Jesus Kom

David Wilkerson

Eenduisend jaar gelede, ongeveer hierdie tyd, het die wêreld sy donkerste uur beleef. Volgens Miller se Kerkgeskiedenis, was die kerk goddeloos, afvallig en baie swak. Trouens, sy lewe was besig om te taan. Mohammedanisme het vinnig gegroei; Europa was binnegeval met Hongare wat menigtes vermoor het; vrees en geweld was oral op die aarde. Die hele mensdom het verlate en paniekerig geword. Daar was oral talle ellendes – verskriklike hongersnode – onbeskryflike rampe. Plae en peste het ontelbare miljoene gedood. Maar die werklike paniek was veroorsaak deur ongewone en skrikwekkende tekens in die hemele. Dit is opgeteken dat daar vreemde tekens in die son en maan was. Predikers deur die hele bekende wêreld heen, het begin verkondig dat die wêreld een of ander tyd in 999 sou vergaan, net voor die 1,000 jaar merk. Die teks wat gebruik was, was Lukas 21:25-27: “En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ‘n wolk, met groot krag en heerlikheid” (Lukas 21:25-27).

Van die jaar 960 af, het die paniek toegeneem. Maar die jaar 999 was beskou as die laaste wat die mens sou sien! Dit was ‘n sataniese misleiding, gebaseer op ‘n waninterpretasie van die boodskap van die millenium (dit beteken eenduisend jaar) wat gevind word in Openbaring 20:1-7. Mense het uit hulle werke bedank; boere het ophou plant vir die oes; huise en geboue was toegelaat om te bouvallig te raak; historici het opgehou om feite op te teken. Die rykes en edeles, prinse en biskoppe, het hulle vriende en familie verlaat en hulle gehaas na Palestina om te wees waar Christus sou terugkeer. Hy sou kom en ‘n nuwe aardse troon op die Berg Sion oprig. Hulle het fortuine weggegee – konings en keisers het gesmeek om toegelaat te word in die kloosters om by heilige ordes aan te sluit. Skares armes het in die voorportale van heilige geboue geslaap – of ten minste in hulle skaduwee! Mense het honger geword, maar daar was geen mielies, geen koning, geen beeste, gee gewasse nie. Geen voorsorg is getref nie, omdat dit alles binnekort tot ‘n einde sou kom.

Die laaste nag van 999 A.D. was een van paniek en rusteloosheid. Die goddelose het een laaste wilde plesierigheid gehad waarvan gesê was dat dit net te erg was om te herhaal. Jerusalem was vol van diegene wat op die Sionsberg gewag het vir Jesus om deur die wolke te breek. Soos middernag nadergekom het, het die wêreld sy asem opgehou. Die klok het twaalf geslaan – toe een minuut na twaalf – toe vyf minute – toe tien minute – geen Jesus nie! Die nag het verdwyn in die môrelig en alles was vredevol en kalm. Die menigtes het huistoe gegaan om te ploeg, die ruïnes te herstel en om te plant. Alles was terug na normaal toe. Die gevolg was, dat die vrees verander het in pret en baljaar! Groot katedrale was gebou en die bevolking het voortgegaan om te lewe sonder die verwagting van Sy koms. Dit was tyd om te bou – selfs om koninkryke te bou! Die pendulum het gedraai.

Jesus sou in 1843 kom!

Dit het weer gebeur ongeveer 145 jaar gelede toe William Miller, die stigter van die Adventiste beweging, die onstellende openbaring aangekondig het dat Jesus in 1843 sou kom! Hy was bekeer uit Deïsme en in 1833 het hy ‘n gelisensieerde Baptiste prediker geword. Na veertien jaar van studie, het Miller bereken dat Jesus in 1843 op ‘n gegewe datum sou kom. Sy boek, Evidence From Scripture and History of the Second Coming of Christ – About the Year 1843, het kaarte, baie noukeurige berekenings en sekere bewyse, aangetoon dat 1943 sonder twyfel die tyd was! Joseph Hines was die publiseerder van die boek en van 1839 tot die jaar 1843 het duisende gelowiges van alle denominasies oortuig geword dat Jesus in 1843 sou kom. Die datum wat hy bepaal het, het aangebreek. Menigtes het uitgegaan na ‘n berg om te wag op die Here se koms. Toe Jesus nie gekom het nie, het hy teruggegaan na sy berekenings, bely dat hy ‘n fout gemaak het en ‘n ander datum bepaal! In 1845 het hy president van die Adventiste geword.

Kan jy glo, dit gebeur nou alles weer net so? Het jy gehoor dat Jesus gaan kom op Rosh Hashanah, September 11, 1988, teen dagbreek? En die Derdewêreldoorlog sal 23 dae later op 4 Oktober begin? Dat Armaggedon op 4 Oktober 1995 geveg sal word en die millenium teen sonsondergang op 23 Desember 1995 sal begin? ‘n Grap? Nouliks! Daar is ‘n boek wat deur die land versprei op hierdie oomblik, getiteld, The Rapture – Rosh Hashanah and 88 Reasons Why! As jy nie jou Bybel ken nie, sal baie van hierdie agt-en-tagtig redes baie oortuigend klink. William Miller se boek is steeds baie oortuigend wanneer ons dit vandag lees!

Sal Jesus kom op 11 September 1988 teen dagbreek? Dit kan die wonderlikste nuus wees waaraan ek kan dink. O, as dit maar so was! Hy het gesê Hy sou gou kom! Verstaan asseblief dat ek nie hierdie boek afkraak nie. Jesus kan te enige tyd kom. Wat ek eintlik sê, is dat datumbepaling misleiding is – dit is misleiding en onskriftuurlik. Trouens, dit mis die hele boodskap en betekenis van Christus se koms!

Ons moet versigtig wees om so meegesleur te word deur hoe en wanneer dat ons vergeet Wie kom!

Jesus het sekerlik nooit bedoel dat Sy liggaam so verdeeld moet wees oor so ‘n geseënde hoop nie. Daar is soveel verwarring, soveel verdeeldheid oor wanneer Hy kom. Die Charismatiese en Evangeliese bewegings is verdeel in talle kampe – almal is oortuig hulle weet wanneer hy kom! Sommige sê Hy kom in twee stadiums: eers ‘n skielike, onaangekondigde wegraping, dan die groot verdrukking. Anders is “middel verdrukking,” dit is, Hy sal kom na 3 jaar van verdrukking. Ander is “post verdrukking” en glo Hy sal kom na sewe jaar van groot verdrukking.

Dan is daar die groot en groeiende debat oor die millenium heerskappy van Christus op aarde. Daar is die pre-millenialiste wat glo dat die wederkoms gevolg sal word deur ‘n duisend jaar heerskappy van Christus in vrede en geregtigheid (die koninkryk van God), waartydens Christus sal heers as Koning op hierdie aarde, en waarna die einde van die wêreld sal kom. Die post-millenialiste sê die koninkryk van God is nou: die wêreld sal gekersten word en ons sal lang periodes van geregtigheid en vrede beleef, “die millenium”. Hulle sê die evangelie sal die boosheid hier op aarde oorwin en daaroor seëvier – dan sal Jesus kom. Die “amillenialiste” glo daar is geen duisendjaar heerskappy van Christus op aarde nie, maar dat daar twee koninkryke is wat parallel bestaan: God se koninkryk van die lig en die duiwel se koninkryk van duisternis. By Christus se wederkoms, sal Hy Sy koninkryk oprig en die duiwel s’n verpletter.

Ook wat in die omgang is, is die dominium teologie wat sê dat Jesus nie sal kom nie, todat Christene gesag geneem het oor elke vlak van die samelewing – polities, maatskaplik, en ekonomies – en die stelsels onderwerp, die wêreld heilig maak, en Jesus dan terugbring as koning. By al hierdie leerstellinge is daar allerhande soorte dispensasionaliste – almal netjies bewys, almal logies, almal met bewese Skrifte, almal wat aanspraak maak dat hulle eksklusief reg is. Ek sien nie in my Bybel, “Ontsyfer en bereken altyd!” nie, maar liewer, “Wees gereed!” Ek glo die Heilige Gees het hierdie boodskap op my hart geplaas sodat niemand ooit geskud of mislei sou word deur ‘n datumbepaler nie. Ek sê saam met Paulus, “Maar ons vra julle broeders...om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie – deur gees of deur woord of deur brief van ons afkomstig sou wees – asof die dag van Christus al daar is. Laat niemand julle op enige manier mislei nie...” (2 Thessalonicense 2:1-3). Jesus het gesê, “Maar van daardie dag en dié uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader...Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie...dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie” (Markus 13:32-36). Die datumbepalers kom hierby verby deur te sê dat die probleem om die presiese dag te weet wanneer Hy kom, te wyte is aan die verskillende tydsones, daarom ken niemand die uur in elke tydsone nie!

God het doelbewus die tyd van Christus se wederkoms weerhou om Sy kinders in ‘n toestand van waaksaamheid te hou.

“Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie” (Markus 13:33). Enige leerstelling oor Christus se wederkoms, die verdrukking, of die millenium wat jou beroof van jou waaksaamheid, aanbidding en oomblik tot oomblik verwagting, is nie van God af nie! Ook is dit nie van God af as dit jou beroof van jou vurigheid om die verlorenes vir Christus te wen nie. Ons moet lewe in ‘n uur tot uur verwagting, waaksaamheid en arbeid. Sommige wat hierdie boek oor Christus se kom op 11 September bevorder, sê, “Iets is nodig om dooie Christene wakker te maak – hierdie mag dit doen!” Maar ek sê, as hulle afvallig, onwaaksaam of lui is, sal geen emosionele stamp dit kan doen nie. Liewer, op 12, 13, 14 en 15 September, sal hulle spotters word! Hulle sal selfs luier word!

Toe ek ‘n seun in die vroeëre Pinkster beweging was, was die koms van Jesus op so ‘n manier verkondig dat dit my tot die dood toe bang gemaak het! Die teks was altyd: “Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat. Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat. Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie...Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie” (Matthéüs 24:40-44). Ek sou evangeliste hoor praat van die basuingeskal met miljoene wat verdwyn, karre was bots, vliegtuie wat val, treine wat bots! Eendag het ek teruggekom van die skool af en Ma was nie daar nie! Ek het gedink het het Sy wederkoms gemis – hoe angwekkend! Ek het gedink ek is agtergelaat!

Dit is só vir baie Christene. Sy koms is vir hulle vreesaanjaend – hulle lewe met die vrees van die laaste basuin! As daar ‘n wederstrewigheid of ‘n sonde is wat nie laat staan is nie, sál dit vreesaanjaend wees. Maar in hierdie boodskap wil ek Sy koms in ‘n ander lig verkondig – dit is, in terme van wat dit beteken vir die oorwinnaar, vir diegene wat Hom liefhet.

Hy kom weer op dieselfde manier wat Hy weggegaan het!

“Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig? En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie...En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ‘n wolk het Hom voor hulle weggeneem. En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle, wat sê: Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het” (Handelinge 1:6-11).

Die eerste ding wat Jesus gedoen het, was om diegene, wat uitverkore was om Hom te sien opvaar na die Vader, bymekaar te maak, “En toe Hy nog met hulle saam was...” (Handelinge 1:4). Die Nuwe Amerikaanse Standaard [Bybel] sê “hulle saam vergader.” Ongeveer 120 was saamgeroep deur Jesus self op Olyfberg. Ek dink hulle het nie geweet of begryp wat op die punt was om te gebeur nie. Hy het probeer om hulle vir Sy terugkeer na die Vader voor te berei: “En julle sal My nie sien nie...omdat Ek na die Vader gaan...” (Johannes 16:10). Hoe kon ‘n beperkte verstand sulke woorde verstaan? Hoe wou Hy gegaan het? Sou Hy weer sterwe? Sou ‘n wa kom soos vir Elia? Sou engele Hom wegneem? Of sou Hy in die lug verdwyn? Dit was iets waaroor Jesus hulle gewaarsku het: “Julle het gehoor dat Ek aan julle gesê het: Ek gaan weg en Ek kom weer na julle toe: As julle My liefgehad het, sou julle bly wees dat Ek gesê het: Ek gaan na my Vader toe...” (Johannes 14:28). Hulle het gesê, “...Wat is dit wat Hy sê: ‘n Klein tydjie? Ons weet nie wat Hy sê nie” (Johannes 16:18).

Op dieselfde manier wat Hy die dissipels bymekaargebring het, sal Jesus weereens eers Sy kinders bymekaarmaak vir Homself om ons voor te berei vir Sy koms. Maar sal ons verstaan? God het nog altyd ‘n volk gehad, maar net voor Sy koms sal Hy doen net soos Hy gedoen het voor Hy weggegaan het. Hy doen dit nou! Dit gebeur hier in Times Square Kerk en dwarsdeur Amerika, China, Europa, Pole, Rusland. Klein geselskappies en groter groepe kom deur die roeping van die Heilige Gees om “uit te gaan om Hom te ontmoet.” Hulle het die basuin gehoor! Hulle het die geroep gehoor, “En middernag was daar ‘n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet” (Matthéüs 25:6).

Jesus het gesê hulle behoort te juig, maar tog het Hy ook vir hulle gesê, “...Julle sal ween en rou bedryf...julle sal bedroef wees...” (Johannes 16:20). Jesus maak ‘n volk bymekaar wat beveel word om te juig, omdat Hy terugkom net soos Hy weggegaan het! Jesus het vertel van die verskriklike dinge wat oor die aarde kom – so vreesaanjaend dat mense se harte sal beswyk van vrees, as hulle die oordele oral rondom sien val. Maar diegene wat bymekaargeroep is, word beveel om nie te vrees nie, maar om te juig – terwyl die magte van die hemel skud. “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Lukas 21:28).

Dit was ‘n verheerlikte Mens wat weggegaan het – dit is ‘n verheerlikte Mens wat terugkeer!

“...Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.” Dit was ‘n vlees en been liggaam wat in die graf gelê het, en ‘n vlees en been liggaam wat opgestaan het! Dit was ‘n vlees en been Jesus wat Thomas aangeraak het. Hy het Sy hande aangeraak en sy hand in Sy sy gesteek. Dit was werklik ‘n mens – verheerlik – wat opgevaar het na die Vader! Jesus het nie voor hulle verdamp nie! Hy was opgelig in ‘n wolk totdat Hy buite sig was! Wat ‘n wonderlike gesig moes dit gewees het: Jesus gloeiend – stralend met heerlikheid – gesig hemelwaarts – word stadig opgelig bokant hulle. Hulle moes sekerlik op hulle knieë neergeval het!

Hulle het die hele hemelvaart gesien met hulle oë op Hom gerig, “..en toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan...” Hulle het nie ‘n oog geknip en Hy was weg nie! Hulle het die hele hemelvaart gesien ontvou. Dit is waar ons sal verander word in ‘n oogwenk: “Ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin...” (1 Korinthiërs 15:51-52). Paulus praat van ons liggaamlike verandering wanneer ons “...saam met hulle [die opgewekte dooies] in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug...” (1 Thessalonicense 4:17). Hy sal gou kom, skielik, en ons liggame sal verander word binne ‘n oomblik.

Maar wat sal gebeur voor ons liggame verander? Ek glo die verlostes sal Hom sien neerdaal net soos die 120 Hom sien opvaar het! Ek glo Christus se koms sal ‘n openbaring van Sy heerlikheid aan Sy bruid wees. Die laaste basuin simboliseer ‘n laaste ontwaking. “Hoor, my beminde, kyk, daar kom hy! Hy spring oor die berge...hy speur deur die tralies heen” (Hooglied 2:8-9). En Hy sal gou kom, skielik, en ons liggame sal verander word binne ‘n oomblik. Maar ek glo Christus se koms is ‘n openbaring van Sy heerlikheid van Sy bruid! Hy sal eers klop: “...Hoor, my beminde klop...” (Hooglied 5:2). Hoe kan die bruid nie die nabye aankoms van haar geliefde aanvoel nie! In antieke tye, was die bruidegom se aankoms vir die bruid en haar geselskap aangekondig ten minste twee blokke weg, “Kyk die bruidegom kom!”

“Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus” (1 Petrus 1:13). “Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ‘n dief sou oorval nie” (1 Thessalonicense 5:4). Ons het Hom nou lief, hoewel ons Hom nie sien nie. Hoe sal dit wees oomblikke voor Hy verskyn om Homself te openbaar? “Vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nie nou nie, tog glo en julle verbly met n onuitspreeklike en heerlike blydskap” (1 Petrus 1:8). Op die oomblik is Hy blydskap onuitspreeklik en vol heerlikheid wanneer Hy ons bloot deur Sy Gees aanraak. Het Hy al ooit jou kamer binnegekom? Was Hy al ooit so naby aan jou dat jy gedink het dat in die hemel was is? Wat sal dit dan wees saam met Hom wanneer Hy begin om ons nader te trek met Sy naderende heerlikheid en teenwoordigheid?

Paulus dui aan God se heiliges kan die dag sien aankom: “En laat ons ons onderlinge byeenkomste nie versuim... nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:25). “...Maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is” (1 Johannes 3:2). “Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het...” (Openbaring 1:7). “En hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam sal op hulle voorhoofde wees” (Openbaring 22:4). Stéfanus, “was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God” (Handelinge 7:55). Stéfanus is ‘n tipe van diegene wat in die laaste dae leef, “vol van die Heilige Gees,” aan wie geopende oë en ‘n oop hemel gegee sal word. Ons sal Jesus sien kom in heerlikheid met al die heilige engele. Ons sal die trein van Sy heerlikheid sien!

Sy koms sal ‘n groot viering wees

Vir ons om uit die bruid te bestaan, moet daar geen vrees wees wanneer Hy verskyn nie. “Maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel” (1 Petrus 4:13). Moet nooit vergeet dat Hy diegene wat Hom verwag nooit sal verras nie, hulle wat “die koms van die dag van God verwag en verhaas...” (2 Petrus 3:12). Diegene wat daarna uitsien en dit verwag, “koop die tyd uit, omdat die dae boos is” (Efésiërs 5:16). Hulle sit nie voor die TV nie! Is nie behep met die self, drome en ambisies nie! Maar hulle is besig om hullself te tooi as ‘n wagtende bruid. Hulle neem in besit totdat Hy kom. Daardie dag sal diegene wat gereed is, nie “oorval” nie. Hy sal nie kom as ‘n dief vir die wat Hom verwag nie!

Dit sal ook die Here se dag van blydskap wees! Hy is gretig om by Sy bruid te wees: “Ek is my beminde s’n, en sy begeerte is na my” (Hooglied 7:10). Ons vergeet van Sy opgewondheid, Sy blydskap, Sy verwagting. Ja – Hy smag na Sy bruid! Jesus het geween by Lasarus se graf. Hy het “Hom in die gees verheug” nadat die dissipels teruggekeer het van duiwels uitdryf (sien Lukas 10:17-22). Hy is die mens verheerlik, deel al ons gevoelens, en is vol blye verwagting van Sy bruid te neem, haar op te eis, en haar na Hom toe trek!

Hy het belowe om “Homself te openbaar” aan diegene wat uitsien na Sy koms. “So sal Christus ook...vir ‘n tweede maal sonder sonde verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid” (Hebreërs 9:28). Hierdie keer kom Hy nie om vir sonde versoening te doen nie, maar om Sy heerlikheid aan Sy bruid te openbaar. Daardie openbaring het reeds begin. Hy toon Sy krag en heerlikheid aan Sy heilige oorblyfsel. Hulle sal vasgevang word in sy magnetiese aantrekking. Hy is geen bedrieër, wat sy bruid probeer uitvang op hoerery nie. Liewer, Hy bearbei, reinig, roep, en trek ons nader.

Jesus kom met ‘n geroep!

“Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thessalonicense 4:16-18). In Grieks, beteken die woord “geroep” om op te wek deur woord, om te wakker te maak, in aksie te bring. Die stem van die aartsengel sal gehoor word deur alle oorwinnaars: “Hy staan by die deur! Kom geliefde! Hy vir wie jy liefhet het gekom om jou weg te neem,” Dit is geen diskrete koms, stil gedoen in ‘n hoekie nie. Nee! Jesus se koms gaan gepaard met ‘n trompetgeskal, met leërs van engele, met ‘n geroep, met ‘n kosmiese geskal van die aartsengel. Die dooies in Christus sal eerste opstaan om Hom in die lug tegemoet te gaan. Wat ‘n donderende gejubel sal dit wees! Hulle sal Hom eerste omhels. Dink jy hulle sal stilbly? Met nuwe liggame? Ewig salig en uiteindelik by die huis saam met Jesus? Geliefde, hulle sal daar wees met gejubel! En terwyl hulle jubel, sal Hy Sy engele uitstuur deur die hele wêreld heen en Sy kinders bymekaarmaak. Wat ‘n ontvangs sal dit wees.

Maar hier is die betekenis van Sy kom, opgesom in ‘n paar woorde: “...en so sal ons altyd by die Here wees” (1 Thessalonicense 4:17). Hoe dwaas is dit om te redeneer asof ons op die aarde of in een of ander hemel sal lewe. Hemel sal wees waar Jesus ook al is! Sommiges is so seker ons sal nooit hierdie aarde verlaat nie, dat Jesus sal afkom na ons toe en ‘n wêreldse koninkryk opstel. Al wat ek wil hê, is hierdie woord: “So sal ons altyd saam met die Here wees.”

Begeer jy om ooit by die Here te wees? Het jy geweet dat dit ook Sy begeerte is om by jou te wees? “Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou...” (Johannes 17:24). Moenie kwaad wees vir die datumbepalers wat gedink het hulle het Sy koms alles fyn uitgewerk nie. Miskien was dit gedoen met ywer sonder wysheid. Daar sal nog meer boeke, briewe, en profesieë wees wat daarop aanspraak maak om spesiale openbaringe te hê. Moenie ontsteld word oor enige van hierdie dinge nie. Los die tye en seisoene in die Vader se hande – en lewe elke dag van jou lewe asof Christus binne die volgende uur kom. Totdat Hy kom, is daar baie werk om te doen om die mure van Sion te herbou.