Jy is vir Hom Kosbaar

David Wilkerson

“Hy het uit die hoogte sy hand uitgestrek, Hy het my gegryp, Hy het my uit groot waters getrek. Hy het my verlos van my magtige vyand en van my haters, omdat hulle te sterk was vir my. Hulle het my oorval op die dag van my nood; maar die HERE was my steun. En Hy het my uitgelei in die ruimte; Hy het my gered, omdat die Hy behae in my gehad het” (Psalms 18:17-20).

In hierdie Psalm het Dawid teruggekyk na ‘n groot verlossing. Hy het gejuig omdat die Here hom van sy vyande verlos het: “Ek roep die HERE aan wat lofwaardig is, en van my vyande word ek verlos” (Psalm 18:4).

Dawid het inderdaad pas deur ‘n verskriklike tyd van beproewing gegaan. Saul het ‘n losprys op sy kop gesit en hom onophoudelik agtervolg, sodat hy gedwing was om in grotte, lêplekke van diere en oop velde te slaap. Dawid sê van hierdie donker tyd, “Die smarte van die hel het my omring en ek het in benoudheid geleef. Goddelose manne het my bang gemaak. My vyande was te sterk vir my. Hulle almal het my gehaat!”

Maar God het donderend uit die hemel gekom om Dawid te verlos: “En Hy het die hemel gebuig en neergedaal...En die HERE het in die hemel gedonder...Hy het uit die hoogte sy hand uitgestrek, Hy het my gegryp, Hy het my uit groot waters getrek. Hy het my verlos van my magtige vyand...” (Psalm 18: 10, 14, 17-18).

Demoniese magte het Dawid omsingel. Die vyand het ingestroom soos ‘n rivier. Dawid was egter in staat om te sê, “ God het donderend na vore gekom om my uit daardie kolkende waters te trek. Hy het my gered van al my probleme!” “En Hy het my uitgelei in die ruimte; Hy het my gered, omdat Hy behae in my gehad het” (Psalm 18:20).

Die Heilige Gees het vir Dawid ‘n openbaring gegee wat die sleutel is vir alle verlossing

Dawid kon sê, “Die rede waarom God my verlos het van al my vyande – van al my smarte en die magte van die hel – is omdat ek vir Hom kosbaar is. My God het ‘n behae in my en het my lief!”

Geliefde, as jy verlossing nodig het – of dit nou van begeertes, versoekings of beproewings is; of jou probleem verstandelik, geestelik, emosioneel of fisiek is – hierdie vers is die sleutel tot jou oorwinning. Jy is vir Hom kosbaar!

In Hooglied van Salamo, sê die Here van sy bruid: “Hoe mooi en hoe lieflik is u, o liefde, onder al die genietinge” (Hooglied van Salomo 7:6). Drie van die Hebreeuse woorde in hierdie vers is sinoniem: mooi (wat “kosbaar” beteken), lieflik (wat “plesier” aandui), en genietinge.

Hierdie woorde beskryf Jesus se gedagtes teenoor sy bruid as Hy na haar kyk. Hy kyk na haar en sê, “Hoe mooi, lieflik en genotvol is jy. Jy is vir My kosbaar, O liefde!” En op haar bruid, roem die bruid, “Ek is my beminde s’n, en sy begeerte is na my” (vers 10). Die betekenis hier is, “Hy hardloop agter my aan van vreugde. Hy jaag my omdat ek vir hom so kosbaar is!”

Dieselfde gedagtes word gevind dwarsdeur die Psalm: “Die HERE het ‘n welgevalle in die wat Hom vrees, wat op sy goedertierenheid hoop” (Psalm 147:11). “Want die HERE het ‘n welbehae in sy volk; Hy versier die ootmoediges met heil” (Psalm 149:4).

Ek kan probeer om jou te oortuig van God se welbehae in jou, “Jy is kosbaar vir die Here!” Jy mag egter net dink, “Wel, dit is ‘n mooi gedagte. Hoe wonderlik.”

Maar hierdie waarheid is baie meer as ‘n mooi gedagte. Dit is die sleutel van jou verlossing uit elke stryd wat in jou siel woed. Dit is die geheim om in die rus wat God aan jou belowe het in te gaan. En tot jy dit vasgryp – totdat dit ‘n fondament van waarheid in jou hart word – sal jy nie in staat wees om te verdra wat voorlê in hierdie bose tyd nie!

Jesaja het ‘n openbaring gehad van God se groot behae in ons. Hy het vir Israel hierdie woord van die Here geprofeteer:

“Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere – hulle sal sou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie” (Jesaja 43:1-2).

Jesaja het nie oor letterlike riviere of vuur gepraat nie. Hy het gepraat van dit wat die volk geestelik en verstandelik deurgegaan het. Hulle was in ballingskap op daardie tydstip – en hulle water was beproewings, hulle vure was versoekings, hulle riviere was toetse. Dit was alles die duiwel se poging om God se mense te oorweldig en te vernietig.

Jesaja se woorde was ‘n boodskap van suiwer barmhartigheid aan Israel. Hulle was in ballingskap weens hulle eie dwaasheid en onnoselheid. Hulle het niks verdien nie. Maar God het vir hulle ‘n wenende profeet met ‘n gebroke hart gestuur wat gesê het, “God wil hê ek moet vir julle sê dat julle aan Hom behoort!”

Tans mag jy deur jou eie kolkende waters “gaan”. Jy mag oorweldig voel deur ‘n versoeking wat dreig om jou aan die brand te steek en te vernietig. En jy vrees dat jy daardeur vernietig mag word.

Jy moet uit hierdie Bybelse voorbeelde verstaan: God maak nie altyd die water stil nie. Hy weerhou nie altyd die riviere om af te kom nie. Hy blus nie altyd die vure nie. Wat Hy egter wel belowe is dit: “Ek sal saam met jou gaan deur dit alles! Hierdie beproewing of omstandigheid sal jou nie vernietig nie. Dit sal jou nie brand of verdrink nie. So, gaan voort. Jy sal by die ander kant uitkom met My langs jou!”

Dit was al wat die Hebreeuse kinders nodig gehad het om te hoor. Toe hulle in ‘n vurige oond gegooi was, was ‘n vierde Man daar saam met hulle – Jesus! Hulle het nie gebrand nie. Trouens, hulle klere en hare het nie eers na rook geruik nie. Geliefde, dit is die soort verlossing wat God vir jou wil bring!

Wat is God se motivering om jou te wil verlos? Is dit omdat jy iets gedoen het om Hom tevrede te stel? Het jy meer tyd aan gebed bestee? Het jy ure deurgebring deur die Skrifte te lees? Het jy belowe om Hom nooit weer te faal nie? Jesaja het die ware openbaring gehad: “Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en Ek jou liefhet...Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou...” (Jesaja 43:4-5).

God het in wese vir Israel gesê, “Jy is op die punt om deur vure en riviere te gaan – maar Ek sal saam met jou deur dit alles gaan. En Ek sal jou op die ou end verlos, bloot omdat jy Myne is! Ek ken jou by die naam. En jy is ‘n behae vir my hart!”

“Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie; dit is die gawe van God; nie uit die werk nie, sodat niemand mag roem nie” (Efésiërs 2:8,9). “En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed...” (Jesaja 64:6).

Selfs as jy sou leef om vyfhonderd jaar oud te word, sou jy nie lank genoeg leef om God te behaag deur jou eie dade nie!

Dit maak nie saak wat jy doen om jouself te probeer reinig nie. As jy Jesus nie vertrou om jou te red deur sy genade nie, is al jou geregtighede soos ‘n besoedelde kleed in God se oë. Jou vlees word nie deur God aanvaar nie; dit kan nooit hervorm word nie. Alle vlees was weggedoen aan die kruis. Nou kom ‘n nuwe mens tevore – die Christusmens. En ware geloof is om vertroue te hê in dit wat Hy vir jou gedoen het!

Jy mag sê, “Ek kan glo dat God ‘n behae het in heilige predikante. Hulle bid en bring so baie tyd deur in die woord. En ek kan glo dat ouderlinge en voorbidders vir Hom kosbaar is. Hulle verduur lyding, toetse en beproewings en hulle het oorwin.

“Maar ek vind dit moeilik om te glo dat ‘n gekwelde Christen, wat misluk soos ek, kosbaar vir God kan wees. Hy moet ontevrede met my wees, omdat my lewe so op-en-af is. Ek het probleme waardeur ek skynbaar nie kan kom nie. Ek voel asof ek in sy slegte boekies is. O, ek glo Hy het my steeds lief. Maar Hy is sekerlik ontevrede met my, omdat ek Hom so dikwels gefaal het!”

Verstaan asseblief: Jesaja se wonderlike profesie van genade was gespreek oor ‘n volk wat beroof, bederf, in gate verstrik en in die tronk toegesluit was – alles weens hulle eie dwaasheid en ongeloof! Dit was op so ‘n punt dat God vir hulle gesê het, “Nou – na al julle mislukkings – kom Ek na julle toe met hierdie boodskap van hoop. En dit is alles omdat julle Myne is!”

Ek sal nooit die pyn vergeet wat ek verduur het toe een van my tiener kinders na my toe gekom het en bely het, “Pa, ek het nog nooit een keer gevoel dat ek Pa behaag het nie. Ek het nog nooit gevoel dat ek Pa se liefde waardig is nie, ek voel dat ek Pa nog my hele lewe lank teleurstel. Pa moet werklik teleurgesteld in my wees. Ek het Pa al soveel keer teleurgestel!”

Daardie woorde het seergemaak. Ek het daardie tranerige kind omhels, diep hartseer in myself. En ek het gedink, “Hoe verkeerd! Ek het vir hierdie kind my liefde gewys. Ek het dit keer op keer gesê en gewys. Al my ander kinders was verseker van my liefde. Hoe kon hierdie kind so ‘n miskonsepsie hê vir so lank en soveel onnodige ellende en skuld dra?”

Ek het gehuil toe ek vir hierdie kind sê, “Maar jy was nog altyd spesiaal vir my. Jy is die appel van my oog! As ek op reis is om veldtogte te voer, dink ek aan jou en my hele wese helder op. Jy het sekerlik soms dwase, verkeerde dinge gedoen, net soos jou broers en suster, maar ek het nog nooit minder van jou gedink nie. Jy is vir my niks anders as ‘n plesier nie. Jou hele lewe lank het jy my gelukkig gemaak. Jy is vir my ‘n veugde!”

So is dit met talle Christene in hulle verhouding met die Hemelse Vader! Die duiwel het hulle oortuig dat hulle God nog net teleurgestel het en nooit in staat sal wees om Hom te behaag nie. Daarom aanvaar hulle nie sy liefde nie. In plaas daarvan, leef hulle asof sy toorn altyd op hulle afkom. Wat ‘n verskriklike manier om deur die lewe te gaan! En hoe seergemaak moet God nie wees as Hy sien dat sy kinders op daardie manier leef nie.

Miskien het jy grootgeword in ‘n liefdelose, familie wat nie omgee nie. Miskien het jou moeder of vader of sibbe jou laat voel asof jy niks werd was nie. Jy het nooit spesiaal of kosbaar gevoel vir iemand spesifiek nie. Niemand het ooit sy arm rondom jou gesit en gesê, “Ek het jou lief! Jy is vir my spesiaal. Ek is so trots op jou!” nie. Hoeveel kinders word groot terwyl hulle spesiaal vir hulle vader of moeder wil wees? En hoeveel volwassenes sukkel vandag met perfeksionisme omdat hulle nooit kosbaar of behaaglik vir ‘n ouer gevoel het nie?

Oor die jare was ek tot trane gedryf oor die jammerlike herinneringe van dwelmverslaafde mans en vroue se kinderdae. Talle het vir my vertel hul moeder of vader het hulle verwyt en geskreeu, “Jy is goed vir niks. Jy kan niks reg doen nie. Jy sal niks bereik vir die res van jou lewe nie!” Hulle het grootgeword om heeltemal waardeloos te voel, asof hulle vir niemand iets beteken het nie.

Vandag is ons strate vol wegloopkinders wat beroof is van alle gevoel van waardigheid. Hulle voel spesiaal vir niemand nie. Daarom gee hulle hulself oor aan die eerste persoon op die straat wat hulle ‘n bietjie spesiaal laat voel. Hulle bied hul liggame aan vir koppelaars, begeerte-gedrewe mans en vroue, ander tieners – enigeen wat hulle laat dink hulle is iets werd.

O, dank God vir Jesus! Vir Hom was jy nog altyd kosbaar. Dit maak nie saak watter soort huislewe jy gehad het nie, of hoe jou aardse ouers was nie. Niks daarvan kan ooit vergelyk met die liefde van jou Hemelse Vader nie. Van die dag af wat jy gebore is, was jy vir Hom spesiaal!

“...’n Ander se vrou maak jag op ‘n kosbare lewe” (Spreuke 6:26).

Die owerspelige vrou waarna in hierdie vers verwys word, is Satan. Hy maak jag op diegene wat vir God kosbaar is!

Daar is sekere kinders wat ‘n honger vir God toon op ‘n vroeë ouderdom. Die Here het sy hand op hulle geplaas en hulle smag na Hom van ‘n vandat hulle baie jonk is. Ek glo Satan is vasbeslote om jag te maak op al sulke kinders, wat aangeraak is met ‘n kinderlike vertroue in die Here. Die duiwel verstaan die krag wat agter sulke kosbaarheid in God se oë is. Hy het gesien wat met klein Samuel gebeur het. Hy het gekyk hoe daardie jong seun se hart uitgereik het na God. En hy het gesien Samuel het opgegroei om ‘n magtige profeet te word wat sy koninkryk geskud het!

Nou probeer die duiwel om almal wat smag na die Here te verlei. Waarom dink jy word jy so getoets? Waarom dink jy jy het soveel aanvalle gely? Jy mag ‘n leeftyd van beproewings gehad het, maar dit is nie omdat jy goddeloos is nie. Nee – dit is omdat Satan weet hoe kosbaar jy in God se oë is. Dit is die kosbare lewe waaragter hy aan is!

Verskeie jare gelede, tydens ‘n evangelistiese veldtog aan die weskus, het ‘n jongman, wat ‘n heks was, ontmoet. Trouens, hy was die leier van ‘n heksevergadering. Hoewel hierdie man diep betrokke was in die okkult, het hy nie geglo Satan of sy demone sou hom ooit beset nie.

Een nag toe hy probeer het om te gaan slaap, het hy verskriklike, demoniese gesigte gesien tol op die plafon van sy slaapkamer, wat op hom afgegluur het. Hulle het begin saampak soos ‘n wolk en gou het hulle ‘n tregter gevorm. Die jongman het besef hulle was op die punt om in sy hart in te kom!

Hy was angsbevange. Toe het hy iets uit sy kinderdae onthou. Daarom het hy uitgeroep, “In Jesus se Naam, gaan!” En al die demone het verdwyn.

Die volgende nag, het daardie magte egter selfs groter legioene gebring. Toe die jongman gaan lê het om te slaap, het hy ‘n brullende geluid gehoor. Toe hy opgekyk het, was die hele kamer vol aaklige, verskriklike wesens. Hulle het weer ‘n tregter gevorm. Hierdie keer het die jongman op sy bed gestaan en geskree, “Ek pleit die bloed van Jesus!” Weer het die demone in wanorde gevlug.

Die jongman het gedink, “Volgende keer as hulle kom, sal ek dit nie kan hanteer nie.” Daarom het hy ‘n Christen, wat hy geken het, geskakel, en hom gevra om hom te vergesel na een van my veldtogbyeenkomste.

Tydens die diens, was die jong leier van die heksevergadering deur die Heilige Gees oortuig van sonde en hy het sy hart vir die Here gegee. Die volgende nag, het hy ‘n tas vol van sy demoontoebehoorsels na die byeenkoms gebring. Hy het getuig dat sy familie ‘n agtergrond in die okkult gehad het. Maar, het hy gesê, “Ek onthou iets anders. Toe ek omtrent ses of sewe jaar oud was, het ek ‘n hart vir Jesus gehad. Ek weet nie hoe of waarom nie. Maar ek onthou duidelik dat ek in die woud agter ons huis ingegaan het en uit my hart uit gepreek het!”

Ek het dieselfde hart vir God in my eie kinders en kleinkinders gesien. En ek het ook daardie hart gehad toe ek ‘n kind was. Daarom het ek presies geweet waarvan hierdie jongman gepraat het.

Skielik het ‘n lig vir my aangegaan – en ek het geweet waarom die duiwel probeer het om hierdie jongman te beset en te vernietig. Dit was omdat hy so kosbaar was vir God. Die owerspelige vrou het jag op hom gemaak!

Die Bybel gee vir ons ‘n duidelike illustrasie van hoe Satan probeer om ons te mislei en te vernietig – alles omdat ons kosbaar is in God se oë!

Hierdie illustrasie verskyn in Númeri 13-14. Israel het twaalf verspieders gestuur om die beloofde land te verken. Toe hierdie verspieders teruggekeer het na veertig dae, het hulle drie leuens in die harte van God se mense geplant. Daardie drie leuens was:

  1. “Daar is te veel mense in die land. En hulle is te sterk vir ons!”
  2. “Die stede se mure is te hoog. Die vestings is te ondeurdringbaar!”
  3. “Daar is reuse in die land en ons weeg nie op teen hulle nie. Ons is hulpeloos, en dis klaarpraat met ons!”

Hierdie leuens het Israel se moed in hulle skoene laat sak – en die mense het ‘n nag van wanhoop deurgebring: “Toe het die hele vergadering uitgeroep – hulle het hul stem verhef, en die volk het dié nag geween” (Númeri 14:1). Kan jy jou hierdie toneel voorstel? Dink aan hoe dit moes geklink het. Meer as 2 miljoen mense het gehuil, gekerm, gekla – en heeltemal op hulle swakhede en onvermoë gefokus. Daardie kermende klanke van ongeloof het die hemel gebombardeer.

Kyk goed en hard na daardie toneel, geliefde. Jy mag jouself te midde daarvan sien! Het jy al ooit ‘n nag soos daardie deurgebring – gekerm en gekla weens demoniese leuens wat in jou gees geplant was? Het jy ooit uitgeroep na God, “Ek het genoeg gehad – ek kan dit nie meer verdra nie! Hierdie beproewing is te erg. Daar is vestings in my wat nooit neergewerp sal word nie. Dit is alles verby vir my – ek sal dit nooit maak nie. Ek het die stryd verloor!”

Die duiwel gebruik dieselfde drie leuens teen al God se mense: “Jou versoekings is te veel. Jou begeertes is te oorweldigend. Jy is te swak om die mag wat teen jou kom te weerstaan!”

Die woord wat God gespreek het teenoor Israel, is ook vir ons vandag: “...sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne...” (Exodus 19:5). “Want jy is ‘n volk heilig aan die HERE jou God, en jou het die HERE uitverkies om sy [kosbare, spesiale] eiendomsvolk te wees uit al die volke wat op die aarde is” (Deuteronómium 14:2).

Ek is seker Israel het kosbaar en spesiaal gevoel vir die Here toe Hy hulle aanvanklik gered het. Nadat Hy hulle uit Egipte uit slawerny gelei het, die Rooi See oopgemaak het en hulle van Farao se leër gered het, moes hulle gesê het, “Kyk na die groot wonderwerke wat God om ons onthalwe verrig het. Hy het ons waarlik lief!”

En die meeste Christene vandag sou dieselfde ding sê oor hulle Verlosser en Here: “O, ja – God het my van sonde verlos. Kyk na alles waarvan Hy my verlos het. Ek moet spesiaal wees vir hom!”

My vraag is: Wat het gebeur? In net ‘n paar jaar, word talle Christene soos Israel. Al die probleme en beproewings van die lewe kom oor hulle en hulle dink, “Eens was ons kosbaar in God se oë – goed genoeg om gered te word. Maar nou, nadat ons Hom al hierdie jare gedien het, is ons net soos sprinkane. Ons is kos vir ons vyande!”

Sulke verslane gelowiges ervaar nie meer God se behae in hulle nie. Trouens, talle glo God het hulle verlaat! Toe Israel gesê het, “Ons is soos sprinkane in die oë van die reuse,” het hulle in werklikheid gesê, “God het ons behandel soos hulpelose insekte wat op die punt is om doodgetrap te word. Ons vyand gaan ons op die grond verpletter. Ons is nie beter af as sprinkane nie!”

Josua en Kaleb was van ‘n ander gees!

Josua en Kaleb was onder die twaalf verspieders wat uitgestuur was. Maar hulle het vol hoop teruggekom. Hulle het nie trane gestort of oor hulle toestand gekla nie. Hulle het liewer gejuig nadat hulle die land verken het. Hulle was vol geloof en visie!

Ken jy Christene wat so is? Hulle juig altyd. Jy weet hulle verduur verskriklike beproewings. Dit lyk egter of hulle weet hoe om van God besit te neem te midde van hulle situasie.

Wat van jou egter? Is jy altyd neerslagtig, kla jy altyd? Miskien pak jou familieprobleme jou beet en vreet aan jou siel. Geliefde, dit maak nie saak waardeur jy gaan nie; jy is vir God kosbaar. En as jy na Hom kom met ‘n berouvolle hart en ‘n honger siel, sal Hy vir jou Sy visie en hoop gee!

Josua en Kaleb het ‘n openbaring van hulle kosbaarheid in God se oë gehad. En hulle het geweet Israel was kosbaar vir die Here. Dit was die sleutel tot hulle hoopvolle, oorwinnende gees. Josua het gesê, “As die Here ‘n welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring en dit aan ons gee...” (Númeri 14:8). Met ander woorde, “Omdat Hy in ons ‘n welbehae het, is dit so goed asof ons reeds in die land is!”

Dit is dieselfde openbaring wat Dawid gehad het: “Hy het my uitgebring en my verlos – omdat Hy ‘n welbehae in my gehad het!” Net so, het elke oorwinnende Christen vandag dieselfde openbaring van die liefdevolle Hemelse Vader: “Ons kan nie misluk nie! Al ons vyande is vir ons kos, omdat ons kosbaar is vir die Here, Hy verlustig Hom in ons!”

Laat my vir jou die groot barmhartigheid van God openbaar in die prediking van Josua en Kaleb. Israel het die nag in rebellie deurgebring – gewankel in ongeloof, huilend asof God hulle verlaat het en uiteindelik het hulle ‘n kaptein aangestel om hulle terug te lei na Egipte. Die Here het egter Josua en Kaleb vir hulle gestuur. En hulle het vir die mense gesê, “Ten spyte van julle nag van verwarring – ten spyte van al julle ellende en geklaag – verlustig die Here Hom in julle. Hy wil julle vorentoe lei. Vrees nie – want julle is vir Hom kosbaar!”

Daar is egter ook ‘n waarskuwing hier. Jy sien, Israel het geweier om God se boodskap te glo oor hoe kosbaar hulle in sy oë was. In plaas daarvan, het hulle verkies om op hul toestand te fokus – hul probleme, swakhede en onvermoëns. En hulle gee toe aan hul vrese.

Uiteindelik het God geduld met hulle verloor. Hy het vir Israel gesê: “...Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het? Ek sal hulle met die pes tref en hulle uitroei...” (Númeri 14:11-12).

Die Here het Israel om Moses se onthalwe vergewe. Maar hulle was nie toegelaat om die land binne te gaan nie. In plaas daarvan, was ‘n wildernis bestaan aan hulle toebedeel – ‘n lewe oorgegee aan voortdurende vrees en afbrekende gedagtes. Hulle was vergewe, maar ellendig! Hulle het die hoop, rus en vrede verloor wat kom wanneer ons aanvaar en glo hoe spesiaal God se kinders vir Hom is.

Geliefde, die enigste keer wanneer God se geduld met ons opraak, is wanneer ons keer op keer weier om te aanvaar hoeveel Hy ons liefhet en dat Hy ons deur ons oorloë wil dra. Talle Christene vandag het omgedraai na ‘n wildernis van hulle eie maaksel. Hulle het geen blydskap, geen oorwinning nie. Om na hulle te kyk, sou ‘n mens dink dat God hulle verlaat het jare gelede. Nee! Hy het hulle bloot oorgegee aan hulle eie geklaag en murmurering!

Dank God, Josua en Kaleb het die beloofde land binnegegaan. En watter blydskap het hulle gehad! God het hulle ontsaglik geseën. Hulle as groen bome in sy huis gestaan hulle lewe lank. Hulle was manne van mag en visie – omdat hulle geweet het hulle was vir God kosbaar!

Jy is ook kosbaar vir die Here, ten spyte van al jou probleme en mislukkings. En dit maak nie saak wat jou beproewings en stryd is nie, jy kan ‘n groen boom in God se huis wees, net soos Josua en Kaleb. Staan bloot op wat sy woord belowe: “En Hy het my uitgelei in die ruimte; Hy het my gered, omdat die Hy behae in my gehad het” (Psalms 18:17-20). Dit is wat die fondament van ware geloof is. Amen!