Moenie U Beproewinge Verkwis Nie!

"Ek sal wil hê dat julle moet weet broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die Evangelie bevorder het" (Fillipense 1:12).

In hierdie verse sê Paulus aan die Christene in Filippi om hulle nie te bekommer oor al die dinge waarvan hulle gehoor wat met hom gebeur het nie. Al die "dinge" sluit beproewing, hartseer, lyding en swakhede in!

Paulus het die brief geskryf terwyl hy 'n gevangene in 'n Romeinse tronk was. Op daardie tydstip was hy 'n geoefende krygsman van die Evangelie, wat elke denkbare ontbering en menslike gebrek moes verduur. As u Paulus se lewe bestudeer, sal u besef watter dinge hy alles moes trotseer: skipbreuke, mishandelings, houe en slae, skeltaal, bespottings, vervolgings, honger, dors, naaktheid en skending van sy karakter.

Paulus se grootste hartseer het gekom van diegene wat hulle self weergebore gelowiges genoem het. Sommige van sy opponente was jaloerse kerk-leiers wat hele gemeentes teen hom laat draai het. Hulle het sy leefstyl gekritiseer, sy preke bespot, sy boodskappe verkeerd verstaan, sy gesag bevraagteken. Oral waar Paulus gegaan het, het dit gelyk asof hy met droefheid, lyding en moeilikheid begroet was.

Nogtans het Paulus gesê, "...maar ek bekommer my glad nie..." (Hand 20:24). Verder het hy gesê: "sodat nie een van julle sal onder vervolging begin wankel nie: Dat ons ter wille van ons geloof vervolg sal word, staan vas. Dit weet julle." (1 Tessalonisense 3:3-4).

Paulus het die gelowiges verseker, "Ek het julle van die begin af gewaarsku dat as julle Jesus volg - julle vervolging sal hê. So, waarom is julle nou verbaas, dat hierdie dinge oor my gekom het? Dit is mos ons lot in hierdie lewe."

Paulus het hierdie woorde herhaaldelik en reguit aan die Fillipense gestel: "God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly" (Filippense 1:29).

Deesdae is daar 'n sekere teologie in Amerikaanse kerke, wat lui, "As jy jou geloof reg aanwend, sal jy nie ly nie. Jy sal voorspoedig wees en jou nie oor moeilikheid hoef te bekommer nie." Nee - hierdie woorde verskyn nie in die Bybel nie! Inteendeel, Paulus sê ons word aangesê om ter wille van Christus te ly.

Verderaan skryf Paulus dat elke dag as hy wakker word, besef hy, ".Wat daar met my sal gebeur, weet ek nie. Ek weet dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging op my wag" (Handelinge 20:22-23).

Probeer u hierdie prentjie voorstel: Daar was 'n heilige man, deur God geroepe om die Evangelie na die nasies te bring. Tydens elke heilige opdrag het die Heilige Gees aan hom gefluister, "Paulus, die volgende opdrag gaan nie maklik wees nie. Jy gaan weer teenstand kry. Jy gaan meer vervolging en beproewinge moet weerstaan."

Ek vind hierdie man se lewe absoluut wonderlik. Kan u uself indink dat Paulus, moeilikheid en vervolging oral ervaar het? Die Heilige Gees stuur Paulus op 'n sending en lei hom om op 'n sekere skip te klim - en die skip sink toe. Paulus moes swem vir sy lewe. Vir sy volgende opdrag het hy te voet gegaan; en was beroof op pad. Eindelik bereik Paulus sy volgende bestemming - maar in plaas van om na sy boodskap te luister, bespot en slaan hulle hom en gooi hom in die tronk!

God het Paulus uit daardie tronksel gehaal en nadat hy losgelaat is, het hy die stof van sy voete afgeskud en gereed gemaak vir sy volgende opdrag. Dis toe dat die Heilige Gees vir hom sê, "Maak gereed om terug te gaan na die gevangenis, Paulus. Daar gaan jy gestenig word. Ek weet dat jy deur baie is, maar meer vervolgings lê nog voor. Juig en wees bly, Paulus - want jy is waardig om vir die naam van Christus te ly!"

Paulus het na die volgende plek gereis, waar hy gestenig en as dood agtergelaat is. Tog, het God hom lewendig gemaak. Terwyl hy deur 'n handjievol mense wat hom gevolg het, ondersteun is, het hy aangesukkel na sy volgende afspraak.

Sy volgende sending was 'n kerk wat hy self op die been help bring het. Helaas toe hy daar kom moes hy uitvind dat Alexander die Kopersmid nou hulle leier was. Alexander het vir Paulus gesê, "Ons het jou nie meer nodig nie, Paulus." Hy het die hele kerk teen Paulus laat draai, hy wat hulle leier en herder was en wat vir myle aangesukkel het net om hulle weer te sien.

So het Paulus na sy volgende afspraak vertrek -en weer het die Heilige Gees vir hom gesê, "Dit is nog nie klaar nie, daar lê nog beproewings voor."

Op hierdie punt sal u sê, "Wag so 'n bietjie, jy praat van Paulus se lewe, nie myne nie. Hy was deur God aangestel om vervolging te beleef. Ek is nie geroep vir so 'n lewe nie." Verkeerd! Die Bybel sê: "Al word die regverdige ook deur hoeveel rampe getref, die Here red hom uit almal" (Psalm 34:20).

Die frase "hoeveel rampe", geld nie net vir Paulus nie, maar ook vir ons, en ek glo, hoe meer regverdig en gelowig ons is, hoe meer vervolgings sal ons moet trotseer. Ons hoor graag die laaste gedeelte van die versie: ".die Here red hom uit almal .", maar, juig ons ook in die eerste gedeelte? "...Die regverdige ook deur hoeveel rampe getref ."

Ek wil saam met Paulus vra: Waarom is ons so verbaas as die een vervolging na die ander ons tref? Ons moet dit mos verwag, selfs baie daarvan. So dikwels wanneer ons in die middel van dit alles sit, wil ons uitroep, "O, God - ek het nou genoeg gehad. Ek verstaan nie hoekom ek al hierdie dinge moet verduur nie. U weet dat ek U liefhet en getrou aan U is, so waarom moet ek al hierdie dinge beleef? U het self gesê, U sal nie meer op my skouers laai as wat ek kan behartig nie, maar ek kan nie nog meer verdra nie. Maak asseblief hierdie probleme minder!"

Ons verwag maklike en vinnige oplossings, maar ons vervolgings sal geen doel dien as ons nie verstaan waarom God dit toelaat nie. In der waarheid is dit God wat elke beproewing, vervolging, swaarkry, moeilikheid of teleurstelling in ons lewe beplan. Hy het 'n spesifieke doel daarmee. Hoekom? Omdat Hy ons iewers heen wil lei, om iets deur ons te bereik.

Ons weet almal dat dit vir God net so maklik is om ons te vrywaar van al die vervolgings. Jesus het dit beklemtoon toe Hy vir die Fariseërs gevra het, "Wat is die makliker? Om te sê: 'Jou sondes is jou vergewe', of om te sê, "Staan op en loop'?" (Lukas 5:23). Jesus het gesê, "Ek het die krag om albei te doen." So, sou dit nie vir Hom net so maklik wees om ons teen alles te beskerm as wat dit is om ons dit te laat beleef nie? Hy kan ons met een enkele woord verlos, maar Hy doen dit nie. In plaas daarvan laat Hy toe dat ons deur die beproewings gaan - alles met 'n heilige doel.

As God nie moelikhede in ons lewe toegelaat het nie, sou dit die ergste vorm van verwerping wees. Dit sou beteken dat God sê, "Ek het geen spesiale werk vir hierdie gelowige nie, geen plan vir sy lewe is opsy gesit as 'n getuie nie. Daarom hoef ek hom nie produktief te maak nie. Laat hom maar so 'n onopgeleide, ongeletterde man met die verstand van 'n kind bly. Laat hy nie oorvloedig in genade wees nie, laat hy nie leer deur vervolging, sodat hy ander kan leer nie. Laat hy net bestaan en sterf in sy kinderagtigheid."

Ek weet van Christene wat weier om deur hulle vervolgings te leer. Na 'n rukkie, wanneer God sien dat daar geen doel in is om moeilikheid in hulle lewe toe te laat nie, ontrek hy die vervolgings. Hierdie Christene sweef deur die lewe en dit lyk of hulle geen probleme in die wêreld het nie, maar dit is omdat hulle nêrens kom nie. Daar is geen toekoms vir hulle in God se plan nie. Hulle is soos die kinders van Israel, wat vir veertig jaar deur die wildernis geswerf het. God het probeer om hulle te bereik - maar het later opgegee!

Laat ek aan u die sleutel gee hom om u beproewinge te verstaan:

Wanneer 'n ouer sy kind na 'n Universiteit stuur, vereis dit 'n groot belegging. Daardie ouer hoop dat sy kind haarself/homself sal laat geld dwarsdeur al die reëls van die opleiding. Hoekom? Hoop hy dat hy/sy sal huistoe kom gegradueer, en haar/sy diploma teen die muur ophang en dan in die huis rond te sit en televisie kyk? Nee, daardie ouer hoop sy kind sal sy belegging laat vrugte afwerp deur 'n goeie loopbaan te begin.

Dieselfde geld as die weermag gratis geleerdheid aanbied vir hulle ingeskryfde soldate, daardie jare van opleiding word as 'n belegging gesien. Die soldaat word vertel dat nadat hy klaar studeer het, sy nasie en regering 'n sekere gedeelte van sy tyd wil hê. Van die soldaat word verwag om vir 'n aantal jare militêre diens te doen om die belegging te regverdig.

So is dit dan ook met God en ons beproewings! Alles wat u deurmaak (of beleef) as 'n Christen is 'n opleidings-oefening, waarmee God 'n heilige doel het. Hy het u nie gered om deur die lewe te seil in 'n luukse boot tot in die Paradys nie. Hy het u gered om u voor te berei vir diens in Sy koninkryk. Die oomblik wat u weergebore is, is u ingeskryf in Sy skool van lyding. Elke ander beproewing of leed is nog 'n les in die leerplan.

Sommige Christene is nog in die kleurterskool. Hulle beproewings is nie moeilik om te verstaan nie, en hulle toetse is baie makliker om te verduur. Ander is in die groot skool en hulle het gou geleer dat hulle toetse bietjie moeiliker is om te doen en te verstaan. Ander is in Kolleges en hulle beproewings is baie moeiliker om te ontleed as al die voriges. Ander weer is in 'n na-graadse skool en hulle beproewings kom al vir baie jare saam en nog moeiliker toetse lê voor. Hulle beproewings is die taaistes van hulle lewens, en hulle besef dat hulle die Heilige Gees se krag nodig het om dit te oorkom.

My punt is dus dat God veterane van geestelike oorloë wil hê - mense wat al deur baie beproewings gegaan het - om die volgende geslag van Sy getrouheid te leer. Elke beproewing is 'n belegging wat God in ons maak om van ons geloofs-veterane te maak!

Nou sal u vra, beteken dit nou dat God sy eie kinders leed aandoen? Luister wat sê die psalmdigter: "U het ons beproef o God, ons gelouter soos silwer, U het ons in 'n net gevang, 'n swaar las op ons gelê; U het ons deur mense laat vertrap, ons het deur vuur en water gegaan, maar toe het U ons uitgelei na oorvloed toe" (Psalm 66:10-12).

Waar sê die psalmdigter kom sy beproewing vandaan? Dit kom direk uit die hand van God. Hy sê, "Here, U het my in waters laat beland wat bo-oor my kop gegaan het, ek het gedink ek verdrink. U het my in vuur laat beland, om my te toets soos silwer. U het my in 'n net laat beland, u lê beproewinge op my lendene, en het mense my laat vertrap!"

Waarom het God sulke beproewings toegelaat? Omdat Hy Sy kinders na "oorvloed" wou bring. In die oorspronklike Hebreeus beteken hierdie woord: "oorvloedige vrugbaarheid." God sê, "Ek wil jou deur al hierdie moeilike situasies laat gaan om jou vrugbaar te maak vir my koninkryk!"

Maar helaas, nie alle beproewings kom uit die hand van God nie. Baie probleme kom direk van die duiwel, uit die dieptes van die hel. "dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring" (Klaagliedere 3:33). God sê, "Ek vind geen genot daarin om My kinders te beproef nie. Dit is nie waarom Ek moeilikheid toelaat nie." Nee - God laat alleen beproewings toe vir Sy eie Ewigheids-doeleindes, en dit is om ons na 'n plek van "oorvloed" te lei!

Ek is nie 'n apostel nie, ek is maar net 'n groentjie in vergelyking met Paulus, maar ek dien God lank genoeg om myself as 'n veteraan in die geloof te noem. As ek nou so terugkyk oor die jare, kan ek vir u sê, dit was 'n leeftyd van moeilikheid, beproewing, ontbering en teleurstellings. Ek het al verskeie boeke daaroor geskryf, maar die boeke raak net die hoogtepunte aan!

Ek is stom geslaan en verbaas as ek onthou van al my hartseer, lyding, diepe waters, vuurvlamme en ontsaglike beproewings. Elke keer as die beproewings my tref, is dit nie een op 'n keer nie, maar sommer hope daarvan op een slag. Baie keer dink ek dat ek dit nie hierdie keer gaan maak nie. Selfs die herinneringe aan al die beproewings is pynlik. Daar is herinneringe van laster, tugtiging deur God, probleme in die bediening, persoonlike worstelinge, familie probleme, liggaamlike kranke en skete. Tog, as ek die jare van swaarkry in herinnering roep, kan ek met sekerheid sê, "God se woord is waar! Hy het my deur dit allles gedra. Ek loof Hom daarvoor!"

Byna elke Christen wat hierdie boodskap lees, kan seker ook 'n boek skryf oor al sy/haar ontberings en beproewings wat hulle ondervind het. As u God al 'n tyd lank dien, weet ek dat u 'n storie te vertel het, maar hoe sal die storie klink? Miskien sal dit iets wees, soos: "Ek het nog altyd die vrede en rus van die Heilige Gees gehad. Ek het 'n wonderlike verhouding met Hom, maar vir die daaglikse lewe - in die vlees - was daar al onbeskryflike pyn, verwerping, ontbering en trane. Dit was 'n leeftyd van beproewing!"

As u Jesus liefhet met u hele hart, sal u getuienis wees, "God het my nog altyd uitgehelp, ek het nooit ondergegaan of gaan lê nie. Ek is nog steeds hier en ek loof die Here! Al daardie die beproewinge lê agter my. Ek mag alweer in die middel van die volgende een wees, maar al die ander is egter onder die bloed van Jesus. Ek het oorwin omdat Jesus my deur alles gedra het!"

Miskien was daar tye wat u wou ingee, amper flou geword het. U was miskien so swak dat u gevoel het u kan nie meer een tree verder nie. Vanwaar jy nou staan wil jy sê, "Nee, ek wil nie weer daardeur gaan nie - maar God het my uitgered. Hy is getrou. Loof die Here!"

God is egter nie tevrede met 'n inngie "dankie" van ons kant af nie. Hy sê, "Wag net 'n oomblik my kind. Ek het jou nie deur al hierdie moeilikheid en beproewings gebring om van jou net 'n dankbare oorwinnaar te maak nie. Nee - Ek het 'n groot belegging in jou gemaak. Ek het jare spandeer om jou te onderrig en jou deur al hierdie dinge te bring, met 'n doel. Ek gaan nie toelaat dat jy dit nou vermors nie. Ek is vasbeslote dat my belegging resultate sal oplewer. Ek sê vir jou, jou beste werk lê nog voor!"

Nou, soos u uitbeweeg uit u Kollege-graad-beproewings, open God mos u oë vir u om te sien hoe sukkel u vriende in die kleuterskool? Hierdie geliefdes dink nie hulle sal dit kan maak nie. So, wat doen u met u beproewing-ervarings? God fluister aan u, "Ek het gesoute, getoetse veterane nodig - mense wat al deur diep waters en aaklige vure gegaan het en wat deur lyding gelouter is. Ek soek mense wat my getrouheid aan hierdie geslag kan bewys!"

Die psalmdigter skryf: ".sodat julle dit aan 'n volgende geslag kan vertel..." (Psalm 48:14). "Nou dat ek oud en grys geword het, moet U my tog nie alleen, o God, dat ek nog aan die gelsagte wat kom, kan vertel van u werk en u mag" (71:18).

Paulus som alles so mooi op: "Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die Evangelie bevorder het" (Filippense 1:12) Dit beteken beslis iets! Toe Paulus hierdie woorde geskryf het, was hy al 'n ou man met baie ervaring - en was hy in die middel van een van sy heftigste beproewings van sy lewe. Hy het uit sy hart uit met sy vriende gepraat:

"Dit sou die wonderlikste ding vir my gewees het as ek kon huistoe gaan en by my Vader gewees het. Dit is my grootste begeerte. Maar ek is 'n veteraan - ek is al deur so baie beproewings en lyding - en nou is ek hier nodig. Hierdie geslag moet sien hoe dat iemand wat so baie gely het, nog steeds kan jubel in alle beproewinge. My seun Timoteus gaan al hierdie dinge beleef wat ek beleef het, sodat hy kan weet dat God hom deur alles sal dra. So, dit is beter dat ek bly en al hierdie ontsaglike beproewings verduur. Kyk na my, ek het nie alleen oorleef nie, maar ek het ware hoop! Ek is nie verslae en depressief nie. Ek jubel en loof die Here wat my deur alles gebring het!"

". ek sal bly, ja, ... sodat julle kan toeneem in geloof, en blydskap in julle geloof kan hê" (vers 25). Paulus sê, "Julle weet dat ek deur vure, rooftogte, en skipbreuke gegaan het. Partykeer was ek mismoedig oor die lewe en het gewonder of ek dit gaan oorleef, maar God het my verlos van dit alles. Nou gaan ek by julle bly en aanhou om julle te bemoedig sodat julle blydskap vermeerder en julle geloof versterk word. Ek wil julle leer dat julle nie beangs hoef te wees vir enige teenstander nie!"

Geliefde, ek het 'n vraag vir u: Dit maak nie saak hoe lank u al saam met Christus wandel nie, u het sekerlik ook pyn, en beproewings ondervind, maar hoe het u dit hanteer? Wat was die eindresultaat van u ondervinding? Was u beproewings alles tevergeefs? Of het u geleer van Jesus se liefde en getrouheid deur dit alles heen?

Laat ons veronderstel u is 'n gelowige wat u lewe vir Christus afgelê het. U het 'n is begaan oor 'n verlore gaande wêreld, u ween oor verlore siele, en u het 'n duidelike opdrag om die goeie nuus aan verlore siele te bring en hulle te wen. U vertel aan al u vriende dat u na 'n sekere stad gaan om van God se genade te getuig.

Maar, toe u daar kom, ontvang u vriende tuis die nuus dat u glad nie deur God gebruik word nie. Daar is geen byeenkoms soos beplan nie. Inteendeel, u bediening is dood. U het niks om te wys vir u moeite nie. In plaas daarvan om die stad in oproer te bring oor Christus, beland u in die tronk!

Hoe sal u reageer, as u niks het om te wys vir al u toewyding, arbeid en opofferinge nie, dat dit alles 'n mislukking was? Hoe gaan u reageer wanneer God u uitsluit, u hande bind en u hulpeloos laat?

Sommige Christene sal suur gesigte trek. Hulle sal God se woord in twyfel trek en die Heilige Gees se leiding bevraagteken. Hulle sal Jesus ignoreer - en teenoor hulle vriende kla kerm, en twyfel uitspreek,. Die hele proefneming van hul geloof, die beproewing wat hulle in Jesus se arms sou werp, sou vergeefs wees, vermors met geen gevolge hoegenaamd nie.

Ander Christene sal reageer soos Paulus sou doen - blydskap, omdat hulle waardig geag was om vir Christus te ly. Paulus het nie probeer om sy beproewings te ontleed nie. Hy het met vreugde, geloof en hoop gereageer. Hy het geweet hy was in opeiding as een van Jesus se getuies. Hy het vanuit die tronk aan sy vriende geskryf, "My situasie is die onderwerp van bespreking van die Keiser se paleis. Almal in Rome praat van wat aan die gebeur is met my. Ek is in die tronk vir Jesus!" Hy moes 'n rare verskynsel in die tronksel gewees het - 'n snaakse Jood wat almal rondom hom aangemoedig het met 'n, "Jubel en juig oor julle beproewings. God is getrou!"

Paulus het nie een van sy beproewings vermors nie. Hy het geweet elkeen het 'n heilige doel gehad. Christus hou ons dop hoe ons onsself gedra gedurende ons toetse. Ek wil u drie voorbeelde gee hoe ons beproewings verkwis word:

1. Ons verkwis ons vervolgings deur te tob daaroor, te murmureer en gedurig te kla. Hierdie soort gedrag ontstel Jesus. Dit was die rede dat elke toets en beproewing van die Israeliete in die wildernis verlore gegaan het!

Die boek van Numeri bevat 'n hartseer voorbeeld van verlore beproewings. Die vyf dogters van 'n man genaamd Selofgad het na Moses gekom en hom gevra om 'n gedeelte van die Beloofde Land. Hulle het vir Moses gesê, "Ons pa is in die woestyn dood. Hy was nie een van Korag se bene wat teen die Here saamgesweer het nie. Hy het deur sy eie sondes gesterf en geen seuns gehad nie" (Num. 27:3). Hierdie vroue het gesê, "Toe almal teen u in opstand gekom het saam met Korah, was ons vader nie een van hulle nie. Hy was nie 'n rebel nie. Hy is deur sy eie sonde dood."

Die laaste sin het my getref toe ek dit lees: "Hy is in sy eie sonde dood." Dit beteken, dat alhoewel hulle vader baie ongelooflike wonderwerke gesien het - die verlossing uit Egipte, water uit 'n rots, en manna uit die hemel - het hy tog in ongeloof saam met die res van sy geslag gesterf. Van daardie geslag het net gelowige Joshua en Caleb in die woestyn oorleef.

Klaarblyklik is hierdie vyf dogters in die woestyn gebore en het opgegroei in 'n familie vol woede teenoor God. Al Israel se toetse en beproewings het hulle ongeloof in hulle vader vererger. Al wat hierdie vroue gehoor het toe hulle opgroei, was klagtes, murmurering en bitterheid. By die ontbyttafel, middag en aandete was daar gedurig maagkrampe, met nooit een woord van geloof of vertroue in God nie. Nou moes die vroue aan Moses sê, "Ons vader het niks vir ons nagelaat nie - geen hoop, geen besittings en geen testament nie. Hy het al die jare in bitterheid en gekerm deurgebring, omdat die lewe hard en moeilik was. Hy het in sonde gesterf, sy lewe 'n totale verkwisting!"

Wat 'n aaklige ding om van 'n mens se ouers te sê. Nogtans moet ek alle ouers wat dit lees, waarsku: U kinders hou u dop as u in beproewing is! Hulle lewe kan beïnvloed word deur u gedrag. So, hoe gedra u u? Watter voorbeeld stel u? Is u nie besig om u beproewings te verkwis nie - nie alleen vir uself nie, maar vir die nageslag wat kom? Of, word u erfgename in Christus gevestig as hulle u hoor sê, "Ek hou nie van hierdie beproewing nie - maar geseënd is die naam van die Here. Hy verlos altyd!"

Ek ken baie Christene, wat met elke nuwe beproewing bitterder word en meer mor. 'n Mens sal dink hulle God is dood. Hulle lyk suur; met die jare saam het hulle regte suurpruim gesigte gekry. Die beproewings wat bedoel was om hulle te leer en sag te maak, dinge wat deur God ontwerp is om Sy getrouheid te ontbloot, het hulle egter in regte suurpruime en gemene mense verander. Ek wonder altyd as ek hulle sien, "Waar is hulle geloof, hulle vertroue in God? Wat dink hulle kinders van hulle?"

Ek het baie mense in my leeftyd begrawe, en in daardie tyd het ek iets tragies ontdek. Diegene wat suur en bitter geword het, kyk hulpeloos toe as hulle geliefdes hulle verlaat. Hulle kinders verlaat hulle saam met hulle kleinkinders en vriende. Die suurpruime sterf op die ou end alleen. Ek het begrafnisse gehou waar net een persoon teenwoordig was. Die oorledene word byna onmiddelik en geheel en al vergeet. God het hulle nie toegelaat om met enige iemand uit te gaan nie!

Geliefdes, moenie u beproewings verkwis nie. Laat dit in u'n lieflike geur van vertroue en geloof in Christus versprei. Al u beproewinge is bedoel om u in Jesus se arms te werp, en om u te laat getuig, "Ek is syne en Hy is myne. Hy sal my deur die beproewing help!"

2. Ons verkwis beproewings as ons nuwes in die gesig staar sonder om te onthou van ons oorwinnings oor die oues. Ons is geneig om al die goeie dinge wat God vir ons gedoen het te vergeet!

Toe Dawid voor Goliat staan, het hy sy oorwinnings van die verlede herleef om sodoende sy geloof op te bou. Hy het gesê, "As 'n leeu na my toe aankom, het ek hom verskeur. As 'n beer agter my was, het ek hom ook doodgemaak. Nou moet ek onthou dat God wat my van die brullende leeu en die wrede beer gered het, my ook van hierdie Reus sal red!"

Moses het Israel herinner aan al hul vorige oorwinnings. Hy het hulle gewaarsku: "Pas net op en wees baie versigtig om solank julle leef, nie hierdie dinge wat julle gesien het, te vergeet of the verontagsaam nie. Julle moet dit alles vir julle kinders en jullle kleinkinders inskerp" (Deuteronomiun 4:9).

Ongelukkig sê die Bybel van Israel: "Hulle het die verbond met God nie gehou nie . hulle het vergeet van sy werke, van die wonderdade wat Hy hulle laat sien heten het..." (Psalm 78:10-11). Soos die Israeliete, het ons dieselfde neiging wanneer ons 'n nuwe proefneming of beproewing trotseer. Ons sê, "Nee, o God, hierdie keer is alles te veel vir my om in die gesig te staar." Maar God antwoord net, "Kyk eenvoudig terug, en onthou my!"

Indien nodig, hou 'n dagboek om uself te herinner aan al God se oorwinnings in u lewe. Stip 'n paar notas aan voordat u saans bed toe gaan. Doen enigiets, net om uself te herinner aan alles wat God al vir u gedoen het - al die hartseer wat u beleef het en waaruit God u verlos het. Dan, wanneer u volgende beproewing opduik, maak u notaboekie oop en sê vir Satan, "Jy gaan my nie hierdie keer verlei nie. My God het my vroeër hieruit gehelp, en Hy sal dit weer doen!"

3. Ons verkwis ons beproewings wanneer ons weier om te sien dat God ons hierdeur gelei het juis om ander te leer. Ons moet ons ervarings en ondervindings deel met ons broers en susters, om sodoende God se getrouheid aan hulle te bewys. Ons moet opstaan en erken, "Dank God, dat ek 'n ervare Christen is, en dus deur ondervinding kan getuig dat God getrou is!" Paulus het van sy beproewings gesê: ". Niemand moet dit vir my verder moeilik maak nie, want ek dra al klaar die littekens van Jesus aan my liggaam" (Gal. 6:17). Hy weet van elke litteken en die ewige doel daarvan!

Dawid skryf: "In my nood roep ek na die Here, ja, ek roep om hulp na my God. In sy paleis hoor Hy my geroep. Ek roep na Hom om hulp, en Hy luister na my. Van bo af het Jy sy hand uitgestrek en my gegryp, my uit geweldige waters uitgelig. Hy het my gered van my vyand wat sterk was, van my haters toe hulle vir my te magtig was. Die dag toe hulle my aangeval het, was my ondergang naby, maar die Here het my daarvan bewaar, Hy het my in vryheid laat uitgaan, my gered omdat Hy my liefhet." (Psalm 18:7, 17-20).

Geliefde heilige, wees verseker - as u beproef word, is dit omdat God 'n welbehae in u het. "want Here tug homwat Hy liefhet..." (Hebreërs 12:6) Dit is 'n teken van Sy liefde vir u!

U moet altyd onthou, alles wat u deurmaak sal verbygaan. Onlangs het ek 'n frase uit een van my joernale gelees, ek het dit geskryf terwyl ek deur 'n groot beproewing gegaan het. Vir drie maande het die frase elke keer geeïndig met dieselfde woorde: "O God, wanneer gaan hierdie nagmerries dan eindig?" Dan skielik verskyn die volgende woorde in groot letters dwarsoor die hele bladsy: "DIT IS ALLES VERBY - GOD HET VERLOS!"

Ek kan eerlik sê dat ek meer geleer het uit al my beproewings as wat ek ooit in goeie dae geleer het. Voorspoed leer ons niks: beproewings wel! Die groot filantroop Albert Schweitzer sê, "Geluk is goeie gesondheid en 'n swak geheue." Nee - geluk is om te onthou van al die maniere waarop God ons gehelp het!

Ek vra u weer: Hoe reageer u op u beproewings? Verkwis u dit, deur 'n twyfelaar en klaagkous te wees? Of bou u u geloof nog hoër, wetende dat u God altyd uithelp en verlos?

Daar is net een manier om u huidige probleme te verduur: Onthou dat u Hemelse Vader 'n welbehae in u het! Hy werk aan 'n plan vir u lewe en het ook 'n groot belegging in u gemaak. En ". God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleinding op die dag wanneer Christus kom" (Fillipense 1:6). U Vader is besig om u voor te berei om 'n veteraan geestelike stryder te wees - 'n voorbeeld van geloof en vertroue vir hierdie geslag te wees. Halleluja!