Meer As Salomo Is Hier

David Wilkerson

Volgens Jesus sal daar ‘n sekere getuie op die Oordeeldsag verskyn en verdoemende getuienis lewer teen die huidige geslag. Die Koningin van Skeba gaan die getuiebank betree en haar woorde sal verdoemend wees: “Die koningin van die Suide sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want sy het gekom van die eindes van die aarde af om die wysheid van Salomo te hoor, en — meer as Salomo is hier!” (Matthéüs 12:42).

Hierdie koningin sal ons geslag aanspreek, ons wat in die heel laaste dae leef. En haar oordeel sal die volgende wees: sy sal elke poging, pyn en swaarkry wat sy moes verduur om wysheid van Salomo te verkry, beskryf. Jy sien, in haar leeftyd, was hierdie vrou desperaat vir waarheid wat haar sou vrymaak. En by die Oordeel sal sy getuig, “Ek het van die verste dele van die aarde gereis om Salomo se wysheid te verkry. Julle, aan die ander kant, word versadig met die waarheid van die evangelie. Julle het Een wat baie meer is as Salomo wat in julle midde leef. Julle het egter julle oë en ore vir Hom gesluit.”

Wie presies was hierdie Koningin van Skeba? En waarom was sy so belangrik dat sy by die Oordeel sal verskyn? Skoliere sê sy was ‘n Arabiese heerseres en het geheers oor die gebied wat vandag as Jemen bekend staan. Dit was ‘n kultuur wat oor die eeue hulleself in raaisels verdiep het. Die Arabiese ingesteldheid vra heeltyd vrae sonder om antwoorde te gee.

Hierdie prominente vrou kon in haar gees besorgd gewees het oor al die groot vrae van die lewe — oor God, die toekoms, die dood — en sy het geen antwoorde gehad nie. Sy wou wysheid hê om haar te help om te weet hoe om te lewe, te heers en andere te help. Tog kon geen hoeveelheid rykdom, roem of raad haar siel se hulpgeroep beantwoord nie. Haar siel se diepste verlange was nie vervul nie.

Toe het sy gehoor van Koning Salomo. Hy het dwarsdeur die wêreld ‘n reputasie gehad as iemand wat ontsaglike wysheid gehad het. Die Skrif sê die koningin het “die gerug van Salomo [ge]hoor” (1 Konings 10:1), miskien deur handelaars of matrose, wat na Jerusalem gereis het. Volgens hulle berigte, het Israel se koning die menslike natuur verstaan soos niemand anders nie. Hy was in staat om elke vraag te beantwoord en elke probleem op te los, maak nie saak hoe ingewikkeld dit was nie.

Die koningin moes gewonder het, “Wie is hierdie man wat soveel wysheid spreek en die moeilike vrae van die lewe beantwoord?” Haar eie gode het nie gepraat, gehoor of gesels nie. Daarom was sy vasbeslote, “Ek moet ten alle koste by Salomo uitkom. Ek moet hierdie kwellende vrae oplos. As hy die raaisels van die lewe kan oplos, dan is hy die een om al my verlange te beantwoord.”

Sy het ‘n karavaan gekry om haar na Jerusalem te neem, ‘n afstand van 1,500 myl. Dit sou ongeveer 75 dae neem — 150 dae heen en weer — amper ‘n halwe jaar. En dit sou hulle deur ‘n warm, snik heet woestyn lei. Hulle sou plunderende rowers en ‘n dorre landskap met geen geriewe of gemak trotseer. Hulle sou bitter koue nagte verduur. Niks kon egter die koningin keer om ‘n ontmoeting met Salomo te hê nie.

Sy moes deur soldate, regeringsamptenare, dienaars, kokke en tolke vergesel word. Kamele moes gelaai word met voedsel, water en geskenke van juwele en speserye. Alles saam, het die karavaan bestaan uit ‘n “baie groot trek” (1 Konings 10:2). Stel jou voor die gesig van hierdie geselskap wat in Jerusalem aankom na maande van stowwerige warrelwinde, skroeiende hitte en ongelooflike swaarkry. Nou, terwyl hulle die hoofstad nader, hardloop Salomo se dienaars om die koningin te ontmoet en te sê, “Wat ‘n reis het u gehad! Asseblief, verfris uself. Ons koning het sy groot baddens vir u beskikbaar gestel.”

Later, is die koningin by Salomo se hof ingelei. En sy het dadelik begin om hom al die vrae te vra wat haar nog altyd gepla het. “Het sy gekom om hom met raaisels op die proef te stel....en toe sy by Salomo inkom, het sy met hom gespreek oor alles wat in haar hart was” (1 Konings 10:1-2). Die koningin het alles uitgehaal om hom te vra.

En sy was nie teleurgesteld nie. Die Skrif sê, “En Salomo het haar al haar woorde verklaar; geen woord was vir die koning te diepsinnig om haar dit te verklaar nie” (1 Konings 10:3). Salomo het haar mildelik geantwoord met ontsagwekkende, insiggewende waarhede. Hy het nie ‘n enkele onderwerp onbeantwoord gelaat nie. Ek stel my voor hoe die koningin se gesig opgehelder het met elke antwoord as sy besef, “So, dit is hoe dit is.” Stel jou voor die vrede wat haar siel binnegestroom het soos haar lewenslange vrae een vir een ter ruste gelê is.

Daarna is sy vir ‘n toer van Salomo se koninkryk geneem. Sy het eerstehands die orde, prag en voorspoed wat Salomo se wysheid vir die volk gebring het, gesien. Sy het “die huis wat hy gebou het, en die voedsel van sy tafel en hoe sy dienaars sit en sy bediendes staan, en hulle klere, en sy dranke en sy trap waarmee hy opklim in die huis van die HERE” (1 Konings 10:4-5). aanskou. Dit was so oorweldigend, dat “daar in haar geen gees meer” (1 Konings 10:5) was nie. Eenvoudig gestel, sy het na haar asem gesnak.

Toe alles tot haar deurgedring het, het sy vir Salomo vertel, “Die woord was waarheid wat ek in my land gehoor het oor u en oor u wysheid; en ek het die woorde nie geglo nie, totdat ek gekom en my oë gesien het; en kyk, die helfte is my nie meegedeel nie. U oortref in wysheid en in welvaart die gerug wat ek gehoor het. Gelukkig is u manne, gelukkig hierdie dienaars van u wat gedurig voor u staan, wat u wysheid hoor. Geloofd sy die HERE u God...om u op die troon van Israel te laat sit...om reg en geregtigheid te doen” (1 Konings 10:6-9).

Na haar toer, het die koningin al die geskenke wat sy in die karavaan gebring het, aan Hom gegee. Op sy beurt, het hy sy hele stoorkamer vir haar oopgemaak en sy was verwonderd oor sy groot rykdom. “En koning Salomo het aan die koningin van Skeba al haar begeerte gegee wat sy gevra het, bo wat hy haar na die vermoë van koning Salomo gegee het” (1 Konings 10:13).

Die godsdienstige leiers van Christus se tyd was bekend met die koningin se storie. Hulle het dit in hulle sinagoges geleer en hulle het alles geweet van haar desperaatheid om Salomo te ontmoet. Nou het Christus haar storie gebruik om hulle te waarsku, “Hierdie selfde koningin van die suide gaan julle voor die Vader veroordeel. Sy het van die verste uithoeke van die wêreld gekom om Salomo se wysheid aan te hoor. En kyk, meer as Salomo staan nou voor julle.”

Inderdaad, daardie koningin gaan vir die Fariseërs vra, “Hoe kon julle so blind gewees het? Julle het al julle moeilike vrae na die Koning gebring, selfs strikvrae om Hom te probeer uitvang. Hy is egter die alwetende God in die vlees, die Een wat Salomo al sy wysheid gegee het. Hy het in julle midde gestaan en julle uitgenooi om vrae te vra en julle harte vir Hom oop te maak. Hy het selfs vir julle gesterf. Maar julle het jul oë vir Hom toegemaak en ‘n aan Hom dowe oor vir sy waarheid gegee. Julle het verkies om in duisternis te lewe, omdat julle dade boos was.”

Ek wonder: sal hierdie koningin ons geslag van dieselfde sonde aankla? Sal sy sê, “Ek het die wysheid gesien en gehoor van ‘n man wat in my leeftyd geleef het en sy woorde het my lewe verander. Ek het een sessie met hom gehad en hy het al die vrae wat in my hart was, beantwoord. Hy het al die kwessies en besorgdhede in my lewe geken en sy waarheid het my verlos van al my verwarring.

“Maar die tyd het gekom dat ek daardie man se teenwoordigheid moes verlaat. Jy hoef egter nie. Jy het Een gehad wat in jou midde gewoon het en jy het te alle tye toegang tot sy wysheid gehad. Verder is Koning Jesus oneindig meer en groter as Salomo. En Hy het ‘n Woord om met jou te spreek oor alles in jou lewe. Hy wil hê dat daardie Woord vir jou verligting sal bring om jou met vrede en blydskap te voorsien.

“Daarom nooi Hy jou voortdurend na sy feestafel uit. Jy het nie nodig om 1,500 myl te reis om daar te kom nie. Hy het na jou gekom en Hy vra nie vir jou geskenke of juwele nie. Al wat Hy wil hê, is dat jy jou laste na hom toe bring. Hy wil hoor van jou bekommernisse, om jou sorge op Hom te neem, om vir jou antwoorde te gee op jou probleme. Die enigste wierook wat Hy van jou verlang is gebed en lofprysing.

“Toe ek in Salomo se paleis was, het ek gesien hoe gelukkig sy dienaars was. Hulle het daagliks na die koning se tafel gekom en met blydskap sy wysheid ingeneem. Hulle het aandagtig en met groot respek geluister na elke woord. En toe hulle na die tempel gegaan het om te aanbid, het hulle ‘n heilige vrees gehad. Dit was so ‘n heerlike gesig, dat dit my asem weggeslaan het. Ek het groot dinge van Salomo gehoor, maar niks kon my voorberei vir wat ek in sy teenwoordigheid ervaar het nie.

“Met julle geslag is dit ‘n heel ander storie. Julle is so ligsinnig oor julle Koning. Julle het toegang tot sy ontsaglike wysheid, al sy geregtigheid en heiligheid, maar julle ignoreer Hom dag vir dag. Hoe kan julle tevrede wees om sulke neerslagtige, vreesbevange lewens te leef? Julle het in julle midde die Bron van al julle antwoorde. Hy is baie meer en groter as Salomo!”

Laat my jou vra: wanneer was die laaste keer wat jy ‘n ontsagwekkende ervaring met Jesus gehad het? Wanneer laas was jy so bekoor met sy vredegewende wysheid dat dit jou asem weggeslaan het? Wanneer het jy laas gesê, “Niks wat aan my geleer is oor Christus het my voorberei vir hierdie ervaring met Hom nie. Hy het al my twyfel opgelos en my pure blydskap gebring”?

Ons moet almal vandag een deurslaggewende vraag vra: “As Een meer as Salomo in my midde is, sal Hy my moontlik in verwarring laat bly? As sy wysheid altyd beskikbaar is, soek ek so passievol daarna soos die koningin Salomo se wysheid gesoek het?”

Ek glo die koningin vra vir ons, “As Salomo gewillig was om te luister na al my vra, sou jou Koning enigsins minder gewillig wees om joune te hoor? As Salomo so geduldig was om my kwelvrae te beantwoord, sal jou alwetende Here nie soveel meer jou laste op Hom neem nie? Hoe sou Jesus enigsins minder gewillig wees om met jou te praat, om jou sy wysheid en leiding te gee?”

Die waarheid is dat God steeds vandag met sy mense praat. En Hy praat so duidelik soos in die Ou Testament, of soos met die apostels of met die vroeë kerk. Ons moet egter een ding besef: God kies slegs om met diegene te praat wat ore het om te luister. Laat my dit illustreer.

Markus 4 vertel vir ons Christus “het hulle baie dinge geleer deur gelykenisse” (Markus 4:2). In hierdie gedeelte, vertel Jesus die gelykenis van die saaier, oor ‘n man wat saad in ‘n land saai. Toe Hy egter die storie klaargemaak het, was skare verdwaas. Hulle het gewonder, “Wie is die saaier wat Hy beskryf? En wat stel die saad hier voor? Al die gepraat van voëls, duiwels, doringagtige grond, goeie grond — waaroor gaan dit?”

Jesus het dit nie aan hulle verduidelik nie. In plaas daarvan, sê die Skrif, “Wie ore het om te hoor, laat hom hoor” (Markus 4:9). Net die dissipels en ‘n oorblyfsel van ‘n paar ander wou antwoorde hê. So, hulle het daarna na Jesus gekom en Hom vir die betekenis van die gelykenis gevra: “En toe Hy alleen was, het die wat saam met die twaalf rondom Hom was, Hom na die gelykenis gevra” (Markus 4:10). Toe het Christus die tyd geneem om al hulle kwelvrae te beantwoord (sien Markus 4:14-20).

Besef jy wat in hierdie toneel gebeur? Jesus het die skare die openbaringswaarheid gegee, ‘n woord wat direk van God se mond kom, maar dit het hulle verwar. Jy mag wonder, “Waarom het Jesus nie die gelykenis beter verduidelik nie?” Ons vind ‘n leidraad in dieselfde hoofstuk: “En sonder gelykenis het Hy tot hulle nie gespreek nie” (Markus 4:34). Ek glo Jesus het gesê, “As julle My Woord wil verstaan, moet julle agter my aankom vir die antwoord. En julle moet kom soos die koningin van Skeba: met ‘n honger na die waarheid wat julle sal vrymaak. Ek sal julle al die opbenbaring gee wat julle nodig het. Maar julle moet na My kom en My najaag met ‘n soekende, aandagtige oor.

Stel jou voor wat gebeur het met die meeste van daardie skare nadat hulle huistoe gegaan het. Bure het rondom hulle saamgekom en was angstig om te hoor wat Jesus gesê het: “Wat was die boodskap wat Hy gebring het? Vertel vir ons wat julle geleer het.” Diegene wat Hom gehoor het, mag moontlik sy gelykenisse kon herhaal. Maar hulle woorde sou dood en leweloos gewees het met geen impak of lewensveranderende krag nie.

Ek glo dieselfde dinge gebeur in Christus se kerk vandag. Die woord wat van baie preekstoele uitgaan, is dooie letter, met geen Heilige Gees openbaring of krag om van sonde te red nie. Daarna, wanneer die mense huistoe gaan, kan baie van hulle bloot die woord wat hulle gehoor het herhaal sonder die lewe van die Gees. Wat ‘n teenstelling met die honger dissipels en die ander wat volgelinge van Christus gebly het in hierdie toneel. Hierdie mense verteenwoordig almal wat honger vir God se Woord en wat Jesus ten alle koste sal najaag om dit te kry. Hulle bestaan uit ‘n “Koningin van Skeba Maatskappy,” dienaars wat Christus se lewensveranderende openbaring wil hê.

Hoe het Jesus reageer op hulle soeke? Hy sê, “Aan julle is dit gegee om die verborgendheid van die koninkryk van God te ken, maar vir hulle wat buite is, kom alles deur gelykenisse” (Markus 4:11). Die Griekse woord vir verborgenheid hier beteken geheime. Kortliks, Christus openbaar sy geheime slegs aan diegene wat honger na lewensveranderende waarheid. Hy sê, “As jy antwoorde vir moeilike vra wil hê, jaag My na. Spandeer tyd met My, Ek sal my Woord aan jou openbaar, en jou waarhede wys wat ander nie sien nie.”

So, wie is diegene “wat buite is” (Markus 4:11)? Jesus verwys na die menigtes wat nie gewillig is om op Hom te wag nie. Hulle sal nie hulle gemak prysgee om te doen wat nodig is om hulle ore te leer om sy stem te hoor nie. Hulle mag gereeld kerk toe kom en die Here soek om al hulle menslike behoeftes aan te spreek. Maar hulle is nie geïnteresseerd om sy stem te ken verder as sy vermoë om vir hulle te voorsien nie. Sy bevrydende waarheid bly ‘n verwarring vir hulle, ‘n reeks geslote raaisels.

Die duiwel se dreigement teen die kerk vandag gaan verder as die stroom van gemors wat op die aarde uitgegiet word. Dit gaan verder as materialisme, verslawings of intense verleidings. Ons stryd is een van geloof. Hoe meer jy jou hart daarop sit om Jesus te soek, hoe meer venynig word die Satan se aanvalle teen jou geloof.

In die afgelope maande, het ek belydenisse van goddelike heiliges gehoor wat praat van verskriklike aanvalle op hulle gedagtes. Hulle word geteister deur pyle van twyfel en knaende vrae oor God se getrouheid. Hulle wonder of Hy begaan is oor hulle stagnante bedienings, hulle problematiese huwelike, hulle kinders wat afdwaal. Baie wankel en strompel voort, twyfel in hulle geloof en dink, “Ek weet nie of ek kan voortgaan nie.”

Dan lees ek die brief van ‘n 81-jarige vrou wat aan ons bediening geskryf het. Sy sê, “My man word verteer deur beenkanker. In die tussentyd, sterf my seun van VIGS. En ek gaan stadig agteruit van diabetes.” Terwyl ek alles lees wat hierdie familie verduur, skud ek my kop en wonder, “Hoe kan sy haar blydskap behou? Dit is te veel vir enigiemand om te verdra. God sal sekerlik haar geloof minder ernstig beproef.”

Dan lees ek die laaste paragraaf van haar brief: “Ten spyte van dit alles, is God getrou. Hy het nog nooit een keer misluk in enige woord wat Hy aan ons belowe het nie. Ons het ons seun in Jesus se hande oorgegee . En nou wag ons vir die dag wanneer ons ons geseënde Here van aangesig tot aangesig sal aanskou.”

Ja, die stryd gaan alles oor geloof. Ons sien dit geïllustreer in Markus 8, waar Jesus 4,000 mense met sewe broodjies en ‘n paar vissies gevoed het. Daarna het Hy saam met sy dissipels in ‘n boot geklim en na die ander kant gevaar: “En hulle het vergeet om brode saam te neem, en het net een brood by hulle in die skuit gehad. En Hy het hulle beveel en gesê: Pas op, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodes. Toe redeneer hulle onder mekaar en sê: Dit is omdat ons geen brode het nie.

“En Jesus merk dit en sê vir hulle: Waarom redeneer julle dat julle geen brode het nie? Begryp julle nie en verstaan julle nie? Het julle nog julle verharde hart? Het julle oë en sien julle nie? En het julle ore en hoor julle nie? En onthou julle nie toe Ek die vyf brode vir die vyfduisend gebreek het, hoeveel mandjies vol brokstukke julle opgetel het nie? Hulle sê vir Hom: Twaalf. En die sewe vir die vierduisend – hoeveel mandjies vol brokstukke het julle opgetel? En hulle sê: Sewe. Toe sê Hy vir hulle: Hoe verstaan julle dan nie!” (Markus 8:14-21).

Jesus het hulle herinner, “Onthou julle nie wie Ek is nie? Julle het pas gesien hoe Ek ‘n paar broodjies en vissies vermeerder het om die menigte te voed. Hoe kan julle so ‘n wonderwerk vergeet? Ek het vir julle gesê Een meer as Salomo was in julle midde. Wanneer sal julle besef dat God altyd by julle teenwoordig is, in elke krisis? Julle het oë, maar julle sien nie.”

Hoe moet dit die Here bedroef as ons sy vorige oorwinnings en al sy wonderwerke van verlossing in ons lewens vergeet. Hy het ons sy vriende genoem (sien Johannes 15:15), maar in ons krisisse, vergeet ons dikwels van sy getroue vriendskap. Dit is waarom Jesus die dissipels gewaarsku het oor die suurdeeg van die Fariseërs. Hy het hulle in wese vertel, “As julle na My toe kom met moeilike vra, moenie verwag dat Ek moet antwoord as jy ‘n ongelowige hart het nie. Jy moet na My toe kom met vertroue en geloof, terwyl jy glo dat Ek Een meer as Salomo is.”

In ‘n ander toneel in Markus 4, het die dissipels die meer oorgesteek. “En ‘n groot stormwind het opgekom, en die golwe het in die skuit geslaan, omdat dit al vol wou word” (Markus 4:37). ‘n Stortvloed van golwe het in die boot gestroom en die paniekerige dissipels het gehaas om die stygende water uit die boot te skep. Hulle was ervare vissermanne en gou het hulle besef dat hulle lewens in gevaar was. Daarom het hulle gou vir Jesus, wat agter in die boot aan die slaap was, wakker gemaak en geroep, “Meester, ons vergaan!”

As ek sien hoe Jesus wakker word, wil my vlees hê dat Hy die dissipels moet moed inpraat: “Ek is so bly dat julle my wakker gemaak het. Dit is ernstig. Julle arme broers, Ek is jammer dat Ek julle hierdie storm vir so lank laat verduur het. Vergewe My dat Ek nie vroeër opgetree het nie. Hopelik het julle nie gedink dat ek onbesorg oor julle krisis was nie.”

Nee, Jesus se reaksie was net die teenoorgestelde. Hy het die dissipels bestraf! “Waarom is julle so bang? Hoe het julle dan geen geloof nie?” (Markus 4:40). Stel jou voor hoe daardie manne op daardie oomblik gevoel het: “Het Jesus waarlik van ons verwag om in water tot by ons middels te staan en nie te vrees nie? Dit is die ergste storm wat ons al ooit deurgemaak het. Golwe stroom in en die boot is op pad om te sink. Was ons veronderstel om geloof uit te oefen in ‘n skynbaar hopelose situasie?”

Die antwoord is: ja, natuurlik! Jesus het hulle geloof getoets. Hy wou weet: “Sal hierdie volgelinge My vertrou al staar hulle die dood in die gesig? Sal julle aan hulle geloof in My vashou?” In die vlees, was Christus miskien aan die slaap. Maar Hy was ook God en die Here slaap nooit nie: “Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie” (Psalm 121:4).

Op hierdie oomblik mag jou boot oorstroom en jou situasie hopeloos wees. Die storm dwarrel rondom jou en mag net so angswekkend wees soos al die ander wat jy getrotseer het. Maar Hy is steeds God en jy het Een wat meer en groter is as Salomo by jou teenwoordig. Hy is Meester oor elke storm en Hy sal daardie storm gebruik om jou te toets. Hy laat jou krisis toe om te sien wat in jou hart is.

Jy mag dink, “Maar wat as my skip werklik sink? Wat dan?” Beskou Paulus se voorbeeld in Handelinge. Sy skip het gesink, maar Hy het nie sy lewe verloor nie. In werklikheid het hy aan God se Woord vir hom vasgehou te midde van daardie storm: “Die skip sal vergaan, maar Ek sal jou die lewe van almal aan boord gee.” Toe die storm opgehou het, was God verheerlik vir sy getrouheid. En groot wonderwerke het gevolg en ‘n ontsaglike herlewing het plaasgevind (sien Handeling 28:1-10).

Ja, die Here mag toelaat dat jy iets verduur wat lyk of dit heeltemal rampspoedig is. Maar jy sal oorleef — en jou geloof sal ook — as jy Hom vertrou. Jou skip mag sink, maar God sal jou die krag gee om strand toe te swem, net soos Hy vir Paulus gehelp het. Al wat jy kan verloor, is dit wat materieël is en God kan dit maklik vervang. Hy besit groter, beter skepe en Hy is in staat om jou te seën met meer as enigiets wat jy verloor het.

Ek moet erken, terwyl ek lees hoe Jesus die dissipels bestraf, dink ek, “Here, dit is nie regverdig nie. Ek ontvang vandag briewe van mense wat self verskriklike rampe trotseer. Hulle het hulle huise, hulle werke en hulle geliefdes verloor. U verwag tog sekerlik nie van hulle om vol geloof te bly nie.”

Dan herinner die Heilige Gees my van sommige van die armoedige gebiede wat ek besoek het. Ek het gesien waar mense in krotte bly en op grondvloere slaap, maar egter ‘n blydskap het wat ek nêrens anders gesien het nie. Hulle verheug hulle in God se daaglikse getrouheid aan hulle en Hy veroorsaak dat hulle geloof oorvloedig is ten spyte van hulle beproewings.

Hierdie groot afval word in die Skrif geprofeteer. Paulus waarsku, “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom” (2 Thessalonicense 2:3).

In die Ou Testament, het die Here vir ons ‘n voorbeeld gegee van wat gebeur het met hulle wat wegval van die geloof in God se krag wat vir hulle werk. In 2 Kronieke 14, het Koning Asa ‘n miljoen man leër van die Kusiete getrotseer. Maar die koning het groot geloof gehad: “En Asa het die HERE sy God aangeroep en gesê: HERE, niemand kan help soos U tussen die magtige en die kragtelose nie; help ons, HERE onse God , want op U steun ons, en in u Naam het ons teen hierdie menigte gekom; HERE, U is onse God” (2 Kronieke 14:11).

Wat het toe gebeur? “En die HERE het die Kusiete voor Asa en Juda verslaan” (2 Kronieke 14:12). Wat ‘n groot geloof het Asa gehad! Vir jare daarna, was daar “geen oorlog tot in die vyf-en-dertigste jaar van die regering van Asa nie” (2 Kronieke 15:19). Vir jare het Asa in geloof voor die Here gewandel, en dit het God se guns en seën oor Juda gebring. ‘n Groot vrede het oor die land gekom en daardie vrede het ‘n getuienis vir die wêreld geword. Gou het honger mense van omliggende nasies na Juda gestroom, omdat hulle geweet het dat Asa met God wandel.

Toe, in die ses-en-dertigste jaar van sy heerskappy, het Asa weer ‘n krisis gehad. Israel se koning het teen Juda opgestaan en Rama ingeneem in ‘n poging om alle handel in en uit Jerusalem af te sny. Die plan was om Juda uit te honger todat hulle onderdanig aan hulle sou word. Asa was heeltemal kwesbaar gelaat, maar hierdie keer het hy nie op die Here vertrou in sy krisis nie. In plaas van om tot God te bid vir leiding en raad, het hy hom tot die koning van Sirië gewend. In ruil vir Sirië se hulp, het Asa die skatkamers van Israel oopgemaak en dit leeggemaak van al die goud en silwer van die nasie.

En so is Juda van hulle vyand verlos, maar nie deur die Here nie. Daardie heerlikheid het gegaan na ‘n vreemde leër van Sirië. En nou was Juda se getuienis van God se krag aan die wêreld daarmee heen. ‘n Regverdige profeet in die land het na Asa gekom met hierdie striemende woord: “U [het] op die koning van Aram gesteun en nie op die HERE u God gesteun het nie...want die HERE – sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is: hierin het U dwaas gewandel, want van nou af sal daar oorloë teen u wees” (2 Kronieke 16:7, 9).

Ek is oortuig dat baie Christene vandag bekommerd is weens dieselfde rede wat Asa was. Hulle het stryd in hulle siele omdat hulle geloof vir selfvertroue verruil het. Maar die werklikheid is, daar is geen manier waarop ‘n volgeling van Jesus geloof in enige ander bron kan hê en nie bekommerd wees nie.

Christus se waarskuwing is eenvoudig en duidelik: Een meer as Salomo is tussen ons. En ons moet Hom glo, Hom geheel en al vertrou en onsself geheel en al in sy sorg plaas. Hy sal ons stryd vir ons stry en met ons vyande afreken. Dan sal daar geen oorloë meer wees nie, omdat Hy dit alles vir ons sal besleg: Hy “wat oorloë laat ophou” (Psalm 46:10).

Een meer as Salomo sal jou kragtig steun, as jy net op Hom sal vertrou.