Jou Vriende Maak Vir God Saak!

Wie noem jy jou naaste vriende? Glo dit of nie, hierdie vraag is ‘n saak van groot belang by die Here. En dit is omdat jou vriendskappe hard praat – beide met God en met die wêreld – oor die toestand van jou hart.

Het jy al ooit gedink om te bid, “Here, wat dink U van my vriendskappe? Is hulle vir U welbehaaglik – of mishaag dit U?” Trouens, ‘n regverdige vriend kan ‘n skakel wees tot die seën en guns van God, omdat hy jou aanmoedig tot ‘n goddelike leefstyl. Aan die ander kant, kan ‘n onregverdige vriend ‘n bindende ketting wees vir elke soort boosheid en jou in verskriklike slawerny inlei.

As ek die woord “vriend” regdeur hierdie boodskap gebruik, verwys ek nie na onmiddellike gesinslede soos ‘n gade, ouer of kind nie. My definisie van ‘n vriend, is iemand met wie jy nou geassosieer is – een in wie jy gewoonlik jou vertroue stel, ‘n vertroueling. Kortliks, ‘n vriend is iemand met wie jy ‘n pad loop, gesels en jou siel openbaar.

Natuurlik het jy waarskynlik verskeie vriendekringe. Jy het ‘n “besigheidskring,” wat jou medewerkers, vennote of kliënte insluit. En jy het ‘n “sosiale” vriendekring, insluitend daardie mense met wie jy oppervlakkig assosieer. Jy mag ook kontak hê met goddelose kennisse. Die apostel Paulus sê dit is onmoontlik vir ons om hierdie soort kontakte te vermy – anders moet ons die wêreld heeltemal verlaat!

Maar die vriendekringe waaroor God die meeste omgee, is jou intieme vriendekring – jou boesemvriende. Dit is die mense wat jy die liefste het en ‘n invloed op jou lewe het. Julle is van nature aangetrokke tot mekaar en julle stem saam oor die meeste dinge – so, julle voel veilig om julle harte teenoor mekaar oop te maak. Kortliks, julle het ‘n affiniteit vir mekaar.

Ons harte stuur die heeltyd seine uit – boodskappe wat ander aantrek na wat in ons diepste wese is. Ek het hierdie waarheid kragtig geïllustreer gesien in ons gemeente by Times Squre Church. Byvoorbeed – ‘n wellustige, sensuele vrou mag dalk vir die eerste keer in ‘n diens instap en in die heiligdom rondkyk. Binne minute, sal sy ‘n konneksie maak met elke man in die gemeente wat ‘n dwalende oog het. Haar karakter stuur seine uit wat soortgelyke harte aantrek.

Gedurende een diens, het ek in verwondering opgemerk hoe ‘n konneksie gemaak is tussen twee jong dwelmverslaafdes. Een van hulle het uitgeval uit ons rehabilitasie program en nooit sy kokaïen gewoonte laat staan nie. Terwyl hy in ons gemeente gesit het, het hy elke gesig bestudeer – en gou het hy ‘n konneksie gemaak met ‘n ander sukkelende verslaafde. Na die diens, het ek die twee jongmanne met die straat sien afloop, heimlik aan die gesels. Daar was ‘n onheilige aantrekking – en hulle gees het met mekaar geskakel!

Aan die ander kant, het ek met belangstelling ‘n goddelike kweekskool student, wat ons dienste bygewoon het, opgemerk. Ek het gewonder wie hierdie jongman as ‘n vriend sou vind. Toe, een aand na ‘n diens, het ek hom gesien praat met twee ander baie toegewyde gelowiges. Iets omtrent hierdie jongman het daardie goddelike mense aangetrek – en die sein is opgetel!

Die Bybel sê vir ons dat ons nie onkundig oor die duiwel se verleidings moet wees nie. En een van die duiwel se mees algemene aanvalle teen ons is om binne ons intieme vriendekring iemand te in bring wat mislei is – ‘n verteenwoordiger uit die hel wat op ‘n sending is om ons te vernietig. Satan gebruik hierdie taktiek veral met eensame of deernisvolle Christene. Hy probeer om ‘n mens sonder onderskeidingsvermoë se goedheid te misbruik om hom te lei tot ‘n affiniteit met ‘n bose gees!

Ek het eens ‘n bedienaarsvriend gehad wat verlos was van ‘n drankprobleem jare tevore. Op een of ander manier, het hy ‘n noue vriendskap ontwikkel met ‘n pastoor wat honderde myle ver weg gewoon het – ‘n man wat nog nooit verlossing ontvang het van sy eie drankprobleem nie. Die twee het begin om herlewingsbyeenkomste saam te hou en mekaar se laste te dra. Gou het die ander prediker my vriend oortuig dat daar niks mee verkeerd was om matig te drink nie – en binne ‘n kort rukkie, het beide mans alkoholiste geword, hulle kerke verloor en op die strate van New Orleans beland.

Ek glo die duiwel het hierdie man wat gedrink het in my vriend se lewe gestuur. Satan het geweet hy kon hom nie op enige ander manier bykom nie, en daarom het hy in sy lewe ‘n sogenaamde vriend gestuur om hom te vernietig!

Koning Jósafat was ‘n regverdige man wat oor Juda geheers het toe die koninkryk van Israel verdeel was. Hierdie man se hart was ten volle gerig op God en hy was geseënd en bo alle ander geëer in sy geslag: “En die HERE was met Jósafat, want hy het in die vroeëre weë van sy vader Dawid gewandel...” (2 Kronieke 17:3).

Die Skrif sê egter dat Jósafat ‘n affiniteit of verwantskap gesmee het met goddelose Koning Agab, wat die noordelike koninkryk van Israel regeer het: “En toe Jósafat rykdom en eer in oorvloed gehad het, het hy hom verswaer met Agab” (2 Kronieke 18:1). Die Bybel sê van Agab, “...en Agab het nog meer gedoen om die HERE, die God van Israel, te terg as al die konings van Israel, sy voorgangers” (1 Konings 16:33).

Jy mag wonder – hoe kon ‘n regverdige koning soos Jósafat op die ou end ‘n verwantskap smee met so ‘n goddelose man? Ek glo daar is net een rede vir hierdie onheilige bondgenootskap: Dit was deel van ‘n sataniese skelmstreek om die regverdige Jósafat te vernietig!

Jy sien, Jósafat het die land gereinig en al die afgode van Baäl uitgedryf en die afgodiese profete verslaan. Agab se bose vrou, Isébel, het egter vir Baäl aanbid – en sy het geweet wat Jósafat aan haar afgode gedoen het. Daarom het sy haar daarop toegespits om hierdie goddelike man te laat val!

Isébel het ‘n plan met haar bose dogter Atália bekonkel om Jósafat se goddelike hof te infiltreer. Gou het jong Atália met Jósafat se seun, Joram ontmoet – en sy het al haar vroulike sjarme gebruik om sy hart te wen. Die plan het gewerk: Joram het besluit om met Atália  te trou – en hy het na sy pa gegaan om sy seën te vra. Dwaaslik, het Jósafat dit toegestaan.

As die Skrif sê dat Jósafat hom “verswaer” het met Agab, beteken dit hulle was deur ‘n “huwelik verbind.” Die duiwel moes seker gedans het van blydskap oor hierdie vereniging! Nou sou Jósafat gedurig kontak hê met die bose Agab en onderwerp word aan die sjarme van sy goddelose dogter. Eenvoudig gestel, boosheid het Jósafat se binnekring binnegedring!

Toe Jósafat uiteindelik gesterf het, het Joram die troon bestyg – en Isébel het die bevele begin gee. Die nasie het vinnig teruggekeer na afgodery. En Joram het op die ou end sy ses broers doodgemaak. Dit was egter net die begin van die bloedvergieting wat regdeur Juda plaasgevind het.

En dit het alles gebeur omdat Jósafat homself toegelaat het om hom te verswaer met ‘n goddelose man. Die tragedie is dat hy dit nie hoef te gedoen het nie. Jy sien, dit sou onmoontlik vir Joram wees om met Atália te trou sonder sy toestemming. Waarom het Jósafat nie vir sy seun gesê, “Hierdie vrou vir wie jy lief is, is vol afgodery sy is in rebellie teenoor die Here! Sy sal net vir jou slegte raad gee en jou laat wegdraai van God. Ek sê vir jou, Joram – los hierdie verhouding nou dadelik, voor dit jou vernietig!” In plaas daarvan, het Jósafat nooit iets gesê nie.

Daarby, het Jósafat die Skrif tot sy beskikking gehad, waarin Dawid dit baie duidelik gestel het: “Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie” (Psalm 1:1). “Ek is ‘n metgesel van almal wat U vrees, en van die wat U bevele onderhou” (Psalm 119:63). Jósafat het dit alles geweet – maar steeds wou hy nie ‘n standpunt inneem nie!

Joram en Atália  se huwelik het ‘n seun verwek met die naam Ahásia, wat die troon op twee-en-veertig jarige ouderdom ingeneem het. Die Bybel sê van hierdie man “het ook gewandel in die weë van die huis van Agab, want sy moeder was sy raadgeefster om goddeloos te handel” (2 Kronieke 22:2-3). Skielik was Atália  die hofraadgewer in Juda. En die Skrif sê hierdie bose vrou het “die hele koninklike geslag van die huis van Juda omgebring” (2 Kronieke 22:10).

Ek is oortuig dat dit heeltyd Satan se plan was – om die goddelike nageslag van Juda te vernietig! Jy sien, dit was die geslag van Dawid – en die Skrif het geprofeteer dat die Messias uit hierdie geslag sou kom.

Geliefde, jy kan seker wees dat die duiwel alles wat hy kan, sal probeer om die saad van Christus te vernietig. Net so, as jy ‘n volgeling van Christus is – as jy nou in die geslag van Christus is – sal Satan iemand in jou lewe wil bring om alles wat goddelik in jou is te vernietig!

Op hierdie oomblik mag jy dink, “Wag ‘n bietjie – ek wil nie my vriende in twyfel begin trek nie. Ek wil nie skielik agterdogtig oor hulle raak nie.” My antwoord vir jou is, as hulle ware vriende is – as hulle aan jou hart vas is in die Gees van Christus – het jy niks om te vrees as jy jou verhoudings met hulle ondersoek nie. En jy beter kyk na al jou vriendskappe in die lig van die Skrif – of jy kan jou siel verloor!

Dit is maklik om te bepaal of jou naaste vriendskappe van God is en of hulle deur die vyand geplant is om jou siel te vernietig. Dink eenvoudig aan jou beste vriend en antwoord dan hierdie vrae:

  • Skinder, laster of praat jou vriend sleg van ander?
  • Argumenteer hy oor die Skrif, debateer hy voortdurend en kom hy nooit tot die waarheid nie?
  • Noem hy goddelike mense “Fariseërs”?
  • Bespeur jy in sy woord ‘n gees van ongehoorsaamheid, afguns of agterdog?
  • Praat hy giftige woord teen sy (of haar) gade?
  • Het hy dit reggekry om ongure gedagtes oor ander in jou gedagtes te plant?
  • Het jy saam met hom begin om bitterheid te spreek?

As hierdie beskrywing by jou vriend pas – en jy word verder weggetrek van Jesus af weens sy vriendskap – dan kan jy seker wees dat die duiwel daardie persoon in jou lewe geplant het. Hy besit die gees van Agab – en hy is gestuur om die werk van Christus in jou te vernietig!

Aan die ander kant, sal ‘n ware, goddelike vriend altyd die kant van God se woord kies in alle sake, en nie net jou kant omdat julle vriende is nie. So  ‘n vriend, sal jou nie raadgee in die bitterheid van sonde nie. In plaas daarvan, sal hy jou lief genoeg hê om vir jou die waarheid te vertel.

Laat my vir jou wys wat met elke kind van God gebeur wat hom verswaer met ‘n bitter, onregverdige persoon. Daar is drie verskriklike gevolge:

Die Bybel sê vir ons Jósafat se koninkryk het vrede gehad tot op hierdie stadium: “En ‘n skrik vir die HERE het gekom oor al die koninkryke van die lande wat rondom Juda was, sodat hulle nie teen Jósafat oorlog gevoer het nie” (2 Kronieke 17:10). Juda was geseënd en baie voorspoedig en niemand het gewaag om naby hulle te kom nie.

Maar nadat Jósafat hom verswaer het met Agab, sê die Skrif, “...Agab...het hom (Jósafat) aangehits om teen Ramot en Gilead op te trek...En hy antwoord hom: Ek is soos u, en my volk soos u volk, en ons sal saam met u in die oorlog wees” (2 Kronieke 18:2-3). Jósafat was gewilliglik ingetrek in ‘n hopelose oorlog – een waaraan God geen deel gehad het nie!

Die Hebreeuse woord vir “aangehits” in hierdie gedeelte beteken “’n sussende verleiding.” Jósafat het homself toegelaat om in ‘n oorlog verlei te word deur Agab, deur te antwoord, “Ek is jou vriend, so ek is saam met jou al die pad. Ek sal jou nie teleurstel nie. Jy kan op my reken!”

Is jou naaste vriend vol bitterheid, haat en woede – jaag hy een of ander oorlog na? Is hy betrokke in ‘n huweliksoorlog, ‘n familie-oorlog, persoonlike oorlog? En is jy soos ‘n Jósafat vir hom en bied jy hom hulp en bemoediging? As dit so is, wees versigtig – jy is op die punt om verlei te word in dit alles!

Dit is reg – baie gou sal jy jouself reg in die middel van jou vriend se gemors bevind – en jy sal gevra word om ‘n stand in te neem. As jou vriend in ‘n moeilike huwelik is, byvoorbeeld, sal jy geforseer word om ‘n stand in te neem. En jy sal op die ou einde met hom simpatiseer – regdeur sy egskeiding!

Wees gewaarsku, Christen – wanneer jy vertroosting of bemoediging bied aan iemand wat in rebellie is, vat jy sy kant teen die Heilige Gees. En dit maak jou ‘n deelgenoot van daardie persoon se sonde. Dit is tragies dat toe Jósafat by Agab se oorlog aangesluit het, het hy net sy eie vriend op sy pad na vernietiging verhaas!

Onlangs het ‘n vrou na my gekom nadat sy haar man verlaat het. Sy het my reguit in die oë gekyk en gesê, “God het baie duidelik met my gepraat. Hy het my beveel om my man te verlaat, omdat Hy iets beter vir my het as hierdie huwelik.” Dit is tragies dat hierdie vrou se beste vriendin, “dieselfde woord van die Here ontvang het” – en haar aangemoedig het om te skei!

As jy ‘n goddelose vriend in jou binnekring het, sal hy vir jou al die versekerings gee wat jy wil hê, selfs al is jy verkeerd. Trouens, Satan sal jou kop vul met die stemme van valse profete wat almal daarop aanspraak maak dat hulle die waarheid praat. Hulle sal sê, “Gaan voort – alles is reg. God ondersteun jou.” Maar hulle sal jou lei tot op die randjie van vernietiging!

Ek is seker Jósafat was oortuig hy het regverdig opgetree toe hy by Agab in die oorlog aangesluit het. Trouens die Skrif sê, “Verder het Jósafat aan die koning van Israel gesê: Raadpleeg tog eers die woord van die HERE” (2 Kronieke 18:4). Hy het gesê, “Laat ons die Here se raad vra oor die saak. Ons sal nie optree voor ons van Hom gehoor het nie!”

Daarom het Agab sy vierhonderd valse profete geroep: “...En hulle antwoord: Trek op, en God sal dit in die hand van die koning gee” (2 Kronieke 18:5). Al vierhonderd stemme het saamgestem: “Dit is reg om oorlog te maak. God is met julle!”

Maar Jósafat was nie oortuig nie. Hy het vir Agab gevra, “Is hier nie nog ‘n profeet van die HERE, dat ons deur hom kan raadpleeg nie?” (2 Kronieke 18:6). Jósafat wou ‘n man, wat hy geweet het, heilig was, hê. Daarom het Agab die profeet Miga, wat in die tronk gestop was omdat hy die waarheid gepraat het, laat roep.

Toe Miga op die toneel opgedaag het, het hierdie vreeslose man gespot met alles wat aangegaan het. Hy het selfs Agab se dood geprofeteer en gesê, “...Ek het die hele Israel gesien, verstrooid op die berge soos skape wat geen wagter het nie...” (2 Kronieke 18:16). Hy het gesê, “Jy gaan sterf in die oorlog, Agab. En God se mense sal oor die heuwels verstrooi wees!”

God het sy woord aan Jósafat en Agab baie duidelik gemaak en geen twyfel gelaat oor wat Hy van die hele situasie gedink het nie: “Dit is verdoem! Gaan op julle eie risiko. Niks behalwe dood en nederlaag wag vir julle op die oorlogsveld nie!”

Op hierdie stadium het dit gelyk of Jósafat gewillig was om ‘n ware profetiese woord te gehoorsaam. Dit het gelyk of hy alles wou doen wat God vir hom gesê het. Eeue lank het teoloë verwonderd gestaan oor wat volgende gebeur het: Toe die duidelike woord gekom het, het Jósafat dit geïgnoreer!

Miga het gelyk of hy Jósafat se huiwering om te gehoorsaam, besef het. En hy het sy woorde afgesluit en hierdie woorde: “...Volke, luister almal saam” (2 Kronieke 18:27). Ek glo Miga het direk na Koning Jósafat gekyk en gesê, “Meneer – u moet luister na my woord! Dit is alles demoniese misleiding. Dit kan net in verwoesting eindig! Kan jy nie sien jou vriendskap met Agab is heeltemal verkeerd nie? Hy is ‘n afgodsdienaar! Moet asseblief nie na hierdie leuenagtige stemme luister nie.”

Dit is ongelooflik dat die volgende vers egter lees: “En die koning van Israel en Jósafat, die koning van Juda, het opgetrek na Ramot in Gilead” (vers 28). Jósafat het saam met Agab na die die oorlog toe gemarsjeer – en God se woord heeltemal geïgnoreer!

Geliefde, jy kan spog soveel jy wil dat jy God se woord liefhet en dit wil gehoorsaam. Maar as jy nie wegbreek van die misleiding van goddelose vriende en Heilige Gees onderskeiding soek nie, sal jy op die ou end God se woord ignoreer!

Jy mag by jou vriend in sy oorlog aansluit – maar wanneer dinge verkeerd loop, sal hy jou aan die vyand uitverkoop. Dit is presies wat met Jósafat gebeur het toe hy saam met Agab gaan oorlog voer het. Die bose koning het Jósafat opgestel om doodgemaak te word: Hy het hom gesê om sy koninklike klere aan te trek, terwyl Agab self as ‘n soldaat aangetrek het. Op daardie manier, het Agab gedink, sou die Assiriërs sou agter Jósafat aangaan in plaas van homself.

Dit is ironies dat Agab doodgemaak is deur ‘n pyl wat hom deur ‘n klein gleufie in sy harnas getref het. En skielik was Jósafat omring deur vyandige soldate, wat gereed was om hom te vermorsel. Die koning het geweet dat hy die dood in die gesig gestaar het – en hy het tot God uitgeroep om hulp. Die Skrif sê vir ons, “En die HERE het hom gehelp, en God het hulle van hom af weggelok” (2 Kronieke 18:31).

Die oorlog was ‘n ramp, net soos Miga geprofeteer het. Israel se leër was in wanorde, soos skape sonder ‘n herder. En Jósafat het na Jerusalem gevlug met sy vriend, Agab, dood en sy leërs verslaan. Dit was slegs deur God se genade dat hy die dood ontsnap het!

Ek kan myself indink die gedagtes wat deur Jósafat se kop moes gegaan het toe hy teruggejaag het Jerusalem toe: “O, God – dankie dat U my verlos het! Nou sien ek die gevaar daarvan om met ‘n goddelose metgesel te wandel. Nooit weer nie, Here! Ek sal nie meer deel hê aan daardie wêreldse sisteem nie. Dit is nou alles verby!”

Maar dit was nie verby nie. God het steeds ‘n geskil met hierdie man gehad!

Toe Jósafat op sy pad was huistoe, het die Here ‘n profeet gestuur om hom tegemoet te gaan met hierdie sterk woorde: “Die siener Jehu, die seun van Hanáni, [het] uitgegaan hom tegemoet, en aan koning Jósafat gesê: Moet ‘n mens die goddelose help, en het u lief die wat die HERE haat? Daarom kom daar nou ‘n toorn op u van die HERE” (2 Kronieke 19:2).

God het in wese aan Jósafat gesê, “Jy ken nie die gevaar en gevolge van wat jy gedoen het nie. Jy mag dink dit is nie ‘n ernstige ding om jou te verswaer met iemand wat teen My is nie. Agab was my vyand – ‘n afgodsdienaar – en jy het vriende met hom gemaak. Jy het na sy goddelose praatjies geluister en ingegee aan sy onreinheid. Jy het nie ‘n stand ingeneem teen enige van daardie dinge nie, Jósafat. Ek het ‘n geskil met jou hieroor!”

Op hierdie stadium mag jy dink, “Ek verstaan dat Agab goddeloos was. Maar as ek na my eie vriende kyk, kan ek op geen manier aan hulle dink as God se vyande nie. Beskou egter hierdie gedeeltes uit die Skrif:

  • "Hy wat nie met My is nie, is teen My ...” (Lukas 11:23). Neem jou vriend die Here se kant in alle dinge?
  • "Want wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery...” (1 Samuel 15:23). Is jou vriend se raad vol rebellie?
  • "Hy wat die...regverdiges skuldig verklaar...is vir die HERE ‘n gruwel” (Spreuke 17:15). Praat jou vriend sleg van goddelike mense?

Dit is nie ‘n speletjie nie! Jou vriende is vir God ‘n ernstige saak – omdat hulle aksies ernstige gevolge het: “Jou mond laat jy los in boosheid, en jou tong vleg bedrog. Jy sit en praat teen jou broer, die seun van jou moeder beskimp jy....Verstaan dit tog, o Godvergeters, sodat Ek nie verskeur sonder dat iemand red nie” (Psalm 50:19-22).

Luister na die profeet Jesaja: “Want Hy het gesê: Hulle is tog my volk...deur sy liefde en deur sy medelye het Hý hulle verlos...Maar húlle was wederstrewig en het sy Heilige Gees bedroef; daarom het Hy vir hulle in ‘n vyand verander: Hy self het teen hulle gestry” (Jesaja 63:8-10). God draai in werklikheid teen diegene wat sy woord ignoreer!

In Jósafat se geval, het God oorlog en probleme na Juda gebring: “En daarna het die kinders van Moab en die kinders van Ammon en saam met hulle ‘n deel van die Meüniete teen Jósafat gekom om te veg” (2 Kronieke 20:1). Tot op hierdie stadium, het Juda volle vrede geniet. Maar nou het Jósafat vyande teen hom sien kom van alle kante af en hulle gedreig het om sy koninkryk te vernietig!

Paulus skryf, “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid onderdruk” (Romeine 1:18). Die apostel praat hier van mense wat die waarheid ken, maar dit nogtans ignoreer en maak asof dit nie bestaan nie. Eenvoudig gestel, God se toorn is oor almal wat die waarheid onderdruk en niks daaromtrent doen nie – soos koning Jósafat!

Dank God, die Skrif sê, “Jósafat [het] bevrees geword en sy aangesig daarop gerig om die HERE te soek, en hy het oor die hele Juda ‘n vasdag uitgeroep” (2 Kronieke 20:3). Die koning het homself verneder en homself berouvol bekeer: “Toe buig Jósafat hom met die aangesig na die aarde toe, en die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het voor die aangesig van die HERE neergeval om die HERE te aanbid” (2 Kronieke 20:18).

God het op Jósafat se gebrokenheid gereageer deur vir Juda algehele oorwinning teen die Moabiete te gee. Uiteindelik, sê die Bybel, “Verder het die koninkryk van Jósafat gerus, en sy God het hom rondom rus verskaf” (2 Kronieke 20:30).

Hierdie saak van vriende wyslik en versigtig kies, is ‘n lewenslange belang. Trouens, jy mag uit een onwyse verhoudig ontsnap – maar jy kan reguit in ‘n ander een betrokke raak!

Die Skrif sê vir ons dat Jósafat se storie tragies geëindig het: “Maar daarna het Jósafat, die koning van Juda, ‘n bondgenootskap aangegaan met Ahásia, die koning van Israel, wat goddeloos gehandel het” (2 Kronieke 20:35). Jósafat het weer dieselfde ding gedoen! Hy het ‘n bondgenootskap gesluit met bose Ahásia, net soos hy met Agab gedoen het.

Hierdie keer het God ‘n profeet gestuur om Jósafat te waarsku, “...Omdat u ‘n bondgenootskap met Ahásia aangegaan het, verbreek die HERE u werk...” (2 Kronieke 20:37). God se Gees het hierdie eens regverdige man verlaat – omdat hy nie wou gehoorsaam nie!

Geliefde, die Bybel is baie duidelik oor hierdie saak van vriendskappe: “Verkeer nie met ‘n driftige man nie, en met ‘n opvlieënde man moet jy nie omgaan nie, sodat jy nie gewend raak aan sy paaie en ‘n strik vir jouself span nie” (Spreuke 22:24-25). “Maar die wat langs krom paaie wegdraai, sal die HERE laat vergaan saam met die werkers van ongeregtigheid...” (Psalm 125:5).

Neem vandag ‘n stand in. As jy goddelose vriende in jou binnekring het, breek met hulle! God in sy barmhartigheid sal jou verlos van die bande van die vyand, net soos vir Jósafat. Maar in werklikheid kan jy nooit ophou om waaksaam te wees oor Satan se pogings om iemand in jou lewe te stuur om Christus se werk in jou te vernietig.

Bid, “Here, open my oë vir al my vriendskappe! Help my om dit duidelik te sien, goed of sleg, of dit U behaag of nie. Mag al my vriendskappe U verheerlik!”