Die Goedheid van God in Verhoring van Gebed

Gary Wilkerson

Satan se beskuldigings openbaar dikwels hoe goed God is.

Jy het pas jou kop opgelig en jou oë stadig oopgemaak na 'n tyd van gebed. So, wat gebeur nou? Wat is die effek van dit wat jy so pas gedoen het? Wat sal die impak wees? Wat is jou verwagting?

Dikwels vergeet ons ons gebede sodra ons dit gebid het. Sommige van ons beskou gebed as ‘n plig, iets wat ons doen voordat ons met die dag begin of aan die einde van die dag. Vir sommige is gebed 'n gebaar wat gedoen word namens iemand in nood of om 'n eie versoek te rig. Watter verskil dink ons maak ons gebede regtig?

Dit is natuurlik wonderlik as ons gebede verhoor word. Ons noem dit God se guns en verwys daarna wanneer ons sy goedheid wil onthou. Aan die ander kant, as ons gebede onverhoor bly, kan ons versoek word om God se goedheid te bevraagteken. Dit kan lei tot 'n spoor van twyfel wat ons siening van Hom heeltemal verander.

Ons kan baie van ons gebede in een van twee kategorieë plaas; afgekeur of onverhoor.

Ek onthou 'n gebed van my toe ek 'n stedelike bediening in Detroit gelei het. Ons het in 'n rowwe woonbuurt gewoon en uitreike was baie, baie moeilik. Gedurende daardie tyd het ek 'n blaaskans geneem deur 'n vriend in die staat Washington te besoek wat 'n pragtige eiendom langs 'n meer besit het. In daardie verkwikkende omgewing het ek onder 'n boom gesit en na die golwende water gekyk en rus vir my siel gekry. Skielik het 'n stroom van begeerte by my opgekom, en ek was gedring om te bid: “Here, dit is alles so wonderlik. Sal U ons bediening na 'n ander plek met 'n omgewing soos hierdie laat verskuif?"

Die volgende dag het ek na San Francisco gevlieg om 'n straatbyeenkoms te help lei. Ek het pas klaar gepreek toe 'n jong man met 'n hippie-voorkoms my nader en sê: “Ek het 'n beeld van jou wat onder 'n boom langs 'n pragtige meer sit. Jy het God gevra of Hy jou bediening sou verskuif na 'n omgewing soos dié waarin jy gesit het.” Ek was verstom en het gedink: “Ek het nog nooit 'n meer akkurate profetiese woord gehoor as die van hierdie man nie.” Hy het my verseker: “Die Here het 'n antwoord vir jou.” Terwyl ek met afwagting gewag het, sê hy: “God se antwoord is nee.”

Ek glimlag vandag oor my afgekeurde gebed. Die Here het baie beter planne as myne gehad om sy voornemens vir my vervul te sien. Uiteindelik, is dít die beoogde uitkoms van al ons afgekeurde gebede.

Dit is nie 'n grap as ons God se “nee” aan ons in twyfel trek en probeer om dit te omseil om te kry wat ons wil hê nie. In daardie geval, staan ons voor dieselfde versoeking as wat die slang vir Eva gestel het. “Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” (Génesis 3:1, AFR53). Die duiwel werk sedertdien daaraan om twyfel te werp op God se woord teenoor sy kinders. Hy wil die Here se wonderlike planne vir ons lewens verwoes.

Afgekeurde gebede is ‘n bietjie makliker om te aanvaar as die wat onverhoor bly.

As ons weet dat God nie ons versoek sal toestaan nie, kan ons met geloof verder gaan, wetende dat Hy onwrikbaar goed is. As ons gebed vir 'n lang tyd onverhoor bly, is dit moeiliker om te hanteer. As ons nie weet of God se antwoord ja of nee is nie, moet ons meer geloof kry om voort te gaan.

Dit is een ding om te wag vir 'n antwoord en iets anders om te dink dat God ons ignoreer en weier om ons gebed te oorweeg. Dink daaroor na. As iemand wat ons ken en respekteer nie op ons e-pos of oproep reageer nie, is ons natuurlike reaksie om seergemaak te voel. Ons wonder wat ons gedoen het om hulle aanstoot te gee en kan onwaardig of kwaad voel. Mettertyd kan ons twyfel of die persoon die goeie vriend is wat ons gedink het hy is. Dit is baie moeilik om so 'n verhouding te handhaaf. Net so met God vind ons dit dalk moeilik om 'n gebedslewe te handhaaf as ons nie seker is dat Hy omgee nie.

Hier is die een Bybelgedeelte wat ek glo baie Christene frustreer. “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ‘n klip sal gee; en as hy ‘n vis vra, aan hom 'n slang sal gee? As julle wat slegs is, dan weet hoe om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!” (Matthéüs 7: 7-11).

Jesus beskryf God se goedheid in gebedsverhoring. Hy spreek 'n knaende vraag aan wat op 'n kritieke punt vir baie Christene ontstaan. Min van ons twyfel aan God se krag om ons gebede te verhoor, maar baie van ons twyfel aan God se goedheid as ons geen antwoord kry nie.

Sommige Christene redeneer: “Ek weet God het die vermoë om my gebed te verhoor, maar Hy het dit nie verhoor nie. Ek vra nie iets verkeerds nie, maar iets goeds, iets wat Hom eintlik sou verheerlik. As God goeie gawes aan sy kinders gee, waarom sou Hy 'n antwoord op my versoek weerhou? Het ek iets verkeerd gedoen? Ek het in my hart gesoek en kon niks vind nie. Ek kan nie help om te twyfel oor hoe goed God werklik is nie.” As ons in hierdie gemoedstoestand is, kan Jesus ons vraag omdraai. In die vers onmiddellik na sy lering oor God se goedheid, sê Christus: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle ook aan hulle doen; want dit is die wet en die profete” (Matthéüs 7:12). Ek wil dink dat Jesus moontlik vra: “Wil jy dus in jou lewe 'n behoefte vervul? Die kans is goed dat jou buurman dieselfde wil hê. So, gaan doen dit vir hulle en jy sal God se antwoord op hulle gebed wees.”

As kinders van ons hemelse Vader, is ons agente van sy vrygewige goedheid. Dus, eerder as om te fokus op die seëninge wat ons wil hê, moet ons die lewe as sy seën vir ander beskou. Dikwels sal ons dan agterkom dat God ons ook seën.

In soorteglyke gedeeltes, heg Jesus voorwaardes aan ons gebedsversoeke.

Beskou hierdie bekende vers uit Johannes se evangelie. “As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry” (Johannes 15:7). Jesus verbind ons gebedsversoeke aan die daad om in Hom te bly.

As ons in Christus bly en probeer om alles wat ons kan van sy begeertes te weet, word ons eie wense beïnvloed. Terwyl ons daarna smag om Hom te ken, moet ons onderskei tussen ons eie vleeslike begeertes en die begeerte om Hom te behaag deur sy koninkrykswerk te doen.

Om in Hom te bly bring 'n ekstra seën. Dit spaar ons baie spanning, bekommernis en slapelose nagte oor gebede wat nie verhoor word nie. Ons herkou nie meer daaroor of is eindeloos obsessief oor wat ons dalk verkeerd doen wat ons gebed belemmer nie. Inteendeel, deur in Hom te bly, gee ons toegang tot 'n diepe, blywende vrede.

“Laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:6-7). Paulus sê om ons gebedsversoeke “met danksegging” te rig. Dankbaarheid bevry ons harte van vleeslike begeerlikhede en pas ons begeertes aan by die Here s’n.

Vertroue op God se goedheid maak ons ook vry. In Jesus se bergrede in Matthéüs 6 gee Hy ons die volgende opdrag: Gee aan behoeftiges, bid, vas, maak skatte bymekaar in die hemel in plaas van op aarde en moenie bekommerd wees oor materiële behoeftes nie. Hy sluit af: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matthéüs 6:33).

Dawid het bely dat hy te gou was om God in twyfel te trek, dat die Here op die ou end net so getrou soos altyd was om sy groot behoeftes aan te spreek.

Dawid het teruggekyk na 'n tyd van beproewing toe hy getuig het: “Geloofd sy die HERE, want Hy het sy goedertierenheid aan my wonderbaar gemaak, in ‘n vaste stad. Ek tog het in my angs gesê: Ek het verdwyn, weg van u oë; nogtans het U die stem van my smekinge gehoor toe ek U aangeroep het om hulp” (Psalm 31:22-23).

In ander Bybelweergawes word die woord “angs” hier as “haastig” gebruik. Dawid het kortliks gesê: “Ek het gedink God het my afgesny, dat Hy geweier het om na my te luister, maar ek het te gou gepraat. Ek het Hom daarvan beskuldig dat Hy nie 'n goeie God is nie, maar tog het Hy my op die ou end getrou verhoor, volgens sy planne.”

Deesdae, as ek myself vang dat ek kla omdat God nie na my luister nie, weet ek dadelik dat ek reeds verkeerd is. Dit sê vir my ek word volwasse. Soms antwoord Hy nog steeds my gebede soos Hy jare gelede gedoen het toe ek na 'n rustige bestaan by 'n meer verlang het: 'n reguit “nee”.

Glo my, te midde van die bediening waartoe Hy my geroep het, het ek baie rustige dae by mere gehad. Aan my eie begeertes oorgelaat – sonder om in Hom te bly, sonder om te dien, sonder om Hom intiem te ken – sou ek nooit die vreugdevolle beloning van sy goedheid geken het nie. Soos Dawid getuig het, verander God se goedheid nooit, en Hy kan vertrou word dat Hy altyd ten goede vir ons meewerk. Amen.