Jy Hoef Nie In Jou Wildernis Te Sterf Nie

David Wilkerson

Nie lank gelede nie, het ek beplan om ‘n boek te skryf oof die lyding van God se heiliges. Ek wou Christene bemoedig oor die Here se getrouheid aan sy mense te midde van hulle beproewings. Sedertdien, het baie lesers aan my geskryf en getuig oor hoe God aan hulle genade geskenk het in hulle tyd van lyding. Een vrou het geskryf van ‘n voortslepende fisieke beproewing:

“Twaalf jaar gelede het ek en my man afgetree by ons werk en God het ons in die nasies ingestuur as sendingevangeliste. Gedurende daardie tyd, het ons na meer as dertig lande gereis. Ons het dikwels in haglike omstandighede bedien, maar die Here het ons altyd in goeie gesondheid gehou en met bonatuurlike krag geseën.

“Verlede Maart is ek egter aangetas deur ‘n onbekende siekte wat baie virulent was. Ons het gesien hoe hierdie soort verdrukking menigtes van die mense, wat ons bedien het in afgeleë gebiede, aangetas het. Dit veroorsaak pyn en swelling in die hande. Die presiese oorsaak van die pynlike swelling in die gewrigte kon deur verskeie spesialiste nie geïdentifiseer word nie; maar hulle het net hulle koppe in verwondering gekrap.

“Ek het tot God uitgeroep, maar die hemele het gelyk of dit stil was. Ek het ‘n eensame nege maande in ‘n wildernis van pyn en onsekerheid deurgebring. Teen Desember 1999, het die pyn sy tol op my geëis, fisies en geestelik. Ek was afgemat en kon skaars slaap. En ek het geestelik grond verloor. Dit was van die donkerste dae van my lewe. Ek het nie geweet of ek die nuwe eeu sou sien of nie.

“Toe een oggend het ek opgestaan, terwyl helder sonskyn my slaapkamer gevul het. Ek het besef dat ek vir die eerste keer regdeur die nag geslaap het. My eerste gedagte was, ‘Ek het geen pyn nie.’ Ek was bang om vir my man te vertel. Ek het gewag dat die pyn terugkeer, maar dit het nie.

“Ek het besef, dat terwyl ek geslaap het, was God aan die werk. En ek het ervaar Hy het vir die duiwel gesê, ‘Genoeg is genoeg.’ Noudat ‘n jaar verbygegaan het, is ek steeds vry van alle pyn. Op my dokter se rekords staan hierdie woorde geskryf: ‘geheimsinnige wonderwerk.’ Ek het meer krag as wat ek ooit tevore gehad het. Ek het uit my wildernis gekom, terwyl ek op die arms van my geliefde Jesus geleun het en op sy woord vertrou het.”

Dit inspireer ‘n mens se geloof om getuienisse soos hierdie een te lees, waar gelowiges uit hulle wildernisbeproewings uitkom en juig in God se getrouheid. Hulle praat van afgryslike pyn, beproewings, rampe, tragedies en beproewings, wat lyk of dit nooit eindig nie. Eers kry hulle hoop en dan word hulle platgeslaan.

Hulle beleef skielike uitbarstings van bonatuurlike krag, maar dan word hulle oorweldig deur verskriklike vrees. En knaende vrae stroom in hulle gedagtes in: “Waarom het rampspoed oor my gekom? Oordeel God my vir een of ander vorige sonde? Waarom word my gebede nie beantwoord nie? Ek het gevas en gebid, maar ek hoor niks nie. Hoekom?”

Hulle mag in hulle beproewing gewankel het en gereed gewees het om te beswyk. Maar deur dit alles heen, het hulle hul geloof behou. Hoe? Hulle het toegelaat dat hulle lyding hulle na hul knieë te dryf. Die gevolg was dat hulle vertroue in die Here toegeneem het. Hulle het uit hulle wildernis gekom met ‘n getuienis van God se goedheid en krag om te verlos.

Ek sê vir jou, ek het nog nooit van soveel lyding onder God se mense gehoor nie. My vrou, Gwen en ek is verstom oor die briewe wat ons lees. Ons hou aan om vir mekaar te sê, “Het jy al ooit so iets gehoor? Hierdie persoon se lyding is ondenkbaar.”

Mense beskryf waar hulle getref word met verskriklike, lewensbedreigende siektes. Families is in ‘n warboel, met mans en vrouens wat skei, kinders wat rebelleer en hulle na dwelms wend. Ander skryf daarvan om in ‘n geestelike of spirituele wildernis te wees. Hulle beleef depressie, vrees en angste van allerhande soorte. Sommige dra die gewig van finansiële laste en skuld wat ophoop. En nou het hulle spanning hulle gedryf tot in ‘n wildernis van wanhoop.

‘n Man wat ‘n geliefde in ‘n tragedie verloor het, skryf, “Ek sidder elke keer as die foon lui. Ek wonder, ‘Is dit nog slegte nuus?’ Al wat dit vat is een oproep.”

‘n Goddelike vrou het geskryf van so ‘n oproep wat sy ontvang het. Sy sê, “Ons is ‘n sterk gesin wat in die Bybel glo en gereeld kerk bywoon. Toe die tyd van ons beproewing aangebreek het, was ons drie pragtige seuns die ouderdomme van 7, 3 en 14 maande. My vreeslike foonoproep het op 25 Augstus 1996 gekom. My man het 35 voet van ‘n dak, wat hy vervang het, afgeval.

Hy het ‘n operasie nodig gehad om ‘n gebreekte femur en elmboog te herstel. Die laaste ding wat hy voor die operasie vir my gesê het was, ‘Sê vir die seuns ek is lief vir hulle en ek sal hulle môre oggend sien.’ Maar tydens die operasie, het die dokters probleme ondervind. Teen die volgende oggend, was my man in ‘n koma.

“My geloof het vir my gesê hy het gerus en dat hy met verloop van tyd weer terug by ons sou wees. Maar dertien dae later — na baie operasies, ‘n oorplasing na die beste hospitaal en ‘n staatswye gebedsketting — het die Here my man huistoe geneem.

“Alles het gelyk of dit so goed vir ons gegaan het. Toe, skielik, het ons wêreld ineengestort. Jesus het nooit gesê Christene sou nie verdrukking beleef nie, het Hy? Om drie seuns alleen groot te maak, bewys dit vir my.

“Tog, deur dit alles heen, het my seuns ‘n begeerte na hemel sonder gelyke. Nie net het hulle ‘n Vader God wat in die hemel wag nie, maar hulle het hul aardse vader wat vir hulle daar wag en dit het hulle lewens verander. Ons prys God nou dat Hy hulle geredde pa hemel toe geneem het. Dit is almal van ons se doelwit eendag.”

Hierdie vrou het ook uit haar wildernis gekom deur op Jesus se arms te leun. Talle Christene lyk of hulle egter nooit God se vertroosting, ondersteuning en sterkte vind nie. Laat my jou vra: Hoe beleef jy jou wildernisbeproewing? Miskien verduur jy een op hierdie oomblik.

Miskien is jou wildernis ‘n diepe depressie. Jy vrees om op te staan elke dag, omdat ‘n donker wolk voortdurend oor jou hang. Jou aanhoudende uitroep is, “Here, help my. Ek kan dit nie meer verdra nie.” As jy kerk toe gaan, doen jy jou bes om ‘n glimlag op te sit. Maar diep binne, gaan jy deur hel. Jy het gevas en gebid, die Here gesoek vir dae, weke, maande. Maar God lyk nie of Hy jou gebed beantwoord nie.

Met tye, beland ons almal in ‘n wildernis. Ek kon ‘n boek skryf oor die baie woestynagtige beproewings wat ek in my leeftyd verduur het. Sommige Christene weier egter om te aanvaar dat wildernisse onvermydelik oor ons almal se pad kom. Hulle dink sulke praatjies dui op ‘n gebrek aan geloof. Ek weet van een pastoor wat vir sy gemeente vertel het, “My geloof het my geïmmuniseer teen skade. Ek het alle pyn en rampspoed in Jesus se Naam gebind. Ek weier dit alles doodeenvoudig.”

Ek wens skade vir niemand toe nie, maar hierdie man is sonder twyfel op pad na ‘n wildernis. Sy geloof is nie in lyn met die Skrif nie. Dawid skryf, “Verlos my, o God, want die waters het tot by die siel gekom. Ek sink in grondelose modder waar geen staanplek is nie; ek het in waterdieptes gekom, en die stroom loop oor my. Ek is moeg van my geroep, my keel brand, my oë versmag terwyl ek wag op my God” (Psalm 69:2-4).

Die Bybel maak dit duidelik: Selfs die goddelikste onder ons verduur diep wildernis beproewings. Die vraag is, hoe sal ons daaruit kom? Ons kan seker wees ons wildernis ervaring gaan veranderings in ons meewerk. Dit is immers slegs in die wildernis waar ons geloof in die vuur kom. So, verander jou huidige beproewing jou ten goede of ten kwade?

Op watter fondament is jou geloof gebou? Die Skrif sê vir ons geloof kom deur die gehoor en dat God se Woord vir ons “geestelike ore” gee wat ons in staat stel om te hoor (sien Romeine 10:17). Wel, hier is wat die Bybel sê oor die wildernis belewenis in ons lewens:

  • “Laat die waterstroom nie oor my loop en die diepte my nie verslind nie...Verhoor my, o HERE, want u goedertierenheid is goed...verberg u aangesig nie vir u kneg nie; want ek is benoud” (Psalm 69:16-18). Dit is duidelik dat waters van verdrukking oor die lewens van die goddelikes stroom.
  • “Want U het ons getoets, o God, U het ons gelouter soos ‘n mens silwer louter. U het ons in die net gebring, ‘n swaar las op ons heupe gelê...ons het in die vuur en in die water gekom” (Psalm 66:10-12). Wie bring ons in ‘n net van verdrukking? God self doen dit.
  • “Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord...Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge sou leer” (Psalm 119:67,71). Hierdie vers maak dit baie duidelik: Dit is goed vir ons — dit seën ons selfs — om verdruk te word.

Beskou die Psalmis se getuienis: “Ek het lief, want die HERE hoor my stem, smekinge...Bande van die dood het my omring, en angste van die doderyk het my getref; ek het benoudheid en kommer gevind. Maar ek het die Naam van die HERE aangeroep: Ag, HERE, red my siel” (Psalm 116:1-4). Hier was ‘n getroue dienaar, wat God liefgehad het en groot geloof gehad het. Tog het hy die smart van pyn, probleme en dood beleef.

Ons vind hierdie tema regdeur die Bybel. God se Woord verklaar hardop dat die pad na geloof deur die vloede en die vure is: “U weg was in die see en u paaie in die groot waters” (Psalm 77:20). “Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit...Ek maak ‘n pad in die woestyn, riviere in die wildernis” (Jesaja 43:19). “As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur riviere – hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie” (Jesaja 43:2). “Want Ek, die HERE jou God, gryp jou regterhand aan, Ek wat vir jou sê: Wees nie bevrees nie, Ek help jou” (Jesaja 41:13).

Hierdie laaste vers bevat ‘n belangrike sleutel: in elke wildernis wat ons beleef, hou ons Vader ons hand vas. Tog, net diegene wat deur die wildernis gaan, kry sy hand van vertroosting. Hy strek dit uit na diegene wat gevang word in siedende riviere van probleme.

‘n Leser op ons briewelys het ‘n kragtige boek oor lyding geskryf. Haar naam is Esther Hunter, en die boek is getiteld Joy in the Mourning. Esther het onlangs vir ons geskryf van ‘n ernstige beproewing wat sy verduur het. Sy en haar man het van hulle huis in Arkansas gevlieg tot in Manitoba, Kanada, om Esther se negentig jaar oue prediker vader te begrawe. Al twaalf van daardie goddelike man se kinders het gekom om eer aan sy lewe te betoon by sy afsterwe.

Esther se broers en susters en hulle families het vyf karre volgepak en van die begrafnisondernemer af huistoe te ry. Maar langs die pad, het ‘n vreeslike sneeustorm hulle oorval en dit het ‘n nul sigbaarheid op die pad veroorsaak. Te midde van die storm, het die voorste kar van die ander geskei geraak.

Esther en haar man het in die tweede kar gery. ‘n Ent verder het hulle gesien ‘n verskriklike ongeluk het plaasgevind met twee karre wat afgryslik teen mekaar gebots het. Esther is ‘n verpleegster, so haar man het hulle kar afgetrek om hulp aan te bied. Toe hulle by die toneel kom, het hulle tot hulle afgryse besef dat een van die karre die voorste kar in hulle stoet was. ‘n Aankomende kar het probeer om ‘n trok in die sneeustorm verby te gaan en het kop aan kop daarmee gebots.

Esther het by die wrak ingekyk en haar suster, haar vier jaar oue kleinneef, en twee van haar broers binne-in sien lê. Sy het haar kleinneef, wat na die hospitaal gejaag is, uitgetrek. Esther het toe haar suster, wat kort daarna in haar arms gesterf het, uitgetrek. Haar broers was reeds dood, nadat hulle op slag dood is.

Esther se kleinneef het daardie afgryslike botsing oorleef. Maar niemand in die familie kon ooit daardie onbeskryflike toneel op daardie koue, eensame pad vergeet nie. Die hele tyd het hulle vader in ‘n kis by die begrafnisondernemer gelê. En hulle ma, wat met Alzheimers aangetas was, het nooit enigiets van die tragedie geweet nie.

Vir twee jaar, het Esther gedwaal deur ‘n wildernis van droefheid en verwarring. Sy was heeltyd oorweldig deur trane. Sy het vrae, skuldgevoelens en ‘n verskriklike las van “wat vans” gedra. Sy het ure lank biddend op haar knieë deurgebring en God se woord deurgesoek. Sy was desperaat om net een greintjie van vertroosting en genesing vir die vreeslike tragedie te vind.

Eendag, toe Esther langs die rivier geloop het, het sy ‘n klip opgetel. Sy het die woorde “Ek kan nie hierdie las dra nie” daarop uitgekrap. En sy het besef, “Ek kan nie meer myself blameer nie.” Toe het sy daardie klip in die water gegooi. Op daardie oomblik het God haar las afgelig.

Esther het uit haar afgryslike wildernis uitgekom waar sy op Jesus se arms geleun het. En sy het ‘n kragtige getuienis gehad: “My Vader doen alle dinge goed. Met my liefdevolle Vader, is daar geen ongelukke nie.” Sy het waarlik vreugde in haar smart gevind.

Sommige Christene kan dit nie die feit hanteer dat Job ‘n regverdige, heilige, geliefde man van God was, wat verskriklike rampe gely het nie. Ek sê vir daardie Christene: Dit is onmoontlik vir ons om ware geloof te ken, totdat ons reguit na Job se probleme kan kyk en sê, “God het toegelaat dat al daardie dinge met Job gebeur om ‘n rede.”

Ja, God het toegelaat dat Job se kinders weggeneem word. Hy het toegelaat dat Job sy gesondheid, besittings en sy reputasie verloor het. Job was verneder deur die hande van sy sogenaamde vriende. Selfs sy eie vrou het hom bespot. En sy liggaam het afgryslike swere gehad.

Hierdie man het met ondraaglike pyn en droefheid van hart geleef. Kyk na hom te midde van die bouvalle van sy lewe: hy het verlaat gevoel, was verdruk met droefheid en die hemele het gelyk of dit sy gebede afwys. Job het donker, slapelose nagte en verskriklike, pynlike dae deurgemaak. Sy pyn was so groot, dat hy die Here gevra het om sy lewe te neem. Tog, deur dit alles, het God hom steeds liefgehad. Job was inderdaad nooit kosbaarder in God se oë as te midde van sy beproewing nie.

Dit was in Job se slegste uur dat die Here hom ‘n lewensveranderende openbaring van homself gegee het. Hy het Job persoonlik uit sy wildernis uitgelei. En Job het daaruit gekom met ‘n onstuitbare geloof, terwyl hy getuig, “Al wil Hy my ombring — ek hoop op Hom” (Job 13:15).

In teenstelling daarmee, kom sommige gelowiges bitter en kwaad uit hulle wildernis uit. Hulle beproewing verander hulle in twyfelende, verharde, ontroosbare veragters van God. “Maar Sion sê: Die HERE het my verlaat, en die HERE het my vergeet” (Jesaja 49:14).

Ek het lydende Christene gesien heeltemal draai teen die Here wat hulle eens liefgehad het. Hulle het God beskuldig dat Hy hulle verlaat het in hulle uur van nood. So, op hulle beurt, het hulle alle gebed versaak. Hulle het hulle Bybels eenkant laat lê. En hulle het nie meer kerk toe gegaan nie. In plaas daarvan, het hulle ‘n verskriklike woede en veragting teenoor God gedra.

Ek ken ‘n bedienaar wie se geloof geskud was deur ‘n sterfgeval in sy familie. Hierdie man het gedink sy geloof sou hom teen alle rampspoed beskerm. Toe tragedie tref, was hy platgeslaan. En hy het heeltemal teen die Here gedraai. Sy vriende was geskok oor sy hardheid. Hy het vir hulle gesê, “Ek wil nooit weer die naam van Jesus hoor nie.”

Dit is tragies dat sommige gelowiges in hulle wildernis sterf. Dit is wat met Israel gebeur het. Behalwe vir getroue Josua en Kaleb, het ‘n hele geslag van Israeliete — ‘n volk wat wonderbaarlik uit Egipte verlos is — in die verskriklike, windverwaaide woestyn weggekwyn. Hulle het vol twyfel, droefheid, hartseer en pyn gesterf. Waarom? Hulle het geweier om op God se geswore Woord te vertrou om hulle in tyd van hulle swaarkry te dra.

Die Here het hulle belowe, “Word nie verskrik en wees nie bevrees...nie...Die HERE julle God wat voor julle uit trek, Hy sal vir julle stry...Hoe die HERE jou God jou gedra het soos ‘n man sy seun dra...(Hy) wat voor julle uit getrek het op die pad om vir julle ‘n plek uit te soek...op die pad waar julle langs moes trek” (Deuteronómium 1:29-33).

Wat het egter met daardie twyfelende, verharde geslag gebeur: “En die dae van ons trek...was agt-en-dertig jaar – totdat die hele geslag...uit die laer omgekom het...So was die hand van die HERE dan ook teen hulle om hulle...te vernietig totdat hulle omgekom het” (Deuteronómium 2:14-15). God het gewag totdat die laaste een gesterf het voor Hy selfs weer met Israel gepraat het: “En toe al die krygsmanne heeltemal onder die volk uit weggesterf het, het die HERE met my gespreek en gesê” (Deuteronómium 2:16-17).

Wat het veroorsaak dat hierdie geslag in die wildernis gesterf het? Dit was dieselfde twee redes waarom Christene in hulle eie wildernis sterf vandag:

Die hele tyd deur Israel se beproewings, het God keer op keer probeer om sy groot liefde aan hulle oor te dra. Maar hulle wou dit nie aanvaar nie. Hulle het doodeenvoudig nie geglo, dat hulle toetse uit sy liefde voortgespruit het nie. In plaas daarvan het die mense oor en oor gesê, “As God ons liefgehad het, waarom sou Hy ons in die woestyn gebring het om ons dood te maak? Waarom sou Hy toelaat dat ons so ly?”

Hier sien ons die wortel van alle ongeloof: ‘n onwilligheid om te glo en te rus in God se liefde vir sy kinders. Die hele rede waarom God egter vir Israel gekies het om sy volk te wees, was weens sy liefde: “En omdat Hy jou vaders liefgehad en hulle nageslag na hulle uitverkies het...Die HERE het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie...Maar omdat die HERE julle liefgehad het” (Deuteronómium 4:37, 7:7-8). Vir Israel was gesê, “God het julle nie gekies weens enigiets spesiaals aan julle nie. Hy het julle doodeenvoudig gekies en alleenlik omdat Hy julle liefgehad het.” Beskou:

  • Waarom sou God nie vir Bileam toelaat om Israel te vervloek nie? “Maar die HERE jou God het vir jou die vloek in ‘n seën verander, omdat die HERE jou God jou liefgehad het” (Deuteronómium 23:5).
  • Waarom het God Israel in moeilike omstandighede geplaas by die Rooisee? Hy wou sien of hulle sou vertrou in die liefde van hulle hemelse Vader. Hy het gewonder, “Watter soort Vader dink my kinders is Ek? Glo hulle werklik dat Ek hulle lief genoeg het om hulle nooit in die vyand se hande te laat val nie? Rus hulle in my waterdigte beloftes om hulle deur alle omstandighede te dra? Weet hulle dat Ek hulle nooit sal verlaat nie, selfs al lyk dinge donker en hopeloos?”
  • Waarom het God Israel tot by die bitter waters van Mara gelei? Weereens, wou Hy van sy mense enige bewyse kry, dat hulle in sy liefde vir hulle geglo het. Hy wou weet of hulle Hom vertrou het om hulle dors te les, weens sy groot liefde.
  • Ons sien nog ‘n toets toe Israel op die rand van die beloofde land was. Twaalf manne was uitgestuur om die land te verken. Maar tien van hulle het teruggekom met ‘n “bose verslag.” Hulle was van mening dat Israel nooit in staat sou wees om die land in te neem nie, omdat dit vol reuse, forte en groot ommuurde stede was, hindernisse wat te uitdagend was om te oorwin.

Hoe het die mense op hierdie verslag gereageer? Weereens het hulle in hul ongeloof en vrees uitgeroep: “Ons kan nie teen die volk optrek nie, want hulle is sterker as ons” (Númeri 13:31). Hulle het in wese gesê, “Ons vyande is sterker as ons God se liefde vir ons.” Hulle het die Here daarvan beskuldig, dat Hy hulle in hul tyd van nood verlaat het en hulle aan hul eie lot oorgelaat het. En hulle het die hele nag deurgebring deur te kla en uit te roep, “Ek wens ek was dood. Waarom het God ons in so ‘n hopelose situasie geplaas?” Die apostel Stéfanus het van hierdie mense gesê dat hulle “met hulle harte na Egipte teruggekeer” (Handelinge 7:39) het.

Weereens sien ons dat die Here in elke krisis sy mense verseker het, “Ek het julle getrou lief.” Elke keer het hulle egter toegelaat, dat hulle struikelblokke hul wete dat God hulle liefhet, verberg.

Dink daaraan: As ons glo, aanvaar en vertrou op die liefde van ons hemelse Vader, wat is daar dan om te vrees? Ek het geleer, byvoorbeed, dat as ek waarlik rus in God se liefde vir my, hoef ek nie te vrees om mislei te word nie. As ek waarlik syne is — as ek glo Hy dra my in sy liefdevolle arms — dan sal Hy nooit toelaat dat die duiwel of enige ander stem my mislei nie.

Ek hoef ook nie skielike rampspoed of mislukking, of die voortuitsig van ‘n onseker toekoms te vrees nie. My liefdevolle Vader sal nie toelaat dat enigiets in my lewe gebeur nie, behalwe daardie dinge wat Hy vooraf besluit het goed is vir my en my geliefdes. Dit maak nie saak wat my probleme mag wees nie, Hy gaan alles uitpluis en vir my ‘n weg maak. Die God van liefde kan wonderwerk op wonderwerk om my onthalwe laat plaasvind, as ek Hom net wil vertrou.

Dit stel my in staat om moeilike tye, vurige beproewings en selfs die dood te trotseer. Ek weet dat deur dit alles heen, sal my Here my pyn deel en my trane sal so kosbaar soos goud vir Hom wees. Hy sal nie toelaat dat my beproewings my vernietig nie. Hy sal altyd getrou wees om vir my ‘n uitkoms te beskik.

Jy mag wonder, “Maar mors ons nie ons eie lewens op met ons verkeerde besluite nie? Bring ons nie chaos op onsself omdat ons buite God se wil beweeg nie? Wat van al die dwase dinge wat ons doen waarin ons onsself verstrengel?” Ek verseker jou: As jy eenvoudig op God se liefde sal vertrou, jou bekeer en aan Hom vashou, sal Hy al jou gemors opruim. Hy verander ons as in ‘n sieraad.

Ons God het nie net sy mense lief nie, maar Hy verlustig Homself in elkeen van ons. Hy neem groot plesier in ons. En Hy word eintlik geseën deur ons te bewaar en te verlos.

Ek sien hierdie soort ouerlike plesier by my vrou, Gwen, wanneer een van ons kleinkinders bel. Gwen word verlig soos ‘n Kersboom wanneer sy een van ons liewe kleintjies op die lyn het. Niks kan haar van die foon afkry nie. Selfs al het ek vir haar vertel die President was by die deur, sou sy my wegwys en aanhou praat.

Hoe kon ek ooit my hemelse Vader beskuldig, dat Hy Homself minder in my verlustig as wat ek my verlustig in my eie nageslag? Met tye het my kinders my gefaal en dinge gedoen wat die teenoorgestelde was wat ek vir hulle geleer het. Maar nooit een keer het ek opgehou om hulle lief te hê of om my in hulle te verlustig  nie. So, as ek daardie soort blywende liefde as ‘n onvolmaakte vader het, hoeveel te meer gee ons hemelse Vader nie vir ons, sy kinders, om nie?

Dit is waarom ek hierdie toneel met Israel se verspieders so verbysterend vind. Keer op keer het God sy liefde aan sy volk bewys. Tog, op elke geleentheid, het hulle geweier om dit te aanvaar. Uiteindelik het Josua en Kaleb te midde van hulle almal opgestaan en geroep, “As die HERE ‘n welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring en dit aan ons gee” (Númeri 14:8). Wat ‘n eenvoudige, maar kragtige verklaring. Hulle het in wese gesê, “Ons Here het ons lief en verlustig Hom in ons. En Hy gaan elke reus verslaan, omdat Hy Homself daarin verlustig om dit vir ons te doen. Daarom moet ons nie na ons struikelblokke kyk nie. Ons moet ons oë op ons Here se groot liefde vir ons hou.”

Deur die hele Skrif, lees ons dat God Homself in ons verlustig: “Hy het behae in die wat regskape van wandel is” (Spreuke 11:20). “Die gebed van die opregtes is Hom welgevallig” (Spreuke 15:8). “My sterk vyand...[was] te sterk...vir my...maar die HERE was my steun. En Hy het my uitgelei in die ruimte; Hy het my gered, omdat Hy behae in my gehad het” (Psalm 18:18-20).

In hierdie laaste vers, ontdek ons die groot waarheid wat Israel gemis het: “Hy het my verlos, omdat Hy Homself in my verlustig.” Dit maak nie saak hoe sterk ons vyand is nie — maak nie saak hoe verwoestend ons vurige beproewing is nie, of hoe hopeloos dinge lyk nie — ons God sal ons verlos. Waarom? Omdat Hy ‘n behae in ons het!

God het sy liefde vir Israel baie duidelik gemaak. Dit is waarom Hy sy mense kon vra, “Waarom...spreek jy, o Israel: My weg is vir die HERE verborge, en my reg gaan by my God verby?” (Jesaja 40:27). Hy het in wese gesê, “Hoe kan jy ooit sê Ek het nie jou beproewing gesien nie? Hoe kan jy ooit glo Ek verlustig My nie in jou nie? Ek het myself in my dienaar Job verlustig, regdeur sy afgryslike belewenis. En Ek verlustig my in jou, nou, te midde van jou swaar tye.”

Dit is absoluut noodsaaklik dat ons glo — gou, onwrikbaar, vandag — dat God ons liefhet en Hom in ons verlustig. Dan sal ons in staat wees om te aanvaar dat elke omstandigheid in ons lewens uiteindelik ons Vader se liefde vir ons bewys. Ons sal uit ons wildernis kom terwyl ons leun op die arms van Jesus. En Hy sal blydskap uit ons smart laat voortkom.

Geliefde, moenie kyk na jou rekeninge wat ophoop nie. En moenie probeer kyk na ‘n onseker toekoms nie. Jou deel is om te vertrou op jou liefdevolle Vader se verbondsbeloftes en om op sy groot liefde vir jou te leun. Jy gaan seëvierend uitkom, want Hy hou jou styf vas in sy liefdevolle arms.