'n Hut op die Dak

David Wilkerson

Hier by Times Square Kerk het ons hierdie jaar aangewys as een van gebed vir herlewing. Met “herlewing” dink ons nie aan een of ander groot emosionele ontroering met mense wat van myle en myle ver weg kom om iets sensasioneel te sien nie. In plaas daarvan, wil ons ‘n voorbereide volk hê – voorberei met heiligheid om ‘n woning vir God se teenwoordigheid te wees! Ons wil ‘n herlewing van die Here se heilige teenwoordigheid hê, waar dit so behaaglik vir God sal wees, dat Hy sal neerdaal om elke behoefte aan te spreek – waar Sy heerlikheid geopenbaar word!

In Nehemia, die agste hoofstuk, word daar wat ek noem “die vyf absolute bewyse van herlewing” gevind. Dit kan nie herlewing of ontwaking genoem word nie, tensy al vyf van hierdie bewyse teenwoordig is. Nehemia is ‘n herlewingsboek. Dit is die storie van 42,360 Jode wat teruggekeer het na Jerusalem vanuit ballingskap in Babel om die mure te herbou en om terug te keer na die ou paaie van heiligheid en ware aanbidding. Hulle uittog uit Babel is ‘n tipe van gelowiges wat dooie, kompromie-makende, wêreldse kerke verlaat om met ‘n oorblyfsel na Heilige Sion te gaan, om terug te keer na die ou paaie, en om verder te gaan met ‘n volk en herders wat in waarheid wandel.

Hierdie heilige oorblyfsel het hulle moue opgerol en as ‘n eenheid gewerk om die gemors en rommel wat Jerusalem besoedel het, te verwyder. Hulle het die bouvallige mure herbou en die poorte weer opgerig. Dit is wat ons doen by Times Square Kerk: ons verwyder die rommel wat opgegaar het, die rommel van valse leerstellinge, van materialisme, van sonde en kompromie in die kansel en kerkbanke! Ons herbou die mure wat verkrummel het. Honderde van God se mense is geplunder en besteel deur Sataniese magte; huise en huwelike is in onrus; talle is afvallig en rasend honger vir God se Woord. Ons werk saam om mure en poorte op te rig om die vyand buite te hou. God het ‘n oorblyfsel versamel van almal wat ontsnap het uit Babel en gereed is om die vyf groot stappe te neem na herstel en herlewing.

Die eerste bewys van herlewing is ‘n groot begeerte om die Woord van die Here te hoor en te gehoorsaam.

“En toe...het die hele volk soos een man op die plein voor die Waterpoort bymekaargekom en aan Esra, die skrifgeleerde, gesê om die boek van die wet van Moses, wat die HERE Israel beveel het, te bring. En Esra, die priester, het die wet voor die vergadering gebring, manne sowel as vroue en almal wat met verstand kon luister, op die eerste dag van die sewende maand. En hy het daaruit voorgelees voor die plein wat voor die Waterpoort was, vandat dit lig geword het tot die middag, in teenwoordigheid van die manne en die vroue en die wat kon verstaan; en die ore van die hele volk was op die wetboek gerig...En Esra het die boek oopgemaak voor die oë van die hele volk...en toe hy dit oopmaak, het die hele volk opgestaan (Nehemia 8:1-6).

Die geroep van hulle harte was, “Bring vir ons die ware Woord van die Here!” Esra het ‘n verhewe, houtkansel gestaan en God se Woord vir ses ure lank gelees terwyl die menigte op aandag gestaan het, en ontdek het dat die oorsaak van hulle lyding, hulle eie hardkoppigheid en wederstrewigheid was. Die mees klinkklare bewys van herlewing in ‘n siel of ‘n kerk of ‘n stad, is ‘n groot honger na God se Woord. Afvallige Christene wil nie die Woord hoor nie – dit verveel hulle! Wat hulle wil hê, is opwinding. Afvallige predikers verkondig nie baie van God se Woord nie – in plaas daarvan, gee hulle kort prekies. Hulle verkondig nie die Wet nie, omdat dit veroordeling veroorsaak en die kerk skud! Dit maak kompromiemakers kriewelrig!

Waar die Heilige Gees aan die werk is, roep  mense uit vir die Woord. Ek kry honderde briewe van uitgehongerde heiliges wat uitroep, “Ons is so honger. Ons hoor nie die ware Woord nie. Ons kry die dooie letter met geen salwing nie – paaiery!” Waar God aan die werk is, is daar Bybels orals. Daar is ‘n opwinding oor prediking en lering met ‘n ware eerbied vir die Woord. Die Woord word liefgehê en eerbiedig.

Hoe jammer is dit dat in talle Charismatiese kerke, prediking bloot verdra word. Hulle kan nie wag om dit verby te kry nie, om by die lof en aanbidding uit te kom. Dit is musiek, vermaak, en spesiale sangers wat hulle wil hê! Wanneer die Heilige Gees kom, is daar nie langer een of ander ster-evangelis of leraar in die kollig nie, maar die Woord word verwelkom. Hulle uitroep sal wees, “Here, ek wil dit alles hê: die goeie, die slegte, die gebooie, die beloftes, die hele raad van God!”

Die tweede bewys van herlewing is ‘n hartroerende bekering.

“En Esra het die HERE, die grote God, geloof, en die hele volk het geantwoord: Amen, amen! met opheffing van hulle hande; en hulle het hul gebuig en die HERE aanbid met die aangesig na die aarde toe... En hulle het uit die boek, uit die wet van God, duidelik voorgelees en dit verklaar, sodat hulle verstaan het wat voorgelees is. Daarop het Nehemía...en Esra, die priester, die skrifgeleerde, en die Leviete wat die volk onderrig, aan die hele volk gesê: Hierdie dag is heilig aan die HERE julle God; treur nie en ween nie! Want die hele volk het geween toe hulle die woorde van die wet hoor” (Nehemia 8:7-10).

Hulle eerste reaksie teenoor die Woord was opwinding en blydskap. Hulle het geroep, “Amen, Amen, met die ophef van hulle hande.” Dawid het gesê, “Hef op julle hande na die heiligdom, en loof die HERE!” (Psalm 134:2). Maar die Woord het hulle gou op hulle aangesigte neergebring. Dit is ware bekering wanneer ons deur God se Woord tot op die grond gebring word. “Hulle het hul gebuig en die HERE aanbid met die aangesig na die aarde toe.” “...Die hele volk het geween toe hulle die woorde van die wet hoor.” Hulle het gebewe vir God se Woord, dit ter harte geneem en hulle bekeer!

Wanneer ‘n Heilige Gees-herlewing kom, koester Christene nie wrokke nie – hulle skinder, of praat nie kwaad, of vind fout nie. Hulle probeer nie die kerk of die herders uitsorteer nie. Hulle sit nie rond soos stoelpatatte voor die TV nie! Nee! Hulle is op hulle aangesigte voor God, wenend, omdat die Woord hulle harte aangeraak het. Hulle sit nie en oordeel ander of kyk na ander nie. Hulle word veroordeel deur die Woord omdat hulle self nie opweeg nie!

Die derde teken van herlewing is ‘n ontsaglike gees van blydskap en feesviering.

“Verder het hy vir hulle gesê: Gaan, eet lekker spys en drink soet dranke en stuur porsies aan hulle vir wie niks berei is nie; want hierdie dag is heilig aan onse HERE. Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die HERE — dit is julle beskutting. En die Leviete het die hele volk tot bedaring gebring en gesê: Wees stil! want hierdie dag is heilig; wees dus nie bedroef nie. Toe het die hele volk weggegaan om te eet en te drink en porsies te stuur en groot vreugde te bedrywe; want hulle het ag gegee op die woorde wat aan hulle bekend gemaak is” (Nehemia 8:11-12).

Waar die liefde van God se Woord herstel is en bekering het gevolg, en waar daar self-dood van die sonde is, sal daar altyd ‘n golf van blydskap en feesviering wees. Maar daar is ‘n soort valse blydskap en valse feesviering in die land vandag: Dit is die feesviering van self en afgodery – die dans rondom die goue kalf! Ons moet groot onderskeiding hê om die verskil tussen die ware blydskap van bekering en die valse vreugde van afgodsdienaars te ken.

Moses en Josua het van die berg afgekom en ‘n groot gejuig in die laer teëgekom: “Dit is nie die geluid van die wat sing van oorwinning nie; dit is ook nie die geluid van die wat sing van neerlaag nie: ek hoor die geluid van beurtsang” (Exodus 32:18). Hulle het gejuig, gesing en gedans en Moses het heeltyd geweet dit was van die vlees. Hy het geweet hulle was ‘n hardnekkige, wederstrewige volk, vol begeertes, hoerery, naaktheid en sensualiteit. Die was die gejuig van afgodery!

Ken jy die verskil? As daar geen verkondiging van die Wet is om van sonde te oortuig nie – as daar geen geween is of gesigte op die grond is nie – as daar geen liefde vir God se vermanende Woord is nie – as daar geen bekering is nie – dan is daar geen geestelike gejuig, geen goddelike lied nie! Wees versigtig! Jy kan vasgevang word in die lied van afgodery.

Waarom was daar so ‘n groot vreugde, so ‘n feestelike gees van blydskap beskryf in hierdie herlewing in Nehemia? Hulle het ‘n groot blydskap gehad “...want hulle het ag gegee op die woorde wat aan hulle bekend gemaak is” (Nehemia 8:13). Met ander woorde, hulle het dit onderskei en ter harte geneem: hulle was gehoorsaam!

Die vierdie bewys van herlewing is ‘n hut op die dak!

“En op die tweede dag het die familiehoofde van die hele volk, die priesters en die Leviete by Esra, die skrifgeleerde, vergader om naamlik die woorde van die wet te ondersoek. Toe vind hulle uit dat in die wet wat die HERE deur die diens van Moses beveel het, geskrywe was dat die kinders van Israel op die fees in die sewende maand in hutte moes woon, en dat hulle moes afkondig en rondstuur deur al hulle stede en in Jerusalem om te sê: Trek uit op die gebergte en bring olyftakke en oliewenhouttakke en mirtetakke en palmtakke en takke van digte bome om hutte te maak soos geskrywe is.

“En die volk het uitgetrek en dit gebring en vir hulle hutte gemaak, elkeen op sy dak en op hulle erwe en in die voorhowe van die huis van God en op die plein van die Waterpoort en op die plein van die Efraimspoort. En die hele vergadering wat uit die gevangenskap teruggekom het, het hutte gemaak en in die hutte gewoon; want van die dae van Jésua af, die seun van Nun, tot op daardie dag het die kinders van Israel nie só gedoen nie; en daar was baie groot blydskap” (Nehemia 8:14-18).

Die Woord van die Here was herstel en die bekering en gehoorsaamheid was eg. Die blydskap van die Here het hulle krag geword, maar iets het gekort: die hutte! Daar kan geen ware en blywende herlewing en geen volheid van God wees nie, totdat ons ‘n hut opgerig het! Dit is waarlik ‘n boodskap vir hierdie laaste dae.

Die leiers, die priesters en die Leviete het by Esra vergader om die Skrifte te ondersoek om te sien wat God van hulle verwag het. Hulle het iets gevind wat die Here jare tevore beveel het, ‘n ewige gebod wat verwaarloos was sedert die dae van Josua. Dit was gevind in Levitikus 23:40-43: “En op die eerste dag moet julle vir julle vrugte neem van sierlike bome, met palmtakke en takke van digte bome en rivierwilgers, en sewe dae lank voor die aangesig van die HERE julle God vrolik wees. En julle moet dit as fees van die HERE sewe dae in die jaar vier. Dit is ‘n ewige insetting vir julle geslagte. In die sewende maand moet julle dit vier. Sewe dae lank moet julle in hutte woon; almal wat in Israel gebore is, moet in hutte woon, sodat julle geslagte kan weet dat Ek die kinders van Israel in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipteland uitgelei het. Ek is die HERE julle God.” Vir sewe dae moes God se volk ‘n tydelike skuiling (in Hebreeus “Sukka”) oprig met ‘n dak van verskeie takke. Hulle moes in hulle skuilings lewe vir sewe dae.

Die New York Times het ‘n hele seksie daaraan toegewy gehad om ‘n Sukka te bou. In New York Stad word hulle gebou op klein balkonnetjies, klein erfies, en dakke aan die einde van September tot in die eerste week van Oktober. Van die 613 Joodse bevele, word dit steeds beskou as een van die belangrikste. Ortodokse Jode beoefen dit baie streng. Lewe in die hut beteken steeds vandag: “Ons beweeg net deur hierdie wêreld – slaap slegs oor – sodat ons nie begaan wou wees oor sy plesiere en ydelhede nie.” Die Sukka is so heilig vir ‘n Jood, dat dit sondig is om selfs ‘n splinter daarvan te neem om te gebruik as ‘n tandestokkie! Selfs ‘n slegte ruik sal dit besoedel. Dit word gesê, “As iemand nie die Sukkot [die Huttefees] kan onderhou nie, kan hy nie een van die 613 Tora bevele onderhou nie!”

Die leiers in Jerusalem het in die tyd van Nehemia ‘n stelling gemaak: “Ons sal weer die fees van Sukkot vier! Gaan na die berge en bring olyf-, denne-, mirte-, en palmtakke terug. En maak jou Sukka, soos geskryf is.” Watter opwinding moes die lug gevul het: kinders en families, almal met takke gelaai en Sukka’s aan die bou! Wat ‘n gesig moes dit van bo af gewees het: op elke plat dak ‘n hutjie – in elke leë erf of stadsplein, in die tempelhof, het besoekers gekampeer – selfs Esra, Nehemia, en al die priesters! Vir sewe dae, het niemand in sy huis geslaap nie – niemand het in die herberge geslaap nie. Die hele bevoling het in hierdie tydelike hutte gebly!

Dit was nie sewe droewige dae van swaarkry nie. In plaas daarvan, was dit sewe dae van vreugde, van groot blydskap. “En...moet julle...sewe dae lank voor die aangesig van die HERE julle God vrolik wees” (Levitikus 23:40). “Sewe dae lank moet jy vir die HERE jou God fees hou op die plek wat die HERE sal uitkies; want die HERE jou God sal jou seën in al jou inkomste en in al die werk van jou hande; en jy moet net maar vrolik wees” (Deuteronómium 16:15).

Vandag word daar baie gepreek oor hierdie Huttefees. Dit word gesê die kerk gaan sy oestyd binne, “’n insameling van die koring en die wyn,” ‘n tyd van seën en groei – dat ons in ‘n tyd is van groot blydskap en gesing, ‘n tyd van heerlike blydskap in die Here! Wat ontbreek in hierdie boodskap, is die Sukka, die intrek in die hut! Al die lof, aanbidding, gejuig en blydskap moes onder die hut plaasvind, “in die plek wat die Here sal uitkies.”

Wat beteken dit alles vir ons vandag? Wat het die Sukka te doen met ‘n wandel met Jesus huidiglik?

Die Sukka wys dat ons vreemdelinge hier is, burgers van ‘n ander land.

Die sewe dae in die hut deurbring, verwys na die menslike lewensduur van sewentig jaar. Die Sukka was om hulle te herinner hoe tydelik die lewe hier is. Soos die blare verdor het, moes hulle sien hoe die lewe, gesondheid en krag verdwyn. God wou hulle harte en gedagtes gevestig hê op die ewigheid. Hulle moes hulleself en hulle kinders daaraan herinner: “Ons kampeer net hier. Ons juig nie net oor al hierdie tydelike seëning nie, maar ons hoop en blydskap is in die stad wat uit die hemel kom, Sion!” In Nehemia se dae, is dit wat God wou hê hulle moes verstaan: “Julle moet die mure herbou, die poorte oprig, huise vestig en tuine en wingerde plant. Die Here was goed, maar dit is nie julle rusplek hier nie. Julle moet uitsien na ‘n stad wie se bouer en maker God is!” Dawid het sy stad, Sion, liefgehad. Hy het wonderlike gedigte en liedere geskryf oor sy skoonheid: “Skoon deur sy verhewenheid, die vreugde van die hele aarde is die berg Sion, aan die noordekant, die stad van die groot Koning” (Psalm 48:3). Dawid het ryk geword en wavragte vol goud en silwer gegee vir die bou van die tempel, “Wat die goud, die silwer en die koper en die yster betref, dit is ontelbaar” (1 Kronieke 22:16). Dawid het egter hierdie ontsaglike stelling gemaak: “...want ek is ‘n vreemdeling by U, ‘n bywonder soos al my vaders” (Psalm 39:13). Dit was gesê nadat Israel gevestig en voorspoedig was. “Bywoner” beteken inwonende vreemdeling, iemand wat net deurtrek. Die woord “vreemdeling” in Hebreeus kom van ‘n stamwoord wat beteken “om terug te deins in vrees, soos in ‘n vreemde plek.” Al ons vaders in die geloof het hierdie wêreld beskou as “’n vreemde land.” Hulle was vreemdelinge, burgers van ‘n ander wêreld.

“Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ’n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom. Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ’n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is....In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was. Want die wat sulke dinge sê, verklaar dat hulle ’n vaderland soek. En as hulle bly dink het aan dié vaderland waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer. Maar nou verlang hulle na ’n beter een, dit is ’n hemelse. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ’n stad berei” (Hebreërs 11:8-10,13-16). Hulle het “verlang hulle na ’n beter een [vaderland], dit is ’n hemelse...” Daar is ‘n beter land as Amerika of wat ook al jou vaderland is. Dit is die Nuwe Jerusalem – die hemel met Christus!

God weet hoe maklik word ons verblind deur sy seëninge.

Waarom sou God die hele volk in ‘n hutjie plaas vir sewe dae? Omdat Hy die verskriklike gevaar ken waarin Sy kinders is wanneer hulle geseën word. Hy weet hoe maklik ons weggevoer word, Hom vergeet en verblind word deur gemak en gerief. Hy weet hoe geneig ons is om onsself te pamperlang en verstrik te word deur die dinge van hierdie aarde.

Die lied van Moses was ‘n profesie, wat die uiteindelike afvalligheid van God se volk voorspel het wanneer hulle voorspoedig sou word, “Toe het Jesúrun [God se volk] vet geword en agterop geskop [onhanteerbaar geword] – jy het vet geword, dit geword, spekvet geword – en hy het God verwerp wat hom gemaak het, en die steenrots van sy heil geminag” (Deuteronómium 32:15). Dit is nie ‘n boodskap slegs vir die rykes nie, maar vir ons almal. Hoe meer ons geseën word, hoe meer is ons geneig om te wil hê, om onsself in hierdie wêreld in te grawe, om lief te word, om te koop en meer te spandeer. Alles wat ons koop, is soos ‘n tou wat ons aan hierdie aarde vasbind! Die Here wil hê ons harte moet “in die hut,” in die Sukka wees. Elke dag, talle kere per dag, sou Hy ons laat onthou, “Ek is ‘n vreemdeling! Ek trek net deur! Ek het geen wortels hier nie. Ek gaan na ‘n beter land. Dankie Here, vir al my seëninge – maar ek juig omdat ek ‘n burger van Sion is.”

Ons besit niks hier op aarde nie!

Alles wat God ons gegee het, huur ons! Ons is slegs opsigters. Daar word baie geskryf oor die Beloofde Land. God het belowe om aan Israel die land Kanaän te gee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning, maar God het nooit die titelakte weggegee nie – Hy het dit net aan hulle verhuur. “Die grond moet ook nie vir altyd verkoop word nie; want die land is myne, omdat julle vreemdelinge en bywoners by My is” (Levitikus 25:23). Hulle kon slegs die gewasseregte verkoop, en selfs die armste het hulle land los gekry in die jaar van die Jubileum.

God besit alles wat ons het. Ons hou aan sê, “Here, ek gee dit terug vir U!” Maar ons het nooit regtig iets besit nie. “Want al die wilde diere van die bos is myne, die vee op berge by duisende...wat roer op die veld, is van My...want die wêreld is myne en sy volheid” (Psalm 50:10-12). Die Here sê in wese vir ons, “Gaan na die hut op die dak – ondersoek jou hart!” Is jy net ‘n rentmeester van Sy eiendom? In die lig van die ewigheid, in die lig van die broosheid van die lewe, hoeveel spandeer jy op jouself, in vergelyking met Sy werk?

Die groot effek van die uitstorting van die Heilige Gees, is die neerlê van alles op God se altaar, soos ons ons oë afkry van die dinge wat ons besit. By Pinkster was dit gesê, “En die menigte van die wat gelowig geword het, was een van hart en siel, en nie een het gesê dat iets van sy besittings sy eie was nie, maar hulle het alles in gemeenskap gehad” (Handelinge 4:32).

Die Hut herinner ons om onsself te onttrek van alle vleeslike begeertes.

“Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om hulle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel” (1 Petrus 2:11). Dit is amper onmoontlik vir iemand onder vyftig jaar om te dink aan ewige waardes, omdat hulle aanneem dat hulle baie tyd oor het. Wanneer jy in jou sestigs en sewentigs kom, leer die natuur ons hoe kort die lewe is! Dit is baie makliker om te dink dat ons vreemdelinge hier is! Maar God sou wou hê ons almal moet in die fleur van ons lewens stop, juig, dan luister en onsself afvra, “Is ons jeugdige, skadelike begeertes die risiko werd in die lig van die ewigheid?”

Moses het gekies “om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ‘n tyd lank die genot van die sonde te hê” (Hebreërs 11:25). So, die Here het ons beveel om na die hut te gaan, te besef hoe kort die lewe is, ‘n rukkie te ly, te verdra vir die vreugde wat voor ons gehou word (sien Hebreërs 12:2). “...Want hoedanig is julle lewe? Dit is to maar ‘n damp wat vir ’n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn” (Jakobus 4:14). Probeer dít vir jongmense vertel!

Die hut is bedoel om die wêreld uit ons uit te kry. Gaan daarheen! Verwerp ambisie! Maak hoogmoed dood! Alle mislukte doelwitte, gestel deur ambisie, is oop deure vir begeertes en allerhande sondes. Mense sê, “Wat is die nut? Ek sal dit nooit maak nie.” Daarom vergryp hulle hul! Hulle luister na leuengeeste. Herken hierdie stemme vir wat hulle is: demonies.

Die laaste bewys van herlewing is absolute afsondering van die wêreld.

Sonder ‘n lewe van bekering en afsondering van hierdie wêreld, kan daar geen ware herlewing wees nie. “En die afstammelinge van Israel het hulle afgesonder van al die uitlanders, en hulle het gaan staan en belydenis gedoen van hulle sondes en die ongeregtighede van hulle vaders” (Nehemia 9:2). Waar daar ook al Bybelse herstel is, sal daar ‘n toenemde bewustheid wees van die Here se oproep om jou af te sonder van alles wat wêrelds en sensueel is.

Oor die jare het ek waargeneem dat dit die afgesonderde, Christus-verteerde, heilig-lewende Christen is wat die sekulêre wêreld die meeste beïnvloed. Die goddeloses verwag Christene om afgesonder en heilig te wees. Hulle verwag dat hulle heeltemal “anders” as hulle moet wees. Op die misdaad-geïnfekteerde strate van New York, met demoniese gees wat oral woed – kan slegs ‘n rein, afgesonderde, Christus-gevulde mense die vyand op die vlug laat slaan. Kompromie-makers word afgeskrik en hulle eie sondes veroordeel hulle.

God rig ‘n oorblyfsel van gelowiges op wat herlewing wil hê – maar slegs as dit gelowiges verander na die beeld van Jesus Christus. En wanneer dit in sy volheid kom, sal die meeste Christene dit nie herken nie – of, al sou hulle wel, sal hulle dit verwerp. Die afgesonderde oorblyfsel sal die basuin hoor klink en sal weet wat God sê.