappe, klop mense aan ons deur. Mense is gereed om ‘n getroue kerk te sien, wat reageer op sy geloof dat God begeer om mense uit elke tronk vry te laat. Hulle wil weet dat daar hoop is vir hulle wanhoop. Die Here staan gereed om te beweeg op grond van ons gebede; nou het Hy ons nodig om in geloof voorwaarts te beweeg, sodat ons kan sien hoe sy krag mense se lewens verander.
Doen God werke in jou lewe wat die wêreld rondom jou verstom? Ek dring by jou aan: Hou aan met bid — vir jou geliefdes en vir almal wat jy ontmoet. God mag dalk reeds in hulle lewens beweeg al besef jy dit dalk nie. Dus, wanneer jy ‘n klop aan jou deur hoor, wees getrou om dit oop te maak. Jesus is gereed om ons almal te verbaas met sy reddende, verlossende, lewensveranderende liefde. Amen!

Download PDF