Bring Christus In Jou Krisis In! | World Challenge

Bring Christus In Jou Krisis In!

David WilkersonJanuary 1, 1996

Gaan saam met my na die dal Dura naby Babel waar Koning Nebukadnésar alle leiers – goewerneurs, prinse en amptenare – van sy wyduitstrekte koninkryk ontbied het. Stel jou voor die toneel – menigtes mense uitgevat in hulle tradisionale klere en met ‘n klomp verskillende tale praat. En hulle het almal vergader vir een doel – om die gode van die koning te vereer!

Nebukadnésar het ‘n groot, goue standbeeld, negentig voet hoog opgerig. En nou moes hierdie leiers, nadat hulle hul weg na die groot dal Dura gevind het, buig in aanbidding sodra die koninklike orkes begin speel het. Dit was óf dit óf die dood!

Maar drie Hebreeuse mans – Sadrag, Mesag en Abednégo – het geweier om te buig. Hierdie mense was in ballingskap geneem uit Jerusalem deur die Chaldeërs en na die paleis van Susan gebring. Hier was hulle opgelei in die taal van die Chaldeërs en saam met Daniël, was hulle aangestel as leiers in die regering. Oral rondom hulle, het mans van ander nasies voor die goue beeld gebuig, in gehoorsaamheid aan die koning se bevel. Maar hulle wou nie!

Jaloerse leiers het dit aan Nebukadnésar gerapporteer – en toe hy daarvan hoor, het hy smoorkwaad geword. Hy het gedink, “Hoe durf enige lid van my eie regering in ongehoorsaamheid teen my staan!”

In daardie dae was dit nie ongewoon om oortreders van die koning se wette te straf deur hulle in ‘n brandende vuuroond te gooi nie. Jeremia praat van “...Sedekia en...Agab, wat die koning van Babel in die vuur gebraai het” (Jeremia 29:22). Daar is geen twyfel nie, dat Nebukadnésar daaraan gewoond was om te sien hoe liggame in ‘n oop vuuroond gegooi word – om die oombliklike flits van die brandende liggame te sien en die stank van brandende vleis te ruik. Nou was hy so kwaad dat hy sy soldate beveel het om die vuuroond sewe keer warmer te maak as gewoonlik!

Toe die wagte die drie Hebreeuse mans voor die koning gebring het, het Nebukadnésar gebrul, “So – julle weier om voor my god te buig wanneer die musiek speel. Wel, ek gaan julle dit weer laat probeer. Julle moet weet die brandende vuuroond brand sewe keer warmer. En as julle hierdie keer nie buig nie, sal julle ingegooi word en gebraai word!”

Jy kan seker wees dat hierdie mans die hitte van die witwarm oond kon voel van waar hulle gestaan het. En hulle het waarskynlik gesien hoe die sterk soldate uitgeput neergeval het toe hulle die oond gestook het en oorval was deur die intense hitte.

Hierdie Hebreeuse mans wou nie sterf nie. Hulle was mense, soos ek en jy. Enigeen sou mal wees om te wil sterf deur te braai in ‘n vuur! Hierdie mans het egter ‘n ontsaglike geloof in hulle harte geplaas gehad deur die Heilige Gees. En daarom het hulle die koning geantwoord, “O koning, ons hoef u nie eens te antwoord nie. Ons sal nie buig nie! Ons God is in staat om ons te red. Maar selfs as Hy dit nie doen nie, sal ons nie die beeld aanbid nie.”

Jy ken die res van die storie. Die boodskap oor die groot verbranding het waarskynlik versprei en nuuskierige menigtes het saamgedrom op die manier waarop die Ou Weste saamgedrom het wanneer mense gehang was. Mense het hulle ingespan net om ‘n kykie te kry van hierdie manne wat gewaag het om die koninklike bevel ongehoorsaam te wees – en wat lewend gebraai sou word!

Gou het die koninklike geselskap opgedaag. Die koning het sy sitplek ingeneem – ‘n veilige afstand van die hitte, maar naby genoeg om die werklike verbranding van die liggame te sien. “Sal hierdie rebelse dwase ooit leer?” het hy waarskynlik gedink. “Binnekort, sal nog drie rebelle niks anders wees as as nie!”

Toe is drie Hebreeuse manne ingebring met hande en voete vasgeketting. Die sterkste soldate in die koning se leër het hulle opgetel en hulle na die bek van die oond gedra om hulle in te gooi. Maar die vlamme was so warm, dat die soldate self begin het om dood neer te slaan, een na die ander – van die hitte!

Op een of ander manier, was die Hebreërs uiteindelik in die oond gegooi. Maar die koning was verleë. Daar was geen skielike flits van braaiende liggame nie, geen reuk van brandende vleis nie. Hy het in die vuur getuur – en hy was verstom oor dit wat hy gesien het!

Die drie Hebreeuse mans het bo-op die kole geloop – asof hulle op roosblare geloop het! Die vuur het net hulle kettings afgebrand – en nou was hulle hande in die lug – besig om God te loof. Nebukadnésar sou na een van sy genote draai en sê, “Hoeveel mans het ons daar ingegooi?”

“Drie, O Koning,” het die antwoord gekom.

“Maar ek sien vier!” het die koning geantwoord. “En nie een van hulle brand nie.  Niemand is eens beseer nie. En een van hulle het die voorkoms van die Seun van God!” (sien Daniël 3:24-25).

Nou hoe kon ‘n heidense koning die Seun van God herken? Dit was omdat Christus se heerlikheid nie weggesteek kan word nie! As engele in die Skrif verskyn het, was hulle in wit geklee en het met ‘n hemelse helderheid geskyn. Hierdie skitterende Man was nie séraf nie; dit was nie Gabriël nie, ook nie Moses of Elia wat opgewek is uit die dood nie. Dit was Jesus self – en Hy was helderder as daardie sewe-keer-warmer vlam!

Geliefde, hierdie getuienis het van heidense lippe af gekom: Christus verskyn saam met die Hebreërs in hulle krisis! En praat van ‘n lewe-of-dood situasie. Dit was die krisis van ‘n leeftyd – ‘n hopelose omstandigheid volgens die vlees, een wat ‘n wonderwerk benodig het. Maar Christus het langs hierdie mans geloop en hulle vertroos. Hy het daar ingekom om hulle te red en te verlos!

Hierdie boodskap gaan daaroor hoe jy, ek en elke gelowige Christus in ons Krisis moet inbring!

Jesus het nie die Hebreërs se krisis ingekom om die heidense koning te beïndruk nie. Hy het dit reeds in ‘n vorige hoofstuk gedoen. Toe Daniël Nebukadnésar se droom uitgelê het, het die koning verklaar, “...Waarlik, julle God is die God  van die gode en die Here van die konings...” (Daniël 2:47). Maar hoe gou het hy dit vergeet!

Nee, dit was nie ‘n evangelisasie besoeking nie. God het die hart van die weifelende koning geken – en Hy het geweet wonderwerke beïndruk heidense gedagtes net vir omtrent drie dae. Liewer, Jesus het hierdie drie manne se krisis binnegekom vir een rede – vir húlle onthalwe alleen! Hy het gekom om te vertroos en hulle te red, omdat Hy hulle liefgehad het. Die Here van heerlikheid het Homself aan hulle verbind in hulle uur van krisis – omdat hulle heeltemal oorgegee was aan Hom!

Ons Here verbind Homself in der waarheid nie aan elke mens se krisis nie. Die Skrif sê toe Hy in Jerusalem by die Pasga was, “...toe...het baie in sy Naam geglo, omdat hulle die tekens gesien het wat Hy doen. Maar Jesus self het Hom aan hulle nie toevertrou nie, omdat Hy almal geken het en...Hy self het geweet wat in die mens is” (Johannes 2:23-25).

Jesus het die misleiding wat in mense se harte is geken. Hy het geweet baie is gewillig om Hom as God te erken – maar is nie gewillig om hulle lewens in Sy hande oor te gee nie!

Dit is een ding om te glo Jesus is God en Saligmaker – maar iets heel anders om alles aan Hom toe te vertrou. Toevertrou beteken om “te vertrou met, of op te dra aan.” So, toevertroue aan Christus gaan alles daaroor om jou lewe heeltemal aan Hom oor te gee – om jou hele wese in Sy sorg toe te vetrou. En, in ruil, gee Hy Homself aan diegene wat heeltemal oorgegee is aan Hom!

Ons leef in ‘n samelewing wat vasgevang word deur een krisis na ‘n ander. Wie ken jy wat nie ‘n krisis beleef of pas uit een gekom het nie? Persoonlik ken ek talle Christene met groot probleme wat dreig om hulle te oorweldig en te ruïneer.

Watter soort krisis beleef jy? Is dit geestelik, finansieel, verstandelik of fisiek? Is dit in jou huwelik, jou werk, jou besigheid? Ek praat van omstandighede wat so ernstig is, dat slegs ‘n wonderwerk jou daar kan uithaal – ‘n situasie wat hopeloos lyk! Wanneer jy in so ‘n krisis is, het jy Jesus nodig om daar in te kom en saam met jou daardeur te gaan. Slegs die Seun van die Lewende God kan jou probleem oplos – kan die onmoontlike doen – kan jou red uit jou vuuroond van verdrukking!

Jy mag antwoord, “Ja, ek het Jesus nodig om saam met my hierdeur te loop. Ek het Hom nodig om in my krisis in te kom soos Hy gedoen het vir die Hebreeuse manne. Maar hoe kan ek dit doen? Hoe kan ek Hom sover kry om Hom te verbind aan my krisis?”

Jy kan dit doen op dieselfde manier wat Sadrag, Mesag en Abednégo Christus in hulle krisis ingebring het. Hierdie mans het drie belangrike verbintenisse gemaak:

1. Hulle het hulself verbind tot ‘n suiwer, onbesmette lewenstyl te midde van ‘n goddelose samelewing!

“En Daniël het hom voorgeneem om hom nie te verontreinig met die spys van die koning of met die wyn wat hy gedrink het nie; daarom het hy die owerste van die hofdienaars vergunning gevra dat hy hom nie hoef te verontreinig nie” (Daniël 1:8).

Die woord verontreinig hier, veronderstel “bevry deur weiering.” Daniël het met ander woorde hier gesê, “Enige kompromis van my standaarde, sal my beroof van my vryheid!”

Daarom was Daniël vasbeslote om net boontjies te eet en net water te drink vir tien dae lank. Geen keurige filet van die koning se tafel af nie – geen duur wyn nie. Toe hy dit vir die prins van die hofdienaar gesê het, het die prins geantwoord, “Jy gaan my my lewe kos! Jy sal sieklik lyk teen die einde van tien dae. Jou wange sal ingesonke wees – en die koning sal dit sekerlik opmerk! Hier – eet net ‘n bietjie vleis. Jy het die proteïen nodig. Drink die wyn om jou bloed sterk te maak. Eet van hierdie lekkernye om vir jou energie te gee!”

Terwyl ek hierdie gedeelte bestudeer het, wonder ek: “Waarom het Daniël op hierdie soort vas gegaan? Hierdie Hebreeuse mans was nie vegetariërs nie.” Die antwoord is waarskynlik dat, voor die kos na die koning se tafel gegaan het, was die wyn, vleis en lekkernye, geseën deur afgodiese priesters. Daarom was die kos seremonieel onrein vir die Joodse jeugdiges.

Ek glo egter Daniël en hierdie ander mans het iets meer in gedagte gehad – dat hulle oorgawe ver bokant seremoniële onreinheid gegaan het! Wat ek op die punt is om vir jou te vertel, kom nie uit enige kommentaar nie. Ek glo die Heilige Gees het dit aan my geopenbaar. Waarom het hierdie vier Hebreeuse manne geweier om die koning se kos te eet?

Eerstens, hierdie mans was in ballingskap geneem saam met duisende van hulle landsgenote. Die profeet Jeremia het die Joodse ballinge aangemoedig om hulle in Babel te vestig en op te bou vir sewentig jaar, totdat God hulle sou terugbring. Maar, in ooreenstemming met Israel se geskiedenis van afvalligheid, was die mense meegesleur deur die gierigheid wat algemeen was in daardie land. Daniël en sy vriende het sonder twyfel gesien hoe maklik daardie vroeë ballinge ‘n kompromie gemaak het. Die vinnige lewe van Babel het hulle verstrik!

Hierdie vier mans moes so geskok gewees het oor wat hulle gesien het toe hulle aanvanklik in Babel ingekom het. Daar was onbeskaamde hoere op die strate, heidense tempels en altare op elke hoek, openlike dronkenskap en brassery oral, amptenare en leiers het met die strate af geslinger, dwaas en bedwelm van wyn en alkohol. Dit was ‘n samelewing so losbandig, immoreel en vol vervloeking, dat hierdie vier mans se geestelike sintuie aangeval was!

Daniël was ‘n student van die profete. Hy het Jeremia se geskrifte by hom gehad en daardie profesieë het uiteindelik gelei dat hy tot die gevolg gekom het dat Israel vir sewentig jaar in ballingskap sou wees. Hy het geweet hulle het in ‘n belangrike tyd in die geskiedenis geleef. So, een of ander tyd gedurende hulle invoering in Babel in, het Daniël ‘n verbintenis gemaak met “...die manne wat saam met my was...” (Daniël 10:7) – die drie ander Hebreërs wat saam met hom in liggaam en gees gestaan het.

Ek kan my voorstel dat hulle ‘n vergadering gehad het en hulle droefheid oor Israel se kompromis gedeel het. Toe het Daniël opgestaan en gesê:

“Julle het self gesien wat ek op hierdie strate gesien het! Wat egter nou vir ons so skokkend is, sal kort voor lank normaal wees onder ons mense as ons nie besluit om anders te leef nie. Dit sal nie lank wees nie, voordat ons landsgenote net soos die Chaldeërs sal lyk, praat en leef. Almal sal vasgevang word in sensualiteit – ons herders sal gemak en voorspoed najaag, ons leiers sal tevrede wees om ‘n kompromis te maak. Ons sinagoges sal vol mengsel, onreinheid en dubbele standaarde wees. Almal sal ‘n gedaante van geloof het, maar dit sal alle krag by God verloor.

“Ons moet ‘n standpunt inneem! God gaan stemme nodig hê in hierdie tyd van afvalligheid. Ons sal ons lewens op die spel moet plaas – anders sal die lig van Israel heeltemal uitgedoof word!”

Toe het die vier ‘n verbintenis gemaak. Hulle het vir mekaar gesê:

“Ons kan dit nie waag om ‘n kompromis te maak nie. Ons kan dit nie waag om hierdie morele standaarde te aanvaar nie. Ons kan dit nie waag om ons gees met heidense musiek, alkohol en ‘n duiwelse lewenstyl te besoedel nie. Ons kan dit nie waag dat die gees van Babel ons geloof besmet nie. Ons moet ons afsonder. En ons sal gedissiplineerd moet wees in ons geloofswandel!”

Hierdie vier Hebreeuse mans het vry gebly deur die Babelse lewenstyl te weier. Dit was nie bloot ‘n saak van voedsel nie – dit was iets wat hulle hele lewenstyle omvat het. Dit het gegaan oor ‘n verborge lewe van afsondering te hê!

Hierdie mans het nie rondgegaan en hulle manier van leef aan ander verkondig nie. Hulle het nie hulle gedissiplineerde wandel geadverteer nie. Dit was streng ‘n saak tussen hulle en God.

Ek vra vir jou: Wanneer God gereed was om te praat met daardie nasie en sy mense, wie het Hy gekies om Sy spreekbuis te wees? Wie het die Here se stem geword – Sy onbesmette getuienis vir ‘n verdoemde koninkryk? Dit was vier toegewyde mans!

As ek kyk na ons eie verdoemde samelewing, sien ek ‘n nasie wat so vinnig in duie stort dat dit disintegreer. En dit sluit die liggaam van Christus in! Die kerk was infiltreer deur die Babelse gees – ‘n boodskap van mengsel, met menigtes wat hulle aangepas het by wêreldse standaarde. Ek roep dikwels uit in my geheime binnekamer, “O, God, waar is U stemme in die land? Waar is U mense wat afgesonderde lewens leef – wat sal opstaan en ‘n profetiese woord spreek? Waar is U onbuigbare woordvoerders?”

In hierdie tyd, terwyl alles rondom ons verkrummel, waar is sulke stemme? Waar is die gemeentes, die gelowiges wat sal uitstap en ‘n stem vir God wees by hulle werk, in hulle familie en in hulle daaglikse lewe?

Dit is wat die vier Hebreeuse mans hulself afgevra het. En dit is waarom hulle hulself tot ‘n rein lewenstyl verbind het! Hulle moedige besluit – en hulle getuienis van ‘n heilige wandel – moes ‘n ontsaglike impak op klein Esra, Nehemia en Serubbábel gehad het. Dit is wat moontlik die 43,000 wat later sterk gestaan het, geïnspireer het.

Ja, hierdie vier mans se heilige lewens het ‘n goddelike oorblyfsel opgerig! Geliefde, jy kan nie ‘n stem vir God wees, tensy jy ‘n afgesonderde, heilige lewenstyl handhaaf nie! God kan jou nie gebruik as jou hart besoedel en besmet is met hierdie goddelose eeu nie. Dit verg ‘n beslissende verbintenis!

Ek vra vir jou: Wanneer jy in ‘n krisis is, roep jy uit, “Here, waar is U wanneer ek U nodig het? Is U nie verbind aan my verlossing nie?”

Maar wat as die Here vir jou sou sê, “Waar is jy wanneer Ek ‘n stem nodig het? Ek het stemme in hierdie sondige tye, rein werktuie nodig deur wie Ek kan praat. Jy sê jy wil hê Ek moet in jou krisis inkom – maar tog bly jy deel van die goddelose, wêreldse stelsel. Sê vir My – is jy verbind aan My doelwitte?”

2. Hulle het hulleself daaraan verbind om soekers van God te word – Manne wat Bid!

“En ek het my aangesig tot die Here God gerig om...my aan gebed en smekinge te wy. En ek het tot die HERE my God gebid en belydenis gedoen...Terwyl ek nog spreek en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely...” (Daniël 9:3-4,20). Hier is die bewys – hulle was biddende mans!

Jy sien, die eerste verbintenis wat hulle gemaak het – om ‘n afgesonderde lewe te leef – moes gesteun wees deur ‘n tweede verbintenis, om soekers van God te wees. Dit is inderdaad onmoontlik om ‘n heilige lewe te leef sonder om te veel tyd op jou knieë deur te bring en God te soek vir die krag en gesag om so ‘n lewe te lei.

Moenie ‘n fout maak nie – getroue gebed sal jou nie uit ‘n krisis hou nie. In teendeel, dit sal jou heel waarskynlik bring by ‘n brandende vuuroond en ‘n leeukuil. Maar gebed sal jou voorberei om dit alles met vertroue deur te gaan – om ‘n lewende offer om Jesus se onthalwe te word!

Daniël se gebed het hom reguit na die leeukuil geneem. En hierdie toets het gekom jare ná dié van die Hebreeuse manne – toe Daniël in sy tagtigs was! Dit mag jou bang maak as jy wonder hoe lank dit gaan neem voor jy gaan ophou om krisise te beleef. Miskien het jy gedink jy het al jou “belangrike” toetse na ‘n sekere aantal jare in die Here geleer. Hier is God wat egter toelaat dat een van Sy grootste gebedskrygers – ‘n man van ‘n stille, sagte gees – die krisis van sy lewe beleef na dekades van getroue voorbidding!

Geliefde, die toetse eindig slegs wanneer Jesus kom – of wanneer jy sterf in Christus! Die tyd sal nooit kom wanneer jy nie meer ‘n vurige oond of ‘n leeukuil hoef te beleef nie. Dit sal nie gebeur totdat jy jou kop op Sy boesem neerlê nie!

Dit is waarom gebed so belangrik is. Jy kan ‘n verbintenis maak om ‘n onbesoedelde lewe te lei – maar daardie verbintenis is onmoontlik om te vervul sonder om ook ‘n verbintenis te hê om God te soek. Al die oortuigende preke, al die kragtige boeke oor heiligheid, al die vermanings in die wêreld kan jou nie daartoe verbind om ‘n afgesonderde, heilige lewe te lei nie. Alles sal misluk – tensy jy jouself daaraan verbind om ‘n toegewyde soeker na God te wees!

‘n Paar weke gelede het ek na die Vader gegaan en gevra, “Here, waarom het U gebed nodig vir alles? Waarom sal U niks doen sonder gebed nie?”

Die Here het geantwoord, “David, dit is onmoontlik om My lief te hê sonder om My te soek. Hoe kan ‘n kind van My sê hy het My lief as hy My vir dae lank verwaarloos? Gebed is die barometer van toewyding aan My. Ware liefde sal jou in My teenwoordigheid indra!”

Natuurlik moet geloof aan die brand gesteek word deur die Woord van God; geloof kom immers deur gehoor. Maar wanneer geloof aan die brand is, slaan gebed in vlamme uit! Dit laat ons geloof ontplof. Praat van ‘n vurige oond wat sewe keer warmer gemaak word: Gebed het die geloof van drie Hebreeuse manne warmer gedraai totdat dit warmer was as die brandende vlamme!

Toe Koning Nebukadnésar daardie mans uit die vuuroond geroep het, het hy gesê: “Daarop het Nebukadnésar gespreek en gesê: Geloofd sy die (julle) God... wat sy engel gestuur en sy knegte verlos het wat hulle op Hom verlaat het...en wat hulle liggame oorgegee het om geen ander god te dien of te aanbid nie, behalwe hulle God” (Daniël 3:28). Weer het die getuienis van heidense lippe af gekom: Hierdie mans het hulle liggame aan God onderwerp!

Hulle het dit egter gedoen lank voor hulle die vuuroond in die gesig gestaar het. Jy sien, gebed is die proses om ons liggame aan die Here te onderwerp – om ‘n lewende offer te word. En hierdie mans het daagliks op hierdie manier geoffer. Hulle het vir dae en weke in gebed gebly en intiem met die Here verkeer,

Na ‘n ruk, het hulle verstaan dat om te sterf wins was. Dood sou hulle slegs nader bring aan Hom wat hulle so liefgehad het!

3. Hulle het ‘n verbintenis gemaak om God volkome te vertrou – lewend of dood!

“En Nebukadnésar het gespreek en vir hulle gesê...as julle nie aanbid nie, sal julle oombliklik binne-in die brandende vuuroond gegooi word, en wie is die God wat julle uit my hand kan verlos?” (Daniël 3:14-15).

Hierdie mans het die ergste moontlike krisis beleef wat enige mens sou kon beleef. As God nie ingegryp en hulle verlos het met ‘n wonderwerk nie, was hulle dood!

En dit is presies die soort krisis waaroor ek met jou praat. Miskien het jy ‘n ernstige fisieke verdrukking. Miskien is jou huwelik in ‘n groter krisis as wat binne jou vermoë is om op te los of te genees. Jy sê, “Ek het gebid, ek het gevas, ek het alles gedoen. As God nie nóú ingryp nie, sal ek dit nie maak nie!”

Wat sal Christus in jou krisis inbring? Hy kom wanneer jy dieselfde verbintenis maak as wat die drie Hebreeuse kinders gemaak het: “(Hulle) het geantwoord en aan koning Nebukadnésar gesê: Ons ag dit nie nodig om u hierop ‘n antwoord te gee nie. As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, so koning, verlos;  maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie” (Daniël 3:16-18).

Met ander woorde: “Dit lyk hopeloos. Sonder God wat vir ons ‘n wonderwerk doen, is ons dood. Ons God is egter in staat om ons uit hierdie vurige krisis te verlos! Maar selfs as Hy dit nie doen nie, sal ons nie opgee op Hom nie. Lewend of dood, sal ons op Hom vertrou!”

Geliefde, dit is die soort geloof wat veroorsaak dat engele juig en die hart van God seën. Dit is ‘n geloof wat sê, “Here, ek is heeltemal oortuig dat U in staat is om my te verlos. As U net ‘n woord spreek, sal dit alles verby wees.

“Maar so nie – gaan ek nie wegvlug nie. Ek sal U nie beskuldig dat U my verlaat het nie. Ek sal getrou en opreg bly. U weë is hoër as myne, Here – en my lewe is in U hande. Hoewel U my ombring, sal ek op U vertrou!”

Dit is wat Christus in ons krisis inbring – die volle vertroue dat Hy in staat is om ons te red en te verlos uit enige krisis! Dit is ‘n vertroue dat, maak nie saak wat kom nie, ons is in Sy hande.

Verstaan asseblief – God kon hierdie drie manne op verskeie ander maniere verlos het. Hy kon eenvoudig Nebukadnésar van gedagte laat verander het. Of, Hy kon toegelaat het dat hulle ontsnap. Moses het immers ontsnap, so ook Josef en Dawid.

Hierdie drie Hebreeuse manne het ‘n besonderse soort geloof gehad waarop die Here baie gou reageer: Hulle het geloof in die getrouheid van God gehad! Hulle was oortuig dat Hy kon doen wat die beste vir hulle en vir Sy eie heerlikheid was.

Dit is waarom jy nie sien dat hulle “hul regte opeis” as gelowiges nie. Ook het hulle nie hul tyd deurgebring deur mekaar se geloof op te bou deur beloftes te kwoteer nie. Nee, hulle het met stille waardigheid na die vuuroond gegaan en gesê, “God kan! Maar so nie...”

Hierdie laaste frase sal ongetwyfel baie mense verontwaardig maak. Ek kan hulle amper hoor sê, “O nee, pastoor – dit is negatief! Dit laat ruimte vir twyfel. On moet slegs sê, ‘God kan’ – punt!”

Ek glo met my hele hart dat die Here kan. Ek glo Hy kan ‘n woord spreek en enigeen binne ‘n oomblik verlos. Beskou egter die volgende: As die Hebreeuse manne nie in staat was om te sê, “Maar so nie...” – as hulle nie so ‘n geloof gehad het nie – wat sou hulle gedoen het in hulle krisis oomblik? Sou hulle begin het om die te protesteer hoe nader hulle aan die vuur gekom het? Sou hulle op die ou end geroep het, “God, U het misluk om U Woord na te kom. U het ons teleurgestel!”

Nee – hulle was gereed om te sterf! Hulle kon sê, “Here, selfs al moet ek ly – as my liggaam aan die brand raak en my brandende vlees die lug met stank vul – sal ek sterf terwyl ek op U vertrou. Ek sal U glo, selfs al kry ek nie die antwoord op my gebed nie!”

Die meeste van ons het nie ‘n geloof wat die uitdagende woorde kan gebruik wat hierdie mans gebruik het nie: “Maar so nie...” Ek vra vir jou – wat sal jy doen as jy nie jou antwoord kry nie? Sal jy God beskuldig dat Hy jou in die steek gelaat het en jou nie liefhet nie? Wat ‘n tragedie om in jou vuuroond in te gaan terwyl jy roep, “God, waar is U? U het my in die steek gelaat!”

Die drie Hebreeuse manne het in die vuur gegaan met hulle liggame reeds dood vir die wêreld. Hulle was in staat om hulle liggame met blydskap op te offer as lewende offers. En Jesus het letterlik hulle in hul krisis ontmoet! Wat ‘n ontsaglik beloning – dat Christus saam met hulle wandel deur hul moeilikste tyd.

Wat dink jy het hulle vir Jesus gesê toe Hy in die vuuroond opgedaag het? “O, dankie, Here! Dankie dat U ons nie die pyn laat voel nie. Dankie dat U vir ons nog ‘n kans gee – vir nog ‘n paar jaar!”

Nee – nooit! Ek glo hulle het gesê, “Here, neem ons saam met U! Moenie ons hier los nie. Ons het die ekstase, die heerlikheid gesmaak – en ons wil nie teruggaan nie! Ons wil huistoe gaan om by U te wees.” Hulle sou verkies het om by Jesus te wees! Jesus ken hierdie soort hart – en dit is aan sulkes wat Hy Homself verbind.

Is jy in staat om te sê, “Here, neem my huistoe”? Miskien het jy nog nooit geleer om jou liggaam, jou besigheid, jou huwelik, jou krisis in God se hande toe te vertrou nie. Ja, ons moet altyd in geloof bid en glo dat God sal antwoord; maar ons moet Hom heeltemal met ons situasie vertrou en in ons harte sê, “Maar so nie, Here – gaan ek U steeds vertrou!”

Bid nou saam met my: “Here, U is in staat om my te verlos van hierdie brandende vuuroond. Maar so nie – sal ek steeds glo! Selfs as ek deur hierdie verskriklike beproewing moet gaan – as ek meer lyding moet beleef, meer toetse – vertrou ek alles aan U toe. Kom net en loop saam met my daardeur!”

Ek belowe jou – Jesus Christus sal in jou krisis inkom. Hy sal jou aan die hand neem en jou deur die vuur lei!

Ek beskou dat die koms van Christus in my krisis, die grootste moontlike antwoord op gebed is – omdat wanneer Hy kom, Sy teenwoordigheid my uitlig bo al my pyn, al my skade, al my verwarring. Wanneer Jesus aan jou sy verskyn, neem Hy jou aan die hand en laat jou sterk staan. Halleluja!

Download PDF