KOM VAN DIE BERG AF

Claude Houde

“Die mense het in die tent van samekoms gebly. Hulle het teen Moses en Aäron gemurmureer en hulle het mekaar beskuldig en gesê, ‘Dit is jou skuld.” Die plaag het begin en menigtes was besig om te sterf. Aäron het die vlam van God se altaar afgehaal en tussen die volk ingehardloop. Terwyl hy daar gestaan het, tussen die lewendes en die dooies, ter wille van die volk, het die plaag opgehou” (sien Númeri 16:41-48).

Ons sien in hierdie gedeelte ‘n kragtige en belangrike beeld van soveel van die hedendaagse Kerk – van onsself – wat ewig soek om binne te bly, in “die tent van samekoms,” toegesluit in ‘n mentaliteit van “ons behoeftes is so groot en die mense buite, die heidene, die ‘ongereddes’ is so goddeloos.”

EGOSENTRIESE CHRISTENE

Die egosentriese gemeente bly binne, met geen tyd, energie of passie om uit te gaan nie, weens die stryd wat binne die vier mure van die kerk woed. Godsdienstige ritueel het ‘n voet op die keel van enige verlossende inisiatief en die kerk is besig om te sterf. Alledaagsheid het passie vervang. Rede het openbaring versmoor. Daar is ‘n godsdienstige hiërargie, maar geen ware helde nie.

Die dissipels was op die Berg van Verheeliking en het in die teenwoordigheid van Jesus gestaan. Die heerlikheid van God het hulle omring te midde van ‘n asemrowende profetiese openbaring. Dit is jammer dat dit wat Petrus triomfantlik aangekondig het, die byeenkoms se kreet, die volkslied, vir honderde van duisende hedendaagse gelowiges geword het, “Dit is goed vir ons om hier te wees. Laat ons drie tente bou om in te woon en hier te bly.”

WEES ‘N HELD VIR GOD

Die mense wou in die “tent van samekoms” bly en Petrus wou op die Berg van Verheerliking bly. Aan die voet van die berg, is daar egter ‘n geteisterde, gevange man, wanhopig en verlate deur almal, wat ‘n held nodig het om van die berg af te kom om vir hom verlossing te bring.

 

Claude Houde is die hoofpastoor van Eglise Nouvelle Vie (Nuwe Lewe Kerk) te Montreal, Kanada. Onder sy leierskap het Nuwe Lewe Kerk gegroei van ‘n handjievol mense na meer as 3500 in ‘n deel van Kanada met min suksesvolle Protestante kerke.