Hierdie Manne Was By Jesus

David Wilkerson (1931-2011)

Die Kenmerke van Sy Teenwoordigheid

In Handelinge 3, kort na die opstanding, vind ons Petrus en Johannes op pad na die tempel om te gaan aanbid. Net buitekant die tempelpoort, het ‘n bedelaar, wat van sy geboorte af kruppel was, gesit. Petrus het vir die bedelaar gebid en gesê: “In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop” (Handelinge 3:6 AFR53). Onmiddellik was die man genees en uit pure blydskap het hy begin om deur die tempel te hardloop terwyl hy op en af gespring en uitgeroep het: “Jesus het my genees!”

Die owerstes van die sinagoge het “op hulle afgekom, baie ontevrede” (Handelinge 4:1-2). Hierdie afvallige herders was kwaad omdat God ‘n wonderwerk deur Jesus se dissipels gedoen het en hulle het daarop gereageer deur Petrus en Johannes in die tronk te stop. Die volgende dag, het hulle die twee dissipels voor die Raad gebring en gevra: “Deur watter mag en deur watter naam het julle dit gedoen?” (Handelinge 4:7).

Petrus was deur die Heilige Gees vrymoedigheid gegee en het die owerstes geantwoord: “As ons vandag ondervra word oor ‘n weldaad aan ‘n siek man, waardeur hy gesond geword het, laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan. Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ‘n hoeksteen geword het. En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 4:9-12)

Die owerstes van die sinagoge was stomgeslaan. Die Skrif sê: “En toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en verstaan dat hulle ongeleerde en eenvoudige manne was, was hulle verwonderd en het hulle as metgeselle van Jesus herken” (Handelinge 4:13). Hierdie owerstes het besef dat een of ander mag van Petrus en Johannes besit geneem het en dat dit hulle anders gemaak het as al die ander in daardie hof. Hierdie mag was so duidelik vir almal, dat die leiers “niks daarteen [kon] sê nie” (Handelinge 4:14)

Wat was hierdie kenmerk wat Petrus en Johannes anders gemaak het? 

Wat hierdie twee dissipels anders gemaak het, was die teenwoordigheid van Jesus. Hulle het Christus se gelykenis en Gees gehad. Die owerstes van die sinagoge het besef: “Ons het Jesus gekruisig; tog spreek Hy steeds vandag, doen wonderwerke, verkondig bekering en werk in die mense deur hierdie twee ongeleerde manne.”

In daardie uur, was Petrus en Johannes besig om Jesus se gebod om van Hom te getuig deur in “Jerusalem” te begin, te volbring. Jy sien, hulle het getuig deur Jesus se teenwoordigheid in hulle lewens. Ek glo dit sal God se magtige getuienis wees in hierdie laaste dae. Dit sal nie kom deur prediking alleen nie; dit moet kom deur manne en vroue wat “metgeselle van Jesus” is, wat hulleself met Hom afsonder, tyd deurbring in sy teenwoordigheid en Hom soek met hulle hele hart en siel. Die Heilige Gees sal sulke dienaars kenmerk met sy krag en die wêreld sal van hulle sê: “Daardie persoon was by Jesus.” Hier is vier kenmerke van diegene wat by Jesus was:

1.    Hulle smag na ‘n groter mate van Christus. 

Diegene wat tyd saam met Jesus deurbring, kan nie genoeg van Hom kry nie. Hulle harte roep gedurig uit om die Meester beter te leer ken, om nader aan Hom te kom en om te groei in die kennis van sy weë.

Paulus het egter die volgende vir elke gelowige begeer: “En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof in die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus, sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring; maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus” (Efésiërs 4:11-15).

Nie elke Christen streef na hierdie volwassenheid nie. Baie gelowiges verkies ‘n evangelie wat net van genade, liefde en vergifnis praat. Dit is wonderlike Bybelse waarhede, maar volgens Paulus, bestaan dit uit basiese melk en nie die vaste spys wat ‘n volwasse lewe nodig het nie. Hoe kan jy tot volle grootte in Christus groei as jy weier om ‘n evangelie te hoor wat jou uitdaag om die Here te soek en in sy heiligheid te lewe? Diegene wat hulleself egter saam met Jesus afsonder, word voorberei vir die dae wat kom en het reeds diep in hulle siele die vertroosting van Christus ontvang. En hoewel die hele wêreld paniekerig is, bly hierdie gelowiges gerus.

2.    Hulle het ‘n heilige vrymoedigheid en geestelike gesag. 

Hoe meer iemand by Jesus is, hoe meer word daardie persoon soos Christus, in reinheid, heiligheid en liefde. Op sy beurt, veroorsaak sy rein wandel ‘n groot vrymoedigheid vir God binne-in hom. Die Skrif sê: “Die goddelose vlug sonder dat daar ‘n vervolger is, maar die regverdiges voel hulle veilig soos ‘n jong leeu” (Spreuke 28:1). Die woord vir veilig in hierdie vers beteken vrymoedig, versekerd. Dit is presies die soort van vrymoedigheid wat die owerstes van die sinagoge in Petrus en Johannes gesien het.

As ons lees: “Daarop sê Petrus, vervul met die Heilige Gees...” (Handelinge 4:8), dan weet ons dat Petrus nie een of ander droë preek sou lewer nie. Hy was ‘n man wat deur Jesus in besit geneem was, borrelend met die Heilige Gees. Hy en Johannes pas van die bovertrek af gekom waar hulle gemeenskap gehad het met die opgestane Christus. Praat van “by Jesus was”: Nou het die Gees van die opgestane Here self in Petrus gewoon. Daardie owerstes van die sinagoge was op die punt om vuur uit die hemel te beleef.

Paulus het geskryf: “Ons [het] in onse God vrymoedigheid gehad om aan julle die evangelie van God te verkondig” (1 Thessalonicense 2:2). ‘n Paar verse later, het die apostel dit duidelik gemaak: “Maar ons was vriendelik onder julle soos ‘n pleegmoeder haar kinders koester” (1 Thessalonicense 2:7).

Diegene wat tyd in Jesus se teenwoordigheid deurbring, ontvang versekering deur beide die Gees se sagmoedige natuur en die onverskrokke waarheid van die evangelie. Dit het hulle vreesloos gemaak om die waarheid te spreek. Dit was nie vir hulle nodig om hulle boodskap met ‘n arrogante stem te lewer nie omdat hulle in alle omstandighede, die evangelie met liefde en genade verkondig het.

3.    Hulle het fisiese, sigbare bewyse gehad dat God met hulle was.

Terwyl Petrus en Johannes gestaan en wag het vir ‘n oordeel om uitgespreek te word, het die geneesde man langs hulle gestaan. Daar, in vlees en bloed was lewende bewyse dat Petrus en Johannes by Jesus was. Terwyl die owerstes van die sinagoge toegekyk het, en “die man wat genees was by hulle sien staan, kon hulle niks daarteen sê nie” (Handelinge 4:14). Die owerstes het saamgedrom en gefluister: “Wat moet ons met hierdie manne doen? Want dat daar ‘n kenlike teken deur hulle plaasgevind het, is duidelik vir al die inwoners van Jerusalem; ons kan dit nie ontken nie” (Handelinge 4:16). Daarom het hulle die dissipels laat gaan.

Petrus en Johannes het ongetwyfeld die kyk van gelate aanvaarding op die hoëpriester se gesig gesien toe hy besef hulle was by Jesus. Petrus het seker vir Johannes gefluister en gesê: “As hulle maar net geweet het. Hulle onthou net dat ons by Jesus was ‘n paar weke gelede; hulle besef nie ons was sedertdien by die opgestane Meester nie. Ons was pas by Hom in die bovertrek. Vanoggend was ons by Hom toe ons in ons tronkselle gebid het. Sodra ons hier uitkom, gaan ons Hom weer ontmoet, saam met die broers”.

Dit is wat gebeur met manne en vroue wat tyd saam met Jesus deurbring. Wanneer hulle uitkom van hulle alleen tyd saam met Christus, is Hy met hulle waar hulle ook al gaan.

4.    Hulle was voorbereid vir elke krisis.

As ‘n krisis tref, het jy nie tyd om jouself op te bou in gebed en geloof nie. Maar diegene wat by Jesus was, is altyd gereed. ‘n Paartjie wat ondenkbare tragedie beleef het, het ‘n brief aan ons bediening geskryf wat geopenbaar het dat hulle by Jesus was. Hulle 24-jarige dogter was uit saam met ‘n vriendin toe ‘n kranksinnige man beide jong meisies ontvoer het. Hy het hulle na ‘n afgesonderde plek geneem, waar hy die dogter se vriendin laat gaan het. Toe het hy die dogter op ‘n grusame manier vermoor.

Toe die polisie beskryf wat gebeur het, het die paartjie aan skok gely. Hulle vriende en bure het gewonder: “Hoe kan enige ouer hierdie soort tragedie oorleef? Hoe kan hulle lewe met die grusame gedagte van wat met hulle dogter gebeur het?” Binne ‘n uur, het die Heilige Gees egter na daardie bedroefde paartjie gekom en hulle bonatuurlik vertroos. Natuurlik het daardie treurende ouers in die pynlike dae wat daarop gevolg het, vir God aangehou vra waarom. Tog het hulle die hele tyd goddelike rus en vrede beleef.

Almal wat hierdie ouers geken het, was verstom oor hulle kalmte. Wat hulle nie geweet het nie, was dat hierdie paartjie voorbereid was vir hulle krisis. Hulle het die hele tyd geweet dat God nooit iets sou toelaat sonder ‘n onderliggende doel nie. En toe die verskriklike nuus gekom het, het hulle nie ineengestort nie.

Trouens, het hierdie ouers en hulle oorlewende kinders gou daarna vir die moordenaar begin bid. Die mense in hulle eie dorp kon dit nie aanvaar nie; hulle het wraak geëis. In teenstelling, het die godvresende paartjie gepraat en onderrig oor God se vermoë om krag te voorsien, maak nie saak wat hulle beleef nie. Die mense van hulle dorp het herken dat hulle krag net van Jesus gekom het. Gou het hulle van die goddelike paartjie gesê: “Hulle is ‘n wonderwerk. Daardie mense is waarlik Jesus-mense.”

Wat groter bewyse van God kan daar wees as ‘n enkele lewe wat verander is deur die bonatuurlike krag van Christus? Mag dit van jou gesê word, “Daardie man, daardie vrou, was by Jesus”. En mag niemand in staat wees om dit te ontken nie. Amen.