'n Christen Slegs In Naam

Die profeet Jesaja het van Israel gesê, "Hulle sondig openlik soos Sodom, hulle steek niks weg nie" (Jesaja 3:9). Huidiglik beskryf hierdie woorde ook Amerika. Ons nasie sondig net soos Sodom gesondig het. Ons het 'n gemeenskap geword waar goddelose dade plaasvind sonder enige skaamte. Ek glo dat Amerika die rand van 'n bodemlose put bereik het.

Selfs die wêreld stem saam dat dinge te ver gegaan het. Ek het onlangs 'n koerantartikel gelees waarin rocksterre, wat jare gelede beroemdheid verwerf het vir hulle immorele dade op MTV, aangehaal word. Vandag is dieselfde musikante geskok oor die gemors wat in Amerika versprei word. Hulle sê die immoraliteit wat plaasvind, is erger as ooit tevore. Slegs 'n paar jaar gelede het dié kunstenaars plesier daaruit geput om immoraliteit na hoër hoogtes neem. Nou skud hulle net hul koppe in afkeer oor wat hulle sien. Hulle erken, "Selfs ons kan nie hanteer wat vandag aangaan nie. Hierdie nasie het alle perke oorskry."

Hoe sal die Here reageer op ons skaamteloosheid? Wanneer ongeregtigheid in Israel floreer het, het God met ekonomiese ondergang en depressie geantwoord. Dit het gelyk dat die enigste manier waarop God die mense se aandag kon kry, was om hulle bestaansmiddele weg te neem: "Die Here ... gaan uit Jerusalem en Juda verwyder: almal wat sorg vir brood en water" (Jesaja 3:1). Dit beteken duidelik 'n ekonomiese ramp.

Ek glo ekonomiese probleme is ook die enigste manier waarop God Amerika se aandag kan kry. Hoe anders kan Hy 'n houvas kry oor 'n sonde-mal nasie, behalwe deur elke persoon se beursie aan te raak? Hy sê aan ons, net soos Hy aan Israel gesê het, "Ek sal julle ekonomie benadeel. Julle sal sien hoe Ek julle jare van voorspoed stop sit."

Jesaja beskryf dan 'n ongewone prentjie: "Daardie dag sal sewe vrouens een man beetpak en sê 'Ons sal ons eie brood eet en self vir ons klere sorg. Laat ons net jou naam dra, neem ons smaad weg" (Jesaja 4:1). Sewe jong vroue probeer spesiale reëlings tref om 'n sekere man te trou. Tog word geen liefde of hofmakery genoem in dié ooreenkoms nie. Geen woord is gefluister oor verlowing, intimiteit, ander versaak of oor getrouheid nie.

Wat gaan hier aan? Jesaja vertel ons "dié vroue soek nie 'n man om lief te hê, of om in hulle behoeftes te voorsien nie. Al wat hulle wil hê is die man se naam. Hulle soek 'n liefdelose, nie-bindende huwelik, om aan hulle 'n sekere status te gee."

Die getal sewe het gewoonlik 'n geestelike betekenis in die Skrif. Die getal sewe verteenwoordig mootlik 'n sekere groep mense wat lyk of hulle 'n deel in God se koninkryk het. Hulle sê aan die man, " Ons sal vir onsself voorsien. Al wat ons wil hê, is jou naam, om ons smaad weg te neem. Ons wil goed lyk vir die wêreld. Jou naam sal ons daardie status gee."

Ek glo dat Jesaja van die kerk praat. En die man met wie die sewe vroue wil trou, is Jesus. Die profeet illustreer iets baie belangrik. Hy sê in moeilike tye sal mense probeer om met Christus te 'trou' omdat dit gerieflik is. Maar sulke Christene is slegs Christene in naam. Hulle sal probeer om geestelik te lyk, en selfs sê dat hulle deel is van die koninkryk van God. Maar hulle sal probeer om met God te onderhandel. Hulle sal sê: "Ek wil U hê, Here. Maar ek wil my eie rigting inslaan en my eie ding doen. Gee my net u Naam. Ek wil gesien en geken word as een van u eie, u bruid."

Sulke mense wil nie beklee wees met Christus in 'n klere van geregtigheid nie. Hulle wil nie intimiteit met God hê, of afhanklik van Hom wees nie. Hulle wil vir hulle self lewe. Hulle wil geen verpligtinge of 'commitment' hê nie. Deur hulle gesindheid sê hulle aan God, "Laat my die assosiasie met U geniet. Dan sal ander my as 'goed' sien."

Ons sien Jesaja se profesie nou in vervulling kom. Kerke in Amerika en reg oor die wêreld is gevul met miljoene mense, wat hulle self Christene noem en nie 'n intieme verhouding met Jesus het nie. Hulle spandeer geen tyd in gebed met Hom en tel ook nie hulle Bybels op om te sien wat Hy van hulle verlang nie. Dit is ongelooflik dat God nog steeds geduldig met sy mense is, Hy seën hulle nog steeds en laat hulle voorspoedig wees. Tog kan hulle hulself nie sover bring om selfs eenvoudig te bid, "Dankie, Here. Wat wil U van my lewe hê?", nie.

Op 'n manier het hulle hulself verbind aan die naam van Christus. Maar hulle het dit totaal op hulle eie gedoen. Ons God sal geen deel hê aan so 'n reëling nie.

Die wyse maagd, aan die ander kant, het 'n groot passie vir die bruidegom. Sy verlang na intimiteit met hom: "Die man wat ek liefhet is myne, en ek is syne" (Hooglied 2:16). Die kreet van die ware Christen is, "Here, ek wil nie net U naam hê nie. Ek verlang die hele tyd na U . Ek dink aan U elke nag, wanneer ek bed toe gaan. En elke môre wanneer ek wakker word, gaan my hart uit na U."

"Ook ... het ons U verwag. Tot U naam en tot u gedenknaam gaan die begeerte van ons siel uit. Met my siel begeer ek u in die nag: ook met my gees in my binneste soek ek U" (Jesaja 26:8-9 OAV).

Ja, die ware gelowige verklaar: "Ek is baie bly oor die Here, ek juig oor my God, want Hy het my gered, vir my oorwinnaarsklere aangetrek. Ek is soos 'n bruidegom met 'n priesterskroon op, soos 'n bruid met haar juwele aan" (Jesaja 61:10 ).

Die Here skud nou ons nasie. En ons gaan binnekort Jesaja se profesie in vervulling sien kom. God gaan met ons deel soos wat Hy met Sodom en Gomorra gedoen het, want " seuns sal grysaards te lyf gaan, en dié wat nie gesag het nie, die vooraanstaandes" (Jesaja 3:5).

Binnekort sal Die Here se regverdige oordeel vir almal duidelik wees wanneer Hy voorspoed van mense begin terughou. En soos "daardie dag" nader, sal baie voorgee dat hulle met Christus getroud is. Maar hulle is slegs in naam aan Hom verbind. Die tragedie is dat hulle glad nie aan Hom behoort nie.

Ons gaan ook kyk na 'n ongelooflike gedeelte in een van Jesus se gelykenisse: "Toe die bruidegom lank wegbly, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak" (Matteus 25:5). Al die maagde, die verstandige en onverstandige meisies, was vas aan die slaap. Christus beskryf 'n slapende kerk net voor sy wederkoms. Hy waarsku Markus, "Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die huiseienaar kom nie, in die aand of middernag of met die haankraai of die môre vroeg nie, sodat wanneer hy onverwags kom, hy julle nie aan die slaap kry nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Bly waaksaam!" (Markus 13:35-37).

Dit is vir my moeilik om hierdie gelykenis van Christus te verstaan. Hoe kon die verstandige meisies gelaap het? Hoe kan enige dienskeg van God, wat so lank vir Jesus se koms voorberei het, slaap as die Here aankom?

Dit is toe dat ek die harde werklikheid van Jesus se gelykenis sien. Ek het Jesus se profesie onthou dat daar in die laaste dae 'n groot verval sal plaasvind in die kerk. Toe onthou ek Paulus se waarskuwing: "Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die finale tyd van ons verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het" (Romeine 13:11). Paulus se waarskuwing impliseer dat voor Jesus se wederkoms, 'n groot slaap op baie Christene sal val. Selfs die reverdiges is 'n gevaar om aan die slaap te raak.

Paulus het ook gewaarsku, "... Daarom sê die lied: 'Word wakker jy wat slaap, en staan op uit die dood; en Christus sal jou lewe verlig.' Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in 'n goddelose tyd" (Efesiërs 5:14-17). Die apostel versoek dringend, "Word wakker, heiliges. Moenie slapende maagde wees nie. Wees wys, en bly waaksaam en wag op die Here se wederkoms."

Maak geen fout wie Paulus hier aanspreek nie. Hy praat met die "kinders van God" (5:1). Hy sê ook, "Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons wakker bly en nugter wees. Dié wat slaap, is van die nag; en die wat hulle dronk drink, is van die nag" (1 Tessalonisense 5: 6-7).

Baie gelowiges sal deur hierdie groot slaap getoets word. Huidiglik leef ons in 'n donker uur, met middernag wat vinnig nader sluip. Ons Here se wederkoms is nader as ooit tevore. Maar as ek rondkyk, sien ek baie gelowiges in 'n diepe slaap val. Inderdaad, deur die jare het hierdie gees van slaap 'n menigte van mense oorval.

Dink aan 'n man wat aanspraak maak dat hy 'n Christen is. Die man bid selde of nooit. Tog spandeer hy ure voor die televisie terwyl hy sport kyk. Hy het ook baie ander tyd vir stokperdjies, ontspanningsaktiwiteite, jag en visvang. Maar hy maak absoluut geen tyd vir die Here nie.

God is die man genadig. Hy seën hom, maak hom voorspoedig en voorsien vir sy familie. Tog kan dieselfde man wat aanspraak maak dat hy Christus liefhet, nie eens vir vyf minute op sy knieë gaan en God dank nie. Hy is in gevaar om slegs 'n Christen in naam te word.

Dink nou aan 'n vrou wat aanspraak maak dat sy 'n Christen is. Sy spandeer ure op die foon met haar vriendinne. Sy maak elke aand tyd om haar gunsteling televisie program te kyk, en spandeer ure aan lees. Tog het sy geen tyd vir intimiteit met Jesus nie. As sy bid, is dit per geleentheid, wanneer daar 'n krisis in die familie is. Maar die Here is nie baie in haar gedagtes nie. Sy is ook in gevaar om slegs 'n Christen in naam te word.

Sulke gelowiges is nie voorbereid op die wederkoms van hulle Here nie. Met elke dag wat verbygaan, doof hulle lampies uit. Die swak verhouding wat hulle met Jesus het, verdwyn stadig, maar seker. Tog waarsku die Skrif duidelik, "Hoe sal ons dan ontkom as ons so 'n groot saligheid verontagsaam het" (Hebreërs 2:3).

Hoekom sal die Here slapende, lou-warm, belangelose volgelinge saam met Hom in die hemel wil hê? Hoekom sal Hy diegene wil hê, wat hulle vir Hom op aarde skaam, wat verveeld is met die dinge van God, wat min gepla is oor kerk, gemeenskap en intimiteit met Christus? Ons doel in die hemel sal wees om God te aanbid en Hom te dien vir ewig. Hoe kan enige iemand verwag om die ewigheid in die hemel te geniet as hulle nie 'n wandel met Jesus op aarde kan verdra nie.

Somige sal antwoord, "Dinge sal anders wees as ek sterf. Ek sal skielik verander. Die Here sal my op daardie oomblik 'n nuwe hart gee. Dan sal ek Hom wil dien."

My reaksie daarop sou wees dat die dood niks verander nie. Jy sal dan geken word soos jy nou geken word. En die karakter wat jy hier besit, is dieselfde karakter wat jy sal hê wanneer jy voor God staan. As jy nou 'n lui persoon is, sal jy dan dieselfde karakter hê. As jy sterf as 'n halfhartige gelowige, 'n Christen slegs in naam, sal dit wees hoe jy bekend sal staan op die oordeelsdag.

Die Bybel sê dat ons almal voor die regterstoel van Christus sal moet staan. Wanneer daardie tyd kom, sal die Here ons vra om rekenskap van ons lewe te gee. Hy sal vereis dat ons rekenskap gee van hoe ons, ons tyd spandeer het. Hoe verwag u om Hom te antwoord? Hy skryf alles op wat u hier doen en sê. U sal niks kan ontken wanneer Hy die hemelse rekords oopmaak nie. Sal sy rekords bekend maak dat u amper nooit aan Hom gedink het nie?

U mag aanspraak maak op, "Wel, ek weet God is lief vir my."

Ek sou antwoord, "Hy is verseker lief vir u. En daar sal baie ander soos u, vir wie God lief is, wees op daardie dag. Maar Hy is ook 'n God van geregtigheid en reverdigheid. Dit is hoekom sy mense in die Ou Testament woestyn in rebellie gesterf het, selfs al het die Bybel telkemale gesê dat God hulle liefhet. Die feit van die saak is, hulle het nooit toegelaat dat hulle harte verander word nie. En baie mense is op presies dieselfde pad.

Moenie verkeerd verstaan nie. God is lief en verlang na sy sondebelydende, maar slapende mense. Al wat Hy van hulle wil hê, is 'n oop hart om sy stem te hoor, en 'n passie om van Hom te hoor. Tog, nadat hulle waarskuwing op waarskuwing gehoor het, ignoreer baie gelowiges nog steeds die Here, en verwaarloos hulle sy gawe van saligheid. In my gees hoor ek hoe Jesus vir dié mense sê: "Hulle verwaarloos nie net vir my nie. En nie net het hulle, hul passie vir my eenkant geplaas nie. Hulle dink nie eers meer aan my nie. Ek is nie eers meer 'n verbygaande gedagte vir hulle nie.

As ek God se droefheid kon uitdruk, sou ek dit só opsom: Die Here is hartseer oor die duisende wat vantevore wyse maagde was. Eens op 'n tyd, het dié mense verlang na sy wederkoms en ywerig vir sy koms voorberei. Hulle was wawyd wakker, hulle harte was aan die brand, hulle gedagtes en siele vol passie vir Christus. Maar met verloop van tyd het dieselfde wyse maagde stadig maar seker van hom weggedraai. Na 'n ruk het hulle die perke oorskry. En nou het hulle by die geselskap van die dwase maadge wat Jesus beskryf, aangesluit.

U mag sê, "Ek is nie een van die dwase maagde nie. Ek erken ek is nie 'n aan die brand getuie soos eens op 'n tyd nie. Maar dit voel nie vir my dat die perke oorskry het nie. Ek het nog steeds liefde vir hom in my hart. Ek lees my Bybel, gaan getrou kerk toe, en ek is 'n toegewyde lewensmaat en ouer."

Maar het u nou 'n passie vir Christus? Honger en dors u na meer intimiteit met Hom? U verklaar u liefde aan hom. Maar is dit koue of louwarm liefde?

As u waarlik 'n wyse maagd is, as u nog nooit u intieme liefde vir Jesus versaak het nie, neem kennis van die waarskuwing in Spreuke: "Luiheid laat 'n mens diep slaap, 'n lui mens ly honger" (Spreuke 19:15). U mag miskien nie aan uself as lui dink nie. Maar luiheid is die regte woord vir die geestelike besoedeling van baie Christene wat op eens tyd passievol oor Jesus was.

Luiheid het hulle beetgepak toe hulle dwase, vleeslike goed in hulle lewens begin toelaat het, wat hulle nooit vantevore sou toelaat nie. Soos hulle toegegee aan hierdie dinge, laat hulle toe dat hulle ywer stelselmatig verdwyn. Binnekort mis hulle hul toegewyde tye van gebed en oordenking van God se woord. Stadig word hulle halfhartige, louwarm gelowiges. En oor 'n tyd val hulle in 'n gevaarlike slaap.

Ek vra u, word u lui in u liefde vir God se woord? Spandeer u steed soveel tyd moontlik aan die woord, of mors u ure op die internet of voor die televisie. Neem kennis van die duidelike waarskuwings van die woord: as u lui word en in 'n geestlike slaap val, sal u uiteindelik die perke só ver oorskry wat u nooit u gedink het moontlik is nie. En u sal uself in die geselskap van die dwase maagde vind. U sal oorgegee word aan 'n diepe slaap. En voor u dit besef, sal u lamp van voorbereiding se vlam uitdoof en doodgaan.

Die saak van slapende Christene brand nou al vir jare in my gees. Ek glo dat God vandag dieselfde boodskap aan baie ander herders gee, net soos Hy dit vir sy profete van ouds gegee het. Tog het baie van God se sprekers aan die slaap geraak, net soos die skape onder hulle sorg. Jesaja het beskryf wat ons vandag sien, toe hy uitgeroep het, "Dié wat oor my volk moet waak is almal blind, hulle weet niks nie. Hulle is almal stom honde, hulle kan nie blaf nie; hulle lê net, hulle wil net slaap" (Jesaja 56:10).

Die onwyse maagde was nie teenwoordig by die huweliksmaal nie. Hulle was totaal uitgesluit. Jesus se gelykenis gee aan ons 'n duidelike waarheid wat ons moet aanvaar: toe die Here kom, was net dié wat voorberei was, toegelaat om saam met Hom te wees.

Volgens die gelykenis, "In die middel van die nag was daar 'n geroep " (Matteus 25:6). Terwyl ek vandag na die kerktoneel kyk, sien ek net lui herders en slapende heiliges. Ek sien ook plesier soekerige Christene wat vreesloos en kop eerste in alle soorte begeerlikhede val. Tog, ten spyte van al dié boosheid en luiheid, het God nie sy mense verlaat nie. In plaas daarvan, het Hy sy getroue herders opdrag gegee om waarskuwings uit te roep. En sy heilige oorblyfsel van wagters sal nie stilgemaak word nie. Ten spyte daarvan dat hulle geterg, geminag en gespot word, roep dié mense die boodskap wat in hulle harte brand luidkeels uit: "Dit is middernag. Die bruidegom kom sy bruid haal. Jesus sal binnekort by die deur wees. Christen wees gereed om die Here te ontmoet."

Hier is die uitroep van die uur: "Wees gereed." Is u gereed? Het u voorberei om Jesus van aangesig tot aangesig te ontmoet?

Tog vetrel die Bybel ons dat 'n tweede uirroep gehoor sal word. Ons hoor nog nie op hierdie oomblik die uitroep nie, maar ons sal dit binnekort hoor. Ons sal dit nou hoor wanneer God begin om in krag die aandag van 'n vervalle wêreld te kry. En ons sal dit hoor terwyl ons Jesus se woorde voor ons in vervulling sien kom: "Die mense sal beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat wat oor die hele wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemelruin sal ontwrig word" (Lukas 21:26).

Diep binne weet elkeen in hierdie nasie en regdeur die wêreld dat die mensdom 'n kritiese tydperk bereik het. Daar is 'n innerlike wete, 'n intuisie wat sterker word, dat dié wêreld nie soos dit is kan aangaan nie. Iets bonatuurliks moet gebeur. Daar moet een of ander vorm van ingryping van bo wees. Tekens oral rondom ons wys dat die Here se wederkoms binnekort hier is.

Die dag kom vinnig nader. En soos daardie oomblik nader kom, sal duisternis en chaos toeneem op die aarde. Die fondasies van elke gemeenskap sal in sy diepste wese geskud word. Self nou al roep Jode reg oor die wêreld uit, "Ons Messias kom uiteindelik. Ons kan voel Hy staan by die deur."

Wanneer die oomblik van ons Here se koms uiteidelik kom, sal dié uitroep van 'n slapende kerk opgaan: "Ons lampe het doodgegaan!" Baie sal besef hulle het nie wat dit vat om te volhard nie. Die kond en louwarmes sal skielik rond hardloop, desperaat om op te maak vir verlore tyd. Hulle sal pleit by hulle dominees of pastore, "Help my, ek weet nie wat om te doen nie. Ek is geestelik dood. Vertel my asseblief hoe ek dit kan hanteer." Maar baie van daardie dominees en pastore sal net so deurmekaar en verwonderd wees soos hulle skape.

Jesus het ons reeds in hierdie gelykenis gewaarsku: "Terwyl die onverstandiges olie gaan koop het, het die bruidegom gekom" (Matteus 25:10). Die wyse maagde het vir die onverstandiges gesê om self vir hulle olie te gaan koop. Maar terwyl die onverstandige maagde weg was, het die bruidegom gekom.

Wanneer daardie oomblik aanbreek, is daar nie tyd om die karakter van Christus in my gees te ontwikkel nie. Ons sal nie tyd hê ons geestelike bronne op te bou nie. En die slapende kerk sal besef dat hulle nie voorbereid is nie. Hulle sal beangs uitroep, "Ek is leeg, droog. Ek het al my tyd gemors om onbelangrike dinge na te jaag. Ek het my lewe totaal gemors. Die Here verskyn, en ek is nie reg nie."

Toe die bruidegom die deur toe maak, is die onverstandige maagde uigesluit met die uitroep op hulle lippe, "Here, maak oop. Laat ons inkom. Maar die bruidegom het geantwoord, "Ek ken julle nie" (25:12). Wat 'n verskriklike gedagte. Op daadie oomblik kan niks anders gesê word nie. Geen verdere appél kan aangeteken word nie. Die Here sal verklaar, "Die deur is gesluit."

Hier is die bewyse van Christus se eie woorde dat slegs ware, wedergebore gelowiges ingesluit sal word in sy bruidskap. Almal wat probeer het om aan sonde vas te hou in hierdie wêreld, wat net sy Naam wou gehad het, maar nie sy liefde nie, sal uitgesluit word.

Die goeie nuus is dat daar nog tyd is. Die deur is nog oop. En die Here se groot begeerte is om u aan sý kant van die huweliksfees van die Lam te hê. Hy is lief vir u, selfs terwyl u nalatig is. En as u eerlik is, sal u saamstem met sy Woord: "Ja, die gelykenis beskryf my. Ek het lui geword. Ek wil nie 'n onverstandige maagd wees en verlore gaan nie. Ek wil gereed wees wanneer die dag van die Here nader kom."

As u 'n verstandige maagd wil wees, is daar twee stappe wat u moet neem. Dit is eenvoudige stappe, maar hulle kan nie nagelaat word nie as u ingesluit wil word by die verstandige maagde:

1. Maak Christus die middelpunt van u gedagte wêreld. Laat die Here in al u gedagtes wees. Wanneer u wakker word in die môre fluister sy Naam. In die nag, wanneer u gaan slaap, roep uit na Hom in u gedagtes en op u knieë.

"... alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is - watter deug of lofwaardige ssak daar ook mag wees - daarop moet julle julle gedagtes rig" (Filippense 4:8). Laat hierdie vers vir u die basis wees van 'n eenvoudige gebed reg deur die dag: "Jesus, U is getrou, eerlik, regverdig, rein, lieflik. U is my Goeie Nuus."

Paulus skryf, " Die Here ken die gedagtes van die wyse mense en weet dit beteken niks" (1 Korintiërs 3:20). God teken al u gedagtes aan. Hy weet van elke keer wat u aan Hom dink. Gee Hom dus al u "dankie" gedagtes.

2. Bid reg deur die dag, "Here, wees my, 'n sondaar, genadig." Hierdie eenvoudige gebed is die olie van u lamp. Om dit daagliks te bid is hoe u u voorberei om die Here te ontmoet. U sê aan God, "Vader, ek is nie waardig om by U Naam genoem te word nie. Ek het U genade nodig. Ek besef ek is nie wat ek gedink het ek is nie. Ek het gedink ek is 'n goeie mens. Maar watter skrale goedheid ek gedink het ek besit, is van geen waarde nie. Dit is alles vuil lappe in U oë. Ek weet my goeie werke kan my nie red nie. Ek het U genade nodig. Ek verootmoedig/verneder myself nou voor U. Here wees my genadig, ek is 'n sondaar."

Toe die tollenaar hierdie gebed bid het, het Jesus van Hom gesê, "Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is" (Lukas 18:14). Met ander woorde, hier is 'n persoon vir wie Jesus die deur sal oopmaak.

"... As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag" (Hebreërs 9:28). Laat my toe om aan u een laaste vraag te vra: Sien u uit na sy wederkoms? Verlang u om Hom te sien?

Vra om vergifnis, en besluit om Jesus met u hele hart, siel, verstand en krag te soek. As u dit doen, belowe Hy dat u Hom sal vind. Hy sal elke deur vir u oopmaak.

Aan God al die eer, vertaal deur David Barnard.

In hierdie preek is die NAV gebruik tensy anders vermeld.
NAV - Nuwe Afrikaanse Vertaling
OAV - Ou Afrikaanse Vertaling