Maak gereed vir die koms van die Here

‘n Geliefde Christen vrou van Lousiana het vir ons geskryf: “Verlede Sondag het ons pastoor gevra vir getuienisse oor wat God die afgelope week gedoen het. Sy eie vyfjarige seuntjie het opgestaan en gesê: “Ek het laasnag gedroom. Jesus het vir my gesê Hy kom gou.” Die Heilige Gees het daardie kind gebruik om God se kinders te herinner aan ‘n heerlike waarheid.

Ongelukkig, weet die teenwoordige geslag minder van die Wederkoms van Christus, as alle vorige geslagte. Jesus se Wederkoms word selde nog van die kansels af verkondig. Om die waarheid te sê is daar baie wat hulleself Christene noem, wat hierdie waarheid nie meer wil hoor nie. Hoekom?

Die lewe behandel die meeste Christene goed, die klem val dus op hoe om hierdie goeie tye te laat voortduur. Soos Lot se vrou, word hulle besit deur hulle besittings. Hulle is verslaaf aan die dinge van die wêreld, en in hulle gedagte kan Christus se koms dit omvergooi.

Ek het gehoor dat kerkgangers spot met Jesus se Wederkoms, wat enige oomblik mag gebeur. Daar is selfs ‘n leerstelling wat beweer dat Jesus nie voor oor duisend jaar sal terug kom nie. Die gedagte daaragter is dat die kerk genoeg tyd sal ontvang om die wêreld te evangeliseer en ‘n nuwe wêreld orde te bewerkstellig voordat Christus sal terugkom om as Koning te regeer.

Die apostel Petrus sê hieroor: “Veral moet julle weet dat daar in die laaste dae, mense op die toneel sal verskyn wat die spot dryf en wie se lewens net deur hulle eie begeertes beheers word. Hulle sal spot en sê: “Wat het nou geword van die belofte van sy Wederkoms? Ons vaders is al dood en tog bly alles nog net soos dit was, van die begin van die skepping af. (2 Petrus 3:34)

Petrus gee ‘n skerp vermaning vir al sulke onkundige, eiewillige mense: “Maar die dag van die Here sal so onverwags soos ‘n dief kom. En op die dag sal die hemel met ‘n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame sal tot niet gaan, en die aarde met alles wat daarop is.” (2 Petrus 3:10)

Verder sê Petrus daar is ‘n rede waarom Christus nog nie gekom het nie. Hy skryf: “Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie. Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.” (2 Petrus 3:9) Onse God is oorvloedig in sy genade teenoor die goddelose.

Persoonlik staan ek verbaas oor God se genade oor ons huidige geslag. Die toenemende morele agteruitgang skok selfs die wêreldse waarnemers. Selfs as ‘n mens jou gewete skoon probeer hou, word jy besoedel deur die daaglikse rapporte van bose gebeure. Sommige dinge is so vuil, so onbegryplik: skool moorde, wrede verkragtings, kinder mishandeling, blatante homoseksualiteit, onuitspreekbare gruweldade.

Dikwels roep ons harte uit: “Here, wanneer sal geregtigheid beoefen word? Wanneer sal U die kwaaddoeners oordeel? Ons wonder waarom God so lank wag om die vreeslike boosheid van ons tyd te oordeel. Ons dink aan die oomblik wanneer hierdie boosdoeners uiteindelik voor God en sy heiligheid op hulle knieë sal val.”

Petrus sê dat Jesus nou nie konsentreer op oordeel nie, selfs nie vir die ergste sondaars nie. Maar dat Hy besig is met genade. Hy is lankmoedig teenoor die ergste kwaaddoeners. Hy wag om genade te betoon aan elke onbekende sondaar, Hy agtervolg hulle en haal hulle oor.

“Aangesien al hierdie dinge so aan hulle einde gaan kom, moet julle des te meer vroom en aan God toegewy lewe. Leef in verwagting dat die dag van God kom en beywer julle daarvoor, die dag waarop die hemel in vlamme sal vergaan en die hemelliggame sal brand en wegsmelt. Maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers. Daarom geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, moet julle julle daarvoor beywer om vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom, te lewe.” (2 Petrus 3:11-14)

Ons kan ons dae verkwis deur besig te wees met die tekens van die tye, in die Midde Ooste en elders. Maar God sê; “Kyk na julle eie harte. Maak seker dat julle my Woord met toewyding uitleef.” Paulus voeg by: “Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee. (Rom. 14:12) Hy waarsku ons dan om andere nie te oordeel nie, en versigtig te wees om nie ‘n struikelblok vir andere te wees nie.

Ons kan seker wees dat God die goddeloses gaan oordeel. ‘n Afrekeningsdag kom, dit is seker. As daardie tyd aanbreek sal alle spotters, goddelose en slegte mense verantwoording moet doen. Die boeke sal oopgemaak word en elke gemene daad sal aan die lig kom en alles wat hierdie verdorwenes gedoen het, teenoor God se outoriteit, sal openbaar gemaak word. Hulle dade sal veoordeel word en hulle sal, vir ewig, uit God se teenwoordigheid gewerp word.

Jesus verseker sy dissipels; “Sal God dan nie aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag?” Hy sê eintlik: “Ja, God sal eendag met hulle wat gespot het, sy volgelinge vervolg en in die tronk gegooi het en hulle gedood het, afreken. Die hulproep van die vervolgde kerk word gehoor, en Hy sal hulle spoedig wreek. Tog sê Jesus in die volgende sin: “Maar sal die Seun van die mens by Sy koms nog geloof op die aarde vind?” (Lukas 18:8)

Hierdie vraag van Jesus openbaar Sy grootste besorgdheid. Hy sê: “as Ek terug kom, sal Ek hulle soek wat My belofte om weer te kom geglo het. Die vraag is, sal hulle gereed wees en vir My wag? Sal hulle die wêreld afgelê het en verlang hulle daarna dat Ek hulle sal huistoe neem as My bruid? Sal hulle vlekloos wees, of besoedel met die gees van hierdie wêreld? Sal Ek terug kom en hulle hoor roep. ‘Kom, Here Jesus’?”

Jesus volg hierdie bewering op met ‘n verduidelikende woord: “Maar … (24:37). Hy beskryf dan wat die houding van die mensdom in die tyd van sy Wederkoms sal wees. Hy gee nie vir ons ‘n datum nie, maar Hy beskryf hoe die mense dan sal leef.

Dan gee Hy ‘n historiese beeld: “Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens. In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegegaan het. Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggeskeur het. Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens.” (24:38-39) Jesus noem ook Lot se tyd: “In die tyd van Lot het dit ook net so gegaan; hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink, gekoop en verkoop, geplant en gebou. Maar op die dag tot Lot Sodom verlaat het, het vuur en swawel uit die hemel gereën, en dit het almal uitgewis. Net so sal dit ook gaan op die dag wat die Seun van die mens verskyn.” (Lukas 17:28-30)

Let daarop dat Jesus geen enkele sonde in hierdie gedeelte vermeld nie. Ons weet almal dat dit nie sonde is om te eet en gesonde vloeistowwe te drink of om verloof te raak of te trou nie. Dit is nie sonde om te koop en te verkoop, om te plant of te bou nie. Daar is niks verkeerd met enige hiervan nie. Inteendeel die Here het ons opdrag gegee om te werk en te wag tot Hy kom. Jesus veroordeel nie hierdie dinge nie. Hy wys vir ons hierdie daaglikse gebeure om te sê, “Dit is hoe die lewe sal aangaan tot Ek kom. Dit sal soos elke ander dag wees, wanneer niemand iets buitengewoons verwag nie.”

Ons weet dat sowel Noag as Lot se gemeenskappe verwoes is deur God se oordeel. Wat sê Jesus dus deur hierdie beskrywing van alledaagse gebeurtenisse? Hy beskryf eenvoudig mense wat besluit het om God se waarskuwings, van die komende oordeel, te verwerp. Onthou Noag het sy gemeenskap vir 120 jaar gewaarsku, dat algehele verwoesting gaan kom. Maar die Skrif sê: “Omdat die verkeerde daad nie meteens gestraf word nie, hou mense eevoudig aan om verkeerd te doen.” (Prediker 8:11)

Dit is presies wat in die hedendaagse gemeenskap gebeur. Daar is ‘n waansinnige gekoop en verkoop, geëet en gedrink, geplant en gebouery. Menigeen is behep met persoonlike gewin, en hulle verwerp enige negatiewe boodskap wat hulle voortgang kan hinder. Selfs sekulêre stemme wat waarsku teen komende finansiële instorting word geïgnoreer.

‘n Godvresende Christen vrou het vir my geskryf oor ‘n gesprek wat sy met ‘n bejaarde Joodse vrou gehad het. Hierdie vrou wat die groot slagting onder die Jode tydens die Tweede Wêreld Oorlog oorleef het, het gesê: “Wat tans in Amerika gebeur herinner my aan wat gedurende Hitler se opkoms in Duitsland gebeur het. Al die waarskuwings is geïgnoreer. Hitler se anti-Semistiese opmerkings is lig opgevat. Ek was maar net ‘n kind, maar ek onthou die groot skmerpartye wat tot diep in die nag aangehou het, selfs nadat Hitler Jode in die tronk begin gooi het, en andere na die gaskamers gestuur het.

Ek onthou dat die ouer Jode gesê het: ‘Dit kan nie hier gebeur nie, nie in ‘n geleerde, beskaafde land soos Duitsland nie.’ Hulle het eenvoudig die nagte omgedans, die mans in hulle aandpakke en die vroue in hulle duur skemerparty-rokke. Net ‘n paar weke later, is daardie selfde mense soos beeste in spoorwegtrokke gedruk en weggeneem na konsenstrasiekampe. Hulle het gedink die lekker lewe sal vir altyd aanhou. Hulle het spoedig geskok gevra: ‘Net ‘n paar weke terug het ons nog gedans en gedrink. Wat het gebeur? Hoe het dit so onverwags oor ons gekom?’

Hierdie waarskuwingsroep gaan weereens uit na die kerk van God: “Jesus kom! Die bruidegom is onderweg. Klee julleself en wees gereed om uit te gaan en Hom te ontmoet. Kyk op, julle verlossing is naby!” Tog sê Jesus, dat mense die roep sal ignoreer. Dit sal soos in die dae van Noag en Lot wees. Mense sal hulle besigheid doen, sonder om aan Sy koms te dink, sonder om ag te gee op profetiese tekens. Dit is presies die tekens wat ons sal sien: ons sal ‘n voorbedagte onverskilligheid sien.

“Dan sal twee mense op een bed slaap, die een sal saamgeneem en die ander agtergelaat word. Twee vroue sal koring maal, die een sal saamgeneem en die ander agtergelaat word.” Toe vra hulle Hom: “Waar, Here? Hy sê vir hulle: Waar die liggaam lê daar sal aasvoëls bymekaar kom.” (Lukas 17:34-37) Wat Jesus hier sê is: “Ek is die hoof van die liggaam. Die hoof gaan met die liggaam verenig word.”

Sommige geleerdes sê die wat opgeraap word, is die sondaars wat geoordeel gaan word. Maar die Skrif suggereer iets anders. Jesaja praat van arende as verwysing na die kerk: “die wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle handel en word nie mat nie.” (Jesaja 40:31) God het ook vir Israel gesê: “Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenare gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra het en na My toe gebring het.” (Exodus 19:4)

In Matteus praat Jesus van die uitverkorenes wat bymekaar gemaak word: “Die groot trompet sal weerklink, en Hy sal sy engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te maak van die vier windstreke van elke uithoek van die aarde af.” (Mat. 24:31) Paulus maak dit verder duidelik: “Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal die wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees. Troos mekaar met hierdie woorde. (1 Thes. 4:16-18)

Hoe dramaties hierdie gebeure ook al is, Jesus se punt is dat dit op ‘n gewone dag sal gebeur. Dit sal soos daardie bekende dae van oordeel wees, in die tyd van Noag en Lot. Mans en vroue sal besig wees met hulle alledaagse werk. Dan sal alles skielik gebeur – in ‘n oomblik. Paulus sê: “By die laaste trompet sal dit in ‘n oomblik (‘n oogwink) gebeur, want die trompet sal weerklink, en die dooies sal as onvergangklikes opgewek word, en ons sal verander word. (1 Kor. 15:52)

Dit sal ‘n dag wees soos elke ander dag. Die hele mensdom sal onbewus wees van wat gebeur, en dan in ‘n enkele oomblik, sal Christus Sy bruid kom haal.

Ek sal nooit iets doen om ‘n medegelowige te laat twyfel aan sy gereedheid nie. Die meeste mense wat hierdie boodskap lees, kan sê: “Ja, ek is gereed. Ek het my bekeer en my sonde bely, en ek is vergewe. Ek stel my vertroue op Jesus se regverdigheid. En as Hy nou sou kom, weet ek, ek sal nie veroordeeld staan nie. Ek weet in wie ek glo. Ek is seker ek behoort aan Hom.” Ek sal self ook so sê.

En tog, as ek weer hierdie waarskuwings van Christus lees, is daar iets wat ek nie kan vergeet nie. Jesus beveel ons, “Bly waaksaam.” (Mat. 24:42) Dan sê Hy, “maar onthou” (24:43), met ander woorde: “As julle gereed sal wees – as julle sal waak soos Ek dit wil hê – dan is daar iets wat julle moet weet.”

Dan beskryf Jesus ‘n man wat gedink het, dat hy gereed is, maar hy was nie. In hierdie man se huis word ingebreek (24:43). Daarna beskryf Jesus ‘n persoon wat waarlik gereed was (24:45-47). Ten slotte gee Hy ‘n vreeslike waarskuwing aan slegte diensknegte wat in ‘n huigelaars hel gewerp sal word (24:48-51).

Die dienskneg wat waarlik gereed is, word vergelyk met die hoof van ‘n huishoudinig wat vleis gee vir hulle onder hom. “Wie is dan die getroue en verstandige slaaf vir wie sy eienaar oor sy ander slawe aangestel het om hulle op tyd kos te gee?” (24:45) Jesus sê dat hierdie slaaf se beloning sal wees om ‘n regeerder oor sy meester se besittings te word (24:47). Dit is dus opsigtelik dat “die gee van vleis op die bepaalde tyd” van groot belang is.”

Wie is die regeerders oor huishoudings van wie Jesus hier praat? Dit is die ouers. Dit sluit ook predikante en pastore in wat oor die huishouding van God regeer (Ef. 2:19). Hoe gee ‘n ouer “vleis op sy tyd?” In Bybelse terme, verteenwoordig vleis die Woord van God. Die Griekse betekenis van die woord verwys na “voeding”, van die wortel wat “om groot te maak” beteken. Vervolgens beteken die uitdrukking “op die geskikte tyd” – “op die regte tyd.” Christus sê, “Geseënd is daardie ouers wat hulle kinders voed met God se Woord. Hulle voed hulle op met Bybelse teregwysing, terwyl daar tyd is, voordat dit te laat is.”

Amerikaanse kerke stuur sendelinge oral oor die wêreld om die onbekeerdes te bereik. In die tussen tyd verloor die kerk ‘n hele geslag van die jeug, God sal ons verantwoordelik hou. As Jesus sê; “Gee vir hulle vleis,” sê Hy, “bly by die Woord.” Met ander woorde: “Moenie ‘n kompromie met my heilige wette aangaan nie. Jy kan nie jou kind toelaat om jou te beïnvloed om die waarheid geweld aan te doen nie. Ek beloof om hulle te eer wat My Woord eer.”

Mag die Here van elke hedendaagse ouer sê wat Hy van Abraham gesê het: “Ek ken hom, hy sal sy kinders en sy huishouding opdrag gee, en hulle sal in My weë wandel.” (Gen. 18:19) Sulke ouers sal regeerders word oor hulle Meester se goed.

Jesus se woorde slaan ook op Evangelie bedienaars. Soos die ouers, moet hierdie herders in God se Huis hulle kudde voed met vleis en nie net melk nie. Hulle moet hulle kudde vermaan om in die vrees van die Here te lewe, en tot volwassenheid in Christus te kom. Jesus sê van hulle wat dit getrou doen: “Geseënd is die herder, wat, wanneer ek kom, getrou bevind sal word, in die voeding van my skape, met die ware leer van my Woord. Ek sê vir hierdie herders: as Ek terugkom, sal ek jou aanstel as regeerder oor my besittings. En daardie besittings sluit alles in wat die Vader My gegee het.

As Jesus terugkom, gaan Hy by Hom elke getroue evangelie bedienaar versamel, almal wie se hoofdoel die sieleheil was van hulle wat aan hom toevertrou is. Sulke predikers het nie hulle skape gebruik om hulleself te verryk nie. Hulle verwesenlik nie hulle eie drome oor die ruë van die armes, weduwees en wese nie. Nee, hierdie predikers staan op die kansel in angs en bewing, want hulle weet, hulle sal aan God verantwoording moet doen. Aan sulke bedienaars sal Christus alles toevertrou wat aan Hom behoort, en hulle daaroor laat regeer.

As Jesus sê: “Weet dit …” dan sê Hy: “Julle durf hierdie woord nie ignoreer nie!” Dan maak Hy die volgende verklaring: “Maar as dit ‘n slegte slaaf is, sal hy by homself dink: my eienaar bly lank weg. Dan sal hy die ander slawe begin slaan en saam met die dronkaards eet en drink.” (Mat. 24:48-49)

Lukas 12 sê dat hierdie dienskneg dieselfde een is wat, eens, getrou “vleis op sy tyd” gegee het. (Luk. 12:45) Hierdie dienskneg het reg begin. Hy sou beloon word as ‘n getroue dienskneg van die Heer se besittings. Nou het hy dramaties verander. Hy begin nou die ander slaan en hy word dronk saam met die dronkaards.

Wat het gebeur? Iets het in die dienskneg se hart gebeur, - miskien ‘n onopgemerkte verandering van hart, wat sy houding verander het. Wat was hierdie verandering? Jesus sê: “Maar as dit ‘n slegte slaaf is, sal hy by homself dink: my eienaar bly lank weg.” (24:48)

Die Griekse woord vir “slaan” in hierdie gedeelte veronderstel “herhaalde houe”. Met ander woorde hierdie dienskneg het nou verval in huigelary. Ek sien hom as een wat sy vrou beledig, vloek luister na vuil stories, skinder. Hoe het hy hier gekom? Hy het homself oortuig dat sy meester nie gou sal terugkom nie. As hy met homself redeneer oor, “my heer,” praat hy van ‘n heeltemal ander meester, nie sy regverdige meester nie. Hy het sy eie Jesus gemaak, ‘n Christus van ‘n ander evangelie.

Hierdie dienskneg preek nie sy nuwe opvatting nie. Die verandering is net in sy gedagte. Hy saai dit nie uit dat die meester talm om te kom nie. Hy leef dit net eenvoudig uit. En dit maak die groot verskil.

Dink daaroor na: is u verbaas dat soveel kerke vol onvoorbereide, plesiersoekers is? Is u verbaas dat soveel huwelike, met die eenvoudigste probleem in egskeiding eindig? Dit is nie omdat hulle herder hulle leer om so te lewe nie. Nee, dit is omdat baie predikers nie meer glo dat Christus in hulle tyd sal terugkom nie. In sommige kerke sal die prediker gesteurd wees, as jy van sy kansel af preek oor Matteus 24:44. “Wees gereed, want Jesus kan enige tyd kom.” Die mense volg maar net die leier.

Hoe is hierdie slegte dienskneg? “Dronk met die dronkes.” Jesus praat hier nie net oor alkohol nie. Die Bybel noem baie maniere om dronk te wees: dronk van woede, van bitterheid, van bloeddorstigheid. Die sterkste alkohol in ons gemeenskap vandag, is – welvaart. Christene gebruik die drank vrylik.

Jesus waarsku ons, “Wat gebeur met jou as welvaart jou oorweldig?” Jou hart word vasgebind met materiële dinge. Skielik verloor julle, julle bewustheid van naderende koms. Jou lewe raak onbeheersd want jy het geen morele kompas nie. Dan begin jy slaan, jy doen enigiets om te kry wat jy wil hê. Jy raak dronk en verslaaf aan welvaart.

Kyk wat Jesus vir sulke huigelaars sê: “Die eienaar van daardie slaaf sal op ‘n dag kom, wat hy dit nie verwag nie, en op ‘n uur wat hy nie vooraf weet nie. Dan sal sy eienaar hom doodmaak en die lot van huigelaars laat deel. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.” (24:50-51)

Laat ek weer vra: Is jy gereed? Het jy begin om jou te verbly met die gedagte van Christus se Wederkoms? Paulus sê: “Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na Sy koms.” (2 Tim. 4:8) Jakobus vermaan ons ook: “Julle moet ook geduldig wag en moed hou, want dit is nie meer lank nie, dan kom die Here.” (Jak. 5:8) “As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir die wat Hom verwag.” (Heb. 9:28)

Ten slotte sê Paulus: “Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn. Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe, terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn. Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy volk kan wees, wat ywerig is om die goeie te doen. Dit is die dinge waaroor jy moet praat. Gebruik jou volle gesag om aan te moedig en tereg te wys.” (Titus 2:11-15)

Ek bid dat ek die soort herder sal word wat Paulus beskryf. Ja, ek wag vir my Meester se terugkoms. Soos die apostel kan ek met sekerheid sê: “Daar wag ‘n kroon vir my, want ek sien uit na Sy koms. Ek is gereed. Kom, Here Jesus.”