Hoekom is dit so moeilik vir Christene om te bid?

Daar is ‘n probleem wat al jare lank in die kerk kop uitsteek – en dit maak my diep besorg. Die vraag wat my besig hou is, waarom dit so moeilik is, vir Christene, om te bid?

Die Skrif sê baie duidelik dat die antwoord vir alles in ons lewe gebed en geloof is. Die apostel Paulus skryf, “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God” (Filippense 4:6). Paulus sê vir ons; “Soek die Here vir elke area van jou lewe. En dank Hom byvoorbaat dat Hy jou hoor!”

Paulus se beklemtoning is duidelik: Bid altyd eerste! Ons moet nie gebed as die laaste uitweg beskou nie – ons gaan eers na ons predikant, of berader, na ons familie en vriende – en as niks help nie, dan val ons op ons knieë. Nee! Jesus sê: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheüs 6:33). Ons moet eers na die Here gaan, voor ons na iemand anders gaan!

Dit is hartverskeurend om die briewe te lees wat aan ons gestuur word deur baie gebroke Christene. Families raak verskeur, egpare skei, mense wat Christus vir jare getrou gevolg het, leef in vrees en neerlaag. Elkeen van hierdie mense is bemeester deur – sonde, depressie, wereldlikheid, begeertes. En jaar na jaar word hulle probleme groter.

Wat my die meeste skok, van hierdie briewe, is dat baie min van hierdie Christene oor gebed praat. Hulle wend hulle na bandjies, boeke, beraders, inbel programme, terapieë van allerlei aard – maar selde tot gebed. Hulle gaan deur elke dag bekommer, besorgd, met ‘n wolk oor hulle koppe, omdat hulle geen oplossing vir hulle probleme het nie.

Waarom is dit so moeilik vir Christene om in tye van nood, hulle hulp by God te soek? Na alles, is die Bybel een lang getuie van die feit dat God die uitroepe van sy kinders hoor en met liefde antwoord:

  • “Die oë van die Here is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep” (Psalm 34:15).
  • “Hulle roep, en die Here hoor, en Hy red hulle uit al hul benoudhede” (Psalm 34:18)
  • “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil. En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van hom gevra het” (1 Johannes 5:14-15).
  • “… Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag” (Jakobus 5:16).
  • “En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo” (Mattheüs 21:22).
  • “… die gebed van die opregtes is vir Hom welgevallig” (Spreuke 15:8).
  • “Die Here … die gebed van die regverdiges hoor Hy” (Spreuke 15:29).
  • “… Hom gewend tot die gebed van wie ontbloot is, en hulle gebed nie verag nie” (Psalm 102:17).

Luister na Dawid se versekering: “Die dag toe ek geroep het, het U my verhoor, my moedig gemaak met krag in my siel” (138:3). Dawid het gesê, “Ek het U beproef, o God! In al my beproewings, het ek op niemand anders gesteun nie. Ek het net na U toe gedraai – en U het my gehoor, en my geantwoord, en het my krag gegee vir die geveg wat ek die hoof moes bied!” “In die nood het jy geroep, en Ek het jou uitgered; Ek het jou geantwoord …” (Psalm 81:8).

Hierdie beloftes en getuienisse is oorweldigende bewyslewering van God se sorg. En hulle is so uiteenlopend, en diepsinnig en daar is soveel van hulle dat ek nie kan verstaan hoe enige Christen dit kan mis nie!

Wanneer daar oor gebed gepraat word, gee die Bybel vir ons meer as net beloftes. Dit gee ook vir ons waarskuwings van die gevaar om die gebed na te laat: “Hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid, verontagsaam…” (Hebreërs 2:3). “Verontagsaam” beteken in Grieks “gering geskat het.”

Die konteks van hierdie vers, is ‘n bespreking van dinge wat betrekking het op ons saligheid – en gebed word as een daarvan gesien! God vra, “Hoe verwag julle om ondergang en verwoesting te ontvlug in die donker tye wat kom, as julle nie geleer het om met my gemeenskap te hê deur die gebed nie? Hoe sal julle my stem ken in daardie dae, as julle nie geleer het om dit in die binnekamer te ervaar nie?”

Ek glo dat God diep teleurgesteld is deur die nalaat van die gebed, onder sy volk, in hierdie dae. Jeremia skryf: “Kan ‘n jonkvrou haar versiersel vergeet, ‘n bruid haar pronkgordel? Maar my volk het My vergeet, dae sonder getal” (Jeremia 2:32).

Hier is my groot vraag – die een ding wat ek eenvoudig nie kan verstaan nie: Hoe kan God se eie volk – wat onder gedurige aanvalle van die hel geteister word, probleme en versoekinge moet trotseer – week na week voortploeter sonder om God se aangesig te soek? Hoe kan hulle sê dat hulle Hom liefhet en in sy beloftes glo, en nooit naderkom na Hom toe nie?

Hebreërs 10 bevat ‘n ongelooflike belofte. Dit sê dat God se deur altyd oop is vir ons en dat ons altyd volkome toegang tot die Vader het:

“Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, en ons ‘n groot Priester oor die huis van God het, laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water” (Hebreërs 10:19-22).

‘n Paar verse later word ons gewaarsku dat die dag van die Here vinnig naderkom: “En laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (vers 25). God sê, “veral nou dat die oordeelsdag vinnig naderkom, moet julle my aangesig soek. Dit is tyd dat julle na julle binnekamer gaan en My leer ken.”

Ek glo dat ons alreeds die tekens sien dat ons naby ‘n finansiële ineenstorting is: Geweld en immoraliteit neem toe. Ons samelewing is plesier mal. Valse profete – “engele van die lig” – het alreeds baie verlei met hulle leerstellings van demone. Te enige tyd kan ons verwag om die uur van die groot verdrukking te ervaar, wat mense se harte van vrees sal laat ingee. Maar nog voor dit gebeur, sê die skrywer van Hebreërs:

“Moenie dat die waarheid julle ontglip nie! Bly wakker en waaksaam. Julle het ‘n geopende deur na God se heilige teenwoordigheid – gaan dus in met volle versekering, en maak julle begeertes bekend aan Hom. Christus se bloed het reeds die deur ontsluit – niks staan tussen julle en die Vader nie. Julle het die volle reg om die Heilige der Heilige binne te gaan, om al die hulp te ontvang wat julle nodig het.”

As ons die offer van Jesus lig opneem - waardeur ons toegang tot die Vader verkry het met al ons nood – dan “verag” ons die genade van God, en wek sy woede op!

Tog, ondanks al hierdie kragtige waarskuwings teen die nalaat van die gebed, vind Christene dit steeds moeilik om te bid. Hoekom? Ek dink daar is vier redes hiervoor:

As ek die woord louwarm gebruik om ‘n persoon se liefde vir Jesus te beskryf, bedoel ek nie dat hy koud is teenoor die Here nie. Ek bedoel eintlik, sy liefde is “goedkoop” – nie kosbaar nie. Ek sal u ‘n voorbeeld gee:

As Jesus die gemeente in Efese in Openbaring 2 aanspreek, prys Hy hulle eers vir alles wat hulle doen. Hy erken hulle “onvermoeide ywer” en hulle “volharding”. Hulle haat sonde en kompromie, hulle weier om vals leerstellings te aanvaar, hulle het baie vir sy naam verduur en nie moeg geword nie.

Maar Christus het een ding teen hulle: Hulle het hulle vurige liefde vir Hom, verloor! “Maar Ek het dit teen julle. Julle het julle eerste liefde verloor” (Openbaring 2:4).

Op een of ander manier het hulle, hulle liefdevolle gedissiplineerde wandel met Jesus verloor. Nou sê Hy vir hulle, “Julle het julle eerste liefde verloor. Julle het julle kosbare dissipline om in my teenwoordigheid te kom en met my gemeenskap te hou, verloor!”

Let op dat Jesus hier praat met gelowiges wat met ‘n brandende liefde vir Hom begin het. Hy praat nie met dooie, koue, naam-Christene, wat Hom nooit liefgehad het nie. Hy sê eerder: “Dit is moontlik vir iemand wat My eens vurig liefgehad het om sy liefde te laat koud word. Die toegewyde dienskneg wat daagliks haas gemaak het om by My uit te kom, bid nou skaars!”

Dink net hoe dit Christus moet beledig, Hy wat ons Bruidegom is. Watter soort huwelik is dit waar man en vrou geen daaglikse intieme gemeenskap het nie. Dit is presies waaroor Jesus praat. Hy wil oomblikke hê, met jou alleen om intieme gemeenskap te geniet!

Jy mag sê dat jy Hom liefhet – maar as jy nooit by Hom uitkom nie, dan bewys jy dat jy Hom nie liefhet nie. Die soort optrede sou in geen ander liefdes verhouding aanvaarbaar wees nie. As jy vir jou vriendin sê dat jy haar lief het, maar jy sien haar net een maal per week, net lank genoeg om te sê, “Hallo my liefling. Ek is lief vir jou. Totsiens.” – sal sy dit nie aanvaar nie. Hoekom moet Jesus daarmee tevrede wees, Hy wat sy lewe vir jou gegee het?

Dit maak nie saak hoe luidkeels jy Jesus in die kerk besing, hoeveel keer jy sê dat jy Hom liefhet, hoeveel trane jy stort nie. Jy kan baie gee, ander lief hê, sonde haat, kwaaddoeners aanspreek – maar as jou hart nie voortdurend na Christus getrek word nie, dan het jy Hom nie lief nie. Jy neem gebed ligtelik op, verwaarloos dit, - en volgens Jesus se eie woorde is dit ‘n bewys dat jy jou liefde verloor het.

Al ons werke is tevergeefs behalwe as ons terugkeer na ‘n brandende liefde vir Jesus. Ons moet weet, “Om Jesus lief te hê is nie om dinge te doen nie. Dit moet die daaglikse dissipline omhels om ‘n gemeenskap op te bou. Dit sal my iets kos!”

‘n Prioriteit beteken hoe belangrik ‘n saak vir jou is. ‘n Christen wat gebed verwaarloos, het sy prioriteite omgedraai!

Baie gelowiges sê hulle sal bid wanneer hulle tyd kry. Tog word dit elke week meer belangrik om die kar te was, as om te bid, of om die huis skoon te maak, of om vriende te besoek, of uit te eet, of inkopies te doen, of na die sport uitsending te kyk. Hulle maak eenvoudig nie tyd vir gebed nie.

So het dit in die tyd van Noag en Lot ook gegaan. Hulle eerste prioriteit was om te eet en te drink, om te koop en verkoop, om te trou en vir hulle families te sorg. Hulle het geen tyd gehad om na boodskappe van God se komende oordeel te luister nie. Daarom was niemand voorbereid to die oordeel gekom het nie.

Deur die eeue het niks verander nie. Vir die meeste Amerikaners is God hulle laaste prioriteit. Die eerste prioriteite is inkomste, sekuriteit, plesier, familie. Natuurlik is God nie eers op die lys vir baie Amerikaners nie. Maar dit grief die Here glad nie soveel as die feit dat baie van sy kinders Hom nie waardeer nie!

Vandag reis duisende Christene oor die land, net sodat een of ander predikant, profeet, of evangelis vir hulle kan bid. Hierdie gelowiges wil die Here se aanraking ervaar of wil ‘n ekstatiese ervaring hê. Selfs as hulle kry waarna hulle soek, duur die ervaring maar baie kort. Ironies genoeg bestee hulle nie vyf minute in gebed terwyl hulle reis nie!

Geliefdes, die Here is nie tevrede met julle bietjie oorskiet tyd, wanneer julle ‘n vinnige skietgebed opstuur nie. Dit is nie ‘n gebedsoffer nie. Dit is ‘n lam offerdier en dit verontreinig die altaar!

Die profeet Maleagi skryf: “En as julle ‘n blinde dier bring om te offer, is dit geen kwaad nie! En as julle ‘n lam of ‘n siek dier bring, is dit geen kwaad nie! Bring dit tog vir jou goewerneur! Sal hy ‘n welgevalle aan jou hê of jou goedgesind wees? Sê die Here van die leërskare” (Maleagi 1:8).

Maleagi sê: “Julle bring enige ou plaasdier om voor God te offer. Maar dit is agtelosige, onbesonne, tweede handse gawes. Probeer bietjie om so-iets aan die goewerneur te gee. Hy sal jou laat uitsmyt, uit sy teenwoordigheid uit.”

God verwag van sy volk om versigtig deur hulle kudde te gaan en die beste een te kies, as ‘n offer aan Hom. Vandag verwag die Here dieselfde van ons. Hy wil kwaliteit tyd hê, ongejaagd en kalm. En daardie tyd moet ons prioriteit wees!

Ek het eenkeer die pastoor van een van Amerika se grootste kerke ontmoet. Hy was een van die besigste predikante wat ek ooit gesien het. Hy het onbeskaamd vir my gesê: “Ek het geen tyd om te bid nie.” Wat hy eintlik bedoel het was, “Gebed is nie ‘n prioriteit vir my nie.”

Toe ek hierdie kerk besoek het, het ek geen werk van God se Gees bespeur nie. In werklikheid was dit een van die doodste kerke waarin ek ooit gepreek het. Hoe kon daar enige lewe wees, as die predikante nie bid nie?

Die feit bly staan, geen Christen sal tyd eenkant sit om te bid, as dit nie die eerste prioriteit in sy lewe is nie; bo familie, beroep, ontspanning, alles. Anders is sy offer bedorwe!

Baie Christene dink dat al wat van hulle verwag word is om kerk toe te gaan, na die preek te luister, sonde te vermy, en alles sal goed gaan met hulle. Dit is die offer wat hulle aan God bring - en hulle dink Hy is tevrede daarmee!

Ek was dikwels by die beddens van sterwende Christene wat getroue kerkgangers was vir meer as vyftig jaar. Hierdie mense het nooit ‘n diens gemis nie. Hulle was goeie famlie mense en hulle kon oor enige geestelike onderwerp saam gesels, maar hulle het geen gebedslewe gehad nie. Hulle het ure met hulle familie deurgebring, of voor die TV gesit, of was besig met hulle stokperdjies – maar het nooit tyd gehad om alleen te wees met Christus nie.

Dit mag hard klink, maar ek dink daardie mense het die ewigheid ingegaan sonder dat hulle, hul Heer geken het. God het nooit tot hulle genader nie – want hulle het nooit tot Hom genader nie!

Ek is bekommerd oor elke Christen wat geleer het om gemaklik te lewe sonder ‘n daaglikse gebedstyd – wat nooit ‘n groeiende kommunikasie met die Here gehad het nie. Sulke mense word vreemdelinge vir Hom. Hulle sal onder die wees wat Christus op die oordeelsdag sal aanspreek met die woorde: “Ja, julle het groot dinge gedoen – julle het siekes genees, wondere gedoen, baie in my koninkryk ingebring. Maar Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van my, vreemdeling!”

Hoe kan ons God se misnoeë en toorn ontkom, as ons hierdie groot genade van verlossing, minag? Hoe kan ons op die oordeelsdag voor Hom verskyn as die boeke geopen sal word en dit sal blyk dat ons nooit tyd met Hom spandeer het nie? Ons mag antwoord, “Here, ek weet ek het baie min tyd by U deurgebring. Ek het alles aan myself, my familie en my beroep bestee. Maar nou is ek gereed om die ewigheid te bestee om U te leer ken.” Dink julle Hy sal daarmee tevrede wees? Nee – nooit!

Die feit bly staan dat dit moontlik is om ‘n hele lewe sonder gebed deur te bring. Ek ken sommige baie “suksesvolle predikers en evangeliste, wat geleer het, om sonder gebed, hulle werk te doen. Hulle kan mense vermaak, mooi stories vertel en laat lag. Maar hulle kan jou nie van sonde oortuig, of jou verander, of jou beweeg om God se aangesig te soek nie!

Na ‘n tyd lank verval hierdie manne in diepe wanhoop en vertwyfeling. Hoekom? Hulle raak meer en meer afhanklik van hulle eie vermoëns in plaas van om op die Heer te wag en in sy krag voort te gaan. Hulle lewe raak gevul met verwarring van alle kante. Gebedslose predikers is kragtelose predikers!

Op dieselfde wyse is gebedslose Christene flou in hulle geloof, teikens vir valse leraars, en vinnig afvallig van die ware evangelie. Sulke Christene “leer” altyd, maar raak nooit volwasse nie!

Baie gelowiges raak mismoedig as gevolg van onverhoorde gebede – en gee uiteindelik op. Hulle dink, “Miskien het ek nie genoeg geloof nie. Al wat ek weet is dat gebed nie vir my werk nie. Waarom moet ek bid as dit nie werk nie?”

Die Israeliete in Jesaja se tyd het dieselfde houding gehad. Jesaja skryf: “Hulle vra wel elke dag na my wil … Hy gee voor dat hulle ‘n nasie is wat doen wat reg is en hom aan die bepalings van sy God hou. Hulle vra my wel … asof hulle van my teenwoordigheid hou. Hulle vra: ‘Waarom vas ons, maar U sien dit nie, verootmoedig ons ons, maar U gee nie aandag daaraan nie?” (Jesaja 58:2-3).

Hierdie mense beskuldig God van kinderverwaarlosing! Hulle sê, “Ek is lief vir God – ek doen wat reg is en vermy sonde. Tot onlangs het ek Hom getrou genader in gebed. Maar, weet jy wat? Hy het my nooit geantwoord nie! Waarom moet ek dan myself verootmoedig voor Hom? Hy gee geen ag op my nie!”

Baie ongetroude Christen vroue dink so. Hulle sê, “Vir jare het ek die Here opreg gesoek en ernstig gebid dat Hy ‘n godvresende man in my lewe sal bring. Ek het meer as tien jaar gebid. Niks het gebeur nie!” Dus probeer hulle ‘n huwelik aangaan op hulle eie, en ‘n ramp volg.

Onlangs het ‘n prediker ‘n onstellende brief aan my geskryf. Hy het gesê: “Broer Wilkerson, hierdie afgelope week het ek die kerk gesluit, waar ek vir ‘n paar jaar gedien het. Ek het die gemeente ontbind en die preekstoel verlaat. Ons het vir jare vir herlewing gebid, - maar niks het gebeur nie. Ons het vir ‘n gebou gebid, maar niks het gebeur nie. Oor die jare het die lidmate verminder na dertig. Dit wou net nie werk nie. Nou gaan ek ander werk soek.”

Ek bejammer hierdie teleurgestelde man. Maar ek stem saam, hy moet ander werk soek want hy was waarskynlik nie in die bediening geroepe nie. U sien, ons roeping is nie om herlewing te sien nie, of om ‘n kerkgebou te hê nie, of om behoorlike lidmate in die gemeente te hê nie. Nee, dit is om die Here getrou te dien – en dit sluit ons gebedslewe in!

Jakobus skryf dat God nie die gebed hoor van hulle wat vra omdat hulle hulself wil bevredig nie: “As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig” (Jakobus 4:3). Met ander woorde: “Julle vra nie na God se wil nie. Julle is nie gereed om julle te onderwerp aan wat Hy wil hê nie. Julle probeer eerder aan God voorskryf om julle begeertes te bevredig.”

Moet nie ‘n fout maak nie – ons God is volkome getrou. Paulus skryf “… dit staan vas dat God betroubaar is en elke mens ‘n leuenaar …” (Romeine 3:4). Eintlik sê hy, “dit maak nie saak as jy miljoene stemme hoor, roep ‘Gebed werk nie. God hoor my nie!’ Laat elke mens ‘n leuenaar genoem word. God se Woord staan vas – Hy is getrou om ons te hoor!”

Jesus het gesê: “As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra” (Matteüs 21:22). Eenvoudig gestel, sê Christus, “As julle waarlik glo, sal julle gewillig wees om te wag op ‘n antwoord van julle hemelse Vader. Dit sal nie saak maak hoe lank dit neem nie. Julle sal volhou in die geloof dat Hy sal antwoord!”

As God uitstel om ‘n spesifieke gebed te beantwoord, kan jy verseker weet, God toets jou geloof. Hy wil hê jy moet op Hom vertrou as dit lyk asof Hy stil bly. Hy toets jou om te sien of jy sal sê, “Ek gee op. Hy antwoord nie!” Uiteindelik wil Hy hê dat jou geloof sal voortkom soos suiwer goud, - sodat jy toegerus sal wees om verskillende antwoorde te aanvaar, vir jou en vir andere. Ek het eenmaal ‘n storie gelees van ‘n godvresende vrou – ‘n liewe vrou wat naby Jesus gewandel het vir baie jare. Haar gebedslewe was so sterk, baie mense het haar gevra om vir hulle te bid. Op ‘n sekere dag het ‘n vriendin geskryf en vir gebed gevra. Sy het toegestem om te bid.

‘n Paar weke later, ontvang sy ‘n brief van dieselfde vriendin, met die woorde, “Dankie vir jou gebede. Ek is gesond!” Die godvresende vrou het besef dat sy vergeet het om te bid! Sy was bly dat haar vriendin gesond was, maar sy het gewonder, “Here, sy sê haar geloof was swak. Waarom het U haar genees as ek vergeet het om te bid?”

God het haar geantwoord: “Ek het haar genees omdat jy My leer ken het! Jy het so naby My gekom, dat Ek die begeertes van jou hart aan jou gee – selfs sonder gebed.”

“O, Hoe groot is u goedheid wat U weggelê het vir die wat U vrees, wat U uitgewerk het vir die wat by U skuil, in teenwoordigheid van die mensekind” (Psalm 31:19). “… want die wat Hom vrees, het geen gebrek nie” (34:10).

Gaan gereeld na jou binnekamer, en soek Hom met jou hele hart. Dit is jou antwoord op ‘n gebroke huwelik, vir ongeredde familielede, vir elke behoeftes in jou lewe. Jou antwoorde mag nie oornag kom nie. Tog, sal God sy werk op sy tyd en sy wyse doen. Jou aandeel is om te glo dat Hy getrou is om te antwoord – omdat jy sy geliefde kind is!