Koud Word op die Vooraand van Verwoesting

David Wilkerson

Volgens God se Woord, moet Christene elke dag lewe asof “die einde van alle dinge naby is.” Ons moet altyd op die uitkyk wees vir Sy koms. Ons moet wakker en ywerig wees soos dienaars wat wag vir hulle meester om terug te keer van ‘n lang reis af. Saam met Paulus, moet ons juig dat ons hierdie aarde sal verlaat om met ons nuwe liggame beklee te word. Ons moet altyd daarna verlang om by die Here te wees.

In my boek, Set the Trumpet to Thy Mouth, waarsku ek dat ‘n kernbomslagting op Amerika wag; dat Rusland ons sal bestook met ballistiese missiele van oor die Noordpool. Dit sal ‘n massiewe eerste slagting wees, gemik daarop om hierdie land te vernietig voor dit kan terugbaklei. (Die CIA het onlangs Rusland se ontsaglike ondergrondse stede ontdek wat toegerus is om hulle regering en al die elite van hulle samelewing te beskerm.)  Bedienaars was woedend oor hierdie boodskap – selfs charismatiese herders het die boek uit hulle kerke verban. Evangeliste en leraars het my ‘n valse profeet genoem. Een het selfs ‘n boek geskryf waarin hy my gebruik as ‘n klassieke voorbeeld van ‘n valse doemprofeet. Hy het verder gesê, “Alle verkondiging van slegte nuus is van die duiwel. Die evangelie is slegs goeie nuus. Geen van hierdie gepreek van oordeel en die hel, hierdie gehamer op sonde is waar nie – dit is alles vals!”

Volgens hierdie definisie was Petrus ‘n valse profeet! Is Petrus se evangelie nie deel van die evangelie nie? Hy het gewaarsku, “Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ‘n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense. Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag. Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand. Terwyl al heirdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? – julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemel deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Petrus 3:7-13).

God se vurige oordele, wat in die hemel weggelê en bewaar word, is bedoel om ons aan te spoor om heilig te lewe

In die oorspronklike Grieks, lees 2 Petrus 3:11 die beste, “In die lig van alles wat vergaan, van watter land is jy?” Is jy van hierdie aarde, wat sal vergaan en versmelt? Of is jy ‘n burger van ‘n hemelse Sion, die stad wie se bouer God is? Petrus sê dat hierdie kennis wat God vir jou gee oor die verwoesting van die huidige hemel en aarde, is om jou aan te moedig om heilig te lewe en om hierdie wêreld baie ligtelik op te neem. Petrus gaan dan voort om in vers 14 te sê dat ons nie die koms van verwoesting moet vrees nie, maar daarna moet verlang, dit te verwag, en deur dit te doen, jou klere vlekkeloos te bewaar! “...Terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede.”

As Petrus opgewek was en Amerika vandag besoek het, sou hy waarskynlik gebelg gewees het deur al die suikersoet, [spookasem] prediking van die kussingprofete! Hy sou vra, “Waarom waarsku hulle nie hulle mense oor die naderende verwoesting nie? God het vir my hierdie boodskap direk van die Heilige Gees gegee! Waarom glo hulle dit nie? Waarom spoor dit hulle nie aan tot heilige lewe met hierdie waarskuwings nie? Weet hulle nie Jesus het dieselfde waarskuwing gegee toe Hy gesê het, “Die son [sal] verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die krag te van die hemele sal geskud word” (Matthéüs 24:29)? Jesaja, die profeet sê, “En al die leërskare van die hemel vergaan, en die hemel word inmekaar gerol soos ‘n boek en al sy leërskare val af soos ‘n blad van die wingerdstok afval...” (Jesaja 34:4). Johannes op Patmos sê vir ons, “...en die son het swart geword soos ‘n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ‘n vyeboom wat deur ‘n groot wind geskud word, sy navye laat afval, en die hemel het weggewyk soos ‘n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plek versit” (Openbaring 6:12-14).

Die opsetlike onkunde oor God se regverdige oordele

Petrus was hierdie ontsaglike waarskuwings gegee om rein gedagtes op te wek, om die waarskuwings van die profete in herinnering te bring (sien 2 Petrus 3:1-2). Selfs terwyl Christus, die apostels, die profete, en wagte waarsku, sal daar spottende herders kom, agter hulle eie begeertes aanloop en die spoedige terugkeer van Christus bespot. “...Dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af” (2 Petrus 3:3-4). Petrus noem hierdie spottende profete leuenaars! Dinge het nie aangegaan “sake soos gewoonlik” sedert die begin van die skepping af nie! Hierdie predikers is opsetlik onkundig oor God se vorige voltrekking van oordeel. “Want moedswillig vergeet hulle...dat...die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het” (2 Petrus 3:5-6).

Dit is ‘n ernstige beskuldiging deur Petrus! Hy sê in wese, “Hulle weet daar was eens ‘n prediker van geregtigheid naamlik Noag, wat vir 120 jaar gewaarsku het dat oordeel kom. Hulle weet dat God reeds vir die wêreld gewys het dat Hy die boosheid en geweld sal oordeel. Hulle weet God het ‘n bruisende stroom gestuur en alles vernietig wat op die aarde asemgehaal het!” Nee! Dinge het nie gebly soos aan die begin nie. Maar ons het leraars, valse profete, en vrede- en voorspoedspredikers wat weet die Bybel is vol waarskuwings, vol voorbeelde van hoe God sonde oordeel (bv. die verwoesting van Sodom, die verwoesting van Jerusalem), maar hulle ignoreer dit doelbewus. Waarom? Omdat hulle almal agter hulle eie begeertes aanloop! Hulle begeerte vir aanvaarding, populariteit, of grootheid het hulle moedwillig blind gemaak vir al God se regverdige oordele. Dit het veroorsaak dat hulle “koninkryk nou” leerstellinge omhels, wat vir hulle begeertes voorsiening maak. Hulle vergeestelik die vuur! Hulle vergeestelik die verwoesting, en stel die koms van Jesus uit tot een of ander datum ver in die toekoms, tot by ‘n tyd nadat hulle heerskappy oorgeneem het.

Hierdie predikers vernietig die Heilige Gees oortuiging van sonde! Hulle verkondig presies die teenoorgestelde van die boodskap van Petrus en die apostels. Petrus het gewaarsku, “Maar ons verwag volgens sy gelofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon. Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede” (2 Petrus 3:13-14). Vandag hoor jy, “Jesus kom nie gou nie, nie totdat ons heerskappy oorgeneem het nie – al hierdie doempraatjies oor vuur en verwoesting, is simbolies. Ons is hier om te bly – ons gaan Hom nie tegemoet in die wolke nie. So ontspan! Kry jouself in die posisie om iemand te wees in hierdie nuwe ding!” ‘n Herdersvriend wat betrokke was in daardie leerstelling was vertel dat sy marmermaatskappy ‘n “nuwe koninkryk” marmermaatskappy sou wees – die grootste en die beste! Dit is nou bankrot en hy is vry van misleiding.

Hier is die werklike evanglie volgens Petrus: “Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ‘n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense” (2 Petrus 3:7). Amerika moes reeds deur vuur vernietig gewees het! Daardie vure wat bewaar word, moes reeds alles verwoes het. Die eerste eenmiljoen aborsies moes daardie beker van oordeel volgemaak het! Ons verdrink ‘n in oseaan van kinderbloed! Die laaste miljoen verkragtings moes Sy vuur laat neerdaal het! Toe klein kindertjies by die duisende gemolesteer, vermoor, mishandel en vermink was, moes God die vuur en swael op ons laat neerdaal het! Die laaste tienbiljoen dollars se waarde aan dwelms moes die laaste strooi gewees het, saam met al die rooftogte, stelery en geweld wat daarmee saamgaan. Die dag toe ons Hooggeregshof sy neus opgetrek het vir God deur gebed, die Bybel en alles wat heilig is uit ons lewens en skole gehaal het – was dit nie genoeg oneer aan ons God nie? Terwyl die vermoring van miljoene baba’s terselftertyd wettig geword het, saam met die regte van homoseksuele!

Waarom is ons gespaar tot nou toe? Vir dieselfde rede waarom God geduldig gewag het vir 120 jaar in die dae van Noag. “Toe die lankmoedigheid van God eenmaal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is” (1 Petrus 3:20). Die Here kry geen plesier uit die dood van die goddeloses nie. Selfs nou, is Hy “lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Petrus 3:9). Hy wag nou vir die voorbereiding van Sion, God se heilige volk van die laaste dae. Hy stort Sy Heilige Gees uit, en bring vir ons ‘n gees wat treur oor sonde. Hy breek afgode af en roep ‘n volk wat volkome oorgegee is aan Hom, sonder vlek of rimpel, wat vlekkeloos is.

Talle gelowiges sal meegesleur word deur ‘n groot stroom van ongeregtigheid.

Jesus waarsku dat op die vooraand van verwoesting, teen die middernaguur vir die mensdom, sal die liefde van baie gelowiges verkoel: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matthéüs 24:12). Die Nuwe Afrikaanse vertaling sê, “die liefde by baie verkoel.” In die oorspronklik Grieks verwys dit na “’n groot aantal; ‘n groot leërskare.” Dink daaraan: Die oordeel staan voor die deur met die engele van God wat gereed staan om die vure vry te stel, om ‘n kosmiese ontploffing los te laat wat die hele natuur sal verswelg – en talle Christene sal die verkeerde pad gaan! “Verkoel” beteken “afname in temperatuur met grade; verdamping, bietjie vir bietjie.” Net wanneer gelowiges wawyd wakker en verwagtend behoort te wees, wanneer hulle veronderstel is om waaksaam te wees, oor te loop met ywer en liefde, sal hulle met grade verkoel wees! ‘n Groot leërskare sal agteruitgaan in hulle liefde.

In hierdie laaste dae sal daar baie misleiers en valse profete wees en baie sal hulle volg: “Want baie verleiers het in die wêreld ingekom...” (2 Johannes vers 7). “En baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word” (2 Petrus 2:2). “Want daar is baie wat tugteloos is, wat onsin praat en verleiers is...Hulle keer hele huise onderstebo deur te leer wat nie betaam nie, ter wille van vuil wins” (Titus 1:10-11). Satan is nou reeds besig om ‘n stroom van goddeloosheid uit te stort teen God se kinders, in ‘n laaste poging “om hulle weg te voer.” “En die slang het uit sy bek water soos ‘n rivier agter die vrou aan uitgegooi om haar te laat wegvoer deur die rivier” (Openbaring 12:15).

Die President se hoofadviseur oor Amerika se oorlog teen dwelms het onlangs gesê, “Ons is besig om die oorlog teen dwelms te verloor – dit is buite beheer.” Ons mure is afgebreek en dwelms stroom in van alle grense af. Satan is agter hierdie stroom! Pornografie is nou ‘n onkeerbare stroom. Kinderpornografie het die populêrste van alles geword! Bloedskande, verkragting, en kindermolestering word verheerlik. Mans, vaders, en besigheidsmense drink dit alles in. Dit kom alles reguit van die duiwel af! Die rede waarom ek Christene waarsku om ontslae te raak van televisie in hulle huise, is omdat dit ‘n sluis is van goddeloosheid net daar binne-in hulle huise! Jesus waarsku dat ongeregtigheid erger sal word en liefde sal verkoel. Met ander woorde, as ons weier om die duiwel se stroom van goddeloosheid in ons gedagtes stop te sit, sal ons weggevoer word van onskuldige reinheid en weg van ons vurige liefde vir Christus.

Terwyl jy sit en hierdie boodskap lees, het jy Jesus passievol lief? Is jou liefde vir Hom witwarm, vurig, en groei dit? Kan jy jou voorstel as een van die baie wat stadig verkoel hoe nader ons aan die middernag uur kom? Die hartseer waarheid is dat baie wat verlos was van sonde, van dooie kerke, van valse doktrienes, van verwarring en wêreldsheid, sal teruggaan daarna. Hulle sal weggevoer word deur die gees van hierdie wêreld, dinge nastreef, hulle oorgee aan plesiere, ingesuig word deur die stroom van gemors. Hulle sal sê, “Ek het ver genoeg gekom. Ek kan nie nog meer afsondering van die wêreld verdra nie – ek wil die wêreld geniet! Genoeg van waaksaam wees, van so wakker te wees! Dit is te veeleisend!” Hulle sal leraars en kerke vind wat ‘n evangelie van gemak verkondig! Hulle liefde sal verkoel met grade, louwarm word en dan uiteindelik koud wees.

Talle sal verkoel deur afvallig te word van wat hulle glo ‘n “harde woord” is. Jesus het sy dissipels bymekaar gemaak en hulle laat weet dat Hy alles vir hulle moet wees. Hulle lewens moet gefokus wees op Hom. Sy liggaam was hulle brood; Sy bloed was hulle drank. Hulle moes geen ander bron van lewe op hierdie aarde hê nie. “En baie van sy dissipels het gesê toe hulle dit hoor: Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister?...Hieroor het baie van sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie” (Johannes 6:60,66). Hulle gee bloot op! Hulle het moed verloor en gesê, “Hulle boodskap is te hard – ons kan dit nie verdra nie! Ons kan nie glo dit moet so hard wees nie! Genoeg!” [Ek verwys nie hier na “moeg word in goed doen” nie.] Daar is tye waarin die mees toegewyde van God se kinders ‘n droë en moeë tyd het, ‘n dag of week het wanneer hulle uit Sy rus gly. Maar hulle sal hul vinnig bekeer en bedroef wees oor die blote gedagte van teruggaan na die ou weë van vleeslikheid.]

Selfs God se “wee” kan heuning uit die hemel wees.

Ons moet leer om elke woord van Hom te aanvaar as heuning uit die hemel. Jy kan enige gelowige se liefde vir Sy Here meet deur hoeveel hy elke woord wat uit die mond van God uitgaan respekteer. Diegene wat Hom waarlik liefhet, leef deur elke woord wat uit Sy mond uitgaan. ‘n Prediker het eenkeer gesê, “Ek kan nie God van toorn dien nie! Ek sal niks anders as bemoediging verkondig nie – geen teregwysing nie! God is liefde! Genoeg van al hierdie klaagliedere en weë!” Hy weet niks van God se heuning af nie.

Die Here het Esegiël beveel: “Mensekind, staan op jou voete, dat Ek met jou kan spreek....Ek stuur jou na die kinders van Israel, na die opstandige nasies wat teen My opgestaan het; hulle en hul vaders het teen My oortree tot hierdie selfde dag toe. En die kinders is hard van aangesig en verstok van hart...En jy, mensekind, luister na wat Ek jou sê; wees nie wederstrewig soos die wederstrewige huis nie; maak jou mond wyd oop, en eet wat Ek jou gee. Toe kyk ek, en daar was ‘n hand na my toe uitgesteek, en daarin ‘n boekrol! En Hy het dit voor my uitgesprei; en dit was beskrywe op die voor- en agterkant, en daarop was geskrywe klaagliedere en gesug en wee” (Esegiël 2:1-10).

God se wee was heuning vir die profete. “Wees nie wederstrewig... nie...” Hoe kon Esegiël wederstrewig wees? Deur nie die waarheid te verkondig oor die oordeel wat God hom gegee het nie. “...daar was ‘n hand na my toe uitgesteek...” Dit was die hand van God! God se hand het ‘n boekrol, geskrywe op albei kante met “klaagliedere en droefheid en weë” – alles geskryf deur die vinger van God. Wat doen Esegiël met hierdie baie harde woorde van God? Hy word beveel om dit te eet! Om sy ingewande daarmee te vul! “Daarna het Hy vir my gesê: Mensekind, eet op wat jy vind; eet hierdie rol op, en gaan spreek met die huis van Israel. Toe het ek my mond oopgemaak, en Hy het my dié rol laat eet en vir my gesê: Mensekind, laat jou buik eet, en vul jou ingewande met hierdie rol wat Ek jou gee. En ek het dit geëet, en dit was in my mond soos heuning so soet” (Esegiël 3:1-3).

Dit was voedsel uit die hemel, manna gedip in heuning! “...Vul jou ingewande met hierdie rol wat Ek jou gee...” Ingewande verteenwoordig die hart. “Dit geëet” beteken “neem dit ter harte neem – daarna luister!” “...En ek het dit geëet, en dit was in my mond soos heuning so soet.” Jeremia het gesê dat al die profete van ou oordele en wee waaroor gewaarsku was. “Die profete wat daar voor my en voor jou gewees het, van ouds af, het geprofeteer teen magtige lande en teen groot koninkryk van oorlog en onheil en pes” (Jeremia 28:8). Al die profete het geleef deur elke woord uit God se mond – die hartseer woord, sowel as die blye woord. Hulle het dit alles ingeneem as heuning!

Dawid se liefde vir die Here het nooit koud geword nie, omdat hy elke woord gerespekteer het, positief of negatief. “Die vrees van die HERE is rein, dit bestaan tot in ewigheid; die verordeninge van die HERE is waarheid – tesame is hulle regverdig. Hulle is begeerliker as goud, ja, as baie fyn goud; en soeter as heuning en heuningstroop. Ook word u kneg daardeur gewaarsku; in die onderhouding daarvan is groot loon” (Psalm 19:10-12). Deur hulle is u dienskneg gewaarsku! Wie gaan al daardie misleide skape waarsku, wie se herders het al die boekrolle van wee en klaagliedere uitgesluit? Hulle noem hierdie doemdag prediking, negatiewe valse profesie! Dawid en die profete het dit soet heuning genoem!

Die soetste, mees barmhartige ding wat God vandag doen vir Sy kinders, is om weereens vreeslose profete en wagte te stuur om die kerk wakker te maak, om die vrees van die God in te boesem. Hoe heerlik die geluid: “Vlug vir die toorn van God...” Heuning! “Sonder heiligmaking sal niemand God sien nie...” Heuning! “Tensy julle jul bekeer, sal julle sterwe in jul sonde...” Heuning! “Die aarde en ook die werk daarin sal verbrand!” Heuning! Kan jy saam met Jeremia sê, “Toe u woorde gevind is, het ek hulle opgeëet, en u woord was vir my vreugde en vrolikheid vir my hart...” (Jeremia 15:16).

‘n Engel het vir Johannes ‘n boek vol van God se laaste oordele gegee: “...Toe sê hy [die engel] vir my: Neem en eet dit op, en dit sal jou maag bitter maak, maar in jou mond sal dit soek wees soos heuning” (Openbaring 10:9).

Slegs hulle wat volhard tot die einde toe sal gered word!

Jesus het gewaarsku, “...Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word” (Matthéüs 24:13). Dit spreek van diegene wie se liefde nooit vergaan nie, maar liewer groei en volhard deur alle beproewings heen. Timótheüs verbind ons gesindhede aan gesonde leer: “Want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie...en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Timótheüs 4:3-4), Daar kom in hierdie laaste dae ‘n groot weerstand teen ware, onbesoedelde leer. Gesonde leer laat hoorders voldoen aan goddelikheid; maar baie sal dit nie duld nie – hulle sal dit nie verdra nie! Daar sal ‘n wydverspreide verwerping van heiligheidsprediking en profetiese waarskuwings wees wat ‘n groot afvalligheid sal veroorsaak. “...Omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thessalonicense 2:10-12).

Daar sal duisende Christene wees wat so koud is teen middernag dat nie eens die dalende oordele hulle tot God sal bekeer nie. Soos afvallige Israel, sal hulle God weerstaan, terwyl hulle sê, “Laat oordeel kom! Ons sal net weer opstaan en weer bou!” Oordeel het op Israel neergedaal – God se toorn was oor hulle – “Maar die volk bekeer hulle nie tot Hom wat hulle slaan nie, en hulle soek nie die HERE van die leërskare nie” (Jesaja 9:12). Jeremia treur vir sy volk, U het hulle geslaan, maar hulle het geen pyn gevoel nie, hulle tot niet gemaak, maar hulle het geweier om tugtiging aan te neem...“” (Jeremia 5:3). Ons het hierdie waarskuwing van Petrus: “Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefde, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie. Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus...” (2 Petrus 3:17-18). Moenie mislei word deur sonde of valse leerstellinge nie, of deur woede teenoor die Woord nie!

‘n Bedienaarsvriend van my was slegs ‘n paar maande gegee om te lewe as gevolg van terminale kanker. Ek het vir hom gevra, “Watter veranderinge het hierdie verskriklike nuus in jou lewe gemaak? Bid jy meer? Probeer jy meer uit elke dag kry? Is Jesus meer werklik?” Hy het gesê, “Niks het verander nie!” Dit het gelyk of hy vasgevries was in sy emosies – wat hy was, het hy gebly. Die dood het hom nie aangespoor tot groter werke nie! So sal dit wees wanneer verskriklike oordele val. Koue liefde sal steeds kouer word; ‘n beswyming sal oor hulle kom. Soos baie VIGS slagoffers, sal hulle naderende dood hulle slegs harder maak. In Openbaring 9 sien ons God se verskriklike oordele en plae wat op die mensdom val. Een derde van die mensdom sal doodgemaak word deur vuur “en die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud ... nie...En hulle het hul nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en hul diefstalle nie” (Openbaring 9: 20:21). “En hulle het die God van die hemel gelaster oor hulle pyne en oor hulle swere, en het hulle nie bekeer van hul werke nie” (Openbaring 16:11).

Koue liefde is soos beton: dit stol en verhard! Liefde word maklik gemeet – dit is nie geheimsinnig nie – dit is nie gevoelens nie. Hierin is die liefde: as ons Hom gehoorsaam en Sy gebooie onderhou! “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Johannes 5:3).