Moenie Meegesleur Word Deur Die Vloedstroom Nie

David Wilkerson

“Elkeen dan wat na hierdie woorde luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots.

“En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ‘n dwase man wat sy huis op die sand gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot” (Matthéüs 7:24-27).

Jesus het gewaarsku oor ‘n komende stortvloed wat teen God se kinders sal losbars in die laaste dae! Hy het gesê ons kan orkaanwinde van toetsing, stortreën van moeilikheid, en ‘n toenemende stortvloed van demoniese aanvalle te wagte wees.

Openbaring 12 sê dat in daardie dae sal vervolging, toorn en swaarkry uit die duiwel se mond kom teen die kerk van Jesus Christus:

“Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het...het hy die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het...En die slang het uit sy bek water soos ‘n rivier agter die vrou aan uitgegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier” (Openbaring 12:12-15).

Jesaja het profeties gewaarsku dat Satan sou kom “soos ‘n saamgeperste stroom” (Jesaja 59:19). En Dawid het sy toenemde probleme vergelyk met ‘n stygende rivierstroom uit die hel: “Die riviere, o HERE, het verhef, die riviere het hulle gebruis verhef; die riviere verhef hulle geraas” (Psalm 93:3). Dawid het in wese gesê, “Help my, Here – ek word oorstroom met ‘n stygende gety van duiwelse teistering! Die golwe word groter – hulle is hoog, en sê vir my ek gaan oorweldig word!”

Die storm waarvan Jesus ons vertel het, is nou op ons – in al sy geweld en krag!

Daardie storm tref tans, landwyd en wêreldwyd. Dit gaan erger word! Waarom? Omdat, hoe meer jy Jesus liefhet en jou hart daarop instel om Hom te volg, hoe erger gaan Satan ‘n storm van moeilikheid teen jou gooi. Hy sal kom teen jou huis, jou werk, jou huwelik en kinders, jou verhoudings, en veral jou wandel met die Here.

Ek glo daar is nie ‘n goddelike huis vandag wat nie op een of ander manier ‘n orkaansterkte toets beleef het nie. Tydens een spesifieke week nie lank gelede nie, het drie van my getroude kinders inderdaad vir my vertel dat hulle elkeen ernstige toetsing in hulle huise ondervind het. ‘n Verskriklike stortvloed het in elkeen van hul families onstaan: onverklaarbare woede, dwase misverstande, stemverheffing – dinge wat nie normaalweg gebeur nie.

Hulle het nie geweet dat in dieselfde week, Gwen en ek een van die grootste toetsperiodes van ons huwelik beleef het nie! ‘n Verdrukking het ons oorval en ons het dit op mekaar uitgehaal. Vir twee dae, het ons geargumenteer oor dinge só nietig dat dit lagwekkend is!

Een jong herder het onlangs vir my vertel ‘n bedienaarsvriend het hom in trane geskakel en gehuil, “Ek moet met iemand praat – my vrou en ek gaan deur ‘n letterlike hel! Ons met mekaar innig lief, maar ons skree altyd op mekaar. Ons probeer dinge regmaak, maar dit veroorsaak net ‘n brose vrede – en gou kom daar nog ‘n uitbarsting. Ek kan dit nie hanteer nie – ek voel of ek kan weghardloop. Ek hou net vas omdat ek die Here liefhet!”

Die herder wat geluister het was stil – en toe het hy ook in trane uitgebars. Hy het gehuil, “Jy vertel mý storie! My vrou en ek gaan deur dieselfde ding. Ons haat dit wat gebeur, maar dit lyk nie of ons in vrede kan leef nie. Dit word erger, en ek weet nie wat om te doen nie. Dit is bokant my vuurmaakplek!”

Talle Christen paartjies raak bekommerd oor hulle verhoudings. Hulle dink miskien het hulle mekaar nie meer lief nie, of dat hulle op een of ander manier hul huwelik in gedrang gebring het en nou stort dit in duie. Hulle besef nie die stortvloed probleme wat hulle het, is ver bokant hulle vuurmaakplek – bokant hulle begrip – en bokant enige vermoë wat hulle het kom dit te keer nie!

Jy sien, die storm wat plaasvind in Christen huise en verhoudings – die onverklaarbare, onverwagte hartseer en moeilikheid – is nie natuurlik nie. Dit is ‘n bonatuurlike stroom uit die hel! Jou stryd is nie tussen jou en jou wederhelf nie; dit is tussen hemel en hel – tussen God en die duiwel, wat jou huis wil vernietig!

Jy moet besef jy het nie self hierdie verskriklike storm te voorskyn geroep nie. Dit het nie gebeur weens een of ander groot mislukking aan jou kant nie. Dit is nie weens een of ander karakterfout of ‘n afwaartse spiraal in jou geloof nie. Nee – jy is die teiken van ‘n waansinnige duiwel wat vasbeslote is om jou huis te laat val!

Ons kan sekerlik nie die duiwel blameer vir al ons probleme nie. Ons almal vererger ons probleme deur dwase, sondige uitbarstings van die vlees. Maar Jesus het ons gewaarsku ons sou deur ‘n waterstroom en ‘n storm uit die hel getref sou word – en dit beskryf wat tans in God se huis gebeur.

Jy is nie opgewasse teen die bonatuurlik aanval waaronder jy ly nie. Jy het groter hulp nodig as enigiets wat binne jouself of enige ander persoon is om te gee.

Jy moet na Jesus toe hardloop! Wanneer jy dit besef, kan jy en jou gade saam op julle knieë val en die stryd arm-in-arm in gebed voer!

Menigtes ly weens werkloosheid en finansiële vrees!

Amerikaners word meer en meer vreesbevange oor die toekoms. Finansiële verwoesting is op die voorgrond vir baie – en daar is wyd verspreide vrees om alles te verloor!

New York Stad het onlangs 350,000 werksgeleenthede verloor. Een uit sewe mense is op maatskaplike toelaes, en werkloosheid het gestyg met 10 persent. Selfs jongmanne in ons kerk het bewend vir my gesê, “Vir die eerste keer in my lewe, het ek geen geld hoegenaamd nie – soms nie eens ‘n dollar nie. Ek is vreesbevange om geen bronne vir enigiets te hê nie!”

Daar is “doodsones” in New York Stad – gebiede waar wanhoop moorde veroorsaak en selfmoorde buite beheer raak. Dit is meestal in swart buurtes waar manlike werkloosheid hoër is as vyftig persent. Mans voel verlore, onnodig en ongevraagd – en hulle haal hul frustrasies uit op hulle families en vermoor hulself of ander uit volslae hopeloosheid.

Geliefde, die hele nasie is onder oordeel! God laat die duiwel toe om Sy roede van geregtigheid en oordeel te wees teen ‘n sondige volk. En omdat Satan vry is om sy gif uit te stort, sal hy die nasie bankrot maak en die ekonomie in duie laat stort net om vrees en wanhoop onder God se mense te bring! Hy gee glad nie om oor die kinders van die duisternis nie – en hy sal verskriklike verwoesting oor hulle bring sodat hy God se mense vernietig kan sien!

Selfs herders is nie immuun teen finansiële vrese nie – hulle is menslik net soos enige ander. ‘n Bedienaar het onlangs vir my gesê, “Ek preek nie oor sekere dinge nie, omdat ek eerlikwaar vrees ek kan my werk verloor. Ek vrees om nie in staat te wees om my familie te versorg nie. Dit is die enigste werk wat ek nog ooit geken het – en ek kan nie bekostig om dit te verloor nie!”

Daar is ander pyne te veel om op te noem!

Onlangs terwyl ek in gebed was, het ek tot God uitgeroep, “Vader, ek moet eerlik met U wees – ek ly!” My hartseer was nie vir myself nie, maar vir geliefdes wat deur ‘n stortvloed probleme gegaan het. Die Here het die volgende tot my gees gespreek: “David, jy is nie alleen in jou gebed nie. Almal ly op een of ander manier!”

Ek weet nie wat jou beproewing is nie. Maar toe ek die volgende hoor, het dit my diep ontstel:

*In Wisconsin, ly ‘n bedienaar se vrou so erg dat sy nie meer wil lewe nie. Sy stry jarelank al teen ‘n obsessie en dit keer keer op keer terug: Sy steel!

Haar laaste aanval was oorweldigend. Terwyl sy ‘n kerkoffergawe getel het, het sy $2,500 gesteel. Sy het nie die geld nodig gehad nie; sy het dit eintlik in ‘n koevert gesit en dit op ‘n supermark rak neergesit.

Sy het dit bely en die geld is teruggekry – maar sy voel vuil. Sy weet nie hoe die Here haar kan vergewe nie, omdat sy tevore soveel kere al bely het, net om terug te keer na haar sonde. Sy glo haar dwanghandeling is God se oordeel oor haar omdat sy herhaaldelik sondig!

Haar man vergewe haar en het haar innig lief – maar weet nie hoe om te help nie. Hulle word beide oorstroom!

*’n Herder in die Middeweste dra ‘n dubbele lyding. Hy en sy vrou het ‘n jong vroulike gegradueerde van ‘n Teen Challenge Sentrum ingeneem. Dit kom toe uit dat die meisie ‘n lesbiër was – en met die verloop van ‘n jaar, het sy betrokke geraak by die herder se vrou. Uiteindelik het hulle saam weggeloop en die twee kinders saam met hulle geneem.

Die herder was verpletter! Hy het hof toe gegaan en sy kinders teruggekry – maar toe het die kerk vir sy bedanking gevra! Hulle het gesê hy stel ‘n slegte voorbeeld omdat hy nie die baas in sy huis is nie.

Hierdie man was dubbeld verwerp! Hy dra die verskriklike pyn van verlaat wees deur ‘n vrou wat hy innig liefhet – en die pyn van verwerp te word deur sy kerk, in plaas van hulp van hulle te ontvang om sy las te dra.

*In New York Stad, het ‘n ouerige vrou haar eie dogter vermoor – omdat sy dit nie meer kon verdra om te sien dat sy deur dwelms vernietig word nie! Die Daily News het die toneel by die begrafnis as volg beskryf:

“Daisy Hutson het gister haar hoof gebuig en die laaste keer totsiens gesê vir die crack-verslaafde dogter wat sy bely het sy geskiet het....Die 68-jaar oue weduwee het haarself van die staalblou kis af weggetrek...en gesê, ‘So ja, my kind. Niemand sal jou ooit weer seermaak nie...Nou is dit vir God om my te oordeel.’

“Hutson het vir die polisie vertel dat sy haar enigste kind, Renee, 48, een keer in die bors geskiet het op Dinsdagaand, omdat sy nie langer die leuens, diefstal en irrasionele geweld wat die vrou geteister het, kon hanteer nie...

“Hutson...en haar dogter het ‘n goeie verhouding gehad totdat Renee verslaaf geraak het aan crack toe dit die stad getref het in 1986...Renee was verslaaf en het dadelik geld begin onttrek by kontantmasjiene om haar gewoonte te voed...Sy het in ‘n crack-huis gebly en stadig het die dwelm haar begin verteer. Na jare van gewelddadige argumente en mislukte pogings om rehabilitasie, het Hutson ‘n hofbevel vir beskerming teen Renee gekry.

“Toe Renee verlede week na haar bejaarde ouma se huis gekom het en geld afgeëis het om dwelmskuld te betaal, het Daisy Hutson geknak. Sy het gesê sy het die polise gevra om die beskermingsbevel af te dwing. Toe hulle dit nie gedoen het nie, het sy haar dogter geskiet.”

Hoe beskryf jy daardie moeder se hartseer? Die hoofopskrif in die Daily News het dit op hierdie manier gestel: “Slegs God kan my nou oordeel!”

Jy kan weet wanneer jou moeilikheid en hartseer deur jou eie toedoen is – of van die duiwel en sy vloed!

Daar is ‘n manier om te sê of jou vloed veroorsaak word deur jou eie wederstrewigheid. Byvoorbeeld, God het vir Moses gesê die Israeliete “hoereer” agter vreemde gode aan en het Jehova verlaat:

“Dan sal my toorn op dié dag teen hulle ontvlam, en Ek sal hulle verlaat en my aangesig vir hulle verberg, sodat hulle verteer word en baie onheile en node hulle oorkom. Dan sal hulle op dié dag sê: Het hierdie onheile ons nie oorgekom, omdat onse God nie onder ons is nie?” (Deteronómium 31:17).

As jy in openlike sonde leef, kan jy verwag dat God inbeweeg en jou straf – en Hy sal dit uit barmhartigheid doen! Moeilikheid en hartseer het baie kinders van God oorval, omdat hulle hulle afgode liefhet en hulle nie wil laat staan nie.

Maar ‘n vloedstroom stort uit teen ander gelowiges bloot omdat hulle Hom soek! Een woord het herhaaldelik in my studies van goddelike mans en vroue dwarsdeur die geskiedenis opgekom: lyding!

Jesus het inderdaad gesê die reën val op beide die regverdiges en onregverdiges. Maar Hy het ook gesê dat as jy op die Rots is, sal jou huis bly staan – jy sal nie meegesleur word nie!

Die grootste tragedie van hierdie laaste dae is die verbeurde vrede en die nodelose pyn wat God se volk sal moet dra!

Toe ek ‘n seun was, het ons ‘n ou liedjie gesing: “Hoe verbeur ons tog die vrede, Ag, hoe dikwels ly ons smart, net omdat ons nie ons node uitstort in Gods Vaderhart...”

In onlangse gebed, het God in my siel gefluister: “Geen ander geslag was so ‘n oorvloedige voorsiening gegee vir elke behoefte en potensiële krisis nie. En tog het geen ander geslag My hulp so blatant verwerp nie!”

Hoe moet God bedroef word wanneer Sy mense oorstroom word en tog weier om die een ding te doen wat nodig is te doen: Hulle hardloop nie na Hom toe nie! Hulle haas hulle nie in God se teenwoordigheid in nie, omdat hulle nie die gewoonte ontwikkel het om met Hom gemeenskap te hê nie. Hulle gaan nie in gebed na Hom om uit te vind watter hulpbronne en krag hulle nodig het om die vloedstroom te weerstaan nie. Hulle het nie op die rots van ‘n verhouding met Jesus gebou nie!

Vir veertig jaar het die kinders van Israel nodeloos in onrus, wanhoop, verwarring en verskriklike pyn geleef. Hulle het God se getrouheid tien keer versoek. Maar hulle kon in die grootste rus en vrede moontlik geleef het. God het gesê dit was hulle s’n om binne te gaan – en tog het hulle geweier!

In plaas daarvan, was ‘n hele geslag lewens vermors in bitterheid, twis, geklaag, gesondheids- en familieprobleme. Hulle het nie een enkele dag wakker geword met vrede nie. In plaas daarvan, het hulle slegs swaarmoedigheid ervaar – en hulle het nooit die rus binnegegaan wat hulle s’n was nie.

Ek vind dit heeltemal ongelooflik! God het hulle belowe, “Ek sal julle in My arms dra, soos ‘n vader ‘n kind dra. Ek sal julle vooruitgaan!” Israel het ‘n wolkkolom in die dag en ‘n vuurkolom in die nag gehad om hulle te lei. Hulle het die duidelikste woord van enige geslag nog ooit gehad: manna wat uit die hemel val, water wat uit die rots kom – en vir vir veertig jaar het hulle egter heeltyd afvallig geword van hulle Bron! Vir al Israel se hardkoppigheid, het ons vandag in ‘n baie groter mate gesondig! Jy sien, God het vir ons iets baie beters voorsien – iets wat nooit die Israeliete se gedagtes binnegedring het nie. Hy het vir ons in hierdie laaste dae oorvloedige heerlike beloftes gegee met die doel om ons voortdurende vrede en blydskap te gee!

Ou Testament gelowiges het slegs ‘n beperkte visioen van God se bronne gehad: “Van ouds af tog het niemand dit gehoor of verneem nie, geen oog het ‘n God gesien wat werksaam is vir wie op Hom wag nie, behalwe U” (Jesaja 64:4).

Die apostel Paulus het hierdie vers aangehaal in sy brief aan die Korinthiërs. En in die volgende vers het hy geopenbaar dat die groter hulpbronne aan ons behoort: “Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God” (1 Korinthiërs 2:9-10). “Ons het... ontvang... die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het” (1 Korinthiërs 2:12).

Die apostel Petrus sê ook dat alles wat ons nodig het aan ons beskikbaar gestel is: “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug” (2 Petrus 1:3).

Hier is wat God sê: “Ja, jy is hartseer. Jy ly pyn en jy is bekommerd. Jy word toegegooi met dinge wat bokant jou vuurmaakplek is en jy nie verstaan nie. Maar Ek het oorvloedige voorsiening vir jou gemaak om te ontsnap. Ek het ‘n weg gemaak vir algehele oorwinning!”

Geliefde, daardie oorwinning kom nie wanneer jou situasie verander nie. Liewer, dit kom wanneer God ‘n groot verandering in jou en my meebring – om ons bokant die stroom te laat uitstyg. Die stroom bly – maar dit kan ons nie laat skade ly nie, omdat Hy iets in ons gedoen het wat ons sal verlos!

Daardie weg van ontsnapping is duidelik en eenvoudig. God sê, “Jy het ‘n plek om heen te gaan vir verligting – jy het Iemand om mee te praat!”

‘n Beroemde evangelis wat diep betrokke was in seksuele sonde het nadat hy ontbloot is, gesê, “Deur al my hartseer en probleme, het ek niemand gehad om mee te praat nie.” Geliefde, dit is eenvoudig nie waar nie! Ek maak nie daardie broer af nie – ek het hom lief as ‘n dienaar van God. Maar daar is nie so ‘n ding soos ‘n Christen wat niemand het om mee te praat nie!

Miljoene lydende Christene jaag rond en soek na ‘n vriend of berader wat al die antwoorde het wat hulle nodig het. Maar hoe laat dít die Here voel? Hy staan die hele tyd by en sê, “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele” (Matthéüs 11:28-29).

Christene het vir my gesê, “Jy is net soos baie ander predikers. Jy gaan vir my sê, ‘Gaan bid daaroor – gaan praat met Jesus!’” Hulle sê dit spottend, asof dit ‘n grap is – asof dit iets is vir kinders om te doen! Wat hulle eintlik sê, is, “Ek het iets meer as gebed nodig – iets meer as wat die Skrif vir my kan gee!”

Geliefde, die vleeslike mense kan nie die dinge van God verstaan nie – slegs die Heilige Gees ken die gedagtes van die Vader. En slegs die Vader ken die wortel van jou probleem! As jy sit en probeer om dit deur te dink, sal jy nooit daaroor kom nie.

Die enigste hulp wat selfs die goddelikste berader vir jou kan gee, is om jou te leer om na jou knieë te gaan, in die Here se teenwoordigheid te kom, en Hom te soek met jou hele hart – en op Sy Gees te wag om jou te lei!

Het jy ‘n plek waarheen jy elke dag kan gaan en jou hart voor die Here uitstort? As jy het, moet dan nie nalaat om jou pyn daagliks voor Hom uit te stort nie – en laat jou probleme in die gebedskamer by Jesus agter.

Baie wat hierdie boodskap op hierdie oomblik lees, het nog nooit ‘n gewoonte ontwikkel om alles na Jesus te neem nie. Hulle gaan net voort om te ly – en vir elke bykomstige uur wat hulle hul droefheid en pyn dra, sê hulle vir God: “U het geen krag nie! U gee nie om nie – U kan my nie help nie!” Uiteindelik sal hulle deur die stroom meegesleur word – omdat hulle geloof nie op die Rots gebou is nie!

Daar is baie sulke Christene wat eens Times Square Kerk bygewoon het. Eens op ‘n tyd het hulle geleer van God se handelwyse en het begin om te groei. Maar nou kom hulle nie meer nie – hulle het bitter en kwaad geword en hulle skinder oor die kerk en sy herders. Wat het met hulle gebeur?

Hulle het ‘n probleem gehad – en eerder om dit voor die Here uit te stort, het hulle dit na ‘n vriend geneem! Hulle het hulle hart ontlaai voor iemand met ‘n verkeerde gees – iemand met ‘n skinderende of kritiese gees – en hulle het vasgevang geraak in ‘n web van nydige spinnekoppe!

Hulle het iemand gekry wat met hulle simpatiseer – om hulle “kant te kies” – en in plaas van te leer hoe om alles na Jesus te neem en hulle gedagtes en gees genees te kry, het hulle verbitterd en hard geword. Nou voel hulle ellendig; hulle dae word verkwis deur te fokus op hartseer en probleme. Hulle het nors en gemeen geword, en gee voor asof hulle gelukkig is – omdat hulle nooit geleer het om hulleself daagliks met God af te sonder en elke hartseer en probleem in geloof op Hom af te laai nie.

“So sê die HERE: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk” (Jeremia 17:5). “Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is” (Jeremia 17:7). Die mens wie se huis gebou is op sand, is die een wat in mense al hulle vertroue stel, Hy steun nie volkome op die Here vir sterkte en hulp nie!

God se grootste getuienis vir die wêreld in hierdie laaste dae van onrus sal  ‘n diepgewortelde gelowige wees wat kalm in die storm is!

“Hy het die storm ‘n gesuis gemaak, en hulle golwe het stil geword” (Psalm 107:29).

Elke wind en golf wat in jou lewe inkom is onderworpe aan ons Here! Die dissipels was op ‘n boot saam met Jesus, wat agter vas aan die slaap was toe daar ‘n storm ontstaan het:

“Toe kom daar ‘n stormwind op die see af en die skuit het begin vol word, en hulle was ingevaar. En hulle het na Hom gegaan en Hom wakker gemaak en gesê: Meester, Meester, ons vergaan! Hy staan toe op en bestraf die wind en die watergolwe, en hulle het bedaar en daar het ‘n stilte gekom” (Lukas 8:23-24).

Geliefde, dit is die ware kern van hierdie boodskap: ‘n Storm het hulle oorval, hulle was in groot moeilikheid, en hulle het na die Meester gehardloop. Hulle het na Hom uitgeroep, Hy het hulle storm stil gemaak – en daar was ‘n groot kalmte!

“O HERE, God van die leërskare, wie is soos U? Grootmagtig is U, o HERE, en u trou is rondom U! Ú heers oor die trotsheid van die see; as sy golwe hulle verhef, bring Ú hulle tot bedaring” (Psalm 89:9-10).

Ja, baie sal val! Hulle sal meegesleur word deur die vloedstroom. Maar God gaan ‘n volk hê in hierdie laaste dae met vaste harte – wat nie rongewaai sal word deur elke wind en golf van leerstelling nie, nie bekommerd in die storm is nie; maar wat altyd op Hom steun, hulle harte voor Hom uitstort en voortgaan met ‘n groot kalmte!

Jy sien, ‘n kalm siel is ‘n “uitgestorte” siel -  een wat alles uitgehuil het, alles in God se teenwoordigheid leeggemaak het! Dawid het gesê: “Ek stort my klagte uit voor sy aangesig; ek maak voor sy aangesig my nood bekend” (Psalm 142:2).

Ek dank God vir straatpredikers, vir diegene wat traktaatjies uitdeel, en vir elke getuie van die Here. Maar die grootste getuienis in hierdie laaste dae, is die man of vrou wat in die teenwoordigheid van Jesus was en daar uitgekom het om die wêreld in die oë te kyk met ‘n diepgewortelde vrede. Daardie mens het die gesig van ‘n vaste, vertrouende siel – standvastig en onwrikbaar!

Ly jy tans? Gaan na Jesus, ontlaai jou hart – en hou aan om dit te doen totdat jy dit alles uitgekry het. Die dag sal kom waarop die wind gaan lê, die stortreën ophou, die stortvloed verdwyn, en die son begin skyn. En jy sal sien dat jou huis, wat gebou is op die Here, staande gebly het! Dit het nie geval nie!

Die koning wat as Here oor die vloedstrome heers, is reeds op pad. Net ‘n klein rukkie langer, en ‘n blink nuwe dag sal kom!