'n Boodskap Vir Christene Wat Slegte Dae Beleef

Die Christen lewe is nie 'n lewe wat altyd voor die wind gaan nie. Elke gelowige gaan slegte dae beleef, dit maak nie saak hoe heilig hy/sy is nie. In teendeel, ek glo hoe heiliger 'n persoon is, hoe meer beproewend en folterend sal sy moeilike dae wees.

Gelukkig weet die meeste Christene dat Jesus nie net 'n Redder is "vir goeie tye alleen nie." Hy is met ons, nie net as dit goed gaan nie, maar ook tydens ons moeilike dae. As moeilike tye ons tref, verdwyn Hy nie en sê, "Ek sal terugkom as jy dit alles uitgewerk het nie." Nee, Hy is getrou en gee om tydens enige seisoen. En Hy word geraak deur elke gevoel wat ons ervaar tydens ons moeilike tye.

Die apostel Paulus spreek dit aan toe hy die volgende geskryf het, "Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie" (2 Korinthiërs 4:7). Stel u dit voor! Die skat waarna Paulus verwys is die kennis en teenwoordigheid van Jesus Christus. En ons hou die kosbare skat in ons liggame!

Tog beteken die woord wat Paulus vir erde gebruik, in Grieks "breekbare klei" wat beteken, "swak, maklik breekbaar, maklik om te versoek." Hy sê, "Ja, ons hou Jesus se teenwoordigheid in ons liggame. Maar ons liggame is swak, word maklik verlei en maklik gebreek!"

Die feit is, ons almal lei aan wat die Bybel "swakheid" noem. Vir baie Christene, 'n algemene "swakheid" van die lewe is 'n broos samestelling of swak gesondheid. Paulus praat van Timotheus se aanhoudende siekte, wat hy "herhaalde ongesteldhede" noem (1 Timotheus 5:23).

Die Griekse woord vir "swakheid" beteken hier "sieklik, sonder krag, swak na liggaam en gees." Daar is ook ander soorte van ongesteldhede behalwe fisies, en hulle is net so moeilik om te hanteer. Na my mening, is swakheid van die gedagtes moontlik die een wat die algemeenste is. Ek praat nie van geestes siektes nie, maar eerder van daardie soort onverklaarbare tye wanneer u gedagtes u verraai en in die steek laat en speletjies met u speel. Laat ek verduidelik.

Dit is moontlik om bed toe te gaan en tevrede te voel, in die sewende hemel, en tog word u die volgende oggend wakker met 'n donker wolk van mismoedigheid wat oor u kop hang. Die hele dag voel u totaal gebind deur die swaarmoedigheid van u gedagtes. U weet nie waar dit vandaan kom nie, maar die wolk van mismoedigheid bly oor u hang, en dit wil nie weg gaan nie.

Skuldgevoelens, vrees en angstigheid is alles swakhede van die gedagtes. Sulke dinge spook dalk by u as gevolg van u verlede, of as gevolg van sekere sondes wat nog aan u lewe vasklou. Dit kan nie verhelp word dat hierdie swakhede u gevoelens sal affekteer nie. U mag dalk nou sê dat u nie volgens u gevoelens leef nie, maar in die ware sin van die woord doen u dit.

Kom ons neem 'n voorbeeld: dit is dalk vir u moeilik om harde woorde wat iemand 'n paar dae gelede teenoor u gesê het afgeskud te kry, Of, dit is moontlik dat u gedurigdeur 'n stryd voer met gevoelens van verwerping en onwaardigheid. Sonder twyfel het sulke gevoelens 'n direkte effek op die manier hoe u leef.

Vir sommige mense, is Moedersdag en Vadersdag van die moeilikste dae van die jaar. Dit is moontlik dat hulle ouers nie baie liefde gegee het, of dat hulle alkoholiste was, of eenvoudig nie daar was nie. Baie mense kan nie een goeie dag onthou saam met hulle Ma's of Pa's nie. En so word Kersfees en Dankseggings dag die moeilikste tye van die jaar vir hulle.

Dis ironies, maar my moeilike dae kom gewoonlik terwyl ek besig is om God se Woord te ondersoek. Wanneer ek alleen met God en my Bybel is, kan ek oorval word met gevoelens van onkunde. Ek besef dat daar 'n oseaan van waarhede voor my is, maar ek kan onmoontlik alles inneem omdat daar so baie daarvan is.

Ek raak selfs meer gefrustreed as ek die geskrifte van predikers wat 300 jaar gelede geleef het, lees. Ek eindig op deur uit te roep, "O, God, ek is soos 'n baba in my verstaan hiervan in vergelyking met hierdie geestelike reuse! Hulle het geleef in die sogenaamde donker eeu en tog as jong manne het hulle geskryf oor dinge wat ek nog moet leer verstaan in my sestigs. Waarom is dit so moeilik vir my om dit te verstaan?"

Die enigste antwoord wat ek ontvang het, is wat ek hoor in Paulus se woorde: "Nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie" (Efesiërs 2:9). Alle krag rus in God insluitende die krag om die waarheid te verstaan en 'n goddelike lewe te leef. Die groot skat word in erde kruike gehou sodat alle eer aan Hom mag behoort!

As u moeilike dag demoniese aanvalle op u geloof insluit, mag u in die versoeking kom om te dink dat u ongeestelik is omdat u dit deurgaan. Tog is daar niks wat verder van die waarheid af is as dit nie.

'n Paar weke gelede het 'n goddelike jong man my gekontak, hy was in trane. Hy't uitgeroep, "Ek het so pas die ergste dag van my lewe gehad en ek weet nie wat om te doen nie! 'n Snaakse gevoel het vandag oor my gekom, en ek kry dit nie afgeskud nie. Broer Dave, ek weet nie of daar 'n God is nie!"

Die jong man het geen idee gehad waar sy gevoelens vandaan gekom het nie. En hy was geskok en seergemaak deur die verskriklike gedagtes wat in sy kop opgekom het. Hy't bely, "Ek kan God se teenwoordigheid nie voel nie. En nou kan ek dit nie verhelp om te twyfel of Hy ooit bestaan nie. Wat gaan ek doen? Ek wil die bose gedagtes nie koester nie!"

Ek het vir hom gesê, "Moenie bang wees of mismoedig nie. Glo my, dit is 'n ou skelmstreek van die duiwel. Hy hou daarvan om dit te probeer, veral met jong gelowiges wat kosbaar is vir God. Op die oomblik is hy besig om die gedagtes in jou in te spuit en probeer so om jou geloof te tref. Hy wil jou deurmekaar maak!" Min het die jong man geweet, dat ek 'n paar jaar gelede deur 'n soortgelyke situasie gegaan het met my eie seun Gary.

As 'n tiener, het Gary eendag huistoe gekom na skool en reguit na sy kamer gegaan sonder om 'n woord vir enige iemand te sê. Ek het geweet iets was verkeerd daarom het ek aan die deur gaan klop en gevra of ons kan praat.

"Ek wil jou nie seer maak nie, Pa," het Gary gesê en in trane uitgebars. "Ek het hierdie verskriklike gedagtes. Ek is nie meer seker of daar nog 'n God is nie!"

Daardie woorde het my hart gebreek, want ek het geweet Gary is deur God geroep om te preek. Ek wens dat ek toe die geestelike insig gehad het wat ek nou het rondom die probleem. Maar al wat ek toe vir Gary kon sê, was: "My seun, vertrou Jesus net op die beste manier wat jy kan. Hou net vas en moenie moed verloor nie. Hy sal jou deur die storm in jou gedagtes neem."

God het Gary deur sy stryd geneem. En vandag is my seun die pastoor van 'n kerk in Denver, na amper twee dekades van pionierswerk in die kerke in die middestad en in die oorsese bedieninge.

Ek kon nou aan hierdie jong man dieselfde sê, as destyds aan Gary: "Hou net vas. Jou hemelse Vader weet presies waardeur jy gaan en Hy sal jou deur alles neem. Onthou, God het belowe dat Hy jou nooit sal verlaat nie. Hou net aan om na Hom te draai, deur geloof alleen!"

As u die soort stryd ervaar, moet u verstaan: U is nie ongeestelik terwyl u die soort aanvalle ervaar nie. U is nog steeds die kind van die hemelse Vader, en Hy sal nie toelaat dat u alleen veg nie. Hy sal die Heilige Gees stuur om al u twyfel weg te jaag! Moet dus nie probeer om met die duiwel te argumenteer nie. U kan niks aan hom bewys nie. Inteendeel, as die volgende aanval kom, hardloop na u hemelse Vader. Staan dan stil, met geduld en hoop.

Ek het een keer 'n brief van die vrou van 'n pastoor in 'n Pinkster kerk ontvang. Haar man het 'n paar jaar gelede gesterf. Sy skryf dat hy 'n kragtige preker was, 'n toegewyde herder vir sy kudde en 'n liefdevolle, bedagsame vader. Maar hy het 'n ernstige probleem gehad. Hy was gebind deur 'n gees van owerspel.

Hierdie man moes van vier verskillende kerke bedank, omdat hy so baie verhoudings met vrouens gehad het. Na die bedanking, sou hy die reguit pad vir 'n paar jaar loop, maar dan sou sy verslawing weer na vore kom, en het hy die patroon van owerspel weer van voor begin.

Gelukkig, was sy vrou 'n student van God se woord en 'n gebeds stryder wie deur alles naby aan die Here gebly het. Haar vriende sou haar aanraai om haar man te los, en het gesê dit is belaglik om by 'n man te bly wat haar aanhoudend op so 'n manier mishandel. Maar, het sy geskryf; "Ek weet God haat egskeiding. Ek het dus besluit om net aan God vas te hou."

Elke keer as haar man haar gekul het, het sy 'n rivier vol trane gehuil, en het bitterlik seer gekry. Maar sy het altyd gevoel dat die Here vir haar sê dat sy by hom moes bly, hom vergewe en probeer om hom te help. Sy het dus getrou al haar pyn na die Here geneem en elke keer het Hy haar die krag gegee om aan te gaan.

Geliefdes, die vrou het nie net slegte dae gehad nie, sy het slegte jare gehad! Sy skryf dat sy net 'n paar kort oomblikke van vreugde onthou in al die jare dat sy getroud was. Maar sy het geweet dat God belowe het dat Hy haar sou seën en eer aan die einde.

En so was dit ook. Vandag is al haar kinders lief vir die Here en is getroud met goddelike Christene. En, verbasend genoeg, al die kinders het net goeie herinneringe van hulle pa, ten spyte van sy baie tragiese foute.

Bowendien is hierdie liewe vrou geseënd, sy het aansien en word geëer in haar kerk. In werklikheid, sy word dikwels genooi om met jong getroude vrouens te gaan praat. Haar raad aan hulle is altyd dat hulle nie hulle mans moet verlaat met die eerste probleempie nie. In plaas daarvan sê sy vir hulle, "Jesus was altyd meer as genoeg vir my, deur elke storm. Hy het my geseën bo alles wat ek ooit voor kon hoop!"

Sy het iets in haar brief geskryf wat my diep getref het. "Daar was verskriklike, moeilike dae waarin ek gevoel het om toe te gee aan my emosies. Ek kan nie vir jou sê hoeveel keer ek wou opgee nie. Ek het gedink, 'My man preek met vuur en almal in die kerk se harte word beweeg. Maar hy's 'n egbreker!'

Ek is lastig geval deur die gedagtes dat al my probeerslae verniet was. Maar ek het geweet dat ek 'n belofte van God gehad het. En as ek gebid het, het ek hom aan sy belofte aan my herinner en Hy het my altyd die krag gegee om aan te gaan. Nou is ek bly dat ek nie opgegee het nie. Ek kan sê dat God Sy goedheid aan my bewys het!"

Paulus is deur 'n slegte dag getref terwyl hy op reis was na Macedonië. "Want ook toe ons in Macedonië gekom het, het ons vlees geen rus gehad nie, maar ons is op allerhande maniere verdruk; van buite was daar aanvegtinge, van binne verskrikkinge" (2 Korinthiërs 7:5). Hierdie man van God het bly dat sy vlees gepla was nie net deur een vrees nie, maar deur baie vrese!

Helaas, Paulus was geen super mens nie. Hy was ook onderwerp aan dieselfde menslike emosies wat ons almal ervaar. Op 'n sekere tyd, het al die gelowiges in Asië teen hom gedraai, mense vir wie hy sy lewensbloed gegee het. Hy skryf, ". al word ek , terwyl ek julle oorvloediger liefhet, minder bemin" (12:15).

Ja, Paulus het verskriklike dae gehad. Maar hy het nooit toegegee aan sy gevoelens en die versoekinge wat daarmee saamgegaan het nie. Hy getuig in sy moeilikste tyd: ". ek is vervul met troos; ek loop oor van blydskap in al ons verdrukking" (7:4). Dan voeg hy by: ". Hy wat die nederiges troos, naamlik God, het ons getroos . " (vers 6).

Gaan u deur 'n slegte dag, 'n slegte week, 'n lang seisoen van swaarmoedigheid? Is u teneergedruk, mismoedig, met gedagtes om op te gee? As dit u beskryf, hoe dink u reageer God op u toets? Bestraf Hy u of kasty Hy u? Nee, nooit! Paulus skryf, "Die Here is nooit nader aan u, nooit meer gereed om u te help, as wanneer u neerslagtig is en seer het nie."

"Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferming en die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking" (2 Korinthiërs 1: 3-4). Die Griekse woord vir "verdrukking" hier beteken "om nader te roep" wat 'n ongelooflike iets! As ons swaar dae ervaar, trek ons Hemelse Vader voordeel daaruit om ons nader aan Hom te trek!

Soos ons voortgaan in ons wandel met die Here, moet ons swaar dae minder intens word. En ons moet in ons swaar dae meer bewus word daarvan dat ons al die bronne tot ons beskikking het om met die vyand klaar te speel.

Ek glo dat ons swaar dae dikwels bedoel is om ons tot volwassenheid te bring en van ons kinderagtige bindinge uit te verlos. Dink hieroor na: Die meeste van ons swaar dae word veroorsaak deur ons kinderagtige reaksies op lewens situasies. En dink aan die manier hoe kinders op die lewe reageer. Die een oomblik lag hulle, en die volgende oomblik skree hulle. Hulle is dikmond. Hulle is 'n bondel vrees. Hulle kry maklik seer, en hulle huil baie. Hulle kan nie lank aandag gee of geduld hê nie, en hulle vereis onmiddelike bevrediging.

Tog, ten spyte van alles het goddelike ouers hulle kinders lief en vertroos hulle hulle deur al die lewens ervaringe. Geen kind se woedeaanval sou ooit kon veroorsaak dat 'n liefdevolle ouer sy kind sal verstoot of verwerp nie.

Ons as Christene doen soms dieselfde, ons loop dikmond rond of ons gooi ons vleeslike woedebuie as ons moeilikhede in die gesig staar. Ons roep uit, "Reg God, as dit die manier is hoe U my gaan behandel. As U gaan aanhou dat slegte dinge met my gebeur, waarom sou ek dan enige moeite doen om te bid?"

Tog bemin en vertroos ons hemelse Vader ons deur elke woedebui, deur ons laste, ons geskree, ons kinderagte optrede. U sien, Sy groot begeerte is dat ons in die middel van al ons beproewinge sal begin verstaan wie ons is en wat ons as Sy kinders besit. Hy weet dat wanneer ons deur die wind en branders van ons emosies rondgeslinger word, ons vergeet dat ons Sy kinders is en ons ver onder ons voorregte begin leef. Tog leer Sy woord vir ons dat ons sy erfgename is en ons mede-erfgename met ons ouer broer, Jesus!

"Maar ek sê: So lank as die erfgenaam 'n kind is, verskil hy niks van 'n dienskneg nie, al is hy heer van alles" (Galasiërs 4:1). Paulus praat hier van 'n Romeinse gebruik van die tyd. 'n Kind sou deur 'n ryk man aangeneem word en by 'n leermeester geplaas word tot hy agt was. Dan, van die ouderdom van agt tot vyf-en twintig, sou die kind onder die toesig van 'n beskermheer geplaas word. Deur al die jare, sou die kind die erfgenaam bly van 'n fortuin, tog het hy feitlik geen beheer of krag oor sy eie lewe gehad nie.

Paulus sê dat so 'n kind 'n illustrasie is van diegene wat onder die wet is. Die wet is die leermeester wat ons in God se bevele onderrig. Maar dan kom 'n tyd wanneer ons skoling op 'n einde kom en ons, ons plekke as erfgename van God se rykdom deur die genade van Christus sal inneem. Tog is daar baie Christene wat nog nie van hierdie kennis besit geneem het nie. Hulle leef nog volgens goeie werke en "moets" en "moenies", en begryp nooit hulle posisie as seuns van God nie. ". so was ons ook, toe ons kinders was, in diensbaarheid onder die eerste beginsel van die wêreld" (vers 3). Hulle dien God steeds as slawe, gebind deur vrees, skuld en wanhoop omdat hulle nooit hulle aanneming verstaan nie!

Paulus sê aan sulke gelowiges, "Jy is nog steeds kinderagtig in jou denke, en werksaam onder die binding van die wet wat jy vir jouself opgestel het. Jy sien nie dat jy dit alles kan oorheers, en daartoe in staat is om deel te neem aan alles wat jou Vader besit nie. Hy't jou aangeneem, het jou lief en het jou in die skool gesit om jou vir iets voor te berei. En die kruis was jou gradeplegtigheid!"

Stel u voor 'n aangenome seun wat se tyd volbring is. Sy opleiding is nou voltooi, en hy het heerskappy geërf oor sy vader se rykdom. Tog hou die seun aan om eweneens in die teenwoordigheid van die diensknegte en onder die terme van slawerny te leef.

Ek vra u: Is dit reg vir die jong man se vader om hom te vertroos in sy slawerny, en hom daarvan verseker dat hy hom liefhet en dat alles sal reg wees? Nee! Enige vader wat sy seun liefhet sou wou hê dat hy sy erfenis moet opeis en sy armoede moet los. Hy sou hom aanmoedig om die rykdom wat syne is vir homself toe te eien!

Net so, vertroos God ons nie net in ons slawerny nie. Hy kom eerder na ons en sê, "Seun, dogter, wanneer gaan jy jou plek inneem aan My sy? Wanneer gaan jy in my huis inkom en besit neem van al die hulpmiddels wat wettiglik aan jou behoort?"

En omdat julle kinders is, het God die Gees van Sy Seun in julle hart uitgestuur, en Hy roep; Abba Vader! Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus" (Galasiërs 4:6-7). "Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus" (Galasiërs 3:26).

As Jesus u Here en Redder is dan is u 'n kind van God. En omdat u 'n kind is, is u outomaties 'n erfgenaam en saam met Christus 'n mede-erfgenaam van al die rykdomme van die Vader!

Natuurlik, het ons posisie as erfgename niks te doen met materiële rykdom nie. Om te sê dat Christus gesterf het om ons ryk te maak in goud en silwer is godslasterlik. Die Bybel sê: "Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik" (Kolossense 2:9). Dit beteken dat God aan Jesus alle rykdom in heerlikheid gegee het. Dus het Hy al die bronne beskikbaar gestel wat ons nodig het om ons uit enige slegte dag wat ons mag beleef uit te bring!

Tog, vra u; "Is God nie geïnteriseerd in ons fisiese welsyn nie? Al my slegte dae het te doen met my rekeninge, my skuld, my tekort aan finansies. Ek is gedurigdeur bekommerd oor my familie se lewens toestand, om net genoeg te hê om van te leef, en elke dag te oorleef."

Geliefde, u Vader begin deur al u fisiese tekortkominge te ontmoet. Sy Woord belowe, "En my God sal elke behoefte van julle vervul na Sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus" (Filippense 4:19). Die Griekse woord vir behoefte hier is van die oorspronklike woord wat beteken, "om alle besigheid te hanteer, alles wat jy nodig het en nodig is."

Paulus sê: "God is getrou om te sorg vir al jou bekommernisse, besigheid, finansies en ander dinge. Dit sluit jou werk, jou kos, jou klere en jou huis. Tog is daar die rykdom van Sy goedheid, sterkte, wysheid en genade asook die rydkom van Sy volle versekering van redding. En bo dit alles, is daar Sy onnaspeurlike rykdom!"

Neem kennis dat Paulus sê, "God sal in jou behoefte voorsien", hy gebruik enkelvoud. In kort, hy sê, "Jy het net een iets nodig: Jesus! Al jou behoeftes is saamgevoeg in Hom. Jy het net nodig om Hom te soek en Hy sal vir jou voorsien!"

Alhoewel u dalk God se liefde vir u mag bevraagteken, Hy veroordeel u nie. Aan die ander kant, voel Hy u pyn en wanhoop. En Hy wil hê dat u moet weet dat Sy stoorkamer vol is met alles wat u nodig het en dat dit alles tot u beskikking is!

Maar Hy sê, "Jy kan nie enige iets daarvan gebruik of geniet nie tensy jy dit in besit neem deur jou geloof. Jy moet besef wie jy is; My kind, My erfgenaam en in My belofte rus dat ek sal sorg vir al jou behoeftes en belange, wys vir My dat jy My vertrou en kom in My rus in!

Ek wil die boodskap afsluit met 'n brief wat ons bediening onlangs ontvang het. Ek glo dit praat kragtig oor die onderwerp van slegte dae:

"Beste Pastoor David, 'n paar jaar gelede het my man 'n werk, wat vir hom baie belangrik was, verloor. Om die waarheid te sê dit was vir hom tragies. Hy't al sy self vertroue verloor, asook sy goeie inkomste en hy het nog nooit weer herstel nie. Alhoewel hy weer werk gekry het, is sy huidige salaris minder as die helfte van wat hy gemaak het.

Nou val die verantwoordelikheid op my om die hoof broodwinner te wees. 'n Paar weke gelede, het ek beplan om na 'n Christen byeenkoms te gaan op 'n Vrydag aand na werk, en het omtrent 45 minute gehad om te gaan rus. Ek het gesoek na iets om te lees, toe die Here my lei na 'n doos met papiere wat ek gehou het.

Ek het een van u ou preke uit gehaal "A place called Wits end". Soos ek die boodskap gelees het, het God se Gees tot my gespreek dat dit presies is waar ek is, "Op my einde". Ek gaan binnekort aftree en my bekommernisse het aangehou ophoop. Ons is besig om te verdrink in ons finansiele moelikhede, met geen einde in sig nie.

"Tog. het God my deur jou boodskap gewys dat ek in woede teen my man gedraai het. Ek het op hom staatgemaak, dit is op die vlees. Ek het nodig om na Jesus alleen te draai as my hoop, as die enigste Een wat vir my kan voorsien en my uit die probleme kan bring. Ek weet my man kan my nooit daar uit bring nie. Ek het jou boodskap gelees, en die versekering ontvang dat God met my is by "my einde".

Later daardie aand het ek na die byeenkoms gegaan, waar een van die sprekers, 'n vriendin van my was. Sy het gepraat van hoe God haar uit 'n finansiële verknorsing gebring het, waardeur sy en haar man gegaan het. Sy het niks teruggehou nie, insluitende al die pynlike ervarings wat sy ervaar het. God het dit so bepaal dat ek dit moes hoor.

Na die tyd, het ek met my vriendin gedeel hoe ek jou boodskap gelees het wat handel oor om aan "jou einde" te kom, en ek het haar vertel hoe God dit gebruik het om met my te praat. Die volgende week, het ek 'n pakkie van haar ontvang. Binne-in was 'n kopie van jou boodskap, "Right Song - Wrong Side". Hoe ontsagwekkend! Ek het my vriendin geskakel om vir haar dankie te sê, en sy't vir my gesê dat sy ander booskappe sal stuur.

"Ek is nog nie heeltemal deur my stryd nie. Dit is nog steeds baie hard. Soms as ek in die pad langs kyk, sien ek potensiële rampe wat ons wil omsluit soos die kinders van Israel. Tog het God my gewys dat ek aan Sy liefde vir my getwyfel het en aan sy getrouheid om vir my te voorsien.

"Ek het ook besef, soos jy my geleer het, dat ek baie goed was daarin om my vrees te onderdruk, maar dat ek nooit my twyfel 'n doodskoot gegee het nie. Nou wil daaraan ook 'n einde maak. Ek wil kies om God te prys omdat Hy my liefhet en vir my voorsien, alhoewel ek nog nie die voorsiening gesien het nie. "My gebed is dat Jesus, die Begin en Einde van my geloof, my twyfel sal genees en aan my die geskenk van geloof om Hom volkome te vertrou sal gee. Ek bid dat Hy vir my ' n lied sal gee om te sing aan die regte kant, as 'n getuienis van God se genade en getrouheid."

Ons bediening ontvang baie briewe soos hierdie een van mense regoor die land wie se geloof besig is om te groei. Hulle glo soos ek dat moeilike tye oppad is vir ons nasie, maar hulle weet die Here gaan hulle deursien. En hulle lewe het Hom as getrou bewys!

Liewe gelowige, daar is dalk meer slegte dae oppad. Maar u moet by die plek uitkom waar u kan sê, "Jesus, ek werp al my sorge nou op U. Ek is 'n erfgenaam van die rykdom van God in Christus Jesus. En ek weet die rykdomme sluit al my fisiese behoeftes in". U kan God op Sy woord neem daarvoor!