Die Radikale Gevolge van die Opstanding | World Challenge

Die Radikale Gevolge van die Opstanding

Gary WilkersonJanuary 4, 2016

Ek kom uit ‘n lang lyn van predikers wat verskeie geslagte teruggaan. Daarom het dit my glad nie verbaas nie toe my oudste seun, Ashley, wou preek toe hy skaars oud genoeg was om sinne bymekaar te sit. My pa het by ons gekuier toe Ashley aangekondig het dat hy sy eerste preek vir ons wou preek. Hy het ons na sy kamer gelei waar hy ‘n kartondoos vir ‘n preekstoel opgestel het. En en pa het op die vloer gesit terwyl Ahley afgeskop het met ‘n boodskap wat hy “Die Dag toe die Sonde Uitgekom het” genoem het.

“Die sondes was verskriklik,” het Ashley uitgeroep, amper net soos sy Oupa. “Jesus het aan die kruis vir die sonde gesterf. Toe het Hy die sonde in die put gegooi. Maar Jesus se broers was jaloers en toe gooi hulle Hom ook in die put. Toe was Jesus en die sondes almal in die put, maar Jesus het uitgekom. Toe kom die sondes ook uit. So was die sonde oral in die wêreld en hulle gaan steeds voort vandag. Die sondes is sleg en ons moet ophou sondig!”

Ongelukkig vir Ashley – wat vandag ‘n sendeling na globale probleemarea’s is – het ons sy preek opgeneem en het dit steeds op band. Duidelik moes sy teologie oor die jare verbeter het vir hom om Christus se evangelie te verkondig soos hy dit nou doen. Maar baie Christene het nog nooit hulle baie beperkte evangelie verbeter nie – en hulle word vasgevang in onvolwasse denkrigtings oor die Christelike lewe.

Amper enige Christen kan jou vertel, “Jesus het vir my sonde gesterf.” Maar ek het agtergekom dat verbasend min kan uitbrei oor dit wat sy opstanding in hulle daaglikse lewe beteken. Soos ‘n baie jong Ashley, ken hulle sekere gedeeltes van die storie – dat Jesus gesterf het en weer opgestaan het – maar nie genoeg om God se kragtige waarhede op die manier wat hulle leef en glo toe te pas nie. En dit is wat ‘n wêreldse verskil maak.

Wat is die doel van die opstanding? Die meeste van ons assosieer dit met die ewige lewe, nie met die daaglikse lewe op aarde nie. Hoe is die opstanding betekenisvol in ons huwelik, ons werk en ons familie? Hoe beïnvloed dit ‘n lewe toegegooi met 200 data boodskappe ‘n dag, ‘n lewe gebombardeer met opdragte, take, verpligtinge en eise?

Paulus herinner ons dat Christus se dood, begrafnis en opstanding van die grootste belang is, “Maar ook om ons ontwil aan wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, onse Here, uit die dode opgewek het, wat oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking” (Romeine 4:2-25, kursief myne). Wat bedoel Paulus wanneer hy sê dat Jesus opgewek is sodat ons regverdig gemaak kan word?

Regverdigmaking het te doen met die nuwe lewe. Daarsonder, sou ons vasgevang wees in ‘n onveranderende siklus van sonde en vergifnis. Dink aan die praktiese las wat sonde in ons lewens dra. Hoeveel keer het jy al in die nag wakker gelê terwyl jy wroeg oor iets aakligs wat jy gedoen of gesê het? Skande, skuld en veroordeling kom met die alledaagse lewe; ons kan nie daarvan af wegkom nie. Paulus vertel egter vir ons dat Jesus “oorgelewer” was om ons te reinig van hierdie dinge.

So, is dit genoeg om vergewe te wees vir ons sondes? Dit is waar die laaste deel van die vers inkom: Jesus was “opgewek vir ons regverdigmaking.” Nie net is ons oortredings weg nie, maar ons word regverdig gemaak – wat beteken dit is asof ons nooit daardie sonde gedoen het nie. Nou is ons ‘n vreugde in God se oë. Kortliks, ons word opgewek in die nuwigheid van die lewe – elke dag!

Wat ‘n groot en magtige waarheid. Christene ervaar egter dikwels nie hierdie nuwigheid in die alledaagse lewe nie. Ek erken daar is dae waarin ek vir my vrou, Kelly, sê, “Is hierdie werklik die nuwe lewe? Ek is gefrustreerd, humeurig en teleurgesteld.” Al probeer ons hoe hard, ons besit nie persoonlik die krag om ons lewens te vernuwe nie. Ons kan eenvoudig nie onsself nuut maak nie. Dit kom van Jesus alleen – en dit word opstandingskrag genoem.

Om ons hieraan te herinner, het Kelly en ek geleer om ‘n sekere frase vir mekaar te herhaal: “Jesus het alles betaal.” Hy het die werk klaargemaak, Hy het opgestaan en Hy het ons geseën met die nuwe lewe. En ons moet sy opstandingskrag toeëien en dit aantrek soos ‘n pak klere. “En wanneer hierdie verganklike met dit onverganklike beklee is en hierdie sterflike met die onsterlikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning” (1 Korinthiërs 15:54).

Daar is stemme in die kerk wat sê dit maak nie saak of daar ‘n opstanding was nie. Dit is bekend dat sommige geskryf het, “Ek sal ‘n Christen wees selfs al sou dit bewys word dat daar geen opstanding was nie. Christenskap het my ‘n beter persoon gemaak en dit het die wêreld beter gemaak.” Sommige skoliere sê dat Jesus se ontmoetings na die kruis net mitiese stories was met die doel om die vroeë kerk te bemoedig.

Paulus verwerp dit alles op die sterkste moontlikste gronde. Hy sê as Christus nie opgewek was nie, dan is die gevolge ernstig: “En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof; en dan word ons valse getuies van God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het, wat Hy nie opgewek het nie, ten minste as die dode nie opgewek word nie” (1 Korinthiërs 15:14-15).

Paulus sê in wese, “As jy nie glo dat Christus opgewek is nie, hou dan maar heeltemal op om in God te glo. Almal moet dan ophou om te preek, te evangeliseer en goeie werke in Jesus se naam te doen. Ons almal sal beter af wees. Jy sal beter doen om wysheid van Dr. Phil of Oprah of ‘n gewilde sielkundige te kry. Hulle kan meer sê as iemand wie se elke handeling gebaseer is op iets wat nooit gebeur nie.”

Kortliks, die Christen geloof is nie een of ander morele kode om te onderhou nie. Ons kom nie Sondae bymekaar net om vertroosting oor die ewigheid te kry nie. Christus het of opgestaan of Hy het nie – en as Hy nie het nie, dan is ons sondes nooit vergewe nie.

Jy mag beswaar maak, “Maar Jesus se dood het met my sonde afgereken. My vergifnis hang nie van die opstanding af nie.” Paulus sê dit is so: “Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore. As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense” (1 Korinthiërs 15:16-19).

Toe ek my bedenkinge oor God gehad het as ‘n tiener, het ek begin kyk na ander godsdienste. Op daardie stadium het ek die Baha’i geloof aanloklik gevind. Dit sê basies dat alle gelowe waar is en dat alle paaie na die hemel lei. Maar toe het ek C.S. Lewis gelees en hy het my los-en-vas denke reggestel. Hy het geskryf dat die hele Christendom op een vraag rus: Was daar ‘n opstanding of nie?

As ons nie ja hierop kan antwoord nie, dan maak dit nie saak of daar ‘n letterlike ark of ‘n sesdag skepping periode of ‘n werklike Tuin van Eden was nie. As Christus se opstanding nie plaasgevind het nie, maak nie een van hierdie dinge saak nie. Maar as daar wel ‘n opstanding was, dan het alle ander dinge moontlik geword: Lasarus kon opgewek word, mense kon genees word, sondes kon verwyder word en die hemel kon ‘n werklikheid word. Dit is opstandingskrag – en dit gee ons iets wat Paulus ons “salige hoop” noem: “...terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser Jesus Christus” (Titus 2:13).

Hoe meer ek as tiener gelees het, hoe meer het ek tot die vaste geloof gekom oor die vyfhonderd getuies wat Jesus na sy opstanding gesien het: “Daarna het Hy verskyn aan oor die vyfhonderd broeders tegelyk, waarvan die meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap het” (1 Korinthiërs 15:6). Ek het die opstanding begin sien, nie net as ‘n bykomstige gebeurtenis nie, maar as die hoogtepunt en voleinding van die werk van Jesus se dood vir ons. En die geseënde hoop wat in my geplant was, het ‘n bron van lewe geword elke dag.

So baie in die kerk vandag leef asof hulle nederlaag aanvaar het. Hulle gedagtes word beheer deur twyfel eerder as geloof. Hulle leef met gewoonte patrone van sonde. Hulle hou hulle geloof vir hulleself en dink as hulle self so erg sukkel, hoe kan hulle moontlik iemand anders help? Dit is hoe die Christelike lewe sonder die opstandingskrag lyk.

Dit is in werklikheid hoe die dissipels se lewens gelyk het na die kruisiging. So, wat was die eerste dinge wat Jesus na die opstanding gedoen het? Hy het met sy volgelinge se vrees afgereken: “En toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit was, het Jesus gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle!” (Johannes 20:19).

Die dissipels het letterlik hulleself toegesluit omdat hulle bang was vir die buitewêreld. Hulle was bang vir bespotting, belagging, vervolging en selfs die moontlikheid van ‘n dood soos Jesus beleef het. Maar Christus het dwarsdeur daardie mure gekom om hulle in hulle vrees tegemoet te kom. En sy eerste woorde aan hulle daar was, “Ek gee julle vrede.” Selfs toe was hulle steeds bevrees. Daarom moes Jesus twee keer vir hulle sê: “Vrede vir julle!” (sien Johannes 20:19,21). Christus het hulle steeds nie bestraf of veroordeel vir hulle vrees nie. In plaas daarvan, het Hy hulle op hulle diepste punt van nood tegemoet gekom.

Dieselfde dinge het omtrent ‘n week later gebeur. Weer het die dissipels hulleself te midde van vrees toegesluit en weereens het Jesus ingekom en vrede gebring: “En agt dae daarna was sy dissipels weer binne, en Thomas saam met hulle. En Jesus het gekom terwyl die deur gesluit was, en het in hul midde gestaan en gesê: Vrede vir julle!” (Johannes 20:26).

Soms moet Jesus hierdie dinge vir ons meer as een keer sê. Nogtans het Hy nie die dissipels vir hulle vrees veroordeel nie. In plaas daarvan, het Hy aan hulle almal geduld betoon. Vroeër daardie week, het Thomas sy ongeloof uitgespreek, maar nou het Jesus hom uitgenooi om sy wonde te ondersoek om enige twyfel uit die weg te ruim. “En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God!” (Johannes 20:28).

Hier in Thomas se reaksie sien ons Christus se kuur vir ons vrese: Glo. Jesus verkondig dit aan sy kerk en sy kerk verkondig dit elke week aan almal wat sy deure binnekom: “Vrede vir julle. Moenie bang wees nie. Glo in Hom.”

“Jesus sê toe weer vir hulle: Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees. As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe; as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou” (Johannes 20:21-23).

Jesus het nie sy dissipels soos priesters gemaak deur hulle mag te gee om werklik sondes te vergewe nie. Hy het hulle liewer gesag gegee om Hom op die aarde te verteenwoordig en in wese gesê, “Julle het my afgehandelde werk aan die kruis beleef. Nou moet julle dit verkondig. Preek die vergifnis van sondes. Wees ‘n woordvoerder vir my evangelie, ‘n stem vir my goeie nuus, my instrument om die gevangenes vry te laat!”

Vriend, die krag van die opstanding is dat Jesus lewe. Hy is ‘n lewende Verlosser en Hy geen ons ware, standvastige vrede wat ons vrymaak van al ons vrese. Op sy beurt, blaas Hy se eie Gees in ons en bemagtig ons as sy getuies. En Hy skenk ons die voorreg om sy goeie nuus – die salige hoop – aan almal, wat verlore en bang is, te bring. Dit is die radikale gevolg van die opstanding!

Download PDF