Genade en Verantwoordelikheid | World Challenge

Genade en Verantwoordelikheid

Gary WilkersonJune 3, 2013

Ek het ‘n verstekstelsel wat in my werk. Dit is ‘n refleks wat in beweging kom wanneer ek te kort skiet in my wandel met die Here. Ek praat van my geneigdheid om my stand met Hom te probeer herstel met werke eerder as om op sy ongelooflike genade te vertrou.

Ek glo die meeste van ons het hierdie verstekstelsel wat in ons werk. Dit is hoekom Paulus God se genade herhaaldelik in die Nuwe Testament beklemtoon. Letter vir letter, hamer Hy op die genoegsaamheid van genade vir die regte verhouding met die Here.

Hierdie verstekstelsel — die neiging om na werke te draai om op te maak vir ons eie tekortkominge — is egter die heeltyd aan die werk in ons. Dit is wat my beweeg om so dikwels oor genade te preek; Ek preek dit, want ek het dit nodig. Soms dink my gemeente ek oordoen dit, want mense hou aan om vir my te sê, “Ek weet ek is onder genade, maar wat is my verantwoordelikheid?” Dit is ‘n goeie vraag. In ‘n verbond van genade — een waarin God alles gedoen het wat nodig is vir ons redding — watter rol speel ons?

Vir baie van ons, hou die konsep van genade geen krag in vir ons daaglikse wandel nie. Ons weet God het ons toegerus met kosbare gawes in sy Seun en in die Heilige Gees; daarom dink ons dat ons nie mag misluk of te kort skiet nie. Wanneer ons egter misluk, dan is ons verbaas. Dit maak nie sin dat ons steeds aaklige sondaars is na alles wat die Here vir ons gedoen het nie. Ons verbeel ons dan dat Hy met spyt sy kop skud.

So oortuig ons onsself dat ons beter kan doen. Ons verdubbel ons pogings van gebed en Bybel lees en ons raak betrokke in bediening. Ons belowe onsself dat ons sal opmaak vir die kere wat ons tekort geskiet het. Dit is die waansinnigheid van hierdie verstekstelsel: Ons doen dit met die volle wete dat ons werke niks kan doen om ons in die regte verhouding met God te bring nie. Dink ons regtig dat dit meer werke is wat God van ons verwag? Twee ure van gebed in plaas van een? Wil Hy ons regtig besiger hê?

Uit hierdie pogings om onsself te red, is daar twee dinge wat daaruit voortkom. Eerstens vermy ons dit om ons eie sondigheid te erken. Tweedens — en baie erger — beroof ons onsself daarvan om uit God se diep put van genade te drink. Paulus het vroeg reeds hierdie dilemma in die kerk beleef. Toe die Christene in Galasië God probeer behaag het deur die werke van die wet, het Paulus hulle gekonfronteer: “O, onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig? Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?” (Galásiërs 3:1-2). Paulus het gevra, “Dink julle regtig julle kan verbeter op die kruis?”

Dit is maklik om deurmekaar te raak oor ons verantwoordelikheid teenoor God, want daar is twee teenstellende werklikhede in ons lewens. Die eerste werklikheid is Jesus se woorde aan ons: “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is” (Matthéüs 5:48).

Wanneer ek dink aan die volmaakte Christelike lewe, gaan my gedagtes na die boek van Handelinge. Volgens hierdie verstommende Bybelse rekord, kan ons geloof God beweeg om wonderwerke te doen. Ons getuienis kan die verlorenes lei tot ‘n veranderde lewe. Wie van ons strewe nie daarna nie? Dit bring ons by die tweede werklikheid in ons lewens: Ons is onvolmaak. Ons faal God voortdurend, heeltyd, aanhoudend. Wat ‘n kontras.

Ek luister na preke deur sekere Christen leiers omdat ek die manier waarop hulle vir die evangelie leef, bewonder. Hulle stories roer my en ek dink, “Ek wil doen wat hulle doen.” Maar nadat die preek oor is, besef ek, “Hierdie roering in my voel bekend. Waaraan herinner dit my?”

Die antwoord is: my kinderlewe. Die kerk waarin ek opgegroei het, was dikwels die gasheer vir predikers, evangeliste en sendelinge. Hulle was my helde omdat hulle wonderlike dinge in God se naam gedoen het. Hulle het gewoonlik hulle boodskap afgesluit deur te sê, “As jy God waarlik wil behaag, dan sal jy alles gee wat jy het om Hom te gaan dien.”

Praat van opgewondenheid. Ek sou na die altaar hardloop en bid, “Here, maak my ‘n sendeling soos hierdie persoon.” Later sou ek my ouers se National Geographic tydskrif oopmaak en kyk hoe die mense in Afrika nou eintlik leef. Geleidelik het my gebed verander na, “Here, moenie my stuur nie!”

Volgende sou ek hoor van ‘n genesingsevangelis wat getuig van die wonderwerke wat God gedoen het vir mense wat ly en waarvan sy ‘n ooggetuie was. Maar as ek vir my siek vriende gebid het, het ek net by hulle aangesteek.

Ek neem hierdie dinge nie ligtelik op nie. Ons almal het ‘n verantwoordelikheid om hoop en genesing te bring vir ‘n verlore wêreld wat ly. Maar wanneer ons nie dieselfde resultate in ons lewens sien as wat die ander gehad het nie, dan is dit maklik om mismoedig te word. Hoe versoen ons hierdie twee teenstellende werklikhede?

Enige werk waarvoor God ons geroep het, moet bemagtig word deur sy genade.

God se genade moet dit waarvoor Hy ons geroep het, bedek. Sien of hierdie woorde jou wandel met die Here beskryf: Belas. Gespanne. Swaar gelaai. Verstandelik uitgeput. Fisiek afgemat. Hierdie dinge volg wanneer ons ons vleeslike pogings om God te behaag verdubbel. Dit is duidelike tekens dat die wet aan die werk is en nie God se genade nie. Dink aan hierdie woorde: Verpligtend. Pligsgetrou. Verskuldig. Skuldig. Skaam. Veroordeeld. Beskryf hierdie woorde iemand wat vrygemaak is?

Die vryheid wat Christus vir ons aan die kruis bewerk het, is nie net goeie nuus vir die verlorenes nie. Dit is goeie nuus vir elke gelowige. Baie gelowiges leef egter steeds onder die gedagte dat hulle nie ‘n kwaliteit seun of dogter van God is nie. Hulle dink Hy het hulle lief net omdat Hy moet, nie omdat Hy van hulle hou nie.

Die evangelies leer ons die teenoorgestelde. Jesus het al twaalf sondige, bevlekte, onvolmaakte dissipels na Hom geroep omdat Hy hulle vriendskap wou hê: “Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het” (Johannes 15:15).

Jesus het gekies om die diep begeertes van die Vader se hart met hierdie vriende te deel. Hy het dit ook met jou gedoen toe jy gekies het om Hom te volg. So, wanneer jy na Hom toe gaan in gebed, of in ‘n kerk inloop, is sy gesindheid nie, “Nie al weer jy nie.” Die teenoorgestelde is waar! Hy wil by jou wees, langs jou sit, jou vriend wees omdat Hy behae het in jou.

Jy mag dink, “Hoe kan dit wees? Ek sien niks in my lewe wat Hom enigsins behaag nie.” Dit is hoekom die Skrif vir ons vertel, “Want Christus is die einde van die wet....” (Romeine 10:4). Dit is onmoontlik vir enigeen om vir lank volgens die wet te leef. Ons mag onsself probeer oortuig, “Ek sal dit môre regkry. Ek moet net myself herlaai en my krag terugkry” — maar ons kan dit nie volhou nie. Uiteindelik word ons oorwin deur ‘n onmoontlike las, en kom ons aan die einde van onsself.

As die “einde” van die wet, het Christus dit volbring — wat beteken dat Hy alles reggemaak het, wat die wet sou reggemaak het. En Jesus is die Een wat vir ons wag aan die einde van al ons eie pogings. Net in Hom vind ons ware vryheid — nie in enige “werke” wat ons self probeer doen nie.

Laat my toe om jou te vra: Hou jy van die volgende woorde? Lewe. Vreugde. Blydskap. Vrymoedigheid. Vryheid. Onselfbewustheid. Kan jy jouself indink om hierdie soort vreugde in jou diens aan Christus te hê? Hoe kan jy so ‘n bemagtigende vreugde vind?

Dit kom nie deur werke van geregtigheid nie. Ons het nie die krag om op ons eie regverdig te wees nie. Ons mag ons bes probeer, op ons hardste strewe en alles opreg aan God offer, maar steeds is dit niks meer as net ‘n besoedelde kleed nie. Vryheid kom alleen deur Christus se geregtigheid. Wanneer sy geregtigheid ons s’n word, word ons vrygestel van ons strewe. En sy Gees is in ons en maak ons vry van die wet van sonde en skuld en maak alle dinge nuut.

Daardie vryheid is alles. Dit beteken vryheid om die goddelike verantwoordelikhede na te kom waarvoor Hy ons geroep het. Skielik is ons in staat om met oorgawe te getuig. Ons het ‘n vrymoedigheid wat nie uit onsself uit kom nie. Genade vloei deur ons, eerder as ‘n dooie, bindende wettiesheid.

Daar is net een manier om in die vryheid en vreugde wat Christus vir ons gewen het, te wandel: deur sy gawe van geregtigheid te aanvaar. Deur dit te doen, beteken dit dat ons genade omhels, nie werke nie. Dit beteken nie dat ons ons verantwoordelikheide ontduik nie; in teendeel, dit is die enigste manier om ware verantwoordelikhede op te neem — deur onder die bedekking van sy genade te kom. Daar is geen ander manier waarop ons enigsins enigiets in sy Naam kan bereik nie!

Die enigste ware verantwoordelikheid van die Christen is dit wat uit God se genade gebore is.

Jesaja het geprofeteer, “En hulle sal die ou puinhope bou, die verwoeste plekke uit vroeër dae weer oprig en die verwoeste stede weer nuut maak wat woes was van geslag tot geslag” (Jesaja 61:4). Jesaja se luisteraars kon nie hierdie soort vryheid en wedervaringe wat hy hier beskryf het, verstaan nie. Vir geslagte lank was God se volk onder die wet verpletter en deur die las daarvan verwoes.

Dieselfde was waar vir die mense van Jesus se dag. Hulle was streng op hulleself en het die wettiese laste wat godsdienstige leiers op hulle geplaas het, aanvaar. Dit is waarom Christus se woorde so rewolusionêr was toe Hy direk uit Jesaja aangehaal het toe Hy sy bediening aangekondig het: “Die Gees van die Here Here is op My, omdat die Here My gesalf het om die blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het my gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ‘n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis” (Jesaja 61:1).

Jesus het geweet wat die gawe van genade sou doen: Dit sou ons heeltemal vry maak. En sy boodskap was nie net vir die ongereddes nie. Toe Hy gepraat het van vrylating vir die gevangenes, het Hy van gelowiges gepraat: “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” (Johannes 8:36).

Vandag is ons net so streng op onsself soos die mense van Jesus se dag. Ons dink aan genade as sag, maklik en om kwytskelding te verkry.  Maar genade is die magtigste krag wat jy ooit in jou lewe sal sien werk. Dit is ook die enigste krag wat ware vrug sal dra in jou wandel met God — jou gebedslewe, jou getuienis en jou goeie dade in sy Naam. Net as ons ten volle in God se genade ingaan, sal sy kerk geroer en bemagtig word om te wandel in die heerlike werke wat Hy voor ons gestel het.

Nadat jy hierdie boodskap gelees het, streef jy steeds daarna om volmaak te wees? Daar is net een ingang op die pad van volmaaktheid: deur die hek van genade. Jy is alreeds volmaak in God se oë, deur die geregtigheid van sy Seun, Jesus Christus. Hier is jou verantwoordelikheid: Hou op om te streef.

Jou pogings stuur jou net terugwaarts, nie voorwaarts nie. Dit veroorsaak dat jy God se genade heeltemal mis – genade wat vryheid, vreugde en krag verskaf om alles te doen wat God jou geroep het om te doen. Die werklikheid is dat jy genade gaan nodig kry as jy saam met Jesus vorentoe wil beweeg. So, nou is nie die tyd om jou eie pogings te verdubbel nie. Dit is tyd om te vertrou dat Christus al die genade voorsien het wat ons ooit sal nodig hê — vir elke tree — om te wandel in die unieke roeping wat Hy vir jou het.

Jesus het jou geroep tot vriendskap met Hom, nie om jou eie pogings van verlossing te verhoog nie. Dit hang nou van jou af om in hierdie vryheid te wandel wat Hy deur sy genade aan jou geskenk het. Lewe, vreugde, blydskap, vrymoedigheid —  al hierdie dinge is joune as jy in die volheid ingaan van sy verstommende werk vir jou aan die kruis. Mag sy genade heers in jou lewe, want Hy het jou volmaak in Hom gemaak! Amen.

Download PDF