'n Tyd om Niks te Doen Behalwe te Vertrou

Jare lank het die Israeliete 'n menslike koning om hulle te regeer, begeer. Uiteindelik het God dit toegelaat. Hy het die profeet Samuel beveel om Saul as regeerder oor Israel te salf. Die profeet het Saul ontmoet, 'n kruik olie oor sy kop uitgegooi, hom gesoen en gesê: "Die Here het jou as vors oor sy erfdeel aangestel." (1 Samuel 10:1).

Aan geen mens kon 'n groter eerbewys betoon word nie. In wese het Samuel gesê: "Die Here is met jou. Jy is die uitverkore werktuig deur God uitgesoek." Boonop het God Saul onmiddellik met die moed om sy roeping te vervul, geseën: "God het sy (Saul) hart verander .... en die Gees van God het kragtig in hom (Saul) gewerk en hy het geprofeteer (verse 9-10).

Saul was nie 'n grootprater nie. Hy het nie op sy salwing of posisie geroem nie. Inteendeel, die Bybel sê dat hy in sy eie oë klein was (lees 15:17). Ons sien 'n voorbeeld van Saul se ingetoënheid toe hy van sy ontmoeting met Samuel teruggekeer het. Sy oom het hom voorgekeer, nuuskierig oor wat gebeur het. Hierdie oom het geweet dat Samuel daarvoor bekend was dat hy slegs gepraat het as daar 'n belangrike doel was. Gevolglik het hy sy neef gesmeek: "Asseblief Saul, vertel my wat het Samuel vir jou gesê?"

Die Skrif sê: "Maar die saak van die koningskap waarvan Samuel gespreek het, het hy (Saul) hom nie vertel nie." (10:16). Saul het oor ongelooflike nuus beskik, maar hy het nie 'n woord gerep nie. Ek vra u - hoeveel mense wat u ken sal oor sulke nuus swyg?

Kort hierna het Samuel die volk by Mispa byeen geroep. Die profeet het twee doelwitte gehad: Eerstens, wou hy die volk berispe omdat hulle die Here verlaat het en 'n menslike koning verlang het. Daarna wou hy Saul aan hulle bekend stel as God se verkose heerser. Maar toe die oomblik aanbreek om Saul aan hulle bekend te stel was hy nêrens te vind nie. Samuel het toe 'n afvaardiging gestuur om hom te soek - hulle het Saul uiteindelik tussen pakgoed waar hy weggekruip het, opgespoor.

Toe Saul voor die skare verskyn was hy alles wat hulle in 'n koning wou gehad het. Hy was lank en aantreklik; "van sy skouers af boontoe hoër as die hele volk" (10:23). Samuel het toe van hom gesê: "Daar is nie een onder die hele volk soos hy nie." (vers 24). En Israel het hul goedkeuring uitgeroep: "Mag die koning lank lewe" (dieselfde vers).

In sy eerste twee jaar as koning het Saul homself as 'n sterk, godvresende leier bewys. Toe hy hoor dat die Ammoniete Jabes in Gilead ingeval het, "het die Gees van God kragtig in Saul gewerk" (11:6). Saul het inderhaas 330 000 krygers opgekommandeer - hierdie uiteenlopende, swak toegeruste leër het die Ammoniete totaal verslaan. Saul het hierna al die eer aan God gegee (lees vers 15). So het die godvresende koning Israel tot oorwinning gelei oor elke nasie wat hulle geplunder het - Moab, Ammon, Edom, Ámalek en selfs die magtige Filistyne (lees 14:47-48).

Wie sou nie so 'n man as hulle koning wou hê nie? Saul was nederig, dapper, indrukwekkend in voorkoms, begunstig deur God, kragtig vaardig in die Gees, oplettend na die voorskrif van die heilige profeet. Saul was die toonbeeld van 'n godvresende leier.

Ongelooflik, maar tog sou hierdie selfde gesalfde man in algehele wederstrewigheid sterf. Kort na sy verstommende oorwinnings word Saul sy salwing ontneem en van sy koninkryk gestroop. Hy was deur God verlaat, was nie meer in staat om die stem van die Gees te hoor nie en was ten laaste deur bose geeste beset. Hy het geëindig met die doodmaak van onskuldige mense. Hy het beveel dat God se aangestelde priesters gedood moes word. En op die aand van sy afsterwe het hy 'n heks geraadpleeg. Die koning wat Israel eens oor sy vyande laat seëvier het, het sy dae rasend kranksinnig geëindig.

Wat 'n Tragiese einde aan 'n eens gesalfde dienaar van God. Wat het met Saul gebeur? Wat het hierdie nederige man in kranksinnigheid en verwoesting laat verval? Was daar 'n bepaalde keerpunt in Saul se lewe waar hy begin verbrokkel het?

Saul het 'n keerpunt, wat elke gelowige uiteindelik moet konfronteer, in die gesig gestaar. Dit is 'n beslissende krisis oomblik wanneer ons gedwing word om te besluit of ons op God in geloof wag, of ongeduldig raak en sake in eie hande neem.

Die keerpunt vir Saul het gekom toe onheilspellende oorlogswolke oor Israel versamel het. Die Filistyne het 'n magtige leër van 6 000 perderuiters, 30 000 yster strydwaens en 'n krygsmag met die nuutste wapentuig gehad. Die blote getalle was vir Israel "soos sand wat op die seestrand is" (1 Samuel 13:5). Hierteenoor het Israel slegs twee swaarde in hul hele leër gehad - een vir Saul en een vir sy seun Jónatan. Iedereen anders het plaasvervanger wapens soos hout spiese en kru plaas gereedskap gehad.

Namate die Israeliete die magtige Filistyne sien aankom het, het hulle beangs geword en "het die volk weggekruip in die spelonke en in die doringbosse en in die rotse en in die grotte en in die kuile" (13:6). Sommige het oor die grense na ander lande weggesluip om nie in Saul se krygsmag opgekommandeer te word nie. Ander was openlik lafhartig en het gedros. Meteens het die krygsmag van die 330 000 wat Ammon verslaan het, na 600 weggekrimp. Selfs dié wat gebly het, het gebewe van vrees (lees 13:7). Israel se omstandighede het hopeloos gelyk.

Samuel het Saul 'n week vantevore gewaarsku om nie te begin veg nie maar vir hom by Gilgal te wag. Die profeet het gesê dat hy na sewe dae terug sal keer om die regte offers aan die Here te bring. Daar word nie aan ons verduidelik wat die betekenis van die sewe dae wagtyd was nie. Miskien het Saul geweet dat hy vanaf 'n vêraf plek waar hy teenwoordigheid moes wees, sou kom. Dit is ook moontlik dat die sewe dae wagtyd 'n toets vir Saul se geloof was.

Met die aankoms van die sewende dag was Samuel nog nie terug nie en Saul se soldate het begin dros. Nog erger, die koning het nie God se leiding vir die geveg gehad nie. Plaas uself vir 'n oomblik in Saul se plek. U sien die ontsagwekkende Filistynse leër op u af marsjeer. U voel die geweldige gedreun van hulle strydwaens. En terwyl u omdraai om na u paar manskappe te kyk, sien u hulle met hulle armsalige wapens, bewe. Sake raak nou buite beheer. Wat sou u doen?

U mag wonder "Moes Saul net wag en niks doen nie?" Ja - dit is presies wat hy moes gedoen het; wag en bid. Dit is wat Samuel in die eerste plek bedoel het toe hy vir Saul as koning voorgestel het. Die profeet het aan Israel gesê: "As julle maar die Here vrees en Hom dien en na sy stem luister en nie wederstrewig is teen die mond van die Here nie en julle sowel as die koning wat oor julle regeer, die Here julle God maar volg! Maar as julle nie na die stem van die Here luister nie en wederstrewig is teen die mond van die Here, dan sal die hand van die Here teen julle wees soos teen julle vaders" (12:14-15).

Samuel verduidelik: "Die Here eis al die eer vir wat hy doen deur ons koning. Hy wil hê dat die wêreld moet weet dat strategieë, wapens of getalle nie oorwinning gee nie, maar brandoffers van geloof in gebed en vertroue in Hom.

Wel, wat was Saul se benadering? Hy het volstaan en verklaar: "Ek gee nie om as dit Samuel agt dae neem om te kom nie. Ek gaan op God se woord aan my bly staan. Leef of sterf, ek sal sy bevel gehoorsaam"? Nee, Saul het bang geword. Hy het toegelaat dat sy omstandighede hom beïnvloed sodat hy God se woord verdraai het om hom te pas. Hy het die priester Ahia wat teenwoordig was bevel gegee om sonder Samuel brandoffers te offer.

Samuel was by sy aankoms ontsteld. Hy het die brandende vleis op die offeraltaar geruik. Daarop vra hy Saul: "Wat het jy gedoen" (13:11). Die profeet se vraag wys daarop dat Saul nie die erns van sy sonde besef het nie. Samuel vra: "Wat het jy gedoen? Ek het vir jou 'n duidelike en eenvoudige opdrag gegee. Jy moet niks doen totdat ek kom. Jy was nie in gevaar nie maar nogtans het jy sake in eie hande geneem. Jy het uit vrees en nie uit geloof gehandel nie. Jy het ernstig teenoor God gesondig."

Saul het so verduidelik: "Ek het gesien dat die manskappe verstrooid raak van my af, en u nie op die afgesproke tyd kom nie, terwyl die Filistyne in Migmas bymekaarkom, ..." (13:11). Let op die aanklag in Saul se woorde: "Jy het nie betyds gekom nie, Samuel." Hy het met die profeet gepraat terwyl sy aanklag in werklikheid teen God gerig was. Saul het gesê : "Ek moes iets doen - almal om my het gedros. Die Here het sekerlik nie verwag ek moet langer uithou nie."

Nee - God is nooit te laat nie. Die Here was deurgaans bewus van elke tree wat Samuel na Gilgal geneem het. Hy het die profeet deur 'n hemelse navigasie stelsel gerig wat sy aankoms in Gilgal tot op die sekonde bepaal het. Samuel sou op dag sewe daar gewees het al was dit 'n minuut voor middernag. Dit weet ons : God sou nie vir Saul in hierdie saak bedrieg nie en derhalwe weet ons dat Samuel betyds daar sou wees.

Met die eerste oog opslag blyk God se reaksie op Saul se ongehoorsaamheid, streng. Samuel sê: "Jy het dwaas gehandel, jy het die gebod van die Here jou God, wat hy jou beveel het, nie gehou nie; want anders sou die Here jou koningskap oor Israel vir goed bevestig het. Maar nou sal jou koningskap nie bestaan nie. Die Here het vir Hom 'n man na sy hart gesoek; en die Here het hom as vors oor sy volk aangestel, omdat jy nie gehou het wat die Here jou beveel het nie" (verse 13-14).

U mag wonder: "Hoekom het God nie vir Saul oorgesien nie? Dié man was in 'n onmoontlike posisie. Bowendien, al wat hy wou doen, was om 'n oorwinning vir die Here te behaal. Hoekom was Saul se gehoorsaamheid so belangrik hier?" God wou hê dat al die magte van die hel weet dat die geveg die Here s'n is - en dat dit gewen is deur bepaalde mense vol geloof wat op Hom wag en vertrou.

God het deur die eeue heen nie verander nie. En hy is nog steeds besorg daaroor dat sy volk sy opdragte gehoorsaam: "Maar as julle nie na die stem van die Here luister nie en wederstrewig is teen die mond van die Here, dan sal die hand van die Here teen julle wees soos teen julle vaders" (1 Samuel 12:15). Dit maak nie saak of ons lewe hand-uit ruk nie - ons vertroue in die Here moet totaal wees. Al lyk sake hopeloos, moet ons nie uit vrees optree nie. Ons moet liewers geduldig op Hom wag om ons ooreenkomstig sy woord uitkoms te gee.

Die feit bly staan dat God direk langs Saul was terwyl die massiewe Filistynse leër opgetrek het. Die Here het daardie strydwaens gesien dreun en hy het die skerp wapens sien flits. Hy weet in watter krisis Saul verkeer het met sy soldate wat dros. Hy het alles onder oog gehad en hy was van elke detail bewus.

Net so is ons God van elke detail in ons krisisse bewus. Hy sien al die lewensprobleme wat jou opkeil. En hy is ten volle bewus dat jou toestand daagliks verswak. Die wat bid en op hom met stille geloof wag, is nooit in enige werklike gevaar nie. Wat meer is, hy ken al jou paniekerige gedagtes: "Ek weet nie hoedanig ek ooit hierdie skuld kan betaal nie .... Ek het geen hoop vir my huwelik nie... Ek weet nie hoe ek my werk gaan behou nie." Tog staan sy bevel aan jou: "Moet nie paniekerig raak nie of vooruit loop nie. Jy moet niks anders doen nie, net bid - en op my staatmaak. Ek sal elkeen wat op my vertrou, eerbiedig."

Oordink hierdie woorde wat die Here aan sy kerk gegee het: "En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag: .." (Hebreërs 11:6). "Vertrou op Hom altyd, o volk! Stort julle hart uit voor sy aangesig! God is 'n toevlug vir ons." (Psalm 62:9). "Julle wat die Here vrees, vertrou op die Here: Hy is hulle hulp en hulle skild" (Psalm 115:11). "Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak" (Spreuke 3:5-6).

Die Here is baie geduldig met ons. Hy nooi ons inderdaad uit: "Bring julle regsaak voor; ." (Jesaja 41:21). Hy weet dat ons voorvaders tye van twyfel ondervind het, vanaf Abraham af tot in die tyd van die Nuwe Testamentiese heiliges. By tye wou hulle sterf, skreeuend: "Ek kan nie verder nie". Selfs Jesus het 'n oomblik van vertwyfeling gehad, toe Hy gevra het: "Hoekom het u my verlaat".

Elke skok van pyn, vrees en angs wat ons tref, ervaar ons Here. Ons mag skielik slegte nuus ontvang - 'n geliefde is oorlede, 'n seun of dogter skei, of 'n eggenoot het 'n verhouding. Sulke tye stuur God die Heilige Gees om ons te vertroos, ons pyn te verlig en ons gemoedsrus te gee.

Saul het 'n volle sewe dae in angs en vrees gewag. Die hele tyd het die Heilige Gees hom gevra om 'n besluit te maak: "Ja, Saul, dit lyk hopeloos. Maar voorheen het die Ammoniete jou in getalle oortref en God het jou gehelp. Dus, wat gaan jy vandag doen? Sal jy God se woord gehoorsaam ongeag wat met jou en die koninkryk gebeur? Sal jy ook soos Job sê: "Al maak Hy my dood, nogtans sal ek op Hom vertrou?"

Ons weet dat God elke persoon se hart ken. En die Here het geweet dat die besluit wat Saul op daardie tydstip sou maak sy lewenspad sou bepaal. Verder aan sou hy nog menige krisisse die hoof moes bied. Ons kry 'n bietjie insae in Saul se besluit deur sy woorde aan Samuel: ".. daarom het ek myself sterk gehou en die brandoffer gebring" (1 Samuel 13:12). Die kern woord hier "sterk gehou" beteken "om jouself in te hou". Saul het gesê : "Ek het probeer om gehoorsaam te wees. Ek het myself vir so lank as moontlik ingehou om nie ongehoorsaam te wees nie. Maar ten einde moes ek op my eie optree."

Die gevolg was dat God Saul verlaat het en sy aanstelling as koning herroep het. Hoekom? Die Here het geweet dat Saul van daardie dag af 'n dooie geloof sou hê. Hy het geweet dat Saul nie weer 'n toets van geloof sou deurmaak nie. In plaas daarvan sou hy konkel en knoei.

Ongeloof is dodelik, en die gevolge tragies. En ons staar ernstige gevolge in die gesig as ons onsself uit beproewing probeer uitwikkel in plaas daarvan om op God te vertrou om ons deur te sien. Hierdie is duidelik uit Saul se lewe. Van die oomblik af wat Saul die deurslaggewende besluit geneem het om sake in eie hande te neem, het sy lewe vinnig begin agteruitgaan. Sy ongeloof het die deur in sy hart vir elke soort onheil oopgemaak.

Om die waarheid te sê, Saul se lewe illustreer die stappe na algehele verval, wat deur ongeloof meegebring word:

Nadat Saul gesondig het, het sy siel strak en wetties geword. En hierdie wettiese gees het byna die dood van sy geliefde seun Jónatan veroorsaak.

Jónatan en sy wapendraer het besluit of 'n sluip aanval op die Filistynse besetting uit te voer. Die lokval het so 'n verwarring in die Filistynse kamp veroorsaak dat hulle onder mekaar begin veg het en mekaar begin doodmaak het. So luidrugtig was die oproer: "die land het gebewe, sodat dit 'n skrik van God geword het" (1 Samuel 14:15).

Toe Saul die verwarring onder die Filistyne sien het hy voluit aangeval. Hy het sy troepe bevel gegee om sonder ophou die hele dag te veg. Teen die einde van die dag was die Israeliete uitgeput en reg om inmekaar te sak. Maar Saul het 'n onwyse eed gesweer: Indien enige man sou op hou veg om te eet voordat die geveg verby was, sou daardie man vervloek wees.

Jónatan, wat op 'n afgeleë gedeelte geveg het, was onbewus van die eed. Hy het toe 'n kort rustyd weg van die geveg geneem. Terwyl hy rus het hy 'n bietjie heuning van 'n bye nes geëet om homself vir die geveg te verfris.

Daardie nag kon Saul se soldate hulself nie meer inhou nie. Hulle het gierig op die buit toegesak en die diere begin braai en eet. Die Joodse wet vereis dat die bloed moet uitloop voordat die vleis geëet word. Toe Saul dit sien het hy baie kwaad geword. Hy het hul berispe : "Mense, julle het geen respek vir God se wet nie." "Julle handel troueloos; .. maar besondig julle nie teen die Here deur met bloed en al te eet nie (14:33, 34).

Saul het 'n werkheilige geword en homself aangestel as God se heilige polisieman. Daar is geen twyfel dat die priesters applous gelewer het, en gesê het: "Dank die Here dat Saul 'n standpunt vir heiligheid inneem." In werklikheid was Saul die grootste sondaar teenwoordig. Die man was heeltemal ongehoorsaam en het in volslae ongeloof gewandel. Tog kon hy sonder om te blik of te bloos verklaar: "God help die soldaat wat een jota van die wet verbreek deur ongebloeide vleis te eet."

Daardie aand het Saul weereens 'n dwase besluit gemaak: hy het besluit dat sy leër die hele nag moes wakker bly en aanhou veg. Die priesters het beswaar aangeteken maar het nietemin daarop aangedring dat Saul eerstens die Here raadpleeg. Tog, toe hulle bid het God nie geantwoord nie. Saul was weereens verontwaardig. Hy het toe beslis: "God praat nie met my nie omdat iemand gesondig het. Wie is skuldig?" Hy verklaar toe: "Want so waar as die Here leef ... al was dit ook in my seun Jónatan, dan moet hy sekerlik sterwe!" (14:39).

Hierdie soort eiegeregtigheid word in alle werkheiliges gevind. Hulle vertrou nie God om Sy geregtigheid aan hulle te openbaar nie en dus poog hulle om hulle eie daar te stel. Uiteindelik skep hulle 'n stelsel wat hulle eie sondes buite rekening laat, maar tog ander se foute in die kalklig stel.

Saul het beslis dat lootjies getrek moes word om uit te vind wie gesondig het. Die finale loot was tussen homself en Jónatan gewerp. Onmiddellik het Saul hom na sy seun gewend en gesê: "Ek weet ek het nie gesondig nie. Dit moet jy wees." Jónatan erken hy het heuning geëet maar sê dat hy nie van die eed geweet het nie. Saul was egter op 'n morele kruistog, terwyl hy gestreef het om daar heilig uit te sien. As God nie deur die mense ingetree het nie, sou Saul sy eie seun dood gemaak het - alles net om sy heilige ywer te bewys.

Na my mening is ongeloof aan die kern van alle wettiesheid. Hoekom? Dit weier om God se verbondsbeloftes te aanvaar - dat sy Gees ons sondes sal oorwin, ons bemagtig om te gehoorsaam, ons met sy vrees vervul, ons opreg laat wandel, ons 'n afsku vir sonde gee. Wanneer ons van die waarheid van God se verbond afwyk, nie langer op Hom vertrou en op Hom wag om die werk te doen nie, wend ons onsself tot wettiesheid. Ons stel ons eie onbuigbare reëls, wat sonder die krag van die Gees is, op.

Saul se ongeloof het sy gewete verhard en hom onbewus van sy sonde gemaak. Skielik het die sonde sy "uitermatige sondigheid" in die oë van hierdie eens godvresende man verloor.

'n Voorbeeld hiervan is toe Samuel Saul gebied het om die Amalekiete uit te wis. Die profeet het Saul uitdruklik beveel om alles van Ámalek uit te roei - hulle families, hulle lewende hawe, alles. Niks en niemand mag ontsien geword het nie.

Na die geveg verby was het Saul koning Agag as 'n trofee, lewend gevange geneem. Hy het ook oorlogsbuit teruggehou - die beste van die Amalekiete se lewende hawe, klere en besittings. Saul was selfs vermetel genoeg om 'n gedenkteken aan homself op te rig om sy oorwinning te herdenk. Weereens toon hy 'n volslae verontagsaming van God se woord.

Samuel kon met sy aankoms nie glo wat hy sien nie. Die gevegsveld het soos 'n reuse vlooimark gelyk. Mense het met lewende hawe handel gedryf, hulle het nuwe klere aangepas en diere gebraai. Mees verbasend van alles was dat Koning Agag te midde van hierdie skouspel gestaan het.

Samuel het na Saul toe gestap en aangedring: "Wat se geblêr hoor ek?" Saul, het met 'n leuen geantwoord: "Die mense het 'n paar stuks lewende hawe uitgehou om aan God te offer vir die groot oorwinning. Die res het ek doodgemaak. Ek het getrou die bevel van die Here uitgevoer. Watter groot herlewing gaan ons tog nie hê nie."

Samuel het hardop gehuil. Hy het Saul gevra: "Waarom het jy nie die stem van die Here gehoorsaam nie maar buit gemaak en onreg gepleeg in die oë van die Here?" (1 Samuel 15:19). Saul het geantwoord: "Ja, ek het na die stem van die Here geluister en Agag die koning van Amalek gebring en die Amalekiete heeltemal uitgewis" (vers 20).

Hoe kon Saul so blind wees? Hy lieg ongeag duidelike bewyse dat hy ongehoorsaam was. Dit is tragies, maar Saul het sy eie leuen geglo. Hy het alle onderskeidingsvermoë verloor.

Sommige Christene vandag is net soos Saul. Hulle gee aan elke denkbare soort ongehoorsaamheid toe, en gaan dan reguit kerk toe en bid: "Here, ek het U my beste gegee. Ontvang my brandoffer en lof." Hierdie gelowiges is soos die vrou wat in Spreuke beskryf word: "So is die weg van 'n vrou wat owerspel bedryf; sy eet en vee haar mond af en sê : Ek het geen sonde gedoen nie" (Spreuke 30:20).

Hoe verval Christene in hierdie toestand? Dit begin met hul weiering om God se regverdigheid in geloof te aanvaar. Hulle poog om hulle eie regverdigheid daar te stel en wend hul na wettiesheid en om ander te veroordeel. Hulle geloof begin weifel; hulle wag nie op God om rigting aan te dui nie - en hulle doen dinge soos hulle wil. Mettertyd verloor hulle alle onderskeidingsvermoë en hulle gewete verhard heeltemal. Uiteindelik word hulle hooghartig oor hulle eie sonde.

Volgens die Skrif begin die saad van die okkulte hier wortel skiet. In God se oë is ongehoorsaamheid aan God se woord gelyk aan heksery. Soos Samuel aan Saul in hierdie toneel sê: "Want wederstrewigheid is 'n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens" (15:23).

"Die Gees van die Here het van Saul gewyk, en 'n bose gees deur die Here gestuur, het hom verskrik" (1 Samuel 16:14). God het nie letterlik 'n bose gees na Saul gestuur nie. Hy het slegs toegelaat dat die onafwendbare gebeur. U sien, sodra 'n persoon se ongelowigheid hierdie punt bereik - wettiesheid intree, onderskeidingsvermoë verdwyn en sy gewete verhard - het hy geen verdediging teen indringer geeste van jaloesie en afguns meer oor nie. En hierdie twee geeste terroriseer elke siel wat hulle betree.

Teen hierdie tyd het Saul demoniese aanvalle gekry, sodat hy gaan te kere gegaan en uitvaar het teenoor almal. Sy bediendes het so bang geword dat hulle Dawid laat roep het om sy harp te speel en psalms vir Saul te sing in 'n poging om Saul se siel te kalmeer. Dawid, natuurlik, het ten volle op die Here vertrou en sy gesalfde musiek het vrede aan Saul se siel gegee.

Die koning was so dankbaar dat hy Dawid 'n bevelvoerder in sy leer gemaak het. Maar toe Dawid durf en daad in gevegte getoon het Saul mal van jaloesie geword. Jaloesie verander gelowiges in afskuwelike kreature. Enige iemand wat nie op God vertrou nie, sal ook nie ander vertrou nie. En jaloerse mense beskuldig ander van dié sondes mees ooglopend in hulself. Nog meer, hulle sien hulself as slagoffers. Hulle is daarvan oortuig dat ander jaloers op hulle is, voortdurend agteraf van hulle praat, en hulle voortdurend vervolg. Jaloesie is nie net 'n fase waardeur mense gaan nie - dit is 'n gees vanuit die hel. Dit stroop godvresende mense van hulle hemelse doelwit. En dit veroorsaak dat hulle op hulle eie klein vleeslike skermutselings fokus.

Wonder jy waar jou jaloerse gees vandaan gekom het? Ek raai aan dat u terugkyk na die tye toe u beproef is en uself vra hoe u opgetree het. Het u uself verbind om op God te vertrou, ongeag wat? Of het u ook die gedagte gekoester dat God nie betyds daar was nie.

Dink aan die tragies einde van Saul se ongelowige siel. Sy laaste gesprek voordat hy die tydelike met die ewige verwissel het was met 'n heks. Luister na sy droewige laaste woorde: "God het van my gewyk en antwoord my nie langer nie" (28:15).

Tog is daar vir elke gelowige goeie nuus in hierdie tydperk van die Nuwe Verbond. Christus het die prys vir ons wederstrewigheid betaal. (Natuurlik was God se genade en vergifnis ook daar vir Saul. Maar sy hart was eiesinnig en 'n eiesinnige hart begeer nooit genade nie.)

Jesus het gekom om die betowering van die heksery van ongeloof tot niet te maak - om ons kettings van wettiesheid te verbreek en ons uit die boeie van jaloesie te bevry. Maar eerstens moet ons ons sonde erken. Ons moet ons ongeloof bely en dan ons toekoms, vryheid en verlossing heeltemal in Jesus se sorg laat. Hy sal betyds aankom. Ons deel is om niks te doen nie maar net in hom te glo.

Ons moet besef ons word beproef. God verseker ons dat almal wat getrou in die geloof bly en in Hom glo, ongeag hoe hopeloos omstandighede lyk, nie beskaamd sal staan nie. "Sodat die beproefheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus" (1 Petrus 1:7).