Na die Regte Kerk Soek Op die Verkeerde Plekke!

David Wilkerson

As daar een klagte is wat ek deurgaans van Christene regoor die wêreld hoor, is dit dit: “Ek kan nêrens ‘n goeie kerk kry nie! Ek het ‘n plek nodig waar ek en my familie bedien kan word – waar ons ‘n ware woord uit die hemel kan hoor en waar my kinders kan grootword en ware geregtigheid ken. Maar ek kan nêrens daardie soort kerk vind nie!”

Oor die afgelope vyf jaar, het hierdie een klagte ingestroom soos ‘n vloed vanaf duisende lesers op ons poslys. Baie skryf, “Oral waar ek gaan, is kerke vol ophef, dwaasheid en vlagswaaiery – allerhande soorte dinge wat die aandag van die evangelie afhaal. Al die prediking wat ek hoor, is oppervlakkig en die aanbidding is dood. Ek voel so leeg wanneer ek daar uitgaan.”

Ander kla, “Ons pastoor probeer voortdurend nuwe dinge in ons kerk – nuwe metodes van evangelisasie, nuwe musiek en allerhande soorte nuwe ‘herlewingsbewegings.’ Nou breek ons kerk op oor sy aanhoudende soeke na nuwe foefies!”

Natuurlik is daar uitsonderings op hierdie hartseer stories. Sommige lesers skryf, “Ek dank God vir ons prediker. Hy bring tyd deur op sy knieë – en elke keer wat hy preek, bring hy vuur uit die hemel neer. Die Here seën ons kerk magtiglik!”

Dit is egter tragies dat min bedienaars vandag gesalf is met God se Gees. Hulle mag in staat wees om ‘n goeie storie te vertel of om humor in hulle preke in te bring. Maar hulle het geen vars woord uit die hemel nie, omdat hulle nie tyd alleen saam met die Here deurbring nie. Die gevolg is ‘n wydverspreide hongersnood van ‘n ware woord van God in die land.

As jy sukkel om ‘n goeie kerk te kry, het ek beide goeie en slegte nuus vir jou. Eerstens, die slegte nuus: “Jy sal nooit die regte kerk – die regverdige, God-geseënde kerk – vind nie, totdat jy in die regte plek daarvoor begin soek.

Hier is nou die goeie nuus: God wys duidelik in sy woord waar om hierdie heilige, geseënde kerk te vind. Trouens, ek hoop om in hierdie boodskap spesifiek vir jou te vertel waar jy dit kan vind!

Jeremia het hierdie kerk gevind “...terwyl hy nog opgesluit was in die voorhof van bewaking...” (Jeremia 33:1).

Terwyl die goddelike profeet Jeremia in die tronk gesit het, was Jerusalem bouvallig. Die stad verteenwoordig die middelpunt van aanbidding vir die Ou Testamentiese kerk. Eens was dit ‘n heilige plek – gevul met die heerlikheid van God en bedien deur heilige profete en geheiligde priesters.

Maar nou was Jerusalem vol siekte en dood, bewoon deur valse profete en die geestelik dooies. Was jy een van die heilige oorblyfsel wat uitgehou het op daardie stadium, sou jy nie een enkele regverdige huis van aanbidding of selfs ‘n goddelike herder daarin kon vind nie. Alles wat eens heilig en geseënd was, is tot verwoesting gebring.

Toe Jeremia na hierdie verskriklik toneel gekyk het, was sy hart verpletter. God het vir Hom in die vorige hoofstuk gesê dat Jerusalem so boos was, dat Hy nou sy “aangesig verberg” het van dit alles. Hy het gewaarsku, “Ek kan nie meer staan en kyk wat van my kerk word nie. Al die mense se afgodery en dwaasheid – al hulle nuwe ‘op die dakke’ bewegings – maak my kwaad. So, alles wat van die vlees is en nie van My af  is nie, gaan ek verbrand” (sien Jeremia 32:29).

Jeremia self het so gefokus op die bouvalle rondom hom, dat hy sy fokus op God se verbondsbeloftes vir sy mense verloor het. Hy kon voortgegaan om in wanhoop sy dae te mors om te tob en verder in hopeloosheid ingesink het. Hy kon moontlik gedink het, “Dit help nie – God het sy aangesig van ons verberg. Daar is geen ware huis van aanbidding oor nie!”

Maar skielik het die Here vir die profeet gesê, “Kniel af op jou knieë, Jeremia! Sit jou hart daarop om tot my te bid. Jy glo daar is niks oor van my kerk nie. Maar ek gaan vir jou die magtige dinge wys wat Ek vir my mense beplan het!” (sien Jeremia 33:3).

As Christene vandag die regte kerk wil vind, is die plek om te begin – met gebed! Niemand gaan ooit God se ware kerk vind deur op ‘n bus, trein of vliegtuig te klim en om die wêreld te reis op soek daarna nie. Ons kan nie in sy kerk inkom deur enige moderne vervoer nie. Die enigste betroubare kaart is ons geheime binnekamer!

God het vir Jeremia sy heerlike verbondsbelofte geopenbaar oor ‘n ewige, heilige priesterskap!

God het reeds die afvallige kerk in Israel gewaarsku: “...Jou verbreking is ongeneeslik, jou wond is smartlik...daar is geen medisyne...nie...Omdat jou ongeregtigheid groot is, geweldig jou sondes, het Ek jou hierdie dinge aangedoen” (Jeremia 30:12-15). Hy het in wese gesê, “My mense is so bouvallig en dood, dat hulle toestand ongeneeslik is!”

Vandag, is die kerk van Jesus Christus in net so ‘n verskriklike toestand. Ek het tot hierdie gevolgtrekking gekom nadat ek video-opnames gesien het van sekere “herlewings” en konferensies wat aan my gestuur is deur regverdige gelowiges regoor die land. Hulle skryf, “Broer Dave, jy sal nie die godslastering in hierdie opname glo nie.”

Ek dink gewoonlik heimlik, “Dit kan seker nie so erg wees nie.” Maar as ek na die opnames kyk, is die tonele erger as wat die mense dit beskryf het. Die dienste word gelei deur valse profete en geldwisselaars wat waansin en godslasterlike bespotting uiter. Beskou die volgende tonele van verskeie byeenkomste:

  • Een voorspoedsprediker het die gehoor vertel dit is ‘n mors van tyd om geld vir die armes te gee. In plaas daarvan, het hy gesê, “Gee jou geld liewer vir die geseëndes!”
  • ‘n Man wat ‘n hondehalsband gedra het rondgeloop op sy hande en knieë, terwyl die koor gesing het, “Waar Hy my lei, sal ek volg.” Die leiers het dit ‘n demonstrasie van ‘n Gees-geleide daad van onderwerping genoem!
  • Mense het in die ouditorium rond gehardloop terwyl die aanbiddingspan ‘n lied genaamd, “Run for the Money” gesing het. Hoe vinniger jy klaarblyklik hardloop, hoe meer finansieel geseënd sou jy wees.

Terwyl ek na hierdie dinge gekyk het, het ek uitgeroep, “O, Here – dit is godslasterik! Die herders en skape is heeltemal blind! Hoe kan U ooit genesing bring na so ‘n blatante godslastering van u werk? Die wond van U kerk blyk ongeneeslik te wees!”

Natuurlik verberg die Here sy aangesig vir alle soortgelyke dwaasheid en bespotting. Hy het Homself egter nooit verberg vir diegene wat hulself in gebed saam met Hom afsonder nie. En Hy het vir biddende Jeremia gesê, “Kyk, Ek laat vir die stad genesing en gesondmaking tot stand kom en sal hulle gesond maak en aan hulle openbaar ‘n oorvloed van duursame vrede” (Jeremia 33:6).

Dit was verstommende woorde! God het vir die profeet vertel, “Glo dit of nie, Jeremia, Ek gaan my mense genees. Trouens, Ek gaan hulle lei na oorvloedige vrede en waarheid! Ek is op die punt om ‘n reiniging te bewerkstellig met nuwe genade. En my kerk sal weereens ‘n plek van blydskap en ware lofsange wees, waar alle slawerny gebreek word!”

Die Here het toe hierdie heerlike verbondsbelofte gegee: “So spreek die HERE van die leërskare: In hierdie plek wat woes is, sonder mens of dier, en in al die stede daarvan sal weer ‘n weiveld vir die herders wees wat troppe kleinvee laat lê en rus” (Jeremia 33:12). Hy het in wese gesê, “Ek gaan ‘n menigte van goddelike priesters oprig oral in die stede. En hulle sal My in waarheid dien en veroorsaak dat my skape rustig sal gaan lê!”

In elke stad en dorp, of dit nou op die berge of valleie is, die noorde of die suide, sal daar ‘n “weiveld” wees – ‘n kraal vir die troppe met ‘n herder om daaroor wag te hou. En “...sal die troppe kleinvee weer by die teller verbygaan, sê die HERE” (Jeremia 33:13). Hierdie vers praat van intieme, persoonlike sorg vir elke skaap. God het in wese gesê, “Hierdie goddelike priesters sal vir my volk individueel sorg!”

Die Here het toe sy seëninge van herstel opgesom deur te sê, “Kyk, daar kom dae...dat Ek die goeie woord in vervulling sal laat gaan wat Ek gespreek het aangaande die huis van Israel en die huis van Juda” (Jeremia 33:14). Hierdie “goeie ding” het amper te goed om waar te wees, geklink. Nie net sou God sy kerk reining en sy volk herstel nie – maar Hy sou goddelike herders aan hulle verskaf!

Slegs die Here self kon so ‘n verstommende werk doen. Geen evangelie, leraar of nuwe beweging kon dit bewerkstellig nie. Dit sou slegs deur verbondsbelofte gebeur!

Ek glo God het hierdie beloftes vir Jeremia gegee oor ons dag!

“En dié dae en in dié tyd sal Ek vir Dawid ‘n Spruit van geregtigheid laat uitspruit, en Hy sal reg en geregtigheid doen in die land” (Jeremia 33:15). Wat is die “dae” waarvan God hier praat? Hy praat van die tyd wanneer die visie vervul sou word. En wat is die “Spruit van geregtigheid” wat Hy hier noem? Dit is niemand anders as die Here Jesus Christus nie!

Geliefde, God het hierdie visioen vervul, deur die dood en opstanding van sy Seun, Jesus Christus. Hy het sy kerk gestig en daardie naam is nie Baptiste of Pinkster of enige ander naam nie, maar bloot, “DIE HERE...ONS GEREGTIGHEID” (Jeremia 33:16).

Hier is die wonderlikste nuus van dit alles. God het gesê hierdie kerk “...sal vir My wees ‘n vreugdevolle roem, ‘n lof en ‘n sieraad by al die nasies van die aarde wat sal hoor van al die goeie wat Ek aan hulle doen; en hulle sal bewe en ontroer word oor al die goeie en oor al die vrede wat Ek daaraan bewys [vir hulle maak]” (Jeremia 33:9).

Die letterlike betekenis van hierdie laaste frase is, “Hulle sal bewe en verskrik wees, vol van die ontsag en vrees van God.” God het in wese gesê, “Ek gaan iets so verstommend doen, so duidelik vol van my oorvloedige vrede en waarheid, dat mense sal bewe van vrees!”

Wat sou egter hierdie vrees en bewing veroorsaak? Sou dit ‘n harde boodskap van oordeel wees? Die verkondiging van die wet? ‘n Uitdrukking van God se toorn? Nee! Alle vrees en bewing sou kom deur ‘n openbaring van God se goedheid! Dit sou kom deur ‘n uitdrukking van sy onverdiende seën, waarin Hy sy mense voorsien van  ‘n oorvloedige vrede en rus.

Het God se belofte van genesing, vergifnis en heilige herders God se volk roekeloos gemaak?

Toe die Here beloof het om sy mense se geregtigheid deur geloof te wees, het die Israeliete skielik roekeloos begin wandel en sy standaard van heiligheid verlaag? Nee, glad nie. Sy belofte van vrede en rus sou veroorsaak dat hulle van vrees bewe!

Ons sien ‘n beeld van hierdie heilige oorblyfsel in Markus 4. Toe ‘n storm die dissipels se lewens bedreig het, het Jesus die wind en die see bestraf en gesê, “...Swyg, wees stil! En die wind het gaan lê, en daar het ‘n groot stilte gekom” (Markus 4:39). Hoe het die dissipels hierop gereageer? Die Skrif sê, “En ‘n groot vrees het hulle oorweldig, en hulle het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam is!” (Markus 4:41).

Waarom het “’n groot vrees hulle oorweldig”? Dit was nie weens een of ander harde bestraffing van hulle Meester nie. Nee – dit was omdat Hy die storm stilgemaak het en vrede en kalmte gebring het. Kortliks, hulle het gebewe oor die goedheid wat Christus aan sy ongelowige, onverdiende volgelinge getoon het!

So, hoe sal God vrees en bewing is sy laaste-dag kerk veroorsaak? Sal dit kom deur ‘n oordonderende boodskap van oordeel, of een of ander nuwe vorm van wettiesheid? Nee, nooit! God se mense gaan bewe oor die heerlike openbaring van sy Nuwe Vebond beloftes!

Ons sal sidder wanneer ons besef sy Gees lewe en werk in ons, onverdiend soos ons is, om ons voor te berei om Christus se bruid te wees. Ons sal uitroep, “Wat? Die Here werk in my, met al my probleme, mislukkings, giere en grille? Hy veroorsaak dat ek sy wil doen en maak my heilig, vlekkeloos en sy lig wat skyn vir die wêreld?” Ons sal nederig word deur ‘n heilige vrees!

Is dit nie waarna jy soek in ‘n kerk nie?

Wat van al die goddelike herders en skape wat elke stad sal bewoon?

Jy mag wonder, “Sê jy God sal die kerk reinig van alle voorspoedsleerstellinge en valse huurling-herders?” Nee, ek sê dit glad nie. Volgens ‘n Ou Testamentiese profesie, sal daar in werklikheid ‘n lui, Eli-bediening, wat kompromieë maak in die kerk wees. Dit word die Abjatar-bediening genoem, vernoem na die priesters wat Dawid verlaat het – en dit is ‘n bediening wat totaal van die vlees is!

Jy mag ook wonder, “Waar is al daardie goddelike herders wat die Here vir ons belowe het? Waar tree hulle op as herders? Sê jy dat ons hulle regverdige kerke in enige stad, dorp of nedersetting kan kry?

“Ek sien nie hoe God ooit genoeg heilige, afgesonderde bedienaars kan kry om vir Hom ‘n heilige woning in elke plek te maak nie. Daar is nie genoeg Bybelskole en kweekskole in die wêreld om hierdie ontsaglike profesie selfs te begin vervul nie. Ek weet die Here is besig om ‘n leër van goddelike, jong bedienaars op te rig. Maar hulle is sekerlik min. So, waar is hierdie talryke priesterskap?”

Ons vind die antwoord op hierdie vraag in die res van die storie van Jeremia. God het vir die profeet gesê, “Soos die leër van die hemel nie getel en die sand van die see nie gemeet kan word nie, so sal Ek vermenigvuldig die nageslag van my kneg Dawid, en die Leviete wat my dien” (Jeremia 33:22). Hy het in wese gesê, “Ek gee vir jou hierdie verbondsbelofte. Ek gaan die heilige priesterskap, wat my vermenigvuldigende skape sal oppas, vermeerder!”

Hoe sal God dit doen? Ons vind die antwoord in die boek Openbaring: “Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader...” (Openbaring 1:5-6). God het ons almal priesters gemaak! Elkeen wat gewas is in die bloed van Jesus is ‘n lid van sy koninklike priesterskap.

Die apostel Petrus het dit ook in 1 Petrus 2:5 genoem: “En laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus” (1 Petrus 2:5). God het ons geroep om priesters te wees wat Hom bedien!

Jy sien, die Here se konsep van “kerk” is baie anders as ons s’n. Ons dink aan kerk as ‘n bediening aan mense. Dit is ‘n plek waar al God se mense se geestelike, fisieke en emosionele behoeftes vervul word. Natuurlik is dit alles deel van waaruit ‘n kerk bestaan. Maar die ware kerk, volgens die Skrif, begin met bediening aan Jesus Christus. Sy konsep van kerk, is enige plek waar daar bediening aan die Here is!

Ons sien hierdie onderskeid geïllustreer in Esegiël 44. In die volgende gedeelte, beskryf die Here mensgesentreerde bediening:

“Hulle moet dienaars wees in my heiligdom, as wagte by die poorte van die huis en bedienaars van die huis; hulle moet die brandoffer en die slagoffer vir die volk slag en voor hulle staan om hulle te dien...Dus sal Ek hulle aanstel om die diens van die huis waar te neem, vir die hele bediening daarvan en vir alles wat daarin gedoen moet word” (Esegiël 44:11,14).

Volgens hierdie gedeelte, het die priesters alles gedoen wat ‘n herder moet doen. Hulle het gepreek, beraad en die mense se behoeftes bedien. Vir nie-geestelike oë, het hulle bediening gelyk asof dit ‘n goeie, soliede kerk gevorm het.

Maar in werklikheid, het hierdie bedienaars die mense gegee wat hul vlees wou hê: “Omdat hulle hul gedien het voor hulle drekgode en vir die huis van Israel ‘n struikelblok tot ongeregtigheid was, daarom het Ek my hand teen hulle opgehef, spreek die Here HERE, sodat hulle hul ongeregtigheid moet dra” (Esegiël 44:12).

Hierdie valse herders het geen woord van God gehad nie. Trouens, God sê Hy was hulle vyand! “En hulle mag nie nader kom na My toe om die priesteramp vir My te bedien nie en om nader te kom na al my heilige gawes, na die hoogheilige gawes nie; maar hulle moet hul skande dra en hul gruwels wat hulle bedryf het” (Esegiël 44:13).

Eenvoudig gestel, God sê vir ons, “My mense begeer valse herders! Hulle wil nie onder ‘n vurige evangelie boodskap sit en hulle sondes openbaar hê nie. Daarom gaan Ek vir hulle die soort herders gee wat hulle wil hê. Ek sal herders aanstel wat hulle afgodiese begeertes en wellus sal bedien!”

Ek vra jou – Wat soek jy in ‘n kerk?

Miskien soek jy ‘n kerk wat jou kinders op Sondae oggende sal dissipel. Of miskien soek jy na ware gemeenskap. Miskien is jy honger vir goeie lofsang en aanbidding. Of jy probeer een of ander diep behoefte in jou lewe vervul.

As enige van hierdie sake op jou van toepassing is, het ek ‘n baie moeilike vraag vir jou: Om hierdie behoeftes te vervul, sal jy jou en jou familie onder die sorg van ‘n Abjatar-priesterskap plaas – ‘n bediening wat God verwerp het? Sal jy jouself onderwerp aan die prediking van ‘n herder wat deur God “aangestel” is om mense se afgodery te bedien?

Laat my vir jou hierdie woord gee oor God se ware kerk: Die Bybel sê jý is aangestel as ‘n koninklike priester voor die Here! Dit is reg – jy moet ‘n herder, ‘n bedienaar en ‘n priester wees. En die ware kerk moet sy oorsprong in jou huis hê!

Die Bybel sê dat elke gelowige geroep is tot ‘n goddelike Sadok priesterskap:

“Maar die Levitiese priesters, die kinders van Sadok, wat die diens van my heiligdom waargeneem het toe die kinders van Israel van My af weggedwaal het, hulle moet na my toe nader kom om My te dien en voor my aangesig staan om aan My die vet en die bloed te offer, spreek die Here HERE. Hulle moet in my heiligdom ingaan, en hulle moet na my tafel toe nader kom om My te dien en my diens waarneem” (Esegiël 44:15-16).

Jy hoef nie na ‘n Bybelskool te gaan om ‘n deel van God se koninklike priesterskap te wees nie. Jy hoef nie ‘n aanstellingsbrief, wat  teen jou muur hang, te hê nie. Almal wat gewas is in die bloed van Jesus is opgerig om ‘n priester van die Here te wees!

Ek het grootgeword in ‘n familie wat, soos ons dit genoem het, ‘n “familie altaar” gehou het. My vader het geglo dat die vers in Hebreërs, wat Christene beveel om nie die onderlinge byeenkomste van die liggaam te versuim nie, ook bedoel was vir gesinne. Daarom, mag ons nie die familie altaar misgeloop het nie.

Elke dag, wanneer dit tyd was vir familie altaar in ons huis, kon ek en my broers en susters moontlik buite gespeel het met ons vriende. Maar as ons ouers geroep het, “Bid tyd!” het almal in die buurt geweet dat die Wilkersons na die altaar gaan.

My vader het met blydskap die rol van priester en herder in ons huis opgeneem. Maar wat van jou? Het jy jou hart ondersoek oor om ‘n priester vir jou familie te wees? Jy maak daarop aanspraak dat jy nie ‘n goeie kerk – een wat jou aanraak en bemoedig, een wat jou kinders bedien – kan kry nie. Maar doen jy die priesterlike werk van bemiddeling vir jou geliefdes voor die Here?

Ons het reeds in die Skrif gesien dat God se ware kerk op enige plek is waar gelowiges die Here bedien. En dit behoort in jou huis te gebeur. Die apostel Paulus vertel vir ons van Priscilla en Aquila, “...die gemeente by hulle aan huis” (Romeine 16:5).

Talle Christene kom egter huistoe na ‘n blêrende TV. Hulle doen inkopies tot hulle omval. En hulle gee min of geen tyd om Christus te bedien. Hulle bid nooit nie. Hulle sonder hulle nooit af in hulle geheime binnekamer om die Here te soek of om vir hulle gades en kinders voorbidding te doen nie. Hulle kla egter dat hulle nie ‘n kerk kan vind nie!

Dit maak nie saak as daar geen man of vader in jou huis is om as priester op te tree nie. Jy kan ‘n enkelma wees, of ‘n enkellopende man of vrou wees. Trouens, dit maak nie saak wie jy is nie, God sê jy is ‘n koninklike priester – en jy is geroep om Hom te bedien!

Miskien is jy in staat om te sê, “Maar ek het reeds die regte kerk gekry. Ek ontmoet die Here daar en elke week hoor ek goddelike preke en ek neem deel aan wonderlike aanbidding. Ek is tevrede met my kerk.”

Ek juig saam met jou daaroor. Maar as jy die kerk sien as net jou lokale gemeente, dan het jy steeds nie die regte kerk gekry nie. Die God-geseënde, regverdige kerk is waar jy woon – by jou huis, by die werk, op pad werk toe. Dit is oral waar jy Hom soek, Hom aanbid en Hom bedien!

As jy nie die Here in jou huis bedien nie, dan het jy ‘n Abjatar-priester geword. Jy fokus slegs op jou eie persoonlike behoeftes. En jy sal nie die regte kerk vind, totdat jy na jou geheime binnekamer gaan nie. Jy kry dit deur vir Jesus kwaliteit tyd te gee – deur sy begeerte vir gemeenskap met jou te bedien!

Wanneer jou huis ‘n kerk word, sal al jou diepste behoeftes vervul word – nie deur menslike middele nie, maar bonatuurlik deur jou Vader in die hemel. En jou kinders se behoeftes sal ook vervul word – alles omdat die Heilige Gees gemeenskap met jou het in die binnekamer!

Dan kan jy na enige kerk gaan, maak nie saak hoe dood dit mag lyk nie. Waarom?  Jy doen dit, sodat jy met ander Sadok-soekers daar in verbinding kan tree! Hy het honger dienaars oral – en Hy sal jou bonatuurlik bring by diegene, wat jou honger om die Here te dien, deel.

Onlangs was ek bevoorreg om pastore te bedien in verskeie Oos Europese lande. Tydens die jare van kommunistiese heerskappy, was hulle kerke verbied om bymekaar te kom. Daarom het klein groepies gelowiges dikwels ongeveer tien myl in die woud ingeloop net om saam gemeenskap te hê. Daar was geen amptelike pastore of ouderlinge in hierdie groepe nie. Hulle het geweet dat almal priesters vir die Here was.

Ek het ook stories gehoor van gelowiges wat in die gevangenis was en wie se enigste gemeenskap met die Here was, soms vir jare aaneen. Een Christen man het vyf-en-twintig jaar deurgebring sonder kontak met ‘n ander gelowige. Maar elke uur wat hy wakker was, het hy in die kerk deurgebring, omdat Hy Jesus se begeerte om gemeenskap met hom te hê, bedien het.

Geliefde, die priesterskap waarvan Jeremia geprofeteer het, is oral. Dit bestaan uit menigtes van mense wat honger is vir God en die Vader se verbondsbeloftes vir hulle glo. Daardie beloftes laat hulle rus in oorvloedige vrede en waarheid. En hulle reageer deur getrou self die Here te bedien – deur in hulle eie huise te begin!