Kom Uit Sodom Uit

David Wilkerson

Ek het eenkeer gehoor ‘n bedienaar vertel vir ‘n gehoor, “Die Ou Testament is nie meer relevant vir ons tyd nie. Daar is geen rede om dit meer te bestudeer nie.”

Hoe verkeerd was hy nie! Een rede waarom ek daarvan hou om die Ou Testament te lees, is omdat dit die Nuwe Testament in duidelike terme verduidelik. Die stories is vol tipes en skaduwees van ewige waarhede, afgespeel in die praktiese lewens van regte mense.

Byvoorbeeld – in die Ou Testament, is Israel ‘n tipe Christen en Egipte verteenwoordig die wêreld. En Israel se reis deur die woestyn verteenwoordig ons geestelike werk as Christene. Ook was die stuk hout wat die waters van Mara genees het, ‘n tipe van die kruis van Christus. En die rots waaruit die water in die woestyn voortgekom het, is ‘n tipe van ons Verlosser wat aan die kruis vasgespyker was.

Die Skrif maak dit inderdaad duidelik dat al Israel se fisieke oorloë ons geestelike oorloë weerspieël vandag: “Maar al hierdie dinge het julle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Korinthiërs 10:11). Selfs die tabernakel en sy meubels is voorbeelde van hemelse dinge: “Hulle wat ‘n afbeeldsel en skaduwee van die hemelse dinge bedien, soos Moses ‘n goddelike bevel ontvang het toe hy die tabernakel sou voltooi; want Hy het gesê: Kyk, dat jy alles maak volgens die voobeeld wat jou op die berg getoon is” (Hebreërs 8:5).

Al hierdie Ou Testament voorbeelde is bedoel om ons te keer om in ongeloof te verval soos Israel. Die outeur van Hebreërs skryf, “Laat ons ons dan beywer om in te gaan in die rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie” (Hebreërs 4:11). Met ander woorde: “Bestudeer die Ou Testament en leer van Israel se voorbeeld. Moenie dieselfde fout maak as hulle nie!”

Wanneer ek nie ‘n waarheid in die Nuwe Testament verstaan nie, wend ek my tot die Ou Testament om dit op een of ander manier geïllustreer te sien. Byvoorbeeld – laat ons sê ek wil te wete kom hoe om alle geestelike mure wat die duiwel in my lewe opgebou het, af te breek. Ek sou gaan kyk na die storie van Josua om te sien hoe die mure van Jerigo neergewerp is. Israel se fisieke stryd met daardie mure het vir my ‘n beeld en ‘n patroon verskaf om my te help vertaan hoe ek mure, wat my keer om die volheid in Christus te bereik, kan afbreek.

Net so, as ek wil leer oor oorwinning in gebed, sou ek my wend na die storie van Jakob, om te sien hoe hy met die engel gestoei het. Of, as ek te wete wil kom hoe om my salwing as ‘n bedienaar te beskerm, sou ek lees oor Simson en bestudeer hoe hy sy salwing verloor het.

Op hierdie manier, verskaf die storie van Sodom vir ons ‘n kragtige voorbeeld van God se haat teenoor sonde. Die apostel Petrus skryf, “Want as God...die stede van Sodom en Gomorra tot as te verbrand, hulle tot ondergang veroordeel het en as ‘n voorbeeld gestel het vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees” (2 Petrus 2:6). Petrus sê in wese, “Daar is ‘n doel in dit wat God met Sodom gedoen het. Sy optrede teenoor daardie stad sou ‘n les wees vir elke samelewing!”

Laat ons die storie van Sodom beskou, sodat ons die Nuwe Testament waarheid wat dit illustreer kan ontdek:

Die Nuwe Testament gaan alles daaroor om jou uit Sodom uit te kry, om Sodom uit jou uit te kry en jou op ‘n bergtop te kry – in die teenwoordigheid van die Here!

In Génesis 19 lees ons van die storie van Lot, wat Abraham se broerskind was. Die apostel Petrus beskryf Lot as opreg en regverdig (sien 2 Petrus 2:7-8). Lot het egter in ‘n plek gewoon waar hy nooit moes gewees het nie – in bose Sodom.

Selfs vandag, word Sodom geassosieer met alles wat boos, gewelddadig, pervers en goddeloos is. Die stad se sonde het so onrein en boos geword, dat die stank die hemel bereik het. En uiteindelik het God gesê, “Genoeg! Die sonde van hierdie stad het tot by die hemel gekom. Nou gaan Ek Sodom tot op die grond afbrand!” (Die Hebreeuse betekenis van “Sodom” is “geskroei, verbrand.”)

Die meeste van ons dink aan Sodom as ‘n tipe hedendaagse goddelose stad – soos San Francisco, met sy millitante, in-jou-gesig homoseksuele; of New York Stad, met sy gierigheid en geweld; of New Orleans, met sy duiwelse Mardi Gras. Maar in werklikheid hoef ons net te kyk na ons eie harte om Sodom te vind.

Jy sien, ons almal is gebore met die Sodomitiese natuur – ‘n hart wat ontsaglik boos is, vol van allerhande goddelose dinge: “Ja, julle bedryf ongeregtigheid in die hart; julle weeg op aarde die geweld van julle hande af” (Psalm 58:2). “In wie se hart valse streke is, wat altyd onheil bewerk en tweedrag saai” (Spreuke 6:14). “’n Hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop” (Spreuke 6:18).

Jesus het self gesê die Sodomitiese natuur is in ons van geboorte af: “Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal. Dit is hierdie dinge wat die mens onrein maak...” (Matthéüs 15:19-20).

Ten spyte van sy natuur, het God Lot regverdig genoem. Lot het egter ‘n diep geestelike probleem gehad: Hy was met ‘n onsigbare koord aan Sodom vasgebind! Die onrein stad het ‘n houvas op sy hart gehad. En Lot kon nie daarvan af wegbreek nie, ten spyte van die voortdurende aftakeling van sy siel: “Want deur wat hy gesien en gehoor het, het dié regverdige man, wat onder hulle gewoon het, dag vir dag sy regverdige siel gepynig oor hulle wettelose werke” (2 Petrus 2:8).

Lot het van beter geweet as om in Sodom te bly. Die Skrif sê, “Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie” (Psalm 1:1). Lot sou moes besluit het, “Dit is genoeg – ek moet hier wegkom! As ek langer bly, sal hierdie ongeregtigheid van my besit neem. Dit sal my my siel kos!” Maar hy het nooit die wilskrag gehad om weg te gaan nie.

God het reeds vir Lot ten minste een geleentheid gegee om weg te trek. In Génesis 14 lees ons dat ‘n leër van bondgenote konings Sodom en Gomorra binnegeval het, die stede geplunder het en die mense gevangene geneem het. Lot en sy familie was onder diegene wat gevang is (sien Génesis 14:12).

Toe Abraham gehoor het van die aanval, het hy sy 318 dienaars bewapen en die invallers agtervolg. En, deur God se wonderwerkende krag, het hy daardie vyandige konings oorwin en alles teruggekry: “En hy het al die goed teruggebring, en ook sy broer Lot en sy goed teruggebring; en ook die vroue en die manskappe” (Génesis 14:16).

Lot het geestelike verlossing ontvang van Sodom. Maar in plaas van om die bose stad te verlaat, het hy reguit teruggegaan daarna!

My oorlede vriend Leonard Ravenhill, die groot profetiese man van God, het ‘n boek geskryf genaamd Sodom Had No Bible. Sodom het inderdaad geen Skrif gehad nie – maar daardie stad het een van die mees kragtigste preke gehad wat ooit aan die mensdom verkondig is. Die preek was Abraham – ‘n goddelike man wat vir geregtigheid gestaan het.

Die mense van Sodom het Abraham gesien aanbid, tiendes gee en nederig voor die Here wandel. En toe hy geweier het om ‘n beloning te aanvaar omdat hy hulle stad gered het, was dit ‘n liefdevolle bestraffing van hulle goddelose lewenstyl. Abraham sou selfs nie ‘n skoenveter aanvaar van Sodom nie! (sien Génesis 14:23).

Hierdie goddelike man se voorbeeld moes rillings deur Lot laat gaan het – maar dit het nie. Lot het steeds geweier om Sodom te verlaat. Ek het dikwels gewonder, “Waarom het Lot nie weggetrek nie? Die Bybel sê hy het God liefgehad. Hy was sekerlik begaan oor sy eie siel.”

Ek glo God maak vir ons ‘n punt duidelik in hierdie gedeelte. Die punt is, geen mens – nie eers ‘n heilige prediker soos Abraham – kan ons verlos van die sonde in ons hart nie. Niemand kan ons uit Sodom uitbring nie – omdat die mens geen krag in homself het om volle en algehele verlossing te verskaf nie!

Ek sien Lot as ‘n tipe van Ou Testament gelowige.

Lot verteenwoordig ‘n soort sukkelende Christen vandag. Hierdie gelowige het deur geloof die toegewysde geregtigheid van Christus ontvang. Sy siel word egter gekwel deur die sonde wat hy sien, beide in die samelewing en in sy eie hart. Hy weet hy het God lief. Maar iets bly agter in sy siel – miskien ‘n sondige gewoonte of hardnekkige bose gedagtes.

God se wet beveel hom, “Lê elke las en boesemsonde af. Die loon van sonde is die dood.” Die wet vereis inderdaad voortdurend ‘n gelowige se gehoorsaamheid. Dit veroordeel egter ook voortdurend sy hart. Elke keer wat hy misluk, skreeu dit uit, “Skuldig!”

Hierdie Christen weet hy is magteloos om weg te kom van sy sonde af. Hy het God keer op keer belowe dat hy harder sal probeer. Maar hy gee altyd oor aan sy ongeregtigheid. En op die ou end roep hy, “Ek is in algehele slawerny. Ek het geen krag om hierdie ding te oorwin nie.” Hy kan homself nie uit Sodom haal nie!

Onder die Ou Testament, was volkome gehoorsaamheid vereis. God se wet het geen vergunnings gemaak vir selfs ‘n sweempie van ongehoorsaamheid nie. Eenvoudig gestel, die siel wat gesondig het, het gesterf.

Daardie gebooie was duidelik uitgestippel en het die perfekte gehoorsaamheid wat ‘n heilige God vereis, beskryf. Die wet maak egter geen voorsiening in die vlees vir sulke gehoorsaamheid nie. En die mens het bevind dat hy nie in staat was om die wet se vereiste te kon nakom nie. Paulus het die wet “...’n juk...wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie” (Handelinge 15:10) genoem.

Paulus beskryf egter die wet as ‘n “...tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof” (Galásiërs 3:24). Die wet openbaar wat in ons harte is, leer ons dat ons ‘n swak wil het, hulpeloos soos baba’s is en ‘n Verlosser nodig het.

Op hierdie stadium mag jy moontlik wonder, “Waarom sou God volmaakte gehoorsaamheid van ons vereis en tog nie vir ons die krag voorsien om te daaraan te voldoen nie?” Die Bybel maak dit duidelik: God moes ons bring by ‘n plek waar ons besef ons het geen krag om van ons sondes te ontvlug nie!

Dit het Israel vierhonderd jaar van verdrukking gekos om te besef hulle kon nie hulle eie verlossing bewerkstellig nie. Hulle kon nie hulself in hulle eie krag red van hulle slawemeesters nie. Hulle het ‘n Verlosser nodig gehad – ‘n God wat kon afreik en hulle uit hulle slawerny uithaal.

En dit het eeue geneem – tot met die tyd van Sagaria – vir Israel om hul behoefte vir ‘n Redder te erken. Hulle het uiteindelik oortuig geword hulle het ‘n Verlosser nodig gehad wat “[sou] wees...’n vurige muur rondom en tot heerlikheid daar binne-in” (Sagaria 2:5). God self sou die vuur rondom hulle wees – en die heerlikheid binne-in hulle!

Talle Christene het egter steeds nie vandag hierdie les geleer nie. Hulle lewe onder die wet – streef in hulle vlees, maak beloftes aan God en probeer vrykom van hulle sonde. Hulle word elke oggend wakker en sê, “Dit is die dag, Here! Ek gaan die krag en wilskrag kry om hierdie bande te breek. Met net ‘n bietjie harder probeer, sal ek vry wees!”

Nee – dit sal nooit gebeur nie! Dit sal net tot meer skuld lei. Die wet is bedoel om hulle na die kruis te dryf – om hulle hulpeloosheid te erken, hulle behoefte vir ‘n Verlosser!

Miskien rus jy gemaklik en dink, “Hierdie boodskap is nie op my van toepassing nie. Ek het geen boesemsonde nie. Ek is nie betrokke by hoerery of owerspel nie en ek drink of rook nie. Prys die Here, daar is niks van Sodom in my nie.”

Jy kan nie meer verkeerd wees nie! Jakobus skryf, “Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word” (Jakobus 1:14). Ons almal word verlok deur ons begeertes – elkeen van ons, sonder uitsondering!

Jakobus voeg dan by: “...as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde...” (Jakobus 1:15). Hy praat hier van die geboorteproses. In elkeen van ons se harte is ‘n baarmoeder van begeertes – en elke sonde wat ons pleeg, word uit daardie baarmoeder gebore. Net soos twee baba’s nie dieselfde is nie, is geen twee sondes dieselfde nie. Elke mens bring sy eie soorte sonde voor. En, oor die jare, word baie Christene gemaklik met hulle geheime sonde. Soos Lot, het hulle so blind daarvoor geword dat hulle dit ligtelik opneem.

Ek dink van baie sulke voorbeelde binne-in die liggaam van Christus: Ons dink niks van die sonde om eer by ander te soek nie. Ons dink niks van die sonde van die begeerte na ‘n posisie nie. Ons dink niks van die sonde van hoogmoed oor ons geestelike wortels, ons Bybelkennis of ons konsekwente gebedslewe nie. Ons mag onsself as nederig, vriendelik en leerbaar sien – maar ons is nie!

God neem nie een van ons sondes ligtelik op nie. Ek het dit op die harde manier geleer. Vandag, as ek terugkyk na amper oor die vyftig jaar van bediening, krimp ek ineen oor daardie tye waarin ek mislei was deur die sonde van hoogmoed.

Ek onthou toe ek die hoofspreker was by ‘n sekere bedienaarskonferensie. Ek het gedink, “Die Here het my geseën met so ‘n groot openbaring. Ek word nie beïndruk met die groot-naam mense hier nie. God het my van geboorte af afgesonder as ‘n gesalfde prediker!”

Nie lank daarna nie, het ek onder die Heilige Gees se soeklig beland – en dit het direk op my hoogmoed geskyn. As ek nie vasgehou het aan Paulus se vermaning om die vorige dinge agter my te plaas nie, sou ek op die ou end in wanhoop beland het. Maar God het sy barmhartigheid aan my bewys. Ek dank die Here vir sy genade en lankmoedigheid teenoor my, toe en nou.

Vandag is die geroep van my hart, “Here, ek is nie die nederige, beskeie bedienaar wat ek nog altyd gedink het ek is nie. Ek was parmantig, selfversekerd, gedrewe. Nou besef ek dat enige salwing wat ek het, weens u goedertierenheid is!”

My begeertes mag moontlik nie jou begeertes wees nie. Maar ek glo daar is drie dinge wat ons almal moet doen, as ons verlos wil word van Sodom:

1. Ons moet God op sy Woord neem dat Hy ernstig is om alles wat binne-in ons van Sodom af is, te verbrand!

“Verder het die HERE gesê: Die geroep oor Sodom en Gomorra is waarlik groot, en hulle sonde is waarlik baie swaar” (Génesis 18:20). Ons almal is lief daarvoor om van God se barmhartigheid, genade en lankmoedigheid te hoor. Maar ons wil nie die werklikheid in die oë kyk dat Hy binnekort eendag, teen alles wat van Sodom is, sal kom nie!

God het sy natuur aan Moses op die volgende manier geopenbaar: “En toe die HERE by hom verbygaan, het Hy geroep: HERE, HERE, barmhartig en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortredinge en sonde vergewe...” (Exodus 34:6-7). Tog in die volgende frase, het God bygevoeg: “...maar nooit ongestraf laat bly nie...” (Exodus 34:7).

Die Here het in wese gesê, “Ek sal nie sonde oorsien nie! Ja, Ek is barmhartig en lankmoedig. Maar die tyd kom wanneer my geduld met jou sonde sal opraak. En dit is wanneer Sodom sal brand!”

Hierdie waarskuwing is aan Lot gegee. Twee engele het na hom gekom en gesê, “Kom gou daar uit, Lot, voor jy verteer word deur ongeregtigheid!” “Maak gou klaar, neem jou vrou en jou twee dogters...dat jy weens die ongeregtigheid van die stad nie omkom nie” (Génesis 19:15).

Ons weet Lot het hierdie waarskuwing nie ernstig opgeneem nie. Trouens, hy het so diep geslaap, dat die engele hom die volgende oggend moes wakker maak. Lot se skoonseuns moes gedink het, “As hy regtig die waarskuwing geglo het, sou hy al lankal hiervandaan vertrek het. Maar as hý dit nie glo nie – waarom moet óns?” Dit moet ‘n les wees vir ons almal! Ons kan net soveel oor Jesus se wederkoms getuig as wat ons wil. Maar as ons nie leef asof Christus op die punt is om terug te keer nie, sal niemand na ons luister nie!

Ek glo in wat genoem word “goddelike ultimatums.” Dit is waneer die Heilige Gees weet jou sonde is op die punt om jou te verwoes. Voor jou geheime begeerte egter uitbars in ‘n verterende vlam, kom die Here na jou toe en sê: “Ek is die God van genade en Ek wil jou hieruit verlos. Bekeer jou nou van jou sonde. Gehoorsaam my woord!”

Hierdie ultimatums word dwarsdeur die Bybel gevind. Byvoorbeeld, Handelinge sê vir ons Ananias en Saffira was gewaarsku om nie die Heilige Gees te bedroef deur vir Hom te lieg nie. En toe hulle dit doen, het hulle dood neergeslaan (sien Handelinge 5). Net so waarsku Paulus om nie die Heilige Gees te bedroef nie: “En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing” (Efésiërs 4:30).

Dit maak nie saak hoeveel jy bid of vas nie, of hoe getrou jy is om God se werk te doen nie. As jy nie wil erken dat jou sonde ontstaan uit jou eie begeertes nie – en as jy nie glo God sal ernstig daarteen optree nie – is jy mislei!

2. Hou op om te probeer om met jou sonde te onderhandel!

Lot se dag van afrekening het uiteindelik gekom. ‘n Wilde bende van Sodomitiese mans het sy huis omsingel, aan die deur gehamer en onwelvoeglikhede geskree. Hulle het daarop aangedring dat Lot die twee engele na buite stuur, sodat hulle hul kon verkrag: “En hulle het na Lot geroep en aan hom gesê: Waar is die manne wat vannag na jou gekom het? Bring hulle na ons toe uit, dat ons hulle kan beken” (Génesis 19:5).

Dit was ‘n gruwelike toneel. Lot se reaksie was om met hulle te probeer onderhandel. Dit is duidelik dat Lot ‘n regter was in Sodom, want hy het by die stadspoorte gesit en ‘n reputasie gehad om te beskerm. Daarom het hy probeer om met die bende te redeneer. Hy het selfs so ver gegaan om hulle “broers” te noem – wat bewys dat hy Sodom se sonde te ligtelik opgeneem het!

“...My broers, moet tog nie kwaad doen nie. Kyk tog, ek het twee dogters wat geen man beken het nie; laat ek dié na julle uitbring, en doen met julle soos dit goed is in julle oë. Net aan hierdie manne moet julle niks doen nie...” (Génesis 19:7-8).

Een teoloog skryf dat Lot geweet het hierdie mans sou nie sy dogters seermaak nie, omdat hulle homoseksuele was. Miskien het Lot met homself geredeneer, “Hierdie mans is sodomiete wat partytjie hou en hul perverse begeertes wil bevredig. Hulle is geen bedreiging vir vroue nie. As ek my dogters nou uitstuur, sal hulle môre ongedeerd huistoe kom.”

Hoe dwaas! Selfs as dit waar was, sou Lot probeer het om van een sonde ontslae te raak met ‘n ander. Maar dit is onmoontlik om met begeertes te probeer onderhandel! Wanneer jy probeer om beperkinge daar rondom te bou, sal dit altyd uitbreek en oor sy grense spoel.

Lot is ‘n voorbeeld van wat verborge sonde aan ‘n regverdige man kan doen. Hy was duidelik mislei. Sy sonde het binne-in hom so ‘n gevaarlike toestand veroorsaak, dat hy alles sou gee om sy aansien te red – selfs sy geliefde familie. Hy het waarskynlik gedink, “As dit werk, sal ek my dogters en ook my reputasie red. Alles sal bly soos dit voorheen was. Die lewe in Sodom is nie so sleg nie!”

Hierdie man was nie gereed om die werklikheid in die oë te kyk nie! Hy het sy oomblik van afrekening uitgerek – en het steeds probeer onderhandel en probeer om God se verlossing in sy lewe te vertraag. En geliefde, dit is die gesindheid wat baie Christene vandag het. Hulle oortuig hulself, “My God is ‘n God van barmhartigheid. Hy het my voorheen verlos my van my sonde en Hy sal dit weer doen.”

Nee! God sê vir jou in hierdie gedeelte, “Geen onderhandelinge meer nie. Swaar sondes kan nie meer verruil word vir ligte sondes nie. Dit moet alles gaan!”

3. Lot het nooit op sy eie uit Sodom uitgekom nie!

Lot sou gesterf het in die slagting as God nie sake in sy eie hande geneem het nie. Die Here het Lot en sy familie letterlik aan die hande gegryp en hulle uit die stad uitgetrek: “Maar hy het nog getalm. Toe gryp die manne [engele] hom en sy vrou en sy twee dogters aan die hand, omdat die HERE hom wou verskoon; en hulle lei hom uit en bring hom buitekant die stad” (Génesis 19:16).

Wat ‘n heerlike beeld van ons Here se Nuwe Verbond genade! Terwyl Lot nog getalm het op die rand van verwoesting, met geen krag of wil om homself te red nie, het God hierdie verwarde, misleide sonde-gebonde man met die hand na veiligheid gelei. Hy het in wese vir Lot gesê, “Ek het jou lief en gaan jou nie laat sterf in hierdie slagting nie. Jy is ‘n regverdige man, Lot – en Ek het jou gewaarsku. Kom nou!”

“Want toe ons nog swak was, het Christus op  die regte tyd vir die goddelose gesterwe” (Romeine 5:6). Die letterlike betekenis vir “swak” is hier “sonder vermoë of wil.” God sê Hy is gewillig om vir ons op te tree – omdat ons niks het om te gee nie!

Die Here het nog een opdrag vir Lot gehad: “Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie...Vlug na die gebergte, dat jy nie omkom nie” (Génesis 19:17). Die berg hier verteenwoordig God se teenwoordigheid, ‘n plek alleen saam met Hom. Ons sien hierdie beeld herhaal word dwarsdeur die Skrif: Dit was op ‘n berg waar Moses deur God se heerlikheid aangeraak was...waar Christus verheerlik is voor sy dissipels...waar Jesus sy Vader in gebed gesoek het. Al hierdie dinge het op ‘n berg gebeur.

“Die HERE is groot en baie lofwaardig in die stad van onse God, sy heilige berg” (Psalm 48:2). “...Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, at Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel...” (Jesaja 2:3). Die boodskap hier is: “As God jou verlos deur geloof in sy beloftes, vlug reguit na die berg van sy heiligheid!”

Lot was egter nie gewillig om na God se teenwoordigheid te vlug nie. Hy het gesê, “...Maar ek is nie in staat om na die gebergte te vlug sonder dat die onheil my inhaal en ek sterwe nie” (Génesis 19:19). In plaas daarvan, vra Hy God om hom toe te laat om ‘n ompad na Soar te neem.

God het dit toegelaat. En Lot het uiteindelik op die berg beland. Maar toe hy daar kom, het iets ergers as Sodom met hom gebeur. Lot het dronk geword en was verlei deur sy twee dogters, wat seuns uit die daad van bloedskande gebaar het. Wat ‘n tragiese beeld! En dit het alles gebeur omdat Lot – hoewel verlos – nie wou verder gaan tot in die volheid van God nie.

Dit is die Ou Testament Tipe – maar laat my jou nou die Nuwe Testament waarheid wys!

Ek glo die volgende gedeelte openbaar hoe God ons uit Sodom verlos:

“Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is” (2 Petrus 1:3-4).

God kom na ons in ons misleide, verslaafde toestand met kragtige beloftes van ‘n volkome en algehele verlossing. Hy sê, “Ek belowe plegtig om jou te verlos en jou van ongeregtigheid te bewaar. En Ek sal vir jou ‘n hart gee om My te gehoorsaam. Laat my beloftes nou van jou besit neem!”

Wat ‘n wonderlike, vrymakende waarheid! Ons word uit ons sonde gelei wanneer ons God se beloftes in besit neem. Dink vir ‘n oomblik daaraan. Petrus sê die gelowiges wat hy in hierdie sendbrief aangespreek het, het “...ontvlug ... wat deur begeerlikheid in die wêreld is” (2 Petrus 1:4). Hoe het hierdie Christene sonde ontvlug? Aan hulle is goddelike krag gegee – lewe en godsvrug – deur hulle geloof in God se beloftes!

Geliefde, jou Vader wil hê jy moet volle blydskap in Christus ken. En daardie blydskap sal net uitbars as jy verlos word van die mag van sonde. So, laat die Heilige Gees toe om in die baarmoeder van jou begeertes in te gaan en alles te verwyder wat nie soos Christus is nie. Bid nou op hierdie oomblik tot die Here:

“O Vader – ek stem saam oor my sonde. Die stank van my kompromie het die hemel bereik. En ek weet dit moet onmiddellik gaan! Here, ek ontvang u liefdevolle, goddelike ultimatum. En ek lê alles voor U neer. Steek alles in my wat goddeloos is aan die brand. En laat u beloftes besit neem van my hart. Lei my na die berg van u heiligheid!”